Lyding
Definisie: Die ervaring van ’n persoon wanneer pyn of angs verduur word. Dit kan die vorm van fisiese, geestes- of emosionele lyding aanneem. Baie dinge kan lyding veroorsaak; byvoorbeeld die skade wat aangerig word deur oorlog en kommersiële hebsug, nadelige erflikheidsfaktore, siekte, ongelukke, natuurrampe, kwetsende dinge wat ander gesê of gedoen het, demoniese druk, bewustheid van naderende onheil of ’n mens se eie dwaasheid. Die lyding as gevolg van hierdie verskillende faktore sal hier bespreek word. Maar lyding kan ook ondervind word omdat ’n persoon hom ander mense se verknorsing aantrek of gegrief word wanneer hy goddelose gedrag waarneem.
Waarom laat God lyding toe?
Wie moet werklik die skuld daarvoor kry?
Mense dra die skuld vir ’n groot deel van die lyding. Hulle voer oorloë, pleeg misdade, besoedel die omgewing, doen dikwels sake op ’n manier wat spruit uit hebsug eerder as besorgdheid oor hulle medemens, en soms gee hulle hulle oor aan gewoontes wat hulle weet vir hulle gesondheid nadelig is. Wanneer hulle hierdie dinge doen, benadeel hulle ander en hulself. Moet ons verwag dat mense immuun sal wees teen die gevolge van hulle dade? (Gal. 6:7; Spr. 1:30-33). Is dit redelik om God die skuld te gee vir hierdie dinge wat mense self doen?
Satan en sy demone is ook deels daarvoor verantwoordelik. Die Bybel toon dat baie lyding te wyte is aan die invloed van bose geeste. Die lyding waarvoor so baie mense God die skuld gee, kom hoegenaamd nie van hom af nie.—Openb. 12:12; Hand. 10:38; kyk ook bladsye 366, 367, onder “Satan die Duiwel”.
Hoe het dit begin? ’n Ondersoek na die oorsake vestig ons aandag op ons eerste mense-ouers, Adam en Eva. Jehovah God het hulle volmaak geskape en hulle in ’n paradys gesit. As hulle God gehoorsaam het, sou hulle nooit siek geword of gesterf het nie. Hulle sou vir ewig volmaakte menselewe geniet het. Lyding was nie ’n deel van Jehovah se voorneme met die mensdom nie. Maar Jehovah het Adam duidelik laat verstaan dat volgehoue genieting van wat Hy vir hulle gegee het van gehoorsaamheid afgehang het. Dit spreek vanself dat hulle moes asemhaal, eet, drink en slaap om aan die lewe te bly. En hulle moes God se morele vereistes nakom om die lewe ten volle te geniet en vir ewig sulke lewe te ontvang. Maar hulle het verkies om hulle eie weg in te slaan, om hulle eie standaarde van goed en kwaad vas te stel, en sodoende het hulle God, die Lewegewer, verlaat (Gen. 2:16, 17; 3:1-6). Die sonde het tot die dood gelei. Dit was as sondaars dat Adam en Eva kinders voortgebring het, en hulle kon nie vir hulle kinders iets gee wat hulle nie langer gehad het nie. Almal is in sonde gebore, met neigings om verkeerd te doen, swakhede wat tot siekte kon lei, ’n sondige erfenis wat eindelik tot die dood sou lei. Omdat almal wat vandag op aarde lewe in sonde gebore is, ly ons almal op verskillende maniere.—Gen. 8:21; Rom. 5:12.
Prediker 9:11 sê dat “tyd en lotgeval” ook in ’n mate bepaal wat met ons gebeur. Ons kan seerkry, nie omdat die Duiwel dit regstreeks veroorsaak het of omdat enige mens dit veroorsaak het nie, maar omdat ons toevallig op die verkeerde oomblik op ’n sekere plek is.
Waarom doen God nie iets om aan die mens verligting te verskaf nie? Waarom moet ons almal ly weens iets wat Adam gedoen het?
In die Bybel sê God vir ons hoe ons baie lyding kan vermy. Hy het die allerbeste raad oor die lewe voorsien. Wanneer ons dit toepas, maak dit ons lewe sinvol, lei dit tot gelukkige gesinslewe, bring dit ons in noue kontak met mense wat mekaar werklik liefhet en beskerm dit ons teen gebruike wat baie onnodige fisiese lyding kan veroorsaak. Is dit billik om God die skuld te gee vir die moeilikheid wat ons vir onsself en ander veroorsaak as ons daardie hulp ignoreer?—2 Tim. 3:16, 17; Ps. 119:97-105.
Jehovah het voorsiening getref om ’n einde aan alle lyding te maak. Hy het die eerste mensepaar volmaak geskape en liefdevol alles voorsien sodat die lewe vir hulle aangenaam sou wees. Was God verplig om in te gryp om hulle kinders te beskerm teen die gevolge van wat hulle ouers gedoen het toe dié God moedswillig die rug toegekeer het? (Deut. 32:4, 5; Job 14:4). Soos ons goed weet, kan egpare die vreugde smaak wat gepaard gaan met die voortbring van kinders, maar hulle het ook verantwoordelikhede. Die gesindhede en dade van ouers raak hulle kinders. Jehovah het nietemin, as ’n blyk van wonderlike onverdiende goedheid, sy Seun, wat hy innig liefhet, na die aarde gestuur om sy lewe as ’n losprys af te lê om verligting te verskaf aan daardie lede van Adam se afstammelinge wat met waardering in hierdie voorsiening sou glo (Joh. 3:16). Mense wat vandag lewe, het gevolglik die geleentheid om te geniet wat Adam verloor het—volmaakte menselewe, vry van lyding, in ’n paradysaarde. Wat ’n milde voorsiening is dit tog!
Kyk ook bladsye 274-275, onder “Losprys”.
Maar waarom sou ’n God van liefde die lyding so lank laat voortduur?
Het dit ons gebaat dat hy dit tot nou toe toegelaat het? “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). As God Adam en Eva dadelik na hulle sonde tereggestel het, sou nie een van ons vandag bestaan het nie. Dit is beslis nie wat ons sou begeer nie. En as God almal wat sondaars was op ’n latere tydstip vernietig het, sou ons nooit gebore gewees het nie. Die feit dat God hierdie sondige wêreld toegelaat het om tot nou toe te bestaan, het ons die geleentheid gebied om te lewe en sy weë te leer ken, om die nodige veranderinge in ons lewens aan te bring en om sy liefdevolle voorsienings vir die ewige lewe te benut. Die feit dat Jehovah ons hierdie geleentheid gebied het, is ’n blyk van groot liefde aan sy kant. Die Bybel toon dat God ’n bepaalde tyd het om hierdie goddelose stelsel te vernietig en dat hy dit binnekort gaan doen.—Hab. 2:3; Sef. 1:14.
God kan en sal al die leed wat sy knegte in hierdie stelsel aangedoen word, ongedaan maak. God is nie die een wat die lyding veroorsaak nie. Maar deur middel van Jesus Christus sal God die dode opwek, gehoorsame persone van al hulle kwale genees, elke spoor van sonde uitwis en selfs smart van die verlede uit ons gedagtes laat vervaag.—Joh. 5:28, 29; Openb. 21:4; Jes. 65:17.
Die tyd wat verstryk het, was nodig om die geskille te besleg wat in Eden geopper is. Kyk bladsye 366, 367, asook 168-170, vir besonderhede.
Ons smag persoonlik na verligting. Maar wanneer God optree, moet dit wees ten behoewe van almal wat geregtigheid liefhet, nie net ’n paar nie. God is nie partydig nie.—Hand. 10:34.
Ter toeligting: Is dit nie waar dat ’n liefdevolle ouer sal toelaat dat ’n kind ’n pynlike operasie ondergaan ter wille van die moontlike voordele wat dit inhou nie? En is dit nie waar dat “kitsoplossings” vir pynlike kwale dikwels net die simptome behandel nie? Baiemaal is meer tyd nodig om die oorsaak te elimineer.
Waarom het God Adam nie vergewe en sodoende die verskriklike lyding wat die mensdom ondervind het, voorkom nie?
Sou dit werklik lyding voorkom het, of sou dit God eerder daarvoor verantwoordelik gemaak het? Wat gebeur wanneer ’n vader moedswillige oortreding aan die kant van sy kinders eenvoudig deur die vingers sien in plaas van ferme tugstappe te doen? Die kinders raak dikwels by die een vorm van oortreding na die ander betrokke, en die vader dra ’n groot deel van die skuld.
As Jehovah insgelyks Adam se moedswillige sonde vergewe het, sou dit God in werklikheid aandadig gemaak het aan die oortreding. Dit sou glad nie toestande op die aarde verbeter het nie. (Vergelyk Prediker 8:11.) Dit sou daarbenewens minagting vir God by sy engeleseuns gewek het, en dit sou beteken dat daar geen werklike grondslag vir hoop op enigiets beters was nie. Maar so ’n situasie sou nooit kon ontstaan nie, want geregtigheid is ’n onveranderlike grondslag van Jehovah se heerskappy.—Ps. 89:15.
Waarom laat God toe dat kinders met ernstige fisiese en verstandelike gebreke gebore word?
God veroorsaak nie sulke gebreke nie. Hy het die eerste mensepaar volmaak geskape, met die vermoë om volmaakte kinders na hulle gelykenis voort te bring.—Gen. 1:27, 28.
Ons het sonde by Adam geërf. Daardie erfenis hou die potensiaal vir fisiese en verstandelike gebreke in. (Rom. 5:12; kyk bladsy 280 vir nadere besonderhede.) Hierdie sonde-erfenis is met ons van die oomblik van bevrugting in die baarmoeder af. Dit is waarom koning Dawid geskryf het: “In sonde het my moeder my ontvang” (Ps. 51:7). As Adam nie gesondig het nie, sou daar slegs wenslike eienskappe wees om oor te dra. (Kyk bladsy 354 vir kommentaar oor Johannes 9:1, 2.)
Ouers kan hulle ongebore kinders benadeel—byvoorbeeld deur dwelmmisbruik of deur tydens swangerskap te rook. Dit beteken natuurlik nie dat die moeder of die vader in elke geval vir fetusgebreke of die swak gesondheid van hulle kind verantwoordelik is nie.
Jehovah laat kinders liefdevol baat vind by die voordele van Christus se losprysoffer. Uit bedagsaamheid teenoor ouers wat God getrou dien, beskou Hy hulle jong kinders as heilig (1 Kor. 7:14). Dit beweeg Godvresende ouers om, uit liefdevolle besorgdheid oor hulle nakomelinge, op hulle eie naam by God te let. Jehovah skenk jong persone wat oud genoeg is om geloof te beoefen en gehoorsaamheid aan God se bevele te toon die voorreg om ’n goedgekeurde naam as sy knegte te hê (Ps. 119:9; 148:12, 13; Hand. 16:1-3). Dit is opmerklik dat Jesus, wat ’n volmaakte afskynsel van sy Vader was, besondere belangstelling in die welsyn van jongmense getoon het, en selfs ’n kind uit die dode opgewek het. As Messiaanse Koning sal hy gewis voortgaan om dit te doen.—Matt. 19:13-15; Luk. 8:41, 42, 49-56.
Waarom laat God natuurrampe toe wat groot skade aan eiendom en lewe aanrig?
God is nie verantwoordelik vir die aardbewings, orkane, oorstromings, droogtes en vulkaanuitbarstings wat vandag so dikwels in die nuus is nie. Hy gebruik dit nie om sekere volke te straf nie. Hierdie dinge word in ’n groot mate veroorsaak deur natuurkragte wat sedert die skepping van die aarde in werking is. Die Bybel het groot aardbewings en voedseltekorte vir ons dag voorspel, maar dit beteken nie dat God of Jesus daarvoor verantwoordelik is nie, net so min as wat ’n weerkundige verantwoordelik is vir die weer wat hy voorspel. Omdat hierdie dinge plaasvind saam met al die ander dinge wat voorspel is in die samegestelde teken van die voleinding van hierdie stelsel is dit ’n deel van die getuienis dat die seëninge van God se Koninkryk ophande is.—Luk. 21:11, 31.
Mense dra dikwels ’n groot verantwoordelikheid vir skade wat aangerig is. Hoe so? Selfs wanneer hulle behoorlik gewaarsku is, weier baie mense om die gevaargebied te verlaat of versuim hulle om die nodige voorsorgmaatreëls te tref.—Spr. 22:3; vergelyk Mattheüs 24:37-39.
God kan sulke natuurkragte beheer. Hy het Jesus Christus die krag gegee om ’n storm op die see van Galilea stil te maak as ’n voorbeeld van wat Hy onder Sy Messiaanse Koninkryk vir die mensdom gaan doen (Mark. 4:37-41). Deur God die rug toe te keer, het Adam sulke goddelike tussenkoms ten behoewe van hom en sy afstammelinge verwerp. Diegene wat gedurende Christus se Messiaanse Heerskappy die lewe ontvang, sal sulke liefdevolle sorg geniet, die soort sorg wat slegs ’n regering wat deur God gemagtig is, kan voorsien.—Jes. 11:9.
Word mense wat teenspoed ondervind deur God gestraf vir goddeloosheid?
Diegene wat goddelike standaarde vir die lewe oortree, ondervind wel slegte gevolge (Gal. 6:7). Soms maai hulle gou ’n bitter oes. In ander gevalle is hulle skynbaar lank voorspoedig. Jesus Christus, wat nooit gesondig het nie, is daarenteen wreed mishandel en om die lewe gebring. In hierdie stelsel moet voorspoed dus nie beskou word as bewys van God se seën nie, en teenspoed ook nie as bewys van sy misnoeë nie.
Toe Job sy besittings verloor het en deur ’n walglike siekte geteister is, was dit nie weens God se misnoeë nie. Die Bybel sê duidelik dat Satan daarvoor verantwoordelik was (Job 2:3, 7, 8). Maar metgeselle wat Job kom besoek het, het geredeneer dat Job se verknorsing bewys is dat hy iets goddeloos gedoen het (Job 4:7-9; 15:6, 20-24). Jehovah het hulle tereggewys en gesê: “My toorn het ontvlam teen [julle] . . . want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”—Job 42:7.
Goddelose mense kan inderdaad ’n ruk lank voorspoedig wees. Asaf het geskryf: “Ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien. . . . In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie. . . . Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte. . . . Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!”—Ps. 73:3, 5, 8, 12.
God se dag van afrekening sal aanbreek. Dan sal hy die goddeloses straf en hulle vir ewig vernietig. Spreuke 2:21, 22 sê: “Die opregtes sal die land [“aarde”, NW] bewoon en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land [“aarde”, NW] uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.” Dan sal die opregtes, van wie talle teenspoed verduur het, volmaakte gesondheid en ’n milde deel van die aarde se oorvloedige opbrengs geniet.
As iemand sê—
‘Waarom laat God al hierdie lyding toe?’
Jy kan antwoord: ‘Dit is ’n saak waaroor ons almal diep besorg is. Mag ek vra: Waarom opper u dit vandag?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘(Gebruik materiaal op bladsye 279-282.)’ (2) ‘(Bespreek ander tekste wat verligting beloof van die spesifieke soort situasie wat vir die individu persoonlik lyding veroorsaak.)’
Of jy kan sê (as hulle besorg is weens die onreg in die wêreld): ‘Die Bybel toon waarom hierdie toestande vandag bestaan (Pred. 4:1; 8:9). Het u geweet dat dit ook toon wat God gaan doen om aan ons verligting te verskaf? (Ps. 72:12, 14; Dan. 2:44).’
’n Ander moontlikheid: ‘U is klaarblyklik ’n persoon wat in God glo. Glo u dat God liefde is? . . . Glo u dat hy wys en dat hy almagtig is? . . . Dan moet hy goeie redes hê waarom hy lyding toelaat. Die Bybel toon wat daardie redes is. (Kyk bladsye 279-282.)’