Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/07 bl. 15-17
  • Breek weg na Vanuatu

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Breek weg na Vanuatu
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kannibale en goedere-kultusse
  • Kulturele diversiteit
  • Mense in ’n paradys
  • Vergete slawe van die Stille Suidsee
    Ontwaak!—2009
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2006
  • Jehovah se naam op die eilande van die Stille Oseaan
    Ontwaak!—2003
  • Die Faroëreilande—Uniek verbind
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 9/07 bl. 15-17

Breek weg na Vanuatu

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIEU-KALEDONIË

Voel jy gespanne? Het jy ’n wegbreekkans nodig? Verbeel jou dan hoe jy op ’n sonnige tropiese eiland ontspan. Stel jou voor dat jy in turkooiskleurige water swem, deur welige reënwoude wandel of omring word deur eksotiese inboorlingstamme. Bestaan daar nog so ’n paradys op aarde? Natuurlik! Op die verafgeleë Vanuatu-eilande.

VANUATU is ’n Y-vormige eilandreeks van omtrent 80 eilandjies wat ongeveer halfpad tussen Australië en Fidji in die suidweste van die Stille Oseaan geleë is. Volgens geoloë het massiewe tektoniese plate in die aardkors op hierdie plek teen mekaar gedruk en hoë berge gevorm wat hoofsaaklik onderwater is. Die pieke van die hoogste berge het bo die oppervlak van die water uitgerys en Vanuatu se ruwe eilande gevorm. Die geskuur van die tektoniese plate veroorsaak vandag talle aardskuddings en hou nege aktiewe vulkane aan die gang. Waaghalsige toeriste kan selfs gesmelte lawa van naderby sien.

Daar is talle welige reënwoude op hierdie eilande. Die magtige baniaanboom, waarvan die blaarkroon oor ’n groot area kan uitsprei, kom oral in hierdie gebied voor. Meer as 150 orgideespesies en 250 soorte varings verfraai die digbegroeide onderbos. Skitterende strande en saagtandkranse steek mooi af teen die helder water wat wemel van kleurvolle visse en korale. Ekotoeriste kom van regoor die wêreld om saam met die saggeaarde maar spelerige doejongs by Épi-eiland te swem.a

Kannibale en goedere-kultusse

Europese ontdekkingsreisigers het in 1606 vir die eerste keer op Vanuatu voet aan wal gesit.b Wreedaardige stamme het die eilande bewoon, en kannibalisme was iets algemeens. Destyds het woude van sandelbome, wat ’n welriekende hout lewer en in Asië baie gesog was, die landskap bedek. Europese handelaars het besef dat hulle baie geld kan maak en het die bome stelselmatig uitgekap. Daarna het hulle hulle op slawejag toegespits.

Die slawehandelaars het plaaslike eilandbewoners gewerf om in Samoa, Fidji en Australië op suiker- en katoenplantasies te gaan werk. In teorie het werkers vrywillig ingestem om drie jaar lank te werk. In die praktyk is die meeste egter ontvoer. In die laat 1800’s, toe die slawehandel ’n hoogtepunt bereik het, het meer as die helfte van al die volwasse mans van party Vanuatu-eilande in die buiteland gewerk. Die meeste het nooit teruggekeer nie. Byna 10 000 bewoners van die Stille Oseaan-eilande het in Australië alleen gesterf, die meeste van hulle weens siekte.

Europese siektes het ook verwoesting gesaai op die Vanuatu-eilande. Die eilandbewoners het min of geen weerstand gehad teen masels, cholera, pokke en ander siektes nie. “Die gewone verkoue het hele bevolkings uitgewis”, sê een bron.

Sendelinge van die Christendom het in 1839 in Vanuatu aangekom en is onmiddelik vir aandete genooi—volgens berig was hulle toe self die hoofgereg! Dieselfde wrede lot het baie van hulle opvolgers getref. Mettertyd het Protestantse en Katolieke kerke egter stewig gevestig geword op die eilande. Vandag sê meer as 80 persent van Vanuatu se bewoners dat hulle aan ’n kerk behoort. Nogtans sê die skrywer Paul Raffaele: “Baie bewoners eerbiedig nog steeds plaaslike toordokters. Hierdie toordokters gebruik klippe wat onder die beheer van geeste is, in towerritusse om ’n nuwe minnaar te lok, ’n vark vet te maak of ’n vyand dood te maak.”

Een van die wêreld se oudste goedere-kultusse word ook in Vanuatu aangetref. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n halfmiljoen Amerikaanse soldate by Vanuatu aangedoen op pad na slagvelde in die Stille Oseaan. Eilandbewoners het hulle verwonder oor die groot rykdom, of “goedere”, wat die soldate saamgebring het. Ná die oorlog het die Amerikaners eenvoudig hulle goed gepak en vertrek. Miljoene rande se surplustoerusting en -voorraad is in die see gegooi. Godsdiensgroepe, wat goedere-kultusse genoem word, het vasmeerplekke en landingstroke gebou en het driloefeninge uitgevoer met nagemaakte militêre toerusting om die besoekers terug te lok. Selfs vandag bid honderde dorpsbewoners op Tanna-eiland nog steeds tot John Frum—“’n spookagtige Amerikaanse messias” wat, volgens hulle, eendag sal terugkeer en vir hulle ’n oorvloed kosbare goedere sal bring.

Kulturele diversiteit

Hierdie eilandnasie het ’n verbasende verskeidenheid tale en gebruike. Een reisgids sê: “Die mense van Vanuatu beweer dat hulle die meeste tale per capita ter wêreld het.” Ten minste 105 tale en etlike dialekte word regoor die eilandgroep gepraat. Bislama—die nasionale verkeerstaal—Engels en Frans is almal amptelike tale.

Regoor die eilande bly een ding tog dieselfde: Rituele beheer elke aspek van die lewe. ’n Eertydse vrugbaarheidsritus op Pentecost-eiland het selfs die wêreldwye rekspring-gier (bungee jumping) geïnspireer. Tydens die jaarlikse jam-oes duik mans en seuns van houttorings af wat 20 tot 30 meter hoog is. Net die lang ranke wat om hulle enkels vasgemaak is, keer dat hulle ’n gewisse dood sterf. Deur met hulle koppe aan die grond te raak, hoop hulle om die aarde “vrugbaar te maak” vir die volgende jaar se oes.

Op Malakula-eiland is party dorpies eers in onlangse jare vir buitestanders oopgestel. Die stamme wat as die Groot Nambas en Klein Nambas bekend staan, woon hier. Hulle was vroeër wreedaardige kannibale en het volgens berig hulle laaste slagoffer in 1974 geëet. Die gebruik om babaseuns se koppe styf toe te draai om “aantreklike” langwerpige skedels te vorm, het ook jare gelede geëindig. Vandag is die Nambas besonder vriendelik, en hulle geniet dit om hulle kultuurerfenis aan besoekers te verduidelik.

Mense in ’n paradys

Die meeste besoekers breek weg na Vanuatu vir ’n kort vakansie. Maar Jehovah se Getuies het sowat 70 jaar gelede daar aangekom om mense geestelik te help. Die pogings van die Getuies in hierdie “afgeleë deel van die aarde” het goeie vrugte afgewerp (Handelinge 1:8). (Sien die venster “Van kawa-verslaafde tot Christen”.) In 2006 het die vyf Getuie-gemeentes van in die land meer as 80 000 uur daaraan bestee om met ander te praat oor die Bybelboodskap van ’n komende aardse paradys (Jesaja 65:17-25). Hoe wonderlik is dit tog dat daardie toekomstige Paradys blywende verligting van die druk en bekommernisse van vandag se lewe sal bring!—Openbaring 21:4.

[Voetnote]

a Doejongs is plantetende mariene soogdiere wat langer as drie meter kan word en meer as 400 kilogram kan weeg.

b Voordat Vanuatu in 1980 nasionale onafhanklikheid verkry het, is dit die Nieu-Hebride genoem.

[Venster/Prent op bladsy 17]

DIE GELUKKIGE EILANDE

In 2006 was Vanuatu bo-aan die lys van die wêreldwye Happy Planet-indeks. Hierdie indeks, wat opgestel is deur die New Economics Foundation, ’n Britse dinksentrum, het 178 lande beoordeel volgens nasionale geluk, lewensduur en omgewingsimpak. “[Vanuatu] is bo-aan [die lys] omdat sy mense gelukkig is, byna 70 jaar oud word en min doen wat skade aan die planeet aanrig”, het die koerant Vanuatu Daily Post gesê.

[Prent]

Tradisionele kleredrag

[Erkenning]

© Kirklandphotos.com

[Venster/Prent op bladsy 17]

VAN KAWA-VERSLAAFDE TOT CHRISTEN

Willie, wat op Pentecost-eiland gebore is, het van jongs af baie kawa gedrink. Hierdie kragtige, kalmerende drankie word van die fyngestampte wortels van die peperplant gemaak. Elke aand het hy dronk van die kawa-kroeg af huis toe gesteier. Sy skuld het opgehoop. Hy het dikwels gewelddadig geword en sy vrou, Ida, geslaan. Toe het ’n werksmaat, een van Jehovah se Getuies, Willie aangemoedig om die Bybel te bestudeer. Willie het ingestem. Aanvanklik het Ida beswaar gemaak teen die studie. Maar namate haar man se gedrag verbeter het, het sy van mening verander en ook begin studeer. Saam het hulle goeie geestelike vooruitgang gemaak. Mettertyd het Willie sy slegte gewoontes oorkom. Hy en Ida is in 1999 as Jehovah se Getuies gedoop.

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NIEU-SEELAND

AUSTRALIË

STILLE OSEAAN

FIDJI

[Prent op bladsy 16]

As deel van ’n vrugbaarheidsritus neem grondduikers deel aan hierdie uiters gevaarlike gebruik

[Erkenning]

© Kirklandphotos.com

[Foto-erkenning op bladsy 15]

© Kirklandphotos.com

[Foto-erkenning op bladsy 15]

© Kirklandphotos.com

[Foto-erkenning op bladsy 16]

© Kirklandphotos.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel