-
Vlot voordragVind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
-
-
STUDIE 4
Vlot voordrag
STRUIKEL jy oor sekere woorde wanneer jy hardop lees? Of vind jy dat jy dikwels na die regte woorde soek wanneer jy ’n toespraak voor ’n gehoor moet hou? Dan het jy miskien ’n probleem met vlotheid. Iemand wat vlot kan lees en praat, se woorde en gedagtes vloei met skynbare gemak. Dit beteken nie dat hy gedurigdeur praat, dat hy baie vinnig praat of dat hy praat sonder om te dink nie. Dit is aangenaam om na hom te luister. In die Teokratiese Bedieningskool word spesiale aandag aan vlotheid geskenk.
Verskeie faktore kan tot ’n gebrek aan vlotheid bydra. Moet jy aandag skenk aan enige van die volgende faktore? (1) Jy aarsel moontlik wanneer jy vir ander lees en by onbekende woorde kom. (2) Kort pouserings by te veel plekke kan ’n hortende voordrag tot gevolg hê. (3) Gebrek aan voorbereiding kan tot die probleem bydra. (4) Wanneer ’n mens voor ’n groep praat, word vlotheid dikwels ingeboet omdat die materiaal nie logies gerangskik is nie. (5) ’n Beperkte woordeskat kan ’n mens laat aarsel terwyl jy na die regte woord soek. (6) As te veel woorde beklemtoon word, kan vlotheid belemmer word. (7) Onbekendheid met grammatikareëls kan tot die probleem bydra.
As jy nie vlot praat nie, sal die gehoor in ’n Koninkryksaal nie letterlik uitloop nie, maar hulle gedagtes sal moontlik begin dwaal. Gevolglik kan baie van wat jy sê, verlore gaan.
Aan die ander kant moet ’n mens versigtig wees dat ’n aanbieding wat bedoel is om kragtig en vlot te wees, nie te sterk oorkom en moontlik selfs die gehoor ongemaklik laat voel nie. As mense jou manier van praat as kras of as onopreg beskou weens julle verskille in kulturele agtergrond, sal jy nie jou doel bereik nie. Al was die apostel Paulus ’n ervare spreker, is dit opmerkenswaardig dat hy “in swakheid en in vrees en met groot bewing” na die Korintiërs gegaan het sodat hy nie onnodig aandag op homself sou vestig nie.—1 Kor. 2:3.
Gewoontes om te vermy. Baie mense het die aanwensel om uitdrukkings soos “en-e” in te voeg wanneer hulle praat. Ander begin dikwels ’n gedagte met “nou” of hulle las ’n frase, soos “jy weet” of “jy sien”, aan alles wat hulle sê. Miskien besef jy nie hoe dikwels jy sulke uitdrukkings gebruik nie. Jy kan ’n oefensessie hou en iemand vra om na jou te luister en elke keer hierdie uitdrukkings agter jou aan te sê wanneer jy dit gebruik. Jy sal dalk verbaas wees.
Sommige mense is geneig om terug te gaan op hulle woorde wanneer hulle lees en praat. Met ander woorde, hulle begin ’n sin, onderbreek wat hulle sê en herhaal ten minste ’n deel van wat hulle reeds gesê het.
Ander praat weer vinnig genoeg, maar hulle begin met een gedagte en skakel dan in die middel van die sin oor na iets anders. Hoewel die woorde maklik vloei, word vlotheid deur skielike gedagtewendings belemmer.
Hoe om te verbeter. As jy die probleem het dat jy dikwels na die regte woord soek, moet jy ’n doelbewuste poging aanwend om jou woordeskat te vergroot. Let noukeurig op na woorde wat vir jou onbekend is in Die Wagtoring, Ontwaak! en ander publikasies wat jy lees. Slaan dit na in ’n woordeboek, maak seker van die uitspraak en betekenis en voeg van hierdie woorde by jou woordeskat. As jy nie ’n woordeboek tot jou beskikking het nie, moet jy iemand wat die taal goed praat, vra om jou te help.
As jy ’n gewoonte daarvan maak om gereeld hardop te lees, sal dit jou help om te verbeter. Gee spesiale aandag aan moeilike woorde, en spreek hulle ’n hele paar keer hardop uit.
Om vlot te kan lees, moet ’n mens verstaan hoe woorde in ’n sin gegroepeer is. Gewoonlik moet woorde in groepe gelees word om die gedagte van die skrywer oor te dra. Let noukeurig op na hierdie woordgroepe. Merk dit, as dit jou sal help. Jou doel is nie bloot om woorde reg te lees nie, maar ook om gedagtes duidelik oor te dra. Nadat jy een sin ontleed het, moet jy na die volgende een oorgaan totdat jy die hele paragraaf bestudeer het. Raak vertroud met hoe die gedagtes op mekaar volg. Oefen dan om hardop te lees. Lees die paragraaf herhaaldelik totdat jy dit kan doen sonder om te struikel en sonder om op die verkeerde plekke te pouseer. Gaan dan oor na ander paragrawe.
Hierna moet jy jou leestempo probeer versnel. As jy verstaan hoe woorde in ’n sin gegroepeer is, sal jy meer as een woord op ’n slag kan sien en vooruit kan sien wat moet volg. Dit sal jou baie help om goed te kan lees.
As jy gereeld oefen om sonder voorbereiding te lees, kan dit jou baie help. Lees byvoorbeeld die dagteks en kommentaar hardop sonder om daarvoor voor te berei; doen dit gereeld. Raak gewoond daaraan om groepe woorde te sien wat volledige gedagtes uitdruk, in plaas van net een woord op ’n slag te sien.
As jy vlot wil praat, moet jy dink voordat jy iets sê. Maak ’n gewoonte daarvan in jou alledaagse gesprekke. Besluit watter gedagtes jy wil oordra en die volgorde waarin jy dit gaan sê; begin dan praat. Moenie haastig wees nie. Probeer ’n volledige gedagte voltooi sonder om in die middel van die sin te stop of oor te gaan na ’n ander gedagte. Jy sal dit nuttig vind om kort, eenvoudige sinne te gebruik.
Woorde behoort maklik te vloei as jy presies weet wat jy wil sê. Gewoonlik is dit nie nodig om die woorde te kies wat jy wil gebruik nie. Trouens, as oefening is dit beter om net seker te maak dat die idees duidelik in jou gedagte is en dan aan die woorde te dink terwyl jy praat. As jy dít doen en eerder dink aan die idee as aan die woorde wat jy wil sê, sal die woorde so te sê vanself kom, en jy sal jou gedagtes uitdruk soos jy daaroor voel. Maar sodra jy aan woorde in plaas van idees begin dink, sal jy dalk met horte en stote begin praat. Met oefening kan jy dit regkry om vlotheid te ontwikkel, ’n belangrike eienskap om goed te kan praat en lees.
Toe Moses die opdrag gekry het om Jehovah voor die nasie Israel en voor Farao van Egipte te verteenwoordig, het hy onbevoeg gevoel. Waarom? Hy was nie ’n vlot spreker nie; hy het dalk ’n spraakgebrek gehad (Eks. 4:10; 6:12). Moses het verskonings gemaak, maar nie een was vir God aanvaarbaar nie. Jehovah het Aäron as ’n woordvoerder saamgestuur, maar Hy het Moses ook gehelp om te praat. Moses het nie net herhaaldelik en op bekwame wyse met individue en klein groepe gepraat nie, maar ook met die hele nasie (Deut. 1:1-3; 5:1; 29:2; 31:1, 2, 30; 33:1). As jy hard werk en terselfdertyd op Jehovah vertrou, kan jy ook God verheerlik deur wat jy sê.
-
-
Gepaste pouseringVind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
-
-
STUDIE 5
Gepaste pousering
WANNEER jy praat, is dit belangrik om op die regte plekke te pouseer. Dit is so hetsy jy ’n toespraak hou of met net een persoon praat. Sonder pousering kan ’n mens se woorde na ’n gebabbel klink, en nie na duidelik geformuleerde gedagtes nie. Gepaste pousering help jou om duidelik te praat. Dit kan ook gebruik word sodat jou hoofpunte ’n blywende indruk sal maak.
Hoe kan jy bepaal wanneer jy moet pouseer? Hoe lank moet jy pouseer?
Pousering by leestekens. Leestekens het ’n belangrike deel van die geskrewe taal geword. Dit kan die einde van ’n verklaring of ’n vraag aandui. In sommige tale word dit gebruik om aanhalings af te baken. Sommige leestekens dui die verband tussen verskillende dele van ’n sin aan. Iemand wat vir homself lees, kan die leestekens sien. Maar wanneer hy hardop vir ander lees, moet sy stem die betekenis oordra van al die leestekens wat in die geskrewe materiaal verskyn. (Sien Studie 1, “Akkurate voorlesing” vir verdere besonderhede.) As ’n mens nie pouseer wanneer die leestekens dit vereis nie, sal ander dit dalk moeilik vind om te verstaan wat jy lees of kan dit selfs die betekenis van die materiaal verander.
Benewens leestekens bepaal die manier waarop gedagtes in ’n sin uitgedruk word ook waar dit gepas is om te pouseer. ’n Beroemde musikant het eenkeer gesê: “Die note speel ek niks beter as baie ander pianiste nie. Maar die pouses tussen die note—dáár lê die kuns.” Dit is ook die geval wanneer ons praat. Die gepaste gebruik van pousering sal jou goed voorbereide materiaal mooier en betekenisvoller laat klink.
Wanneer jy voorberei om in die openbaar te lees, sal jy dit dalk nuttig vind om die gedrukte materiaal wat jy gaan lees, te merk. Trek ’n kort vertikale strepie waar jy net kortliks wil pouseer of moontlik net wil aarsel. Gebruik twee vertikale strepies vir ’n langer pouse. As jy met sekere woorde in ’n frase sukkel en jy elke keer op die verkeerde plek pouseer, kan jy al die woorde van die moeilike frase met ’n potlood aanmekaar verbind. Lees dan die frase van die begin tot die einde. Talle ervare sprekers doen dit.
Dit is gewoonlik nie ’n probleem om in daaglikse gesprekke te pouseer nie, want jy weet wat jy wil sê. Maar as dit jou gewoonte is om gereeld te pouseer ongeag wat jy sê, sal jou woorde kragteloos en onduidelik wees. Die wenke in Studie 4, “Vlot voordrag”, sal jou help om te verbeter.
Pousering by ’n gedagtewending. Wanneer jy van een hoofpunt na ’n ander oorgaan, kan ’n pouse jou gehoor die geleentheid gee om na te dink, om te besef dat daar ’n gedagtewending is en om die volgende gedagte duideliker te verstaan. Dit is net so belangrik vir jou om te pouseer wanneer jy van een gedagte na ’n ander oorgaan as wat dit is om stadiger te ry wanneer jy om ’n draai van die een straat na ’n ander gaan.
Een rede waarom party sprekers van die een gedagte na die volgende jaag sonder om te pouseer, is omdat hulle te veel materiaal probeer dek. Vir party is dit hulle gewone manier van praat. Miskien praat almal om hulle so. Maar dit belemmer doeltreffende onderrigting. As jy iets het om te sê wat die moeite werd is om te hoor en te onthou, moet jy genoeg tyd neem om die gedagte te beklemtoon. Jy moet besef dat pousering noodsaaklik is om gedagtes duidelik oor te dra.
As jy ’n toespraak van ’n skets af gaan hou, moet jou materiaal so gerangskik wees dat dit duidelik is waar jy tussen hoofpunte moet pouseer. As jy van ’n manuskrip af gaan lees, kan jy die plekke merk waar jy van een hoofpunt na ’n volgende oorgaan.
Pousering vir gedagtewendings is gewoonlik langer as pousering by leestekens—maar nie so lank dat dit die voordrag van die toespraak sal bederf nie. As dit te lank is, skep dit die indruk dat jy nie goed voorbereid is nie en probeer dink aan wat jy volgende moet sê.
Pousering vir beklemtoning. ’n Pouse vir beklemtoning is dikwels dramaties en kom voor of ná ’n verklaring of ’n vraag wat met ’n mate van intensiteit oorgedra word. So ’n pouse gee die gehoor die geleentheid om te dink aan wat so pas gesê is, of dit wek afwagting vir wat nog kom. Hierdie pouses is nie dieselfde nie. Jy moet besluit watter metode gepas is. Maar hou in gedagte dat pouses vir beklemtoning slegs gebruik moet word as verklarings werklik belangrik is. Anders gaan die waarde van daardie verklarings verlore.
Toe Jesus hardop uit die Skrif in die sinagoge in Nasaret gelees het, het hy goed gebruik gemaak van pousering. Eerstens het hy sy opdrag uit die boekrol van die profeet Jesaja gelees. Maar voordat hy dit toegepas het, het hy die boekrol opgerol, dit aan die dienaar teruggegee en gaan sit. Toe, met die oë van almal in die sinagoge stip op hom gevestig, het hy gesê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul.”—Luk. 4:16-21.
Pouseer wanneer omstandighede dit vereis. Steurings kan ook soms veroorsaak dat jy moet pouseer. Die geraas van verbygaande verkeer of ’n kind wat huil, kan veroorsaak dat jy ’n gesprek met ’n huisbewoner wat jy in die veldbediening ontmoet het, moet onderbreek. Tydens ’n vergadering sal jy dalk harder kan praat en kan voortgaan as die geraas nie te erg is nie. Maar as die geraas baie erg is en ’n tyd lank aanhou, moet jy pouseer. Jou gehoor sal in elk geval nie luister nie. Maak dus goed gebruik van pousering, met die doel om jou gehoor te help om ten volle baat te vind by die goeie dinge wat jy vir hulle wil sê.
Pouseer sodat jou gehoor kan reageer. Al hou jy ’n toespraak wat nie gehoordeelname insluit nie, is dit belangrik om die gehoor die geleentheid te gee om, nie hardop nie, maar in hulle gedagtes te reageer. As jy vrae stel wat jou gehoor moet laat dink, maar jy dan nie lank genoeg pouseer nie, sal die waarde van daardie vrae in groot mate verlore gaan.
Dit is natuurlik ook belangrik om te pouseer wanneer ons vir ander getuig en nie net wanneer ons van ’n verhoog af praat nie. Party mense pouseer blykbaar nooit nie. As dit jou probleem is, moet jy jou ywerig inspan om hierdie spraakhoedanigheid aan te kweek. Jy sal beter kommunikeer en groter welslae in die veldbediening behaal. ’n Pouse is ’n oomblik van stilte, en daar is al tereg gesê dat stilte gedagtes beklemtoon, die aandag boei en die oor verfris.
In daaglikse gesprekke vloei gedagtes in twee rigtings. Ander is meer geneig om na jou te luister as jy na hulle luister en belangstelling toon in wat hulle sê. Dit beteken dat jy lank genoeg moet pouseer om hulle ’n geleentheid te gee om te praat.
In die veldbediening is ons getuieniswerk dikwels doeltreffender wanneer dit in die vorm van ’n gesprek gedoen word. Baie Getuies vind dat dit goed werk om, nadat hulle gegroet het, te sê waaroor hulle kom praat en dan ’n vraag te stel. Hulle pouseer om die huisbewoner ’n geleentheid te gee om te antwoord, en dan reageer hulle op wat die persoon gesê het. Gedurende die bespreking gee hulle die huisbewoner dalk ’n aantal geleenthede om iets te sê. Hulle weet dat hulle gewoonlik meer kan doen om iemand te help as hulle weet hoe hy oor die saak onder bespreking voel.—Spr. 20:5.
Natuurlik sal nie almal gunstig op vrae reageer nie. Maar Jesus het ten spyte hiervan lank genoeg stilgebly sodat selfs teenstanders kon praat (Mark. 3:1-5). As jy die ander persoon die geleentheid gee om te praat, moedig dit hom aan om te dink, en hy sal dalk as gevolg daarvan openbaar wat in sy hart is. Een van die oogmerke van ons bediening is trouens om mense se harte te bereik deur lewensbelangrike kwessies waaroor hulle ’n besluit moet neem, uit God se Woord met hulle te bespreek.—Heb. 4:12.
Die gebruik van gepaste pousering in ons bediening is inderdaad ’n kuns. Wanneer pousering reg gebruik word, word gedagtes duideliker oorgedra en dikwels vir altyd onthou.
-
-
Regte beklemtoningVind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
-
-
STUDIE 6
Regte beklemtoning
WANNEER jy hardop praat of lees, is dit nie net belangrik dat jy individuele woorde reg uitspreek nie, maar ook dat jy sleutelwoorde en gedagtedraende uitdrukkings op so ’n manier beklemtoon dat die gedagtes duidelik verstaanbaar is.
Regte beklemtoning behels meer as om net die klem op ’n paar of selfs baie woorde te laat val. Die regte woorde moet beklemtoon word. As die verkeerde woorde beklemtoon word, sal die betekenis van wat jy sê, dalk vir jou gehoor onduidelik wees, en hulle gedagtes sal moontlik dan begin dwaal. Al is die materiaal leersaam, sal ’n toespraak sonder die regte beklemtoning vir die gehoor minder motiverend wees.
Gedagtes kan op verskillende maniere beklemtoon word, en die maniere kan dikwels gekombineer word: deur harder te praat, deur groter intensiteit, deur stadig en op ’n afgemete manier te praat, deur voor of ná ’n stelling te pouseer (of albei) en deur gebare en gesigsuitdrukkings. In sommige tale kan gedagtes ook beklemtoon word deur op ’n laer of ’n hoër stemtoon te praat. Neem die materiaal en die omstandighede in ag om te bepaal wat die beste sal wees.
Wanneer jy besluit wat om te beklemtoon, kan jy die volgende in ag neem. (1) In enige sin word die woorde wat beklemtoon moet word, nie net deur die res van die sin bepaal nie, maar ook deur die konteks. (2) Beklemtoning kan gebruik word om die begin van ’n nuwe gedagte te laat uitstaan, hetsy dit ’n hoofpunt of net ’n gedagtewending is. Dit kan ook die aandag op die einde van ’n redenasie vestig. (3) ’n Spreker kan beklemtoning gebruik om te toon hoe hy oor ’n saak voel. (4) Regte beklemtoning kan ook gebruik word om die hoofpunte van ’n toespraak te laat uitstaan.
Om beklemtoning op hierdie maniere te kan gebruik, moet ’n spreker of ’n openbare leser sy materiaal goed verstaan en werklik wil hê dat sy gehoor dit moet inneem. Aangaande onderrigting wat in die dae van Esra gegee is, sê Nehemia 8:8: “Hulle het bly voorlees uit die boek, uit die wet van die ware God; dit is uitgelê en betekenis is daaraan gegee; en hulle het wat voorgelees is, deurentyd verstaanbaar gemaak.” Dit is duidelik dat diegene wat God se Wet by daardie geleentheid gelees en verduidelik het, die belangrikheid daarvan besef het om hulle gehoor te help om die betekenis van wat gelees is, te verstaan, te onthou en toe te pas.
Iets wat soms ’n probleem kan skep. Die meeste mense kan hulle gedagtes in gewone gesprekke duidelik uitdruk. Maar wanneer hulle materiaal lees wat deur iemand anders geskryf is, vind hulle dit soms moeilik om te bepaal watter woorde of uitdrukkings beklemtoon moet word. Die geheim is om die materiaal goed te verstaan. Dit vereis dat ’n mens wat geskryf is, sorgvuldig moet bestudeer. As jy gevra word om materiaal by ’n gemeentelike vergadering te lees, moet jy dus deeglik voorberei.
Party mense gebruik wat ’n mens “periodieke beklemtoning” kan noem. Hulle beklemtoon woorde met redelik reëlmatige tussenposes, ongeag of sulke beklemtoning betekenisvol is of nie. Ander beklemtoon funksiewoorde deur te veel klem op voorsetsels en voegwoorde te laat val. Wanneer beklemtoning nie tot die duidelikheid van die gedagtes bydra nie, word dit maklik ’n steurende aanwensel.
Party sprekers probeer gedagtes beklemtoon deur harder te praat, maar op ’n manier wat die gehoor laat voel dat daar met hulle geraas word. Dit lewer natuurlik selde die beste resultate. As die beklemtoning nie natuurlik is nie, kan die spreker die indruk skep dat hy uit die hoogte met sy gehoor praat. Hoeveel beter is dit tog om hulle eenvoudig op grond van liefde te bereik en hulle te help om te sien dat wat gesê word, skriftuurlik en redelik is!
Hoe om te verbeter. Iemand wat ’n probleem met beklemtoning het, is dikwels nie bewus daarvan nie. Iemand anders sal dit dalk onder sy aandag moet bring. As jy hierin moet verbeter, sal die skoolopsiener jou help. Vra ook gerus enigiemand anders wat ’n goeie spreker is, om jou te help. Vra hom om aandagtig te luister wanneer jy lees en praat en jou dan wenke te gee sodat jy kan verbeter.
Eerstens sal jou raadgewer moontlik voorstel dat jy ’n artikel in Die Wagtoring gebruik om te oefen. Hy sal ongetwyfeld vir jou sê om individuele sinne te ontleed om te bepaal watter woorde of frases beklemtoon moet word sodat dit maklik is om te verstaan. Hy sal jou dalk daaraan herinner om veral aandag te skenk aan sekere woorde wat skuins gedruk is. Onthou dat woorde in ’n sin saamwerk. Dikwels moet ’n groep woorde beklemtoon word, nie net een woord nie. In sommige tale word studente aangespoor om noukeuriger aandag te skenk aan hoe skryftekens beklemtoning aandui.
Om jou nou verder te leer wat beklemtoon moet word, sal jou raadgewer jou dalk aanspoor om na meer as die sin te kyk. Wat is die hoofgedagte wat in die hele paragraaf ontwikkel word? Hoe moet dit beïnvloed wat jy in die individuele sinne beklemtoon? Kyk na die titel van die artikel en na die vetgedrukte onderhofies waaronder jou materiaal verskyn. Hoe beïnvloed dit watter uitdrukkings jy gaan beklemtoon? Jy moet al hierdie faktore in ag neem. Maar wees versigtig om nie te veel woorde te beklemtoon nie.
Hetsy jy praat of lees, jou raadgewer sal jou moontlik ook aanspoor om beklemtoning te gebruik na aanleiding van die opeenvolging van gedagtes. Jy moet weet waar die gedagte eindig of waar een belangrike gedagte na ’n ander oorgaan. Die gehoor sal dit waardeer as jou aanbieding hulle van hierdie plekke bewus maak. Dit kan gedoen word deur die klem te laat val op woorde soos in die eerste plek, vervolgens, laastens, gevolglik en dit is dus redelik.
Jou raadgewer sal jou aandag ook vestig op gedagtes wat jy met groter gevoel moet oordra. Om dit te doen, kan jy woorde beklemtoon soos baie, heeltemal, hoegenaamd nie, ondenkbaar, belangrik en altyd. As jy dit doen, kan jy jou gehoor se beskouing oor wat jy sê, beïnvloed. Meer sal hieroor in Studie 11, “Hartlikheid en gevoel”, gesê word.
Om jou gebruik van beklemtoning te verbeter, sal jy ook aangespoor word om presies te weet watter hoofpunte jy wil hê jou gehoor moet onthou. Dit sal verder bespreek word in verband met openbare voorlesing in Studie 7, “Hoofgedagtes beklemtoon”, en in verband met toesprake in Studie 37, “Hoofpunte laat uitstaan”.
As jy in jou veldbediening wil verbeter, moet jy noukeurig aandag skenk aan hoe jy tekste lees. Maak ’n gewoonte daarvan om jou af te vra: ‘Waarom lees ek hierdie teks?’ Vir ’n onderrigter is dit nie altyd voldoende om die woorde bloot reg uit te spreek nie. Dalk is dit nie eers genoeg om die teks met gevoel te lees nie. As jy iemand se vraag beantwoord of vir hom ’n basiese waarheid leer, is dit goed om die woorde of uitdrukkings in die teks te beklemtoon wat die punt onder bespreking ondersteun. Anders sal die persoon vir wie jy lees, dalk die punt mis.
Aangesien beklemtoning behels dat ’n mens groter klem op sekere woorde en frases laat val, sal ’n onervare spreker moontlik geneig wees om daardie woorde en frases te sterk te beklemtoon. Dan klink dit amper soos wanneer iemand begin leer om ’n musiekinstrument te speel. Maar met meer oefening sal die individuele “note” eenvoudig ’n deel van die pragtige en gevoelvolle “musiek” word.
Nadat jy sommige van die basiese beginsels geleer het, sal jy in staat wees om ervare sprekers waar te neem en by hulle te leer. Jy sal gou agterkom wat deur verskillende grade van beklemtoning bereik kan word. En jy sal die waarde daarvan besef om gedagtes op verskillende maniere te beklemtoon sodat die betekenis daarvan duidelik is. As jy leer om regte beklemtoning te gebruik, sal dit jou ’n baie beter leser en spreker maak.
Moenie net die basiese beginsels van beklemtoning leer en dan daarmee tevrede wees nie. Om ’n bekwame spreker te word, moet jy daaraan bly werk totdat jy beklemtoning onder die knie het en dit kan gebruik sodat dit vir ander natuurlik klink.
-
-
Hoofgedagtes beklemtoonVind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
-
-
STUDIE 7
Hoofgedagtes beklemtoon
’N GOEIE leser kyk verder as die individuele sinne, selfs verder as die paragraaf waarin dit verskyn. Wanneer hy lees, neem hy die hoofgedagtes in die hele leesgedeelte in ag. Dit beïnvloed waar hy die klem gaan plaas.
As dit nie gedoen word nie, sal daar geen hoogtepunte in die aanbieding wees nie. Niks sal duidelik uitstaan nie. Aan die einde van die aanbieding sal dit dalk moeilik wees om enige uitstaande punt te onthou.
As hoofgedagtes behoorlik beklemtoon word wanneer jy uit die Bybel lees, kan dit die verslag dikwels vir die gehoor duideliker maak. Sulke beklemtoning kan paragrawe wat tydens ’n tuisbybelstudie of ’n gemeentelike vergadering gelees word, betekenisvoller maak. En dit is veral belangrik in ’n manuskriptoespraak, soos soms by ons byeenkomste gehou word.
Hoe om dit te doen. In die skool word jy dalk gevra om ’n gedeelte uit die Bybel te lees. Wat moet beklemtoon word? As jou leesgedeelte om ’n sekere kerngedagte of belangrike gebeurtenis ontwikkel is, sal dit gepas wees om dit te laat uitstaan.
Hetsy die gedeelte wat jy moet lees poësie of prosa, spreuke of ’n vertelling is, jou gehoor sal daarby baat vind as jy dit goed lees (2 Tim. 3:16, 17). Om dit te doen, moet jy die gedeelte wat jy moet lees sowel as jou gehoor in ag neem.
Wat is die hoofgedagtes wat jy moet beklemtoon as jy tydens ’n Bybelstudie of ’n gemeentelike vergadering hardop uit ’n publikasie moet lees? Beskou die antwoorde op die gedrukte studievrae as die hoofgedagtes. Beklemtoon ook gedagtes wat verband hou met die vetgedrukte onderhofies waaronder die materiaal verskyn.
Jy moet verkieslik nie ’n gewoonte daarvan maak om ’n manuskrip te gebruik vir toesprake wat jy in die gemeente hou nie. Maar soms word manuskripte vir sekere byeenkomstoesprake voorsien sodat dieselfde gedagtes op dieselfde manier by al die byeenkomste aangebied sal word. Om die hoofgedagtes in so ’n manuskrip te kan beklemtoon, moet die spreker die materiaal eers noukeurig ontleed. Wat is die hoofpunte? Hy moet dit kan identifiseer. Die hoofpunte is nie bloot idees wat hy dink interessant is nie. Dit is die sleutelgedagtes waarom die materiaal self ontwikkel is. Soms word ’n hoofgedagte in die manuskrip bondig gestel en lei dit ’n vertelling of ’n redenasie in. Meer dikwels word ’n belangrike verklaring gemaak nadat die stawende feite voorgelê is. Wanneer die spreker hierdie sleutelgedagtes geïdentifiseer het, moet hy dit in sy manuskrip merk. Daar is gewoonlik net ’n paar, moontlik nie meer as vier of vyf nie. Dan moet hy oefen om dit so te lees dat die gehoor dit maklik kan identifiseer. Dit is die hoogtepunte van die toespraak. As die materiaal met die regte beklemtoning aangebied word, sal daardie hoofgedagtes makliker onthou kan word. Dit moet die spreker se doel wees.
Daar is verskillende maniere waarop ’n spreker van die nodige klem gebruik kan maak om die gehoor te help om die hoofpunte te identifiseer. Hy kan met meer entoesiasme praat, sy tempo verander, met groter intensiteit praat of gepaste gebare gebruik, om maar ’n paar te noem.
-