Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Waarom moet ek volgens Bybelstandaarde lewe?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
    • Hoofstuk 34

      Waarom moet ek volgens Bybelstandaarde lewe?

      Jy eet jou middagete saam met twee meisies by die skool en die nuwe ou loop verby.

      “Jy weet, ek dink Brett hou nogal van jou”, sê die eerste meisie vir jou. “Ek kan mos sien hoe hy vir jou kyk. Hy kan sy oë nie van jou afhou nie!”

      “En raai wat?” fluister die tweede meisie terwyl sy na jou toe oorleun. “Hy’s beskikbaar!”

      Jy het dit alles reeds vermoed. Brett het jou immers nou die dag na ’n partytjie by sy huis genooi. Jy het natuurlik nee gesê, al het jy by jouself gewonder hoe dit sou wees.

      Die eerste meisie onderbreek jou gedagtes.

      “Dis jammer ek is nie beskikbaar nie”, sê sy. “Ek sou my nie twee keer laat nooi om met Brett uit te gaan nie.”

      Dan kyk sy na jou en frons. Jy weet wat kom.

      “Hoekom het jy dan nie ’n kêrel nie?” vra sy.

      Jy haat daardie vraag! Die feit is, jy wil graag ’n kêrel hê. Maar daar is vir jou gesê dat jy eerder moet wag totdat jy gereed is om te trou voordat jy met iemand begin uitgaan. As dit net nie was vir . . . 

      “Jou godsdiens, nè?” sê die tweede meisie.

      ‘Het sy my gedagtes gelees?’ dink jy.

      “By jou is dit altyd net Bybel, Bybel, Bybel”, terg sy. “Hoekom kan jy jou nie partykeer net geniet nie?”

      IS JY al ooit gespot omdat jy volgens Bybelstandaarde probeer lewe? Indien wel, het jy dalk gewonder of jy iets mis. ’n Meisie met die naam Deborah het so gevoel. “Vir my was Bybelstandaarde beperkend”, sê sy. “Die vryheid wat my skoolmaats gehad het, was vir my aantreklik.”

      Die werklikheid

      Ondervinding is nie altyd die beste leermeester nie. Om die waarheid te sê, dis verstandig sowel as skriftuurlik om, soos die psalmis Asaf, uit ander se foute te leer. Hy het ’n tyd lank gedink dat God se standaarde te beperkend is. Maar toe hy sien waarop diegene afstuur wat God se weë verlaat het, het dit hom teruggebring na die werklikheid. Asaf het later tot die slotsom gekom dat hulle op “glibberige grond” is.—Psalm 73:18.

      Kom ons kyk, met die oog hierop, na die kommentare van jongmense wat ’n tyd lank nie volgens Bybelstandaarde gelewe het nie en hulle aan voorhuwelikse seks skuldig gemaak het.

      ● Watter faktore het jou denke en dade beïnvloed?

      Deborah: “Deur my hele skoolloopbaan het dit vir my gelyk of almal behalwe ek ’n kêrel of ’n meisie het, en hulle het gelukkig gelyk. Wanneer ek saam met hulle uitgehang het en gesien het hoe hulle mekaar soen en vashou, het ek jaloers en eensaam gevoel. Ek het dikwels ure lank gedagdroom oor ’n seun van wie ek gehou het. Dit het my begeerte om sy meisie te wees, al hoe sterker laat word.”

      Mike: “Ek het leesstof gekies en na programme gekyk wat seks verheerlik. Gesprekke oor seks met my vriende het my nog nuuskieriger gemaak. Later, toe ek alleen saam met ’n meisie was, het ek gedink dat ek fisies intiem met haar kon raak sonder om seks te hê, dat ek enige tyd kon stop.”

      Andrew: “Ek het dikwels na Internetpornografie gekyk. Ek het baie begin drink. En ek het na partytjies toe gegaan saam met jongmense wat min respek vir die Bybel se sedelike standaarde gehad het.”

      Tracy: “Ek het gewéét dat voorhuwelikse seks verkeerd is, maar ek het dit nie gehaat nie. Ek het nie beplan om ’n seksuele verhouding te begin voor ek trou nie, maar my emosies het my denke oorheers. My gewete was ’n ruk lank afgestomp, en ek het glad nie skuldig gevoel nie.”

      ● Het jou lewenstyl jou gelukkig gemaak?

      Deborah: “Aan die begin het ek ’n oorweldigende gevoel van vryheid ervaar, en ek was bly dat ek uiteindelik by my portuurs kon inpas. Maar daardie gevoelens het nie lank gehou nie. Ek het vuil, beroof van my onskuld en leeg begin voel. Ek was bitter spyt dat ek my maagdelikheid weggegooi het.”

      Andrew: “Dit het al hoe makliker geword om aan verkeerde begeertes toe te gee. Maar terselfdertyd het skuldgevoelens my verteer en was ek teleurgesteld in myself.”

      Tracy: “Onsedelikheid het my jeug verwoes. Ek het gedink dat ek en my kêrel alles saam sou geniet. Ons het nie. Ons het vir mekaar pyn, ellende en hartseer veroorsaak. Ek het my nag ná nag aan die slaap gehuil en gewens dat ek dinge eerder op Jehovah se manier gedoen het.”

      Mike: “Ek het begin voel asof ’n deel van my doodgegaan het. Ek het die uitwerking wat my dade op ander gehad het, probeer ignoreer, maar ek kon nie. Dit was vir my pynlik om te besef dat ek ander seergemaak het terwyl ek my eie genot nagejaag het.”

      ● Watter raad sal jy vir jongmense gee wat wonder of die Bybel se sedelike standaarde te beperkend is?

      Tracy: “Lewe volgens Jehovah se standaarde, en assosieer met ander wat dit ook doen. Jy sal gelukkiger wees.”

      Deborah: “Dit gaan nie net oor jou en wat jy wil hê nie. Jou dade sal ’n uitwerking op ander hê. En as jy God se raad ignoreer, sal jy jouself seermaak.”

      Andrew: “As jy onervare is, dink jy dat jou portuurs se lewenstyl opwindend is. Hulle gesindhede sal jou beïnvloed. Kies jou vriende dus wyslik. Vertrou op