Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/12 bl. 2-6
  • Die unieke uitdagings van stiefgesinne

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die unieke uitdagings van stiefgesinne
  • Ontwaak!—2012
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om ’n gelukkige stiefgesin op te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die unieke probleme van stiefgesinne
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Verhoudings met diegene buite julle stiefgesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Stiefgesinne kan suksesvol wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 4/12 bl. 2-6

Die unieke uitdagings van stiefgesinne

● Volgens ’n deskundige op die gebied van stiefgesinne, dr. Patricia Papernow, sou dit ’n fout wees om die probleme van ’n stiefgesin op dieselfde wyse te benader as dié van ’n gewone gesin. Dit sou wees soos om “jou weg deur die strate van New York te probeer vind met ’n kaart van Boston”.

Die feit is dat die uitdagings waarvoor stiefgesinne te staan kom, nie net uniek is nie, maar ook groter is as dié waarvoor gewone gesinne te staan kom. Trouens, die sielkundige William Merkel, beskryf die verhoudings in ’n stiefgesin as “die ingewikkeldste, onnatuurlikste en moeilikste verhoudings wat aan die mens bekend is”.

Sal ’n stiefgesin dan ooit suksesvol kan wees? Die verhoudings in ’n stiefgesin kan vergelyk word met die nate van ’n lappieskombers. Hoewel die nate aan die begin nie so stewig is nie, kan dit, wanneer die kombers voltooi is, net so sterk soos die oorspronklike materiaal wees—as die nate met sorg gestik word.

Kom ons ondersoek ’n paar algemene uitdagings waarvoor stiefgesinne te staan kom en die stappe wat baie stiefgesinne gehelp het om hulle lewens aanmekaar te “stik”. Daarna sal ons na vier suksesvolle stiefgesinne kyk.

UITDAGING 1: ONVERVULDE VERWAGTINGE

“Ek het verwag dat my stiefkinders my sou aanvaar as ek hulle baie liefde en aandag gee, maar agt jaar is al verby, en ek wag nog steeds.”—Gloria.a

STIEFGESINNE begin dikwels met hoë verwagtinge. Ouers hoop om die foute wat hulle in ’n vorige huwelik gemaak het, te vermy of reg te stel en om die liefde of geborgenheid te vind wat hulle voorheen ontwyk het. Sommige verwagtinge is dalk net drome, maar enige verwagting wat onvervuld bly, veroorsaak spanning. Soos die Bybel sê: “’n Verwagting wat lank onvervuld bly, maak die hart siek” (Spreuke 13:12, Beck). Gestel onvervulde verwagtinge laat jou so voel.

WAT JY KAN DOEN

Moenie jou gevoelens opkrop en hoop dat die teleurstelling maar net sal verdwyn nie. Probeer eerder identifiseer watter onvervulde verwagting jou frustreer. Dan moet jy vasstel waarom jy hierdie verwagting koester sodat jy kan verstaan waarom jy daaraan vashou. Intussen moet jy ’n realistieser verwagting probeer vind. Hier is ’n paar voorbeelde:

1. Ek sal van die begin af lief wees vir my stiefkinders, en hulle sal lief wees vir my.

Waarom? Dit was nog altyd my droom om deel te wees van ’n liefdevolle, hegte gesin.

’n Realistieser verwagting: Ons liefde vir mekaar kan met verloop van tyd toeneem. Wat nou in ons gesin saak maak, is dat ons veilig voel en mekaar respekteer.

2. Almal in die nuwe gesin sal gou aanpas.

waarom? Ons is reg vir ’n nuwe begin.

’n Realistieser verwagting: Dit neem stiefgesinne gewoonlik vier tot sewe jaar om aan te pas. Ons probleme is glad nie ongewoon nie.

3. Ons sal nie oor geld stry nie.

Waarom? Ons liefde sal ons help om nie oor onbenullige dinge te stry nie.

’n Realistieser verwagting: In ons vorige huwelike was daar ingewikkelde kwessies oor geld. Ons is dalk nog nie gereed om al ons geld bymekaar te sit nie.

UITDAGING 2: HOE OM MEKAAR TE VERSTAAN

“Ons het gou aangepas—almal in die nuwe stiefgesin was onmiddellik op hulle gemak.”—Josjito.

“Dit het omtrent tien jaar geneem voordat ek opreg tot die sukses van ons stiefgesin wou bydra.”—Tatsoeki, stiefseun van Josjito.

SOOS Josjito en Tatsoeki, verstaan die lede van ’n stiefgesin mekaar dalk nie werklik nie. Waarom moet ’n mens dit in gedagte hou? Want wanneer probleme ontstaan, sal jy miskien dadelik wil optree om dit op te los. Maar om op ’n doeltreffende manier op te tree, moet jy eers jou gesin verstaan.

Dit is belangrik om te let op hoe jy kommunikeer, aangesien woorde ’n afbrekende sowel as ’n opbouende uitwerking kan hê. Die Bybel stel dit so: “Dood en lewe is in die mag van die tong” (Spreuke 18:21). Hoe kan jy op so ’n wyse kommunikeer dat dit vir julle makliker sal wees om mekaar te verstaan, nie moeiliker nie?

WAT JY KAN DOEN

• Moenie veroordelend wees nie, maar toon eerder belangstelling en empatie wanneer dit by die ander se gevoelens kom. Byvoorbeeld:

As jou seun sê: “Ek mis my pa”, moet jy erken dat dit vir hom moeilik is. In plaas van te sê: “Maar jou stiefpa is lief vir jou en behandel jou beter as jou pa”, kan jy dalk eerder sê: “Dis seker baie moeilik vir jou. Sê vir my, wat mis jy die meeste omtrent jou pa?”

Moenie jou nuwe huweliksmaat beskuldig deur te sê: “Jou seun sou nie so onbeskof gewees het as jy ’n beter ouer was nie”, maar vertel hom of haar eerder hoe jy voel. Jy kan dalk sê: “Sal jy Riaan asseblief daaraan herinner om my te groet wanneer hy by die huis kom? Dit sal my regtig help.”

• Probeer om mekaar beter te leer ken gedurende etenstye, ontspanning en aanbidding.

• Hou gereeld gesinsbesprekings waarby almal teenwoordig is. Laat elke gesinslid toe om iets te meld wat hulle omtrent die nuwe gesin waardeer, en daarna iets te noem wat hulle bekommer, en moet hulle nie onderbreek nie. Toon respek, al stem jy nie saam nie, en laat enigeen van die gesinslede sê wat hulle dink die oplossing is.

UITDAGING 3: HOE OM “BUITESTANDERS” IN TE LAAT

“My vrou en haar kinders bespreek sake op hulle eie en span dan teen my saam. Ek is die buitestander, ’n indringer.”—Walt.

DIE vrees om in jou eie gesin ’n buitestander te wees, kan die oorsaak wees van probleme wat skynbaar glad nie met mekaar verband hou nie. Byvoorbeeld:

• Kinders wat voor die troue goed met ’n toekomstige stiefouer oor die weg gekom het, is geneig om ná die troue te sukkel.

• ’n Stiefouer is jaloers op ’n sesjarige kind.

• Groot rusies ontstaan oor skynbaar onbenullige huishoudelike sake.

Hierdie situasie het ook ’n uitwerking op die biologiese ouer, aangesien dit groot druk op hom of haar plaas as dit lyk asof die stiefgesin nie verenig is nie. Soos Carmen dit gestel het: “Dit is baie moeilik om heeltyd die skeidsregter tussen my man en my twee kinders te wees.”

Die Gulde Reël kan stiefgesinne help om hierdie uitdaging die hoof te bied. Jesus het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Hoe kan stiefgesinne almal help om deel van die gesin te word sodat niemand soos ’n buitestander voel nie?

WAT JY KAN DOEN

• Stel jou huwelik eerste (Genesis 2:24). Bring tyd deur met jou nuwe huweliksmaat, en laat jou kinders duidelik verstaan wat sy of haar posisie in die gesin is. Selfs voordat ’n pa weer trou, kan hy byvoorbeeld vir sy kinders sê: “Ek is lief vir Anna, en sy gaan my vrou word. Ek weet dat julle haar goed sal behandel.”

• Bring tyd alleen met elkeen van jou kinders deur. As jy ’n spesifieke tyd hiervoor opsysit, wys dit vir hulle hoe belangrik hulle vir jou is en sal dit hulle van jou liefde verseker.

• Bring tyd alleen met elke stiefkind deur sodat julle julle verhouding kan opbou sonder dat die ander ouer as ’n skeidsregter optree.

• Laat kinders toe om by die gesin “aan te sluit” sonder om te verwag dat hulle van hulle vorige gesin afstand moet doen. Dit is gewoonlik die beste om nie te vereis dat stiefkinders aanspreekvorme soos “Ma” of “Pa” moet gebruik nie. Ouer kinders sal aan die begin dalk ongemaklik voel om woorde soos “gesin” of “ons” met verwysing na die stiefgesin te gebruik.

• Gee elke kind takies om in die huis te doen, ’n sitplek by die tafel en ’n plekkie van sy eie in die huis. Dit sluit dié in wat nie permanent by julle bly nie.

• Oorweeg dit om na ’n ander huis te trek of om ’n paar veranderinge in die bestaande huis aan te bring sodat nuwe gesinslede nie soos indringers sal voel nie.

UITDAGING 4: DISSIPLINERING VAN KINDERS

“Wanneer ek Carmen se kinders probeer dissiplineer, troos sy hulle pleks daarvan om my te ondersteun.”—Pablo.

“Ek voel diep seergemaak wanneer Pablo te streng is met my kinders.”—Carmen.

WAAROM kan die grootmaak van kinders onenigheid in ’n stiefgesin veroorsaak? In ’n enkelouergesin was dissipline moontlik verwaarloos. Wanneer ’n stiefouer by die gesin aansluit, sal hy of sy miskien nog nie ’n hegte band met die kinders hê nie. Die gevolg? Die stiefouer dink dalk dat die biologiese ouer te toegeeflik is teenoor die kinders, terwyl die biologiese ouer dink dat die stiefouer te streng is met hulle.

Die Bybel beveel aan dat ’n mens ’n balans handhaaf wat die grootmaak van kinders betref: “Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah [God] op te voed” (Efesiërs 6:4). Dit is dus belangrik dat jy jou kind se denke vorm, nie net sy gedrag beheer nie. Ouers word terselfdertyd aangespoor om liefdevol te wees sodat hulle dissipline nie ’n bron van irritasie word nie.

WAT JY KAN DOEN

• Stel huisreëls vas, en begin met dié wat julle reeds het. Die volgende scenario toon watter voordeel sulke reëls inhou:

Stiefma: Karen, die huisreël is: Geen SMS’e voordat jou huiswerk klaar is nie.

Karen: Jy’s nie my ma nie.

Stiefma: Dis waar, Karen, maar vanaand is ek die ouer wat toesig hou, en die reël is dat jy geen SMS’e mag stuur voordat jou huiswerk klaar is nie.

• Moenie te veel reëls maak of die kinders se roetine te gou verander nie. Iets wat ’n stiefouer meen ’n eenvoudige versoek is, kan ’n las wees vir ’n kind wat voel dat sy hele wêreld reeds onderstebo gekeer is. Dit sal natuurlik nodig wees om ’n paar nuwe reëls te maak, soos reëls oor privaatheid en kleredrag, veral as daar ouer kinders in die stiefgesin is.

• As daar dinge is waaroor julle nie saamstem nie, moet julle dit privaat bespreek, nie voor die kinders nie. Konsentreer op hoe die kind hom nou gedra en nie op ’n veronderstelde fout in die opleiding wat die kind vroeër ontvang het nie.

[Voetnoot]

a Van die name in hierdie reeks is verander.

[Prent op bladsy 3]

’n Hegte stiefgesin lyk miskien net na ’n droom

[Prent op bladsy 4]

Luister aandagtig sodat jy elke gesinslid se gevoelens en bekommernisse kan verstaan

[Prent op bladsy 6]

As ouers nie oor iets saamstem nie, moet hulle die saak privaat bespreek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel