Ongeregtigheid veroorsaak hartseer!
IN 2010 is Michael vrygelaat nadat hy 27 jaar lank in Texas, VSA, in die tronk was vir verkragting—’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Hy is vrygelaat toe DNS-toetse—wat nie beskikbaar was toe hy gevonnis is nie—sy onskuld bewys het. Die owerheid het later die skuldiges gevind, maar dit was onmoontlik om hulle te vervolg, aangesien die verjaringswet verstreke was.
Baie misdadigers ontduik die gereg. Byvoorbeeld, in Brittanje “het [die aantal] onopgeloste moordsake in die afgelope dekade verdubbel, wat mense laat vrees dat die polisie en die geregshowe nie die probleem van geweldsmisdade kan oplos nie”, het ’n berig in The Telegraph gesê.
In Augustus 2011 het die Britse polisie gesukkel om ’n ander soort misdaad hok te slaan—oproere in Birmingham, Liverpool, Londen en ander gebiede. Gewelddadige skares het brande gestig, winkelvensters gebreek en eiendom geplunder, wat nie net besighede, huise en voertuie vernietig het nie, maar ook mense se lewensonderhoud. Die beweegrede? In baie gevalle was dit net gierigheid. Maar party het gemeen dat hierdie dade ’n reaksie op vermeende onregte was. Sommige kommentators het gesê dat hierdie betogers moontlik gefrustreerde jongmense was wat “op die kantlyn geskuif is” en wat in arm buurte sonder enige toekomsvooruitsigte grootgeword het.
Die Bybelkarakter Job het gesê: “Ek bly om hulp roep, maar daar is geen geregtigheid nie” (Job 19:7). Net so roep baie mense vandag om geregtigheid, maar alte dikwels val hulle geroep op dowe ore. Het enigiemand die mag om ongeregtigheid uit die weg te ruim? Of is die hoop op ’n toekoms sonder ongeregtigheid bloot ’n ideaal wat deur naïewe mense gekoester word? As ons ’n bevredigende antwoord wil hê, moet ons ’n paar van die grondoorsake van ongeregtigheid ondersoek.