Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/12 bl. 12-15
  • Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 7

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 7
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die einde van goddeloosheid
  • Bybelprofesieë is betroubaar
  • Wat is Babilon die Grote?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die Koninkryk regeer nou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Die identiteit van “Babilon die Grote”
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 11/12 bl. 12-15

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 7

‘Die einde sal kom’

In hierdie reeks van agt dele bespreek “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.

MAAK dit jou kwaad wanneer korrupte regerings hulle burgers onderdruk en uitbuit? Druis dit teen jou sin van geregtigheid in wanneer groot nywerhede die rykes selfs ryker maak ten koste van die armes? Ontstel dit jou wanneer godsdiensleiers hulle kuddes melk of blatante leuens leer? Indien wel, sal jy moontlik bly wees om uit te vind dat die Bybel hierdie euwels veroordeel. In hierdie artikel sal ons die volgende ondersoek: (1) Bybelprofesieë wat die einde van alle goddeloosheid en goddelose mense voorspel en (2) die rede waarom ons ons volle vertroue in hierdie profesieë kan stel.

Die einde van goddeloosheid

Die vorige artikel in hierdie reeks het die saamgestelde teken bespreek wat Jesus gegee het, wat daarop dui dat die einde van die teenswoordige wêreld naby is. Deel van hierdie teken is die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk—God se regering wat binnekort oor die hele aarde sal regeer (Daniël 2:44; Matteus 24:3, 14). Wanneer hierdie verkondigingswerk voltooi is, “sal die einde kom”, het Jesus gesê. Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat God valse godsdiens, wat hom verkeerd voorstel, eerste sal verwyder. In die Bybel word valse godsdiens uitgebeeld as ’n hoer genaamd “Babilon die Grote”.—Openbaring 17:1, 5.

Profesie 1:

“[Babilon die Grote se] plae [sal] kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk.”—Openbaring 18:2, 8.

Vervulling: Die Bybel toon dat God die wêreld se politieke magte op Sy vasgestelde tyd sal beweeg om teen Babilon die Grote te draai en haar te vernietig. Hulle sal “haar verwoes en naak maak” en “haar vlesige dele opeet” (Openbaring 17:16). Met ander woorde, hulle sal haar skandelike karakter blootlê en haar ontsaglike rykdom plunder. Haar vernietiging sal vinnig plaasvind en so volkome wees dat daar absoluut niks van haar sal oorbly nie.—Openbaring 18:21.

Die politieke heersers sal moontlik dink dat dit hulle idee was om haar te vernietig. Maar die vervulling van hierdie verstommende profesie sal bevestig dat Babilon se vernietiging ’n daad van God was. Hy sal dit “in hulle harte [sit] om sy gedagte uit te voer”.—Openbaring 17:17.

Profesie 2:

“In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig. . . . Dit sal al hierdie [mensgemaakte] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.

Vervulling: Nadat God valse godsdiens uit die weg geruim het, sal hy sy aandag rig op ander organisasies—politieke en kommersiële organisasies—asook op goddelose mense (Spreuke 2:22; Openbaring 19:17, 18). Soos ’n huiseienaar wat vernielsugtige huurders uit sy huis sit, sal God “die verderwers van die aarde . . . verderf”. Hy sal diegene vernietig wat die aarde met geweld en seksueel verlagende gebruike vul.—Openbaring 11:18; Romeine 1:18, 26-29.

Wie sal die oorlewendes wees? Die Bybel antwoord: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11; 72:7.

Kan ons Bybelprofesieë vertrou? Kan ons seker wees dat God ’n einde aan goddeloosheid en lyding sal maak en die regverdiges sal bewaar? Ja!

Bybelprofesieë is betroubaar

God se Koninkryk sal ’n einde maak aan alle valse godsdiens, korrupte regerings en die gierige kommersiële wêreld

Jehovah se Getuies glo dat Jehovah God die Outeur van die Bybel is en dat hy alles sal doen wat hy belowe het (2 Timoteus 3:16). Is dit redelik om geloof hierin te stel?

As jy ’n lewenslange vriend het wat jou werklik liefhet en nog nooit vir jou gelieg het nie, sou jy hom glo as hy belowe om iets goeds vir jou te doen en as hy die vermoë het om sy belofte na te kom? Natuurlik sou jy. God is selfs beter as enige menslike vriend wat ons dalk het. “God vertel nooit ’n leuen nie!”—Titus 1:2, Contemporary English Version.

God keur nie blinde geloof, of liggelowigheid, goed nie. Daarom het hy die Bybelskrywers geïnspireer om talle profesieë op te teken wat net hy, die Almagtige, kan vervul. ’n Paar van hierdie profesieë en die verbasende vervulling daarvan is in die eerste ses dele van hierdie reeks artikels bespreek. Ons kan dus vol vertroue wees dat God die profesieë wat met ons toekoms verband hou, insluitende dié wat in hierdie artikel genoem word, sal verwesenlik.

Ja, die Skepper sal ’n einde maak aan valse godsdiens, onderdrukkende heerskappy en die gierige kommersiële wêreld. Sal jy graag meer wil leer oor wat daarna sal gebeur? Die volgende Ontwaak! sal jou help. Dit sal die laaste artikel van hierdie reeks bevat.

DIE IDENTITEIT VAN BABILON DIE GROTE

Hoe weet ons dat die simboliese vrou met die naam Babilon die Grote, wat in die Bybelboek Openbaring beskryf word, alle valse godsdiens afbeeld? Kyk na die bewyse:

  • Sy kan nie ’n letterlike vrou wees nie omdat die beskrywings in Openbaring in die vorm van “tekens”, of simbole, is.—Openbaring 1:1.

  • Babilon die Grote sit op baie waters, wat “volke en menigtes en nasies” voorstel (Openbaring 17:1, 5, 15). ’n Letterlike vrou kan dit nie doen nie. Maar valse godsdiens word ondersteun deur ’n groot lidmaatskap.

  • Hierdie simboliese vrou is ’n “groot stad wat ’n koninkryk oor die konings van die aarde het”. Met ander woorde, sy is georganiseerd en het internasionale invloed.—Openbaring 17:18.

  • Babilon die Grote is in geestelike sin ’n hoer omdat sy bondgenootskappe met “die konings van die aarde” sluit. Wat meer is, hulle treur oor haar vernietiging (Openbaring 17:1, 2; 18:9). Sy kan dus nie ’n politieke entiteit wees nie.

  • Die sakeleiers treur ook oor haar vernietiging (Openbaring 18:15). Sy kan dus nie ’n sekulêre kommersiële mag wees nie.

  • Die Bybel beskryf dit as geestelike egbreuk wanneer God se aanbidding met ’n liefde vir die wêreld vermeng word (Jakobus 4:4). Dit is presies wat Babilon die Grote doen. Sy bevorder ook spiritisme, ’n godsdiensgebruik.—Openbaring 18:23.

  • Die eertydse stad Babilon, waarna Babilon die Grote vernoem is, was ’n uiters godsdienstige stad.—Jesaja 47:1, 12, 13; Jeremia 50:1, 2, 38.

Ons kan dus met sekerheid sê dat Babilon die Grote al die valse godsdienste van die wêreld afbeeld.

VERVULDE BYBELPROFESIEË

Hieronder is ’n lys van die talle merkwaardige Bybelprofesieë wat in die eerste ses dele van hierdie reeks bespreek is. Soos hierdie artikels getoon het, was hierdie profesieë akkuraat!

PROFESIEË OOR ABRAHAM EN SY NAKOMELINGE

  • Die nakomelinge van die getroue man Abraham sou ’n groot nasie word, wat later die nasie Israel genoem is.—Genesis 12:1, 2.

  • Abraham se nakomelinge sou na die land Kanaän terugkeer nadat hulle vier geslagte lank in ’n vreemde land gewoon het.—Genesis 15:13, 16.

  • Abraham se nakomelinge sou “die hele land Kanaän” in besit neem.—Genesis 17:8.

  • Omdat die Israeliete teen God in opstand gekom het, sou hy toelaat dat hulle verower en as gevangenes weggevoer word.—Jeremia 25:8-11.

  • God sou die Jode in hulle vaderland herstel nadat hulle 70 jaar lank in gevangenskap was.—Jeremia 25:12; 29:10.

  • Die Babiloniese wêreldmag sou omvergewerp word, en Babilon sou ná verloop van tyd ’n puinhoop word.—Jesaja 13:19, 20.

PROFESIEË OOR DIE MESSIAS EN SY VOLGELINGE

  • Die Messias, of Christus, sou uit die geslagslyn van koning Dawid kom.—Jesaja 9:7.

  • Die toekomstige Messias sou in Betlehem gebore word.—Miga 5:2.

  • Die Messias sou 483 jaar ná “die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou”, verskyn. Die woord het in 455 VHJ uitgegaan.—Daniël 9:25.

  • Voor sy teregstelling sou die Messias gegesel word.—Jesaja 50:6.

  • Die Messias sou as ’n veragte misdadiger tereggestel word, maar hy sou by “die ryk klas” begrawe word.—Jesaja 53:9.

  • Christus se volgelinge sou sy boodskap regdeur Judea, Samaria en die res van die destyds bekende wêreld versprei.—Handelinge 1:8.

  • Christene sou vervolg word.—Markus 13:9.

  • Bedrieglike en onderdrukkende persone sou die Christengemeente binnedring en baie in die gemeente afvallig laat word.—Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1, 2.

PROFESIEË OOR DIE LAASTE DAE

Die tyd van die einde sou gekenmerk word deur

  • Die wêreldwye verkondiging van die “goeie nuus van [God se] koninkryk”.—Matteus 24:14.

  • Oorlogvoering, selfs op wêreldskaal.—Matteus 24:7; Openbaring 6:4.

  • Voedseltekorte.—Matteus 24:7.

  • Groot aardbewings.—Lukas 21:11.

  • Verskriklike siektes.—Lukas 21:11.

  • Haat en geweld.—Matteus 24:10, 12.

  • Gierige, egosentriese mense en liefhebbers van geld.—2 Timoteus 3:1-5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel