Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 16 bl. 124-132
  • “Kom oor na Masedonië”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Kom oor na Masedonië”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘God het ons geroep’ (Handelinge 16:6-15)
  • “Die skare het . . . teen hulle opgestaan” (Handelinge 16:16-24)
  • “Dadelik gedoop” (Handelinge 16:25-34)
  • “Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi?” (Handelinge 16:35-40)
  • Lidia—’n gasvrye aanbidder van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Silas—’n bron van aanmoediging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ‘Die vrede van God gaan alle denke te bowe’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • ’n Tronkbewaarder leer die waarheid
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 16 bl. 124-132

HOOFSTUK 16

“Kom oor na Masedonië”

Dit bring seëninge mee wanneer ’n toewysing aanvaar en vervolging met vreugde verduur word

Gebaseer op Handelinge 16:6-40

1-3. (a) Hoe het Paulus en sy metgeselle die leiding van die heilige gees ondervind? (b) Watter gebeure gaan ons bespreek?

’N GROEP vroue verlaat die stad Filippi in Masedonië. Kort voor lank bereik hulle die smal Gangites-rivier. Volgens hulle gewoonte gaan sit hulle op die rivieroewer om tot die God van Israel te bid. Jehovah sien hulle. – 2 Kron. 16:9; Ps. 65:2.

2 Intussen, meer as 800 kilometer oos van Filippi, vertrek ’n groep manne uit die stad Listra in suidelike Galasië. Dae later bereik hulle ’n geplaveide Romeinse hoofpad wat weswaarts na die digs bevolkte gebied van die landstreek Asië lei. Die manne – Paulus, Silas en Timoteus – is gretig om op dié pad te reis sodat hulle Efese en ander stede kan besoek waar duisende mense van Christus moet hoor. Maar selfs voordat hulle met die reis kan begin, hou die heilige gees hulle op die een of ander ongenoemde manier terug. Hulle word verbied om in Asië te preek. Waarom? Jesus – deur middel van God se gees – wil Paulus se reisgeselskap deur Klein-Asië, oor die Egeïese See en tot by die oewers van daardie klein rivier, die Gangites, lei.

3 Die manier waarop Jesus Paulus en sy metgeselle gedurende hierdie buitengewone reis na Masedonië gelei het, bevat waardevolle lesse vir ons wat vandag leef. Kom ons hersien dus ’n paar van die gebeure wat plaasgevind het tydens Paulus se tweede sendingreis, wat omstreeks 49 HJ begin het.

‘God het ons geroep’ (Handelinge 16:6-15)

4, 5. (a) Wat het naby Bitinië met Paulus se reisgeselskap gebeur? (b) Watter besluit het die dissipels geneem, en met watter gevolg?

4 Nadat Paulus en sy metgeselle daarvan weerhou is om in Asië te preek, het hulle noordwaarts gegaan om in die stede van Bitinië te getuig. Om daar te kom, het hulle moontlik dae lank op voetpaaie deur die yl bevolkte streke van Frigië en Galasië geloop. Maar toe hulle naby Bitinië kom, het Jesus weer eens die heilige gees gebruik om hulle te keer (Hand. 16:6, 7). Teen dié tyd was die manne ongetwyfeld verward. Hulle het geweet waaroor hulle moet preek en hoe hulle moet preek, maar hulle het nie geweet waar hulle moet preek nie. Hulle het as ’t ware aan die deur na Asië geklop – maar tevergeefs. Hulle het aan die deur na Bitinië geklop – weer eens tevergeefs. Paulus was nogtans vasbeslote om aan te hou klop totdat hy ’n deur vind wat sou oopgaan. Die manne het toe ’n besluit geneem wat dalk vreemd gelyk het. Hulle het weswaarts gedraai en 550 kilometer ver geloop, verby stad na stad totdat hulle die hawe Troas, die natuurlike ingang tot Masedonië, bereik het (Hand. 16:8). Daar het Paulus vir die derde keer aan ’n deur geklop, en – kyk! – dit het wawyd oopgeswaai.

