Die praktiese waarde van die goeie nuus vir julle gemeenskap
IN HIERDIE moderne wêreld hoor ons dikwels die mening: “Die beginsels van die Christelike godsdiens is nie prakties nie. Dit sal eenvoudig nie werk in vandag se ingewikkelde samelewing nie.” Maar in ’n aangetekende gesprek tussen die Hindoe-leier Mohandas K. Gandhi en die voormalige Britse onderkoning van Indië, lord Irwin, is ’n heel ander mening uitgespreek. Lord Irwin het blykbaar vir Gandhi gevra wat hy meen die oplossing vir die probleme tussen Groot-Brittanje en Indië is. Gandhi het ’n Bybel opgetel en dit by die vyfde hoofstuk van Matteus oopgemaak en gesê: “Wanneer u land en myne die leerstellings toepas wat deur Christus in hierdie Bergpredikasie gemeld is, sal ons nie alleen die probleme van óns lande nie, maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.”
Daardie preek sê dat ’n mens geestelikheid moet nastreef, sagmoedig, vredeliewend en barmhartig moet wees en regverdigheid moet liefhê. Dit veroordeel nie alleen moord nie, maar die neiging om toornig op ander te bly; nie net egbreuk nie, maar ook wellustige gedagtes. Dit veroordeel onverantwoordelike egskeiding wat gesinne laat verbrokkel en kinders veronreg. Dit sê vir ons: ‘Julle moet selfs diegene liefhê wat nie van julle hou nie, aan die behoeftiges gee, ophou om ander onbarmhartig te oordeel, ander behandel soos julle behandel wil word.’ As al hierdie raad toegepas word, sal dit wonderlike vrugte afwerp. Hoe meer mense in julle gemeenskap dit beoefen, des te beter sal julle gemeenskap word!
Jehovah se Getuies is ’n goeie invloed in hierdie verband. Die Bybel leer hulle om die huwelik te respekteer. Hulle leer hulle kinders die regte beginsels. Die belangrikheid van die gesin word beklemtoon. Verenigde gesinne is ’n seën vir julle gemeenskap, selfs vir julle land. Die geskiedenis is vol voorbeelde van wêreldmoondhede wat verbrokkel het toe gesinsbande verswak en onsedelikheid toegeneem het. Hoe meer individue en gesinne deur Jehovah se Getuies beïnvloed word om volgens Christelike beginsels te lewe, hoe minder misdadigheid, onsedelikheid en geweld sal julle in julle gemeenskap hê.
Een van die groot probleme waarmee gemeenskappe en lande te kampe het, is rassevooroordeel. In teenstelling hiermee het die apostel Petrus gesê: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.” En Paulus het geskryf: “Daar is nóg Jood nóg Griek, daar is nóg slaaf nóg vrygeborene, daar is nóg man nóg vrou; want julle is almal een persoon in eenheid met Christus Jesus” (Handelinge 10:34, 35; Galasiërs 3:28). Jehovah se Getuies aanvaar dit. Alle rasse en kleure leef en werk saam by hulle wêreldhoofkantoor, by die takkantore en in die gemeentes.
In Afrika kan sekere stamme nie meng sonder om te bots nie. Maar by byeenkomste van Jehovah se Getuies in daardie lande eet, slaap en aanbid mense van talle verskillende stamme in volkome harmonie en hartlike broederskap saam. Regeringsamptenare is verstom wanneer hulle dit sien. New York se Amsterdam News van 2 Augustus 1958 het kommentaar gelewer oor ’n voorbeeld van die verenigende uitwerking van die ware Christelike godsdiens. Die kommentaar is gelewer toe daar gesien is hoe ’n kwartmiljoen Getuies in die stad New York vergader het vir die internasionale byeenkoms wat vroeër genoem is.
“Negers, blankes en Oosterlinge van alle stande en alle wêrelddele het oral vreugdevol en vryelik gemeng . . . Die Getuies uit 120 lande het in vrede saam gewoon en aanbid en vir Amerikaners getoon hoe maklik dit gedoen kan word. . . . Die byeenkoms is ’n treffende voorbeeld van hoe mense saam kan werk en leef.”
Baie sê dalk dat die beginsels van die Christelike godsdiens nie vir hierdie moderne wêreld prakties is nie. Maar wat anders het gewerk of sal werk? Christelike beginsels kan baie nuttig wees as dit nou in julle gemeenskap toegepas word, en dit sal die grondslag vorm vir die vereniging van alle ‘nasies, stamme en volke’ regoor die aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk oor die mensdom.—Openbaring 7:9, 10.
[Lokteks op bladsy 23]
Alle rasse en kleure werk saam
[Lokteks op bladsy 24]
Die Christelike godsdiens is prakties. Wat anders het gewerk?