Kry hulp
“As iemand een alleen sou kon oorweldig, sou twee saam teen hom kon staande bly.”—Prediker 4:12.
WANNEER ons die ondersteuning van ander het, het ons ’n groter kans om ’n vyand te oorwin—ongeag wie of wat daardie vyand is. As jy dus die rookgewoonte wil oorkom, sal dit moontlik verstandig wees om die hulp in te roep van jou familie en vriende—of enigiemand wat jou opreg sal ondersteun en wat geduldig sal wees.
Dink daaraan om diegene te vra wat self die gewoonte oorkom het, aangesien hulle dalk nie net empatie sal hê nie, maar ook hulp kan voorsien. “Die ondersteuning van ander was vir my van onskatbare waarde”, sê Torben, ’n Christen in Denemarke. Abraham, wat in Indië woon, skryf: “Die opregte liefde wat my familie en mede-Christene teenoor my betoon het, het my gehelp om rook op te gee.” Maar soms is selfs die ondersteuning van familie en vriende nie genoeg nie.
“Ek het 27 jaar lank gerook”, sê ’n man met die naam Bhagwandas, “maar omdat ek geleer het wat die Bybel oor onrein gewoontes sê, het ek besluit om op te hou. Ek het minder probeer rook. Ek het ander vriende gekry. En ek het vir berading gegaan. Niks het gewerk nie. Op die ou end het ek een aand my hart voor Jehovah God in gebed uitgestort en hom gesmeek om my te help om op te hou rook. Toe het ek uiteindelik daarin geslaag!”
Nog iets wat belangrik is, is om jou voor te berei op die struikelblokke waarvoor jy moontlik te staan sal kom. Wat is hierdie struikelblokke? Die volgende artikel sal verduidelik.
[Venster op bladsy 5]
MOET JY MEDIKASIE GEBRUIK?
Medikasie wat mense help om op te hou rook, soos nikotienplakkers, het ’n multimiljardrandbedryf geword. Voordat jy so iets probeer, moet jy oor die volgende vrae nadink:
Wat is die voordele? Baie terapieë vergroot blykbaar jou kanse om op te hou rook deur die onttrekkingsimptome te verminder. Daar is egter nie eenstemmigheid oor die doeltreffendheid daarvan op die lang termyn nie.
Wat is die gevare? Sekere middels het potensiële newe-effekte soos naarheid, depressie en selfmoordgedagtes. Hou ook in gedagte dat nikotienvervangingsterapieë die dwelm eenvoudig in ’n ander vorm voorsien, tesame met sy gesondheidsgevare. Die persoon wat hiervan gebruik maak, is dus in werklikheid nog steeds in ’n toestand van verslaafdheid.
Watter alternatiewe is daar? In een opname het 88 persent van mense wat daarin geslaag het om rook op te gee, gesê dat hulle meteens heeltemal opgehou rook het, sonder om medikasie te gebruik.