5 Die Evangelieskrywer Lukas, wat in Troas by Paulus se reisgeselskap aangesluit het, vertel wat gebeur het: “Gedurende die nag het Paulus ’n visioen gehad – daar het ’n Masedoniese man gestaan wat hom gesmeek het: ‘Kom oor na Masedonië en help ons.’ Net nadat hy die visioen gesien het, het ons na Masedonië probeer gaan, want ons het die gevolgtrekking gemaak dat God ons geroep het om die goeie nuus aan hulle bekend te maak” (Hand. 16:9, 10).a Uiteindelik het Paulus geweet waar om te preek. Hoe bly moes hy tog gewees het dat hy nie halfpad deur die reis moed opgegee het nie! Die vier manne het onmiddellik na Masedonië gevaar.

Die apostel Paulus en Timoteus staan op ’n skip se dek. Timoteus wys na iets terwyl die manne op die skip werk.

“Ons het toe van Troas af gevaar.” – Handelinge 16:11

6, 7. (a) Watter les kan ons leer uit wat gedurende Paulus se reis plaasgevind het? (b) Watter versekering gee Paulus se ondervinding ons?

6 Watter les kan ons uit hierdie verslag leer? Let hierop: Eers nadat Paulus na Asië vertrek het, het God se gees ingetree, eers nadat Paulus naby Bitinië gekom het, het Jesus ingetree en eers nadat Paulus Troas bereik het, het Jesus hom na Masedonië gerig. Jesus, as Hoof van die gemeente, handel vandag dalk op soortgelyke wyse met ons (Kol. 1:18). Byvoorbeeld, ons oorweeg dit miskien al ’n tyd lank om te pionier of na ’n gebied te verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Maar dit is dalk eers nadat ons definitiewe stappe gedoen het om ons doelwit te bereik dat Jesus, deur middel van God se gees, ons sal rig. Waarom? Dink aan hierdie voorbeeld: ’n Bestuurder kan sy motor na links of na regs draai, maar slegs as die motor in beweging is. Wanneer ons ons bediening uitbrei, rig Jesus ons eweneens, maar slegs as ons in beweging is – as ons daadwerklike pogings aanwend om dit te doen.

7 Maar sê nou ons pogings dra nie onmiddellik vrug nie? Moet ons tou opgooi en redeneer dat God se gees ons nie rig nie? Nee. Onthou dat Paulus ook voor hindernisse te staan gekom het. Nietemin het hy aangehou soek totdat hy ’n deur gevind het wat oopgegaan het. Ons kan daarvan seker wees dat ons volgehoue soeke na “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”, ook beloon sal word. – 1 Kor. 16:9.

8. (a) Beskryf die stad Filippi. (b) Tot watter vreugdevolle gebeure het Paulus se predikingswerk by “’n bidplek” gelei?

8 Nadat Paulus se reisgeselskap in die landstreek Masedonië aangekom het, het hulle na Filippi gereis – ’n stad waarvan die inwoners trots was op hulle Romeinse burgerskap. Vir die afgetrede Romeinse soldate wat daar gewoon het, was die kolonie Filippi soos ’n klein Italië – as ’t ware ’n miniatuur-Rome in Masedonië. Buite die stadspoort, langs ’n smal rivier, het die sendelinge op ’n plek afgekom wat hulle gedink het “’n bidplek” is.b Op die Sabbat het hulle daarheen gegaan en ’n hele paar vroue gevind wat daar vergader het om God te aanbid. Die dissipels het gaan sit en met hulle gepraat. ’n Vrou met die naam Lidia “het geluister” en “Jehovah het haar hart wyd oopgemaak”. Lidia is so diep getref deur wat sy by die sendelinge geleer het, dat sy en die mense in haar huis gedoop is. Toe het sy daarop aangedring dat Paulus en sy reisgenote by haar kom bly.c – Hand. 16:13-15.

9. Hoe het baie vandag Paulus se voorbeeld gevolg, en tot watter seëninge het dit gelei?

9 Stel jou die vreugde voor wat Lidia se doop meegebring het! Hoe verheug moes Paulus tog gewees het dat hy die uitnodiging: “Kom oor na Masedonië”, aanvaar het en dat Jehovah dit goedgedink het om hom en sy metgeselle te gebruik om die gebede van daardie godvresende vroue te verhoor! Vandag word baie broers en susters – jonk en oud, getroud en ongetroud – ook beweeg om na gebiede te verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Hulle kry weliswaar soms swaar, maar dit is niks in vergelyking met die tevredenheid wat hulle ervaar wanneer hulle mense soos Lidia vind, wat Bybelwaarhede aanneem nie. Kan jy aanpassings maak sodat jy as ’t ware kan ‘oorkom’ na ’n gebied waar hulp nodig is? Seëninge wag op jou. Dink byvoorbeeld aan Aaron, ’n broer in sy 20’s wat na ’n land in Sentraal-Amerika verhuis het. Hy spreek die gevoelens van baie uit wanneer hy sê: “Om in ’n ander land te dien, het my gehelp om geestelik te groei en nader aan Jehovah te kom. En velddiens is wonderlik – ek hou agt Bybelstudies!”

Twee susters preek vir ’n jong vrou op die straat. ’n Jong man luister na wat hulle sê.

Hoe kan ons vandag “na Masedonië” oorgaan?

“Die skare het . . . teen hulle opgestaan” (Handelinge 16:16-24)

10. Hoe was demooninvloed betrokke by ’n ommekeer in sake vir Paulus en sy metgeselle?

10 Satan was ongetwyfeld woedend dat die goeie nuus wortelgeskiet het in ’n deel van die wêreld waar hy en sy demone dalk geen teenstand gehad het nie. Dit is dus geen wonder dat demooninvloed betrokke was by ’n ommekeer in sake vir Paulus en sy metgeselle nie! Gedurende hulle besoeke aan die bidplek het ’n demoonbesete diensmeisie, wat geld vir haar meesters verdien het deur die toekoms te voorspel, Paulus se groep aanhoudend gevolg en uitgeroep: “Hierdie mense is slawe van die allerhoogste God, en hulle verkondig die weg van redding aan julle.” Die demoon het die meisie moontlik hierdie woorde laat uitroep om dit te laat lyk asof die dinge wat sy oor die toekoms voorspel, en Paulus se leringe dieselfde oorsprong het. Op dié manier kon omstanders se aandag afgetrek word van Christus se ware volgelinge. Maar Paulus het die meisie stilgemaak deur die demoon uit te dryf. – Hand. 16:16-18.

11. Wat het met Paulus en Silas gebeur nadat die demoon uit die meisie uitgedryf is?

11 Toe die eienaars van die diensmeisie uitvind dat hulle nie meer ’n bron van maklik verkrygbare geld het nie, was hulle briesend. Hulle het Paulus en Silas na die markplein gesleep, waar magistrate – amptenare wat Rome verteenwoordig het – sake aangehoor het. Die eienaars het ’n beroep op die regters se vooroordeel en patriotisme gedoen deur as ’t ware te sê: ‘Hierdie Jode veroorsaak groot moeilikheid deur gebruike te verkondig wat ons as Romeine nie kan aanvaar nie.’ Hulle woorde het onmiddellik resultate opgelewer. “Die skare [op die markplein] het saam teen hulle [Paulus en Silas] opgestaan”, en die magistrate het beveel dat “hulle met stokke geslaan moet word”. Daarna is Paulus en Silas na die tronk gesleep. Die tronkbewaarder het die beseerde mans in die binneste gevangenis gegooi en hulle voete in die blok vasgemaak (Hand. 16:19-24). Toe die tronkbewaarder die deur toemaak, was dit so donker in daardie sel dat Paulus en Silas mekaar sekerlik skaars kon sien. Maar Jehovah het hulle gesien. – Ps. 139:12.

12. (a) Hoe het Christus se dissipels vervolging beskou, en waarom? (b) Watter vorme van teenstand word nog steeds deur Satan en sy agente gebruik?

12 Jare vroeër het Jesus vir sy volgelinge gesê: ‘Hulle sal julle vervolg’ (Joh. 15:20). Toe Paulus se reisgeselskap na Masedonië gegaan het, was hulle dus voorbereid op teenstand. Toe hulle vervolging ondervind, het hulle dit nie as ’n teken van Jehovah se misnoeë beskou nie, maar as ’n bewys van Satan se woede. Vandag maak Satan se agente nog steeds gebruik van metodes soos dié wat in Filippi gebruik is. Bedrieglike teenstanders gee ’n verwronge beeld van ons by die skool en by die werk en blaas teenstand aan. In party lande beskuldig godsdiensteenstanders ons in die hof en sê hulle as ’t ware: ‘Hierdie Getuies veroorsaak groot moeilikheid deur gebruike te verkondig wat ons as “tradisionele gelowiges” nie kan aanvaar nie.’ Op party plekke word ons medegelowiges geslaan en in die tronk gegooi. Maar Jehovah sien dit. – 1 Pet. 3:12.

“Dadelik gedoop” (Handelinge 16:25-34)

13. Wat het daartoe aanleiding gegee dat die tronkbewaarder gevra het: “Wat moet ek doen om gered te word?”

13 Paulus en Silas het sekerlik tyd nodig gehad om tot verhaal te kom ná die dramatiese gebeure van daardie dag. Maar teen middernag het hulle al in so ’n mate van die slae herstel dat hulle besig was “om te bid en om God te loof deur liedere te sing”. Skielik het ’n aardbewing die tronk geskud! Die tronkbewaarder het wakker geword, gesien dat die deure oop is en gevrees dat die gevangenes ontsnap het. Aangesien hy geweet het dat hy gestraf sou word omdat hy hulle laat ontsnap het, het hy “sy swaard uitgetrek en wou hy homself doodmaak”. Maar Paulus het uitgeroep: “Moenie jouself seermaak nie, want ons is almal hier!” Die ontstelde tronkbewaarder het gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Paulus en Silas kon hom nie red nie; net Jesus kon. Daarom het hulle geantwoord: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.” – Hand. 16:25-31.

14. (a) Hoe het Paulus en Silas die tronkbewaarder gehelp? (b) Hoe is Paulus en Silas geseën omdat hulle vervolging met vreugde verduur het?

14 Was die tronkbewaarder se vraag opreg? Paulus het nie die man se opregtheid bevraagteken nie. Die tronkbewaarder was ’n nie-Jood en was nie met die Skrif vertroud nie. Voordat hy ’n Christen kon word, moes hy basiese skriftuurlike waarhede leer en dit aanvaar. Paulus en Silas het dus tyd geneem om hom van “die woord van Jehovah” te leer. Die manne was so verdiep in hulle onderrigting uit die Skrif dat hulle dalk vergeet het van die pyn wat deur die slae veroorsaak is. Maar die tronkbewaarder het die diep wonde op hulle rûe gesien en dit skoongemaak. Daarna is hy en almal in sy huis “dadelik gedoop”. Hoe is Paulus en Silas tog geseën omdat hulle vervolging met vreugde verduur het! – Hand. 16:32-34.

15. (a) Hoe het baie Getuies vandag die voorbeeld van Paulus en Silas gevolg? (b) Waarom moet ons aanhou om die huise van mense in ons gebied te besoek?

15 Soos Paulus en Silas, het baie Getuies van vandag die goeie nuus met welslae verkondig terwyl hulle weens hulle geloof in die tronk was. Byvoorbeeld, in een land waar ons werk verbied was, was daar ’n tyd toe 40 persent van al die Getuies die waarheid oor Jehovah in die tronk geleer het! (Jes. 54:17). Let ook op dat die tronkbewaarder eers ná die aardbewing om hulp gevra het. Party mense wat nog nooit op die Koninkryksboodskap gereageer het nie, doen dit vandag dalk ook eers nadat hulle eie wêreld skielik deur ’n ontstellende gebeurtenis geskud is. Deur getrou aan te hou om mense in ons gebied te besoek, maak ons seker dat ons daar is wanneer hulle hulp nodig het.

“Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi?” (Handelinge 16:35-40)

16. Hoe is die bordjies verhang die dag nadat Paulus en Silas geslaan is?

16 Die oggend nadat Paulus en Silas geslaan is, het die magistrate beveel dat hulle vrygelaat moet word. Maar Paulus het gesê: “Hulle het ons in die openbaar geslaan sonder ’n verhoor, al is ons Romeine, en hulle het ons in die tronk gegooi. Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi? Beslis nie! Laat hulle self kom en ons uitbring.” Toe die magistrate hoor dat die twee manne Romeinse burgers is, het hulle “bang geword”, want hulle het die manne se regte geskend.d Die bordjies is verhang. Die dissipels is in die openbaar geslaan; nou moes die magistrate in die openbaar verskoning vra. Hulle het Paulus en Silas gesmeek om Filippi te verlaat. Die twee dissipels het ingestem, maar hulle het eers tyd gemaak om die groeiende groep nuwe dissipels aan te moedig. Eers daarna het hulle vertrek.

17. Watter belangrike les sou die nuwe dissipels uit die volharding van Paulus en Silas geleer het?

17 As Paulus en Silas se regte as Romeinse burgers vroeër gerespekteer is, sou hulle waarskynlik nie geslaan gewees het nie (Hand. 22:25, 26). Maar dit kon die dissipels in Filippi die indruk gegee het dat dié manne hulle posisie gebruik het om lyding ter wille van Christus vry te spring. Watter uitwerking sou dit hê op die geloof van dissipels wat nie Romeinse burgers was nie? Die wet sou húlle immers nie teen slae beskerm nie. Deur straf te verduur, het Paulus en sy metgesel dus deur middel van hulle voorbeeld vir die nuwe gelowiges getoon dat volgelinge van Christus tydens vervolging standvastig kan bly. Wat meer is, deur daarop aan te dring dat hulle burgerskap erken word, het Paulus en Silas die magistrate gedwing om in die openbaar te erken dat hulle onwettig opgetree het. Dit sou weer help om te voorkom dat hulle Paulus se medegelowiges mishandel en sou in die toekoms ’n mate van wetlike beskerming teen soortgelyke aanvalle voorsien.

18. (a) Hoe volg Christenopsieners vandag Paulus se voorbeeld? (b) Hoe word die goeie nuus in ons dag “verdedig en wetlik bevestig”?

18 Vandag neem opsieners in die Christengemeente ook die leiding deur die voorbeeld te stel. Christenherders is bereid om self te doen wat hulle van hulle medegelowiges verwag. Soos Paulus, dink ons ook goed na voordat ons besluit hoe en wanneer ons ons wetlike regte sal gebruik om beskerming te verkry. Indien nodig, wend ons ons tot plaaslike, nasionale en selfs internasionale geregshowe om wetlike beskerming te verkry om ons aanbidding te beoefen. Ons oogmerk is nie maatskaplike hervorming nie, maar om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’, soos Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf het sowat tien jaar nadat hy daar in die tronk was (Fil. 1:7). Maar ongeag wat die afloop van sulke hofsake is, ons is vasbeslote om, soos Paulus en sy metgeselle, aan te hou “om die goeie nuus . . . bekend te maak”, ongeag waarheen God se gees ons lei. – Hand. 16:10.

LUKAS – DIE SKRYWER VAN HANDELINGE

Tot hoofstuk 16, vers 9, word die boek Handelinge byna uitsluitlik in die derde persoon geskryf. Dit wil sê die skrywer vertel slegs wat ander gesê en gedoen het. Maar in Handelinge 16:10, 11 verander dié styl. In vers 11 sê die skrywer byvoorbeeld: “Ons het toe van Troas af gevaar, reguit na Samotrake.” Dít is waar Lukas, die skrywer, deel word van die gebeure. Maar hoe weet ons dat Lukas werklik die skrywer van die boek Handelinge is, aangesien sy naam nêrens daarin verskyn nie?

Lukas sit by ’n tafel en skryf in ’n boekrol.

Die antwoord lê in die inleidings tot die boek Handelinge en Lukas se Evangelie. Albei is gerig aan ’n sekere “Teofilus” (Luk. 1:1, 3; Hand. 1:1). Die openingswoorde van Handelinge sê: “O Teofilus, ek het die eerste verslag geskryf oor alles wat Jesus gedoen het en aan ander geleer het.” Aangesien eertydse gesaghebbendes dit eens is dat Lukas “die eerste verslag”, die Evangelie, geskryf het, het hy ongetwyfeld ook Handelinge geskryf.

Ons weet nie veel van Lukas nie. Sy naam verskyn net drie keer in die Bybel. Die apostel Paulus noem Lukas “die geliefde dokter” en een van sy “medewerkers” (Kol. 4:14; Filem. 24). Die dele van die boek Handelinge waar “ons” gebruik word – dié waarin Lukas homself in die verhaal insluit – dui aan dat Lukas die apostel Paulus vir die eerste keer in ongeveer 50 HJ van Troas na Filippi vergesel het, maar dat Lukas nie meer saam met hom was toe Paulus Filippi verlaat het nie. Die twee manne het mekaar weer omstreeks 56 HJ in Filippi ontmoet en saam met sewe ander broers van Filippi na Jerusalem gereis, waar Paulus in hegtenis geneem is. Twee jaar later het Lukas saam met Paulus, wat nog steeds in boeie was, van Sesarea na Rome gereis (Hand. 16:10-17, 40; 20:5–21:17; 24:27; 27:1–28:16). Toe Paulus, wat vir ’n tweede keer ’n gevangene in Rome was, besef dat sy teregstelling op hande is, was “net Lukas” by hom (2 Tim. 4:6, 11). Dit is duidelik dat Lukas lang afstande afgelê het en bereid was om ontberinge te ly ter wille van die goeie nuus.

Lukas het nie beweer dat hy ’n ooggetuie was van wat hy oor Jesus geskryf het nie. Inteendeel, hy het gesê dat hy onderneem het “om ’n verslag saam te stel oor die feite”, gegrond op die verslae van “ooggetuies”. Daarbenewens het hy “alles van die begin af noukeurig nagegaan . . . om dit in logiese volgorde . . . te skryf” (Luk. 1:1-3). Die resultaat van Lukas se harde werk toon dat hy ’n noukeurige navorser was. Hy het moontlik onderhoude gevoer met Elisabet, met Jesus se ma, Maria, en met ander om sy inligting te versamel. ’n Groot deel van sy verslag is uniek onder die Evangelieverslae. – Luk. 1:5-80.

Paulus het gesê dat Lukas ’n dokter was, en ’n dokter se belangstelling in mense wat ly, kan gesien word in wat hy geskryf het. Om maar net ’n paar voorbeelde te noem: Lukas het vertel dat Jesus ’n demoonbesete man genees het en dat die demoon “uitgekom [het] sonder om hom seer te maak”; dat die apostel Petrus se skoonma “’n hoë koors” gehad het; en dat Jesus ’n vrou gehelp het wat “18 jaar lank ’n gees in haar gehad het wat haar siek gemaak het, en sy was krom getrek en kon glad nie regop staan nie”. – Luk. 4:35, 38; 13:11.

Dit is duidelik dat Lukas “die werk van die Here” eerste gestel het in sy lewe (1 Kor. 15:58). Hy het nie ’n sekulêre loopbaan of vernaamheid nagestreef nie, maar het ander probeer help om Jehovah te leer ken en te dien.

LIDIA – DIE VROU WAT PERS MATERIAAL VERKOOP HET

Lidia het in Filippi, ’n vername stad in Masedonië, gewoon. Sy was oorspronklik van Tiatira, ’n stad in die streek Lidië in die weste van Klein-Asië. Lidia het pers materiaal verkoop. Om hierdie werk te doen, het sy na die oorkant van die Egeïese See getrek. Sy het heel waarskynlik ook ’n verskeidenheid goedere verkoop wat pers gekleur was, soos tapyte, tapisserieë, materiaal en selfs pers kleursel. ’n Inskripsie wat in die stad Filippi gevind is, toon dat daar ’n groep verkopers was wat pers goedere verkoop het.

Lidia wys vir iemand ’n stuk materiaal.

Lidia word beskryf as “’n aanbidder van God”, wat waarskynlik beteken dat sy ’n Joodse proseliet was (Hand. 16:14). Sy het Jehovah moontlik in haar tuisdorp leer aanbid. In teenstelling met Filippi was daar in haar tuisdorp ’n Joodse vergaderplek. Party meen dat Lidia ’n bynaam was – wat “Lidiese vrou” beteken – en in Filippi aan haar gegee is. Daar is egter gedokumenteerde bewys dat Lidia ook as ’n eienaam gebruik is.

Die Lidiërs en hulle bure was sedert die dae van Homerus, in die negende of agtste eeu VHJ, beroemd vir hulle vaardigheid om goedere pers te kleur. Trouens, Tiatira se water het na bewering “die helderste en mees kleurvaste skakerings” gelewer.

Pers goedere was luukse items, wat slegs deur die rykes bekostig kon word. Hoewel verskillende bronne van pers kleursel bekend was, was die allerbeste en duurste soort – wat gebruik is om fyn linne te kleur – afkomstig van Mediterreense skulpvisse. Elke weekdier het net een druppel kleursel gelewer, en ongeveer 8 000 skulpvisse was nodig om net een gram van die kosbare vloeistof te verkry; daarom was dié kleur materiaal baie duur.

Aangesien Lidia se beroep groot kapitaal vereis het en sy ’n groot huis gehad het waarin sy vier manne – Paulus, Silas, Timoteus en Lukas – kon huisves, was sy heel waarskynlik ’n suksesvolle en ryk handelaar. Die verwysing na “die mense in haar huis” kan beteken dat familielede by haar gewoon het, maar dit kan ook te kenne gee dat sy slawe en diensknegte gehad het (Hand. 16:15). En die feit dat Paulus en Silas saam met ’n paar broers in hierdie gasvrye vrou se huis vergader het voordat hulle die stad verlaat het, dui daarop dat dit ’n vergaderplek vir die eerste Christene in Filippi geword het. – Hand. 16:40.

Toe Paulus omtrent tien jaar later aan die gemeente in Filippi geskryf het, het hy geen melding van Lidia gemaak nie. Die besonderhede wat ons in Handelinge hoofstuk 16 vind, is dus al wat ons van haar weet.

a Sien die venster “Lukas – Die skrywer van Handelinge”.

b Dalk is die Jode weens Filippi se militêre karakter verbied om ’n sinagoge in die stad te hê. Of die stad het dalk nie tien Joodse mans gehad nie – die minimum wat vereis is om ’n sinagoge te hê.

c Sien die venster “Lidia – Die vrou wat pers materiaal verkoop het”.

d Volgens die Romeinse reg was ’n burger altyd geregtig op ’n behoorlike verhoor en mag hy nooit sonder ’n verhoor in die openbaar gestraf word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel