Dra godsdiens die skuld?
DIE geestelike en skrywer Jonathan Swift van die vroeë 18de eeu het geskryf: “Ons godsdiens is net genoeg om te maak dat ons mekaar haat, maar nie genoeg om te maak dat ons mekaar liefhet nie.” Baie mense het al aangevoer dat godsdiens in werklikheid verdeeldheid eerder as eenheid bevorder. Maar nie almal stem hiermee saam nie.
Beskou byvoorbeeld die slotsom waartoe ’n groep navorsers gekom het by die Departement Vredestudies aan die Universiteit van Bradford in die Verenigde Koninkryk. Die groep is deur die Britse Uitsaaikorporasie die opdrag gegee om ’n betroubare antwoord te voorsien op die vraag of godsdiens vrede of oorlog bevorder.
Die navorsers het in ’n gepubliseerde verslag gesê: “Nadat ons geskiedkundige ontledings van ’n verskeidenheid deskundiges ondersoek het, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat min oorloë in die afgelope 100 jaar werklik godsdiensoorloë was.” Die navorsingspan het verduidelik dat party oorloë wat “dikwels in die media en op ander plekke geskets is as godsdiensoorloë, of oorloë wat weens godsdiensverskille ontstaan het, in werklikheid oorloë was wat weens nasionalisme, die bevryding van gebied of selfverdediging gevoer is”.
Baie ander voer egter aan dat die geestelikes, deur hulle dade of deur hulle stilswye, talle gewapende konflikte goedgekeur en daadwerklik ondersteun het, soos die volgende aanhalings toon:
● “Dit lyk of godsdiens feitlik oral met geweld verband hou. . . . In onlangse jare het godsdiensgeweld uitgebreek onder regse Christene in die Verenigde State, woedende Moslems en Jode in die Midde-Ooste, twistende Hindoes en Moslems in Suid-Asië en inheemse godsdiensgemeenskappe in Afrika en Indonesië. . . . Die individue wat by hierdie gevalle betrokke was, het op godsdiens staatgemaak om politieke identiteite te voorsien en wraaksugtige ideologieë te regverdig.”—Terror in the Mind of God—The Global Rise of Religious Violence.
● “Dit is ironies dat nasies wat uiters godsdienstig is, dikwels deur die ergste maatskaplike euwels geteister word. . . . Wydverspreide godsdienstigheid het nie voorkom dat misdaadsyfers die hoogte inskiet nie. . . . Die bewyse is duidelik: As jy lewensomstandighede wil vind wat veilig, betaamlik, ordelik en ‘beskaafd’ is, moet jy plekke vermy waar godsdiensywer hoog loop.”—Holy Hatred.
● “Baptiste is baie bekender daarvoor dat hulle veg as vrede maak. . . . Toe die [Amerikaanse] slawekwessie en ander verwikkelinge die godsdienste en daarna die nasie in die negentiende eeu verdeel het, het Baptiste in die Noorde en Suide die oorlogspoging as ’n regverdige kruistog ondersteun en aangeneem dat God aan hulle kant is. Baptiste het ook hulle ondersteuning gegee aan die nasie se oorloë teen Engeland (1812), Mexiko (1845) en Spanje (1898), en hulle het laasgenoemde twee geregverdig ‘hoofsaaklik op grond daarvan dat dit godsdiensvryheid aan onderdrukte volke gegee het en nuwe gebiede vir sendingwerk geopen het’. Die punt is nie dat Baptiste oorlog eerder as vrede wou hê nie, maar dat Baptiste, wanneer oorlog ’n werklikheid geword het, oor die algemeen die oorlogspoging ondersteun het en daaraan deelgeneem het.”—Review and Expositor—A Baptist Theological Journal.
● “Geskiedkundiges het gevind dat mense in die meeste eras en onder feitlik al die verskillende volke en kulture in die wêreld, en gewoonlik aan albei kante in enige gegewe oorlog, deur godsdiens aangespoor is om te veg. Die eeue-oue kreet ‘die gode is aan ons kant’ was van die vroegste en kragtigste aansporings om te veg.”—The Age of Wars of Religion, 1000-1650—An Encyclopedia of Global Warfare and Civilization.
● “Godsdiensleiers moet . . . meer krities nadink oor hulle eie versuim om doeltreffender leierskap te voorsien en om die ware fundamentele waardes van hulle onderskeie gelowe te bevorder. . . . Dit is waar dat alle godsdienste vrede wil bevorder, maar dit is te betwyfel of godsdiens al ooit hierdie rol vervul het.”—Violence in God’s Name—Religion in an Age of Conflict.
Deur die geskiedenis heen het die geestelikes van al die vername godsdienste van die Christendom (Katoliek, Ortodoks en Protestants) ’n eindelose stroom priesters en kapelane voorsien om die moraal van die troepe te versterk en vir die dooies en sterwendes te bid—en dit aan albei kante van elke konflik. Deur middel van hierdie ondersteuning het hulle die bloedvergieting deur die vingers gesien en hulle seën aan al die militêre magte gegee.
Party voer dalk nog steeds aan dat godsdiens nie die skuld vir oorlog dra nie. Maar die vraag is: Het godsdiens in enige van sy pogings geslaag om die mensdom te verenig?
[Venster op bladsy 5]
“Die eerw. dr. Charles A. Eaton, pastoor van die Madison Avenue-Baptistekerk, het gister van sy kansel af aangekondig dat die kerkhuis ’n werwingskantoor gaan word vir mans wat by die leër of die vloot wil aansluit.
“Hy was een van meer as tien geestelikes in die stad wat by hulle gereelde dienste op Sondagoggende oorlog gepreek het en wat mans en vroue aangespoor het om lojaliteit aan die nasie en demokrasie te bewys deur so gou as moontlik aan te bied om met die oorlogspoging te help. Vlae het baie kerke versier.”—“The New York Times”, 16 April 1917.