Veiligheidswenke vir bejaardes
’N MEISIE skaats op ’n skaatsbaan. Skielik gly en val sy. Sekondes later is sy weer op haar voete, en net haar trots is gekrenk. ’n Bejaarde vrou struikel en val in haar huis en breek haar heup. Sy ondergaan ’n operasie en is maande lank in ’n rehabilitasiesentrum. Omdat sy nou nog banger is om te val, vermy sy fisiese bedrywighede en raak sy swakker.
Elke jaar in een Westerse land val meer as ’n derde van die mense wat 65 jaar en ouer is. Wat meer is, in hierdie ouderdomsgroep is dít die hoofoorsaak van sterfgevalle weens beserings. Die Bybel sê met goeie rede van bejaardes: “Hulle [het] bang geword bloot vir wat hoog is, en daar is verskrikkinge op die weg.”—Prediker 12:5.
Hoewel bejaardheid dikwels met fisiese uitdagings gepaardgaan, kan jy praktiese stappe doen om jou persoonlike veiligheid en lewensgehalte te verbeter. Eerstens kan jy redelik gesond en sterk probeer bly. Tweedens kan jy jou huis veiliger maak.
Probeer gesond en sterk bly
Wanneer ons ouer word, is ons koördinasie, sig en balans dalk nie meer so goed nie. Ons raak miskien ook broser namate ons spiere en gebeente swakker word. Gereelde fisiese oefening en goeie eetgewoontes kan hierdie agteruitgang vertraag. “Dit is belangrik om oefeninge te doen wat ’n mens se balans, postuur, krag en beweegbaarheid verbeter”, sê Nita, ’n fisioterapeut.
’n Publikasie van die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste sê: “Ongeag hoe gesond hulle is en waartoe hulle fisies in staat is, bejaardes kan grootliks daarby baat vind as hulle fisies aktief bly. Selfs as dit vir jou moeilik is om te staan of te loop, kan jy nog steeds oefening doen en daarby baat vind. Trouens, in die meeste gevalle sal dit jou meer benadeel as jy niks doen nie.”a Fisiese oefening kan jou help om onder meer hartkwale, gewrigspyn, osteoporose en depressie te beveg. Dit kan jou bloedsirkulasie, spysvertering en slaap verbeter, en dit kan jou meer selfvertroue gee en oplettender maak.
As jy nie daaraan gewoond is om fisiese oefening te doen nie, sal dit goed wees om eers jou dokter te raadpleeg. Jy kan hom of haar ook besoek as jy duiselig voel of borspyn ondervind terwyl jy oefening doen. Trouens, in so ’n situasie sal dit dalk verstandig wees om ’n noodnommer te bel. Moenie sulke potensieel gevaarlike simptome ignoreer nie! Daar word ook aanbeveel dat jy jou oë een keer per jaar deur ’n oogkundige laat toets.
Wanneer dit by dieet kom, moet jy etes vermy wat nie veel vitamiene en minerale bevat nie, selfs al is dit vinnig en maklik om voor te berei. Veral ouer persone het kos nodig wat ryk is aan vitamien D en kalsium, wat albei kan help om beenmassa te behou of ten minste die verlies daarvan te vertraag. Probeer dus om volgraankosse, laevetsuiwelprodukte en vars vrugte en groente by jou dieet in te sluit. Raadpleeg jou dokter voordat jy jou eetgewoontes drasties verander. Hy of sy sal moontlik vir jou goeie wenke in verband met dieet kan gee of sê watter kosse jy om sekere gesondheidsredes moet vermy.
Daarbenewens moet jy genoeg vloeistowwe probeer drink. Ontwatering is algemeen onder bejaardes, veral dié wat alleen woon of in ouetehuise is, en dit kan maak dat hulle makliker val en kan aanleiding gee tot verwarring, hardlywigheid, swak elastisiteit van die vel, infeksie en selfs die dood.
Maak jou huis veiliger
Bejaardes val meestal by die huis. Maar jy kan hierdie gevaar grootliks verminder deur ’n paar praktiese voorsorgmaatreëls te tref. Dink aan jou huis terwyl jy die volgende lees.
Badkamer:
● Die vloer moet goeie vastrapplek hê wanneer dit nat is.
● Die stort of bad moet ’n glyvaste matjie of afwerking hê, en as jy ’n stortstoel het, moet jy die krane maklik kan bykom. Dit kan ook nuttig wees om ’n handstort te hê sodat jy kan bly sit terwyl jy was.
● Dit is goed om handrelings te hê waaraan jy kan vashou wanneer jy in of uit die bad klim of die toilet gebruik. Sulke relings moet sterk en stewig vas wees. Maak ook seker dat die toiletsitplek hoog genoeg is sodat jy kan gaan sit en opstaan sonder om jou te veel in te span.
● Laat nagligte brand of gebruik ’n flits.
Trappe:
● Niks moet op die trappe rondlê nie; dit moet in ’n goeie toestand en goed belig wees.
