Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/09 bl. 6-8
  • Ouers—Beskerm julle kinders!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers—Beskerm julle kinders!
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer ’n kind middels misbruik
  • Hoe om jou kinders te beskerm
    Ontwaak!—2003
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers – Help julle kinders om Jehovah lief te kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Is jou jong kind besig om ‘tot redding te groei’?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 5/09 bl. 6-8

Ouers​—Beskerm julle kinders!

BESORGDE ouers vra tereg: “Waarom is daar al hoe meer tieners wat medisyne skelm misbruik?” Daar is verskeie antwoorde. Party jonges soek opwinding. Ander wil beter studeer of angstigheid onderdruk. Nog ander ondervind dalk fisiese of emosionele lyding en wil eenvoudig beter voel. Trouens, selfs 12-jariges het al volslae misbruikers van voorskrifmedisyne geword en het dit moontlik bestel op een of meer van letterlik honderdduisende webwerwe wat sulke medisyne geredelik voorsien—sonder om vrae te vra. Ander het pille by sogenaamde vriende gekoop. As jy ’n ouer is, wat kan jy doen om jou kinders te beskerm?

Om mee te begin, moet jy openlik met hulle praat oor die gevare van voorskrifmedisyne en dwelms. Voorskrifmedisyne moet ook op ’n veilige plek gebêre word—sluit dalk selfs die medisynekas. Weet wat jy in voorraad het en monitor die gebruik daarvan. As medisyne nie meer nodig is nie, moet jy dit op ’n veilige plek weggooi. As ’n tiener nie meer hoes nie, maar hy nog steeds medisyne gebruik, moet jy hom daaroor vra. En hou ’n ogie oor jou kind se Internet- en kredietkaartbedrywighede asook sy posbestellings. Laastens, wees bewus van enige verandering in sy of haar assosiasie, voorkoms of gedrag of ’n skielike verswakking van sy punte op skool.

Wanneer ’n kind middels misbruik

Wat kan jy doen as jou kind middels misbruik, of jy ’n sterk vermoede het dat hy dit doen? Jy moet op ’n liefdevolle en vriendelike manier met jou kind praat oor wat jou bekommer. “Die bedoeling in ’n mens se hart is soos water diep onder die oppervlak”, sê die Bybel, “maar die man [of vrou] van verstand trek dit op” (Spreuke 20:5, The New American Bible). Om ’n kind wat vermoedelik middels misbruik, te kry om vir jou die waarheid te vertel, kan wees soos om ’n emmer water aan ’n dun toutjie op te trek. As jy te hard trek deur beskuldigend of bitter kwaad te wees, kan jy die tou van kommunikasie breek. Onthou, jy het ’n tweeledige doel. Eerstens wil jy uitvind of daar ’n probleem is. En tweedens, as daar wel ’n probleem is, wat die onderliggende redes daarvoor is. Hierdie redes sluit dikwels een of meer van die volgende in.

◼ Slegte omgang en portuurdruk. “Moenie ’n fout maak nie”, sê 1 Korintiërs 15:33, “slegte metgeselle bederf ’n goeie karakter” (The New English Bible). Wyse ouers sal dus hulle kinders help om die gevaar te sien van slegte vriende, wat ’n groot invloed kan hê. Aan die positiewe kant sal sulke ouers hulle kinders help om goeie metgeselle te kies (Spreuke 13:20). Dalk kan ouers help deur sulke vriende na hulle huis of op gesinsuitstappies te nooi.

◼ Stres. In vandag se wêreld is daar hewige druk om suksesvol te wees, en ouers vererger dinge soms deur te veel druk op hulle kinders te plaas.a Is jy bewus van jou kinders se swak en sterk punte? Stel jy redelike doelwitte vir hulle en help jy hulle om hierdie doelwitte te bereik? Vermy jy dit te alle tye om verkleinerende vergelykings te maak wat ’n kind se gees kan breek en die saadjies van depressie kan saai? As kinders se emosionele behoeftes nie by die huis bevredig word nie, sal hulle beslis die liefde en erkenning waarna hulle smag, elders gaan soek. Wyse ouers streef ook daarna om ’n geestelike milieu by die huis te skep, dalk deur die Bybel saam met hulle kinders te lees. “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, het Jesus Christus gesê.—Matteus 5:3.

◼ ’n Gebrek aan gedragsperke. Party jongmense misbruik middels omdat hulle ouers hulle eenvoudig te veel skiet gee. “’n Seun [of ’n dogter] wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek”, sê Spreuke 29:15. Die feit is, kinders waardeer duidelike gedragsperke, wat hulle meer geborge en geliefd laat voel—al maak hulle dalk beswaar. Daarom moedig die Bybel ouers aan om vir hulle kinders heilsame riglyne te gee, sowel as om ’n goeie voorbeeld te stel (Efesiërs 6:4). Die Bybel moedig ook konsekwentheid en fermheid aan wanneer dit nodig is. “Laat julle Ja, Ja beteken, en julle Nee, Nee.”—Jakobus 5:12.

As jy uitvind dat jou kind middels misbruik, sal dit natuurlik wys wees om die saak met ’n gesondheidsdeskundige te bespreek. Dit kan moeilik wees om ’n verslawing te oorkom, en dit sal dalk die hulp van ’n deskundige verg. As jou gesin deel is van die Christengemeente van Jehovah se Getuies, moet jy ook die plaaslike ouer manne se hulp inroep (Jakobus 5:13-16). Hierdie geestelik ryp manne sal jou moontlik kan help om Bybelbeginsels toe te pas, wat die herstelproses kan versnel.

Die volgende artikel sal ’n paar bykomende beginsels ondersoek en sal ook die wonderlike hoop wat ons op ’n beter toekoms kan hê, bespreek.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Kinders onder stres” op bladsy 14.

[Lokteks op bladsy 7]

“Die bedoeling in ’n mens se hart is soos water diep onder die oppervlak, maar die man van verstand trek dit op.”—Spreuke 20:5, New American Bible

[Venster op bladsy 7]

WAARSKUWINGSTEKENS VAN TIENERS IN GEVAAR

◼ ’n Familiegeskiedenis van middel- of alkoholmisbruik

◼ Depressie of ’n swak selfbeeld

◼ Voel hulle pas nie in by ander nie en is nie gewild nie

◼ Voel dikwels traag; sukkel om te slaap

◼ Hulle het ’n aggressiewe, opstandige gesindheid teenoor gesagsfigureb

[Voetnoot]

b Gebaseer op inligting verskaf deur Teen Help.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel