Die Terezín-vesting—Dit kon nie lyding voorkom nie
THERESIENSTADT (of Terezín) lê halfpad tussen die stede Dresden en Praag in Sentraal-Europa. Die dorp sluit ’n groot vesting met yslike verskansings in. Dit is gebou om te keer dat vreemde leërs die land binnedring en om die inwoners van die omliggende gebied te beskerm.
Josef II, die koning van Duitsland asook die Rooms-koning, het beveel dat die vesting gebou word, en hy was teenwoordig toe die bouterrein besigtig is en ook toe die hoeksteen teen die einde van 1780 gelê is. Die vesting is gebou ter ere van sy moeder, die keiserin Maria Theresia, en is dus die Duitse naam Theresienstadt gegee, wat “Stad van Theresia” beteken.a Na bewering het tot 14 000 werkers op ’n slag op die terrein gewerk. Die grootste deel van die werk is binne vier jaar voltooi.
Toe Terezín in 1784 voltooi is, was dit die grootste vesting in die Hapsburg-lande. Die ingenieurstegnieke wat gebruik is, was op daardie stadium die gevorderdste in die geskiedenis van vestingboukunde. Maar selfs voordat dit voltooi is, het militêre taktieke en strategieë aansienlik verander.
Vyandige magte het nie meer ’n kasteel beleër wanneer hulle ’n land binnegeval het nie. Hulle het nabygeleë dorpies omsingel en geplunder. Gevolglik het Terezín teen 1888 sy status as ’n militêre vesting verloor. Sy wye buitenste verskansings is omskep in pragtige parke met tuinpaadjies en bankies.
Die vesting en die dorp
Die Terezín-vesting is ontwerp om ’n versterkte stad te wees. Agter sy yslike verskansings was daar huisvesting vir soldate, hulle gesinne en ander burgerlikes.
’n Kleiner vesting, wat langs die hoofvesting gebou is, het as ’n militêre gevangenis gedien. In die vroeë 1800’s is politieke teenstanders van die Hapsburg-ryk daar aangehou. Ongeveer honderd jaar later is die jongmense wat betrokke was by die sluipmoord op aartshertog Frans-Ferdinand in Sarajevo in 1914, ook daar gevange gehou. Hulle het die doodstraf vrygespring omdat hulle onder die ouderdom van 20 was. Maar kort daarna het die meeste van hulle in die tronk gesterf. Hulle is gemartel, en party het kranksinnig geraak. Gavrilo Princip, die eintlike sluipmoordenaar, is in daardie tronk oorlede terwyl die Eerste Wêreldoorlog nog gewoed het.
Die Klein Vesting was berug as een van die ergste strafgevangenisse in Oostenryk-Hongarye. Gevangenes is dikwels in swaar boeie in koue, klam kerkers opgesluit. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die vesting vir selfs grusamer doeleindes gebruik.
“Die Terezín-spa”—Wat dit werklik was
Nadat die Nazi’s die gebied wat nou die Tsjeggiese Republiek is, binnegeval en beset het, het hulle Jode in 1941 na die hoofvesting begin neem. Theresienstadt is deur die Nazi’s in ’n geslote Jodebuurt verander. Hulle het aangevoer dat rasseskeiding nodig is om konflikte tussen Jode en nie-Jode te vermy. Hoewel die Nazi’s beweer het dat Theresienstadt ’n geslote spadorp is waar Jode behandeling kon ontvang, het hulle heimlik beplan om alle Jode uit te wis.
In Oos-Europa het die Nazi’s alreeds doodskampe gehad waarheen Jode van Theresienstadt en soortgelyke plekke mettertyd geneem en doodgemaak is.b Hoewel dit sedert die middel-1930’s alombekend was dat sulke kampe bestaan, het Nazi-propaganda dit bloot as tronke uitgebeeld. Maar al hoe meer berigte oor die toestande in die kampe het die rondte begin doen. Gevolglik is daar druk op Nazi-amptenare geplaas om op die aantygings te reageer. Die Nazi’s het dus ’n plan beraam om die internasionale publiek van antwoorde op die aantygings te voorsien. Hoe het hulle dit gedoen?
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, in 1944 en 1945, is verteenwoordigers van die Internasionale Rooikruis genooi om ’n inspeksie by die hoofvesting te doen om eerstehands te sien wat daar aangaan. Maar om die indruk te skep dat die vesting net ’n spadorp is, het die Nazi’s baie moeite gedoen om die dorp te verfraai.
Bloknommers is vervang met mooi straatname. ’n Bank, ’n kleuterskool en winkels is vir die skyn geskep. Selfs ’n kafee is in die middel van die buurt geopen. Die voorkante van huise is opgeknap, nuwe plante is in die sentrale park geplant en ’n paviljoen is gebou, waar promenademusiek gespeel is.
Toe is verteenwoordigers van die Rooikruis genooi om op ’n begeleide toer te gaan. Hulle is toegelaat om te praat met verteenwoordigers van die Joodse “selfregering”. Hierdie mense was egter inwoners wat versigtig gekies is en wat vrae beantwoord het presies soos die Nazi’s dit vooraf by hulle ingedril het. Tydens twee afsonderlike inspeksies het die Nazi’s dit reggekry om die afgevaardigdes van die Rooikruis om die bos te lei. In hulle verslae het die afgevaardigdes Theresienstadt verkeerdelik beskryf as ’n gewone Joodse dorp met inwoners na wie daar goed omgesien word. Toe die afgevaardigdes van die Internasionale Rooikruis uit Theresienstadt weg is, het die Jode agter die stadsmure steeds gely, verhonger en doodgegaan. Min het die Tweede Wêreldoorlog oorleef.
Die Klein Vesting
Die Klein Vesting is ook deur die Nazi’s as ’n tronk gebruik. Die toestande daar was net so haglik soos in die konsentrasiekampe. Baie van die tienduisende mans en vroue wat in die Klein Vesting opgesluit was, het net ’n kort rukkie daar gebly voordat hulle na van die groter kampe in die gebied van die Duitse Ryk oorgeplaas is.
Ten minste 20 Getuies van Jehovah van Praag, Pilsen en ander dele van die land was in die Klein Vesting opgesluit. Watter misdaad het hulle gepleeg? Hulle het geweier om die Nazi’s te ondersteun en het hulle politieke neutraliteit gehandhaaf. Ondanks die verbod op hulle predikingswerk het die Getuies voortgegaan om die goeie nuus van die Bybel aan ander te verkondig. Hulle het bloot weens hulle geloof gely, en party is tereggestel of doodgemartel.
’n Les vir ons
Die Bybel sê: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes” (Psalm 146:3, 4). Die Terezín-vesting is ’n sprekende voorbeeld van hierdie waarheid.
[Voetnote]
a Die keiserin was ook die moeder van Marie Antionette, wat later die koningin van Frankryk geword het.
b Vir meer inligting, sien die Ontwaak! van 22 Augustus 1995, bladsye 3-15, en 8 April 1989, bladsye 3-20.
[Venster op bladsy 20]
JEHOVAH SE GETUIES IN DIE KLEIN VESTING
Die meeste Getuies van Jehovah wat in Theresienstadt gevange gehou is, is eers by die Praag-hoofkwartier van die Gestapo ondervra. Ná Theresienstadt is hulle gewoonlik na die konsentrasiekampe in Duitsland gestuur. Hoe het hulle die haglike toestande in die tronk asook die afsondering die hoof gebied?
’n Getuievrou wat ’n gevangene in Theresienstadt was, sê: “Ek wou Bybelleringe nie vergeet nie, en daarom het ek dit oor en oor in my gedagtes hersien. In elke tronk waarna ek oorgeplaas is, het ek na ander Getuies gesoek; en as ek hulle gevind het, het ek met hulle in aanraking probeer kom. Terselfdertyd het ek my ingespan om soveel as moontlik vir ander te getuig.”
Haar benadering het klaarblyklik gewerk. Sy het aan God getrou gebly terwyl sy in die gevangenis was asook in die jare wat daarop gevolg het.
[Prent op bladsy 18]
Seël waarop ’n idilliese Terezín gedurende die Tweede Wêreldoorlog uitgebeeld word
[Prent op bladsy 19]
Nuwe gevangenes is na die barak gelei. Die teken sê in Duits: “Arbeit Macht Frei” (Arbeid maak vry)
[Prent op bladsy 19]
Plankbeddens in die vroue se deel van die vesting
[Prent op bladsy 20]
Hoofingang van die Klein Vesting
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Albei foto’s: With courtesy of the Memorial Terezín