● Trappe moet stewige handrelings aan albei kante hê indien moontlik, sowel as glyvaste stroke en ligskakelaars aan die bo- en onderkant.
● Trappeklim kan bejaardes help om hulle bene sterk te hou. Maar as jy sukkel om jou balans te hou, moet jy trappe nie alleen probeer klim nie.
Slaapkamer:
● Maak seker dat daar genoeg ruimte is sodat jy maklik en veilig om die bed en ander meubels kan beweeg.
● Hou ’n stoel in die kamer waarop jy kan sit terwyl jy aantrek.
● Hou ’n lamp of ’n flits binne jou bereik wanneer jy in die bed is.
Kombuis:
● Werksoppervlakke moet netjies wees sodat daar genoeg plek is om kruideniersware en ander items neer te sit.
● Die kombuisvloer moet glyvas wees en nie te veel blink nie.
● Items in die kaste moenie te hoog of te laag wees nie, maar moet sonder hulp maklik uitgehaal kan word. Probeer om nie lere en trapstoeltjies te gebruik nie, en moet nooit op ’n stoel staan nie!
Algemeen:
● Laat nagligte brand op pad badkamer toe asook op ander plekke waarheen jy snags dalk gaan.
● Dit kan nuttig wees om ’n kierie of ’n loopraam snags te gebruik wanneer jy nie so wakker of oplettend is nie.
● Jou stoele moet stewig wees (geen wiele), armleunings hê en die regte hoogte wees sodat jy maklik kan gaan sit en opstaan.
● Om te voorkom dat jy struikel, moet jy uitgerafelde matte, vloermateriaal wat opkrul of gebreekte teëls regmaak, vervang of verwyder. Alle elektriese koorde moet teen die mure gelê word, nie oor loopareas nie.
● ’n Mens kan oor los matte struikel, en daarom moet dit nie bo-op ander matte lê nie. As dit op ’n gladde vloer, soos teëls of hout, gesit word, moet dit ’n glyvaste onderkant hê sodat dit nie kan rondskuif nie.
● Moenie pantoffels dra wat los sit of afgetrap is of wat nie ’n agterkant of glyvaste sole het nie. En moenie sandale of skoene met hoë hakke dra nie.
● Party soorte medisyne kan ’n mens lighoofdig of onvas op jou voete laat voel. As jy ooit so voel nadat jy medisyne geneem het, moet jy beslis jou dokter daarvan vertel. Hy of sy sal dalk die dosis verander of selfs ander medikasie voorskryf.
As jy enigiets sien wat aandag nodig het en dit nie vir jou veilig sal wees om self daarna om te sien nie, kan jy gerus die hulp inroep van familielede, vriende of diegene wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die gebou. En probeer om nie uit te stel nie.
Wat ander kan doen
Wat kan jy doen om bejaarde ouers, grootouers of vriende te help sodat hulle nie val en hulle beseer nie? Om maar een ding te noem, jy kan die voorgemelde kontrolelys taktvol saam met hulle deurgaan en help om reëlings te tref om dinge wat aandag nodig het, reg te stel. Afhangende van die behoefte, kan jy ’n voedsame maaltyd of twee elke week vir hulle voorberei. Bejaardes het ook gereeld oefening nodig. Kan jy hulle nooi om saam met jou te stap terwyl jy dalk ander bedrywighede verrig? Talle bejaardes sal dit geniet om uit die huis te kom as hulle saam met iemand kan gaan wat hulle vertrou. In party lande bied die regering dienste aan soos tuisverpleging, fisioterapie of arbeidsterapie en huisveiligheid. Jou dokter sal jou waarskynlik kan inlig oor sulke dienste.
Ons Skepper, wat self “die Oue van Dae” genoem word, vereis dat ons respek vir bejaardes toon, veral vir ons bejaarde ouers (Daniël 7:9). “Eer jou vader en jou moeder”, beveel hy (Eksodus 20:12). Hy sê ook: “Voor grys hare moet jy opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon, en jy moet jou God vrees” (Levitikus 19:32). Ja, respek vir bejaardes weerspieël in werklikheid ’n heilsame vrees vir God! Wanneer bejaardes op hulle beurt opreg dankbaar is vir die hulp wat hulle ontvang, sal dit ander beweeg om hulle met liefde en respek te behandel. Om sulke persone te help, is nie ’n las nie. Dit is ’n plesier!
[Voetnoot]
a Die Ontwaak! van 22 Mei 2005 het die voordele van gereelde oefening in meer besonderhede bespreek.
[Venster/Prente op bladsy 15]
ELEKTRONIESE HULP IN ’N NOODGEVAL
In party lande kan bejaardes ’n klein elektroniese toestelletjie aanskaf wat hulle tydens ’n noodgeval, soos wanneer hulle val en seerkry, kan gebruik om met die druk van ’n knoppie hulp te ontbied. Hierdie toestelletjies kan om die nek of pols gedra word. As hierdie diens beskikbaar is waar jy woon, kan jy dit oorweeg om daarvan gebruik te maak—veral as jy alleen woon.