Maniere waarop hulle die goeie nuus verkondig
CHRISTENE word beveel om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’, maar dit beteken nie dat hulle druk moet gebruik of ander met geweld moet bekeer nie. Jesus se opdrag was om “goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig”, om “die gebrokenes van hart te verbind” en om “al die treurendes te vertroos” (Matteus 28:19; Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:18, 19). Jehovah se Getuies probeer dit doen deur die goeie nuus uit die Bybel te verkondig. Net soos die profeet Esegiël van die ou tyd probeer Jehovah se Getuies vandag om diegene te vind wat “sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat . . . gedoen word”.—Esegiël 9:4.
Die bekendste manier wat hulle gebruik om diegene te vind wat deur die huidige toestande gekwel word, is deur van huis tot huis te gaan. Hulle wend sodoende ’n positiewe poging aan om die publiek te bereik, net soos Jesus gedoen het toe “hy van stad tot stad en van dorpie tot dorpie [gereis] en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” het. Sy vroeë dissipels het dieselfde gedoen (Lukas 8:1; 9:1-6; 10:1-9). Waar moontlik probeer Jehovah se Getuies vandag om elke huis verskeie kere per jaar te besoek om ’n paar minute met die huisbewoner te gesels oor iets wat plaaslik of internasionaal van belang is of kommer wek. ’n Teks of twee word moontlik bespreek, en indien die huisbewoner belangstelling toon, kan die Getuie reël om op ’n gerieflike tyd terug te keer om die bespreking voort te sit. Bybels en lektuur wat die Bybel verduidelik, word aangebied, en as die huisbewoner wil, sal ’n tuisbybelstudie gratis met hom of haar gehou word. Miljoene van hierdie opbouende Bybelstudies word gereeld met individue en gesinne oor die hele wêreld gehou.
Nog ’n manier waarop “die goeie nuus van die koninkryk” aan ander oorgedra word, is deur vergaderinge wat by plaaslike Koninkryksale gehou word. Die Getuies hou weekliks vergaderinge daar. Een vergadering is ’n openbare toespraak oor ’n onderwerp van aktuele belang, waarna ’n studie van ’n Bybelse onderwerp of profesie uit Die Wagtoring as bronnemateriaal gehou word. Nog ’n vergadering is ’n skool om Getuies op te lei om beter verkondigers van die goeie nuus te wees, waarna ’n deel volg wat aan ’n bespreking van die getuieniswerk in die plaaslike gebied gewy word. Die Getuies vergader ook een maal per week in privaat huise om as groepies die Bybel te studeer.
Al hierdie vergaderinge is oop vir die publiek. Geen kollektes word ooit opgeneem nie. Sulke vergaderinge is voordelig vir almal. Die Bybel sê: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” Privaat studie en navorsing is wel noodsaaklik, maar vergaderinge saam met ander is stimulerend: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.”—Hebreërs 10:24, 25, NAV; Spreuke 27:17, AB.
Die Getuies benut ook geleenthede om oor die goeie nuus te praat wanneer hulle in hulle daaglikse lewe met ander mense in aanraking kom. Dit is miskien ’n paar woorde wat met ’n buurman gewissel word of met ’n medereisiger op ’n bus of vliegtuig, ’n langer gesprek met ’n vriend of familielid of ’n bespreking met ’n medewerker gedurende etenstyd. Toe Jesus op die aarde was, is dit hoe hy baie van sy getuieniswerk gedoen het—terwyl hy op die strand geloop het, teen ’n heuwelhang gesit het, by iemand se huis geëet het, by ’n bruilof of op ’n vissersboot op die See van Galilea was. Hy het mense in die sinagoges en by die tempel in Jerusalem geleer. Waar hy ook al was, het hy geleenthede gevind om oor God se Koninkryk te praat. Jehovah se Getuies probeer om ook in hierdie opsig sy voetstappe te volg.—1 Petrus 2:21.
HULLE GETUIG DEUR HULLE VOORBEELD
Nie een van hierdie maniere om vir jou die goeie nuus te vertel, sou vir jou iets beteken het as die een wat dit vir jou vertel het nie self die leerstellings toegepas het nie. As ’n mens se dade nie met jou woorde strook nie, is dit huigelary, en godsdienshuigelary het daartoe gelei dat miljoene die Bybel verwerp het. Dit is nie reg om die Bybel te blameer nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het die Hebreeuse Geskrifte gehad, maar Jesus het hulle as huigelaars veroordeel. Hy het gepraat van hulle voorlesing uit die Wet van Moses en het toe vir sy dissipels gesê: “Alles wat hulle dan vir julle sê, doen en onderhou dit, maar volgens hulle dade moet julle nie doen nie, want hulle sê maar doen nie” (Matteus 23:3). As ’n Christen ’n voorbeeldige lewe lei, sê dit meer as ure se gepreek. Christenvrouens met ongelowige mans is hierop gewys: “Hulle [kan] sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen . . . word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag.”—1 Petrus 3:1, 2.
Jehovah se Getuies probeer dus om die goeie nuus ook op hierdie manier by ander aan te beveel: deur voorbeeldig te wees in die Christelike gedrag wat hulle by ander aanbeveel. Hulle probeer ‘om aan ander te doen wat hulle wil hê ander aan hulle moet doen’ (Matteus 7:12). Hulle probeer om alle mense so te behandel, nie net mede-Getuies, vriende, bure of familielede nie. Omdat hulle onvolmaak is, slaag hulle nie altyd volkome daarin nie. Maar dit is hulle hartsbegeerte om aan alle mense goed te doen, nie alleen deur vir hulle van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel nie, maar ook deur ’n helpende hand te bied, wanneer moontlik.—Jakobus 2:14-17.
[Prent op bladsy 19]
Hawaii
[Prent op bladsy 19]
Venezuela
[Prent op bladsy 19]
Joego-Slawië
[Prente op bladsy 20]
Koninkryksale, wat prakties ontwerp is, word vir Bybelbesprekings gebruik
[Prente op bladsy 21]
In hulle gesinslewe en wanneer hulle met ander in aanraking kom, probeer die Getuies opreg om die dinge te doen wat hulle by ander aanbeveel