’n Valse vriend
Jy het ’n “vriend” wat jy in jou jeug ontmoet het. Hy het jou volwassener laat voel en jou skynbaar gehelp om by jou portuurs in te pas. Wanneer jy gespanne was, kon jy jou altyd tot hom wend vir ’n bietjie “verligting”. Ja, jy het in baie situasies op hom begin staatmaak.
Maar mettertyd het jy sy donker kant ontdek. Hy dring daarop aan om altyd by jou te wees, selfs al maak dit jou onwelkom op party plekke. En hoewel hy jou dalk volwassener laat voel het, was dit ten koste van jou gesondheid. Boonop steel hy deel van jou salaris.
In onlangse tye het jy die verhouding probeer beëindig, maar hy het dit nie toegelaat nie. In sekere sin het hy jou baas geword. Jy wens jy het hom nooit ontmoet nie.
DIT is die verhouding wat baie rokers met die sigaret het. ’n Vrou met die naam Earline, wat 50 jaar lank gerook het, sê: “Die sigaret het my meer gehelp as om ’n ander persoon by my te hê. Dit was nie net ’n ou vriend nie—soms was dit my enigste vriend.” Maar Earline het tot die besef gekom dat die sigaret in werklikheid ’n valse sowel as ’n wrede vriend is. Ja, die openingswoorde hierbo kon op haar van toepassing gewees het—met een uitsondering. Toe sy geleer het dat dit in God se oë verkeerd is om te rook omdat dit ons godgegewe liggaam besoedel, het sy met haar gewoonte gebreek.—2 Korintiërs 7:1.
’n Man genaamd Frank het ook besluit om op te hou rook sodat hy God kan behaag. Maar ’n dag of wat nadat hy sy laaste sigaret gerook het, het hy onder sy huis rondgekruip om na ou sigaretstompies te soek wat deur die vloerplanke geval het. “Dít was die laaste strooi”, het Frank gesê. “Toe ek besef dat ek op my hande en knieë in die grond na ou stompies soek, het dit my gewalg. Ek het nooit weer gerook nie.”
Waarom het tabak so ’n houvas op mense? Navorsers het ’n aantal redes ontdek: (1) Tabakprodukte kan net so verslawend wees as dwelms. (2) Nikotien wat ingeasem word, kan die brein binne net sewe sekondes bereik. (3) Rook word dikwels deel van ’n persoon se lewe omdat dit oor die algemeen geassosieer word met etery, drinkery, geselskap, die verligting van stres, ensovoorts.
Maar soos die geval van Earline en Frank toon, is dit moontlik om van hierdie skadelike verslawing los te breek. As jy rook, maar graag wil ophou, sal die volgende artikels jou moontlik help om ’n nuwe lewenswyse te begin volg.