Die Titanic—“Die bekendste skip in die geskiedenis”
10 APRIL 1912: Die Titanic vertrek uit Southampton, Engeland, op pad na New York, VSA.
11 APRIL: Nadat nog passasiers aan boord geneem is by Cherbourg, Frankryk, en Queenstown (nou Cobh), Ierland, begin die Titanic sy reis oor die Atlantiese Oseaan.
14 APRIL: Omstreeks twintig voor twaalf die aand tref die Titanic ’n ysberg.
15 APRIL: Twintig oor twee die oggend sink die Titanic, wat die verlies van sowat 1 500 lewens tot gevolg het.
WATTER soort skip was die Titanic? Waarom het dit gesink? ’n Besoek aan Ulster se Volks- en Vervoermuseum, naby Belfast in Noord-Ierland, help om lig op hierdie vrae te werp.
Die Titanic—Waarom spesiaal?
Volgens Michael McCaughan, ’n voormalige kurator van die Volks- en Vervoermuseum, is die Titanic “die bekendste skip in die geskiedenis”. Maar die Titanic was nie uniek nie. Dit was die tweede van drie enorme skepe wat in die skeepsbouwerwe van Harland & Wolff in Belfast gebou is.a Die Titanic was een van die grootste skepe van sy dag, met ’n lengte van 269 meter en ’n breedte van 28 meter.
Die White Star-skeepsredery het hierdie yslike lynskepe laat bou omdat hulle die winsgewende Noord-Atlantiese skeepsroetes wou oorheers. Die White Star Line kon nie kers vashou by sy mededinger, die Cunard Line, wat spoed betref het nie. Daarom het hulle besluit om eerder groter en luukser skepe te bou om die rykes en die beroemdes te lok.
Maar die Titanic kon ook ’n ander doel dien. “Tussen 1900 en 1914 het byna 900 000 immigrante elke jaar die Verenigde State binnegestroom”, sê William Blair, die hoof van die Nasionale Museums van Noord-Ierland. Om hulle van Europa na die Verenigde State te neem, was die transatlantiese skeepsrederye se grootste bron van inkomste, en die Titanic sou hiervoor gebruik word.
Die tragedie
Die kaptein van die Titanic, E.J. Smith, was bewus van die gevare wat die ys in die Noord-Atlantiese Oseaan ingehou het. Hy het dikwels hierdie roete gevolg wanneer hy met die Olympic gevaar het. Talle waarskuwings oor ysberge is deur ander skepe uitgestuur, maar dit is verontagsaam of blykbaar nie ontvang nie.
Skielik het die bemanning in die Titanic se uitkykpos gewaarsku dat daar ’n ysberg in die pad is—maar dit was te laat! Die offisier wat aan diens was, het dit reggekry om ’n direkte botsing te vermy, maar kon nie keer dat die Titanic teen die kant van die ysberg verbyskuur nie. Dit het die skip se romp beskadig—en seewater het in ’n aantal van die voorste kompartemente ingestroom. Kaptein Smith het gou besef dat sy skip binnekort sou sink. Hy het noodseine uitgestuur en die bemanning beveel om die reddingsbote te laat sak.
Die Titanic het 16 reddingsbote gehad, asook vier ander met seilkante wat kon afslaan. Daar was plek vir ongeveer 1 170 mense in hierdie bote. Maar daar was sowat 2 200 passasiers en bemanningslede aan boord! Om sake te vererger, het baie bote weggevaar voordat hulle heeltemal vol was. En die meeste het geen poging aangewend om te soek na oorlewendes wat in die see gespring het nie. Op die ou end is net 705 mense gered!
Die nadraai
Ná die Titanic-ramp het seevaartowerhede regulasies opgestel wat veiligheid op see verbeter het. Een van die regulasies het verseker dat daar in die toekoms genoeg reddingsbote vir almal aan boord sou wees.
Daar is jare lank geglo dat die Titanic so vinnig gesink het omdat hy ’n yslike skeur in sy romp gekry het toe hy die ysberg getref het. Maar in 1985, nadat die Titanic op die seebodem ontdek is, het navorsers tot ’n ander slotsom gekom—die ysige water het die skip se staal verswak, wat dit bros gemaak het sodat dit gebreek het. Minder as drie uur ná die botsing het die skip in twee gebreek en gesink. Dit was een van die grootste rampe in die geskiedenis van seevaart.b
[Voetnote]
a Die Titanic se voorloper was die Olympic, en die Brittanic is ná hom gebou.
b Lees die verslag van iemand wat die Titanic-ramp oorleef het, in die Ontwaak! van 22 Februarie 1982, bladsye 3-8.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Southampton
Cherbourg
Queenstown (Cobh)
ATLANTIESE OSEAAN
Waar die Titanic die ysberg getref het
New York
[Prente op bladsye 12, 13]
Die “Titanic” in aanbou
Die “Titanic” se skroewe
Werkers wat die skeepswerwe van Harland en Wolff in Belfast, Ierland, verlaat
[Erkennings]
Bladsye 12 en 13: Vertrek uit Southampton, in aanbou en skeepswerf: © National Museums Northern Ireland; skroewe: © The Bridgeman Art Library
[Prent op bladsy 14]
E.J. Smith, kaptein van die “Titanic” (regs), saam met die hoofskeepsbetaalmeester, Herbert McElroy
[Erkenning]
© Courtesy CSU Archive/age fotostock
[Foto-erkenning op bladsy 15]
© SZ Photo/Knorr & Hirth/Bridgeman Art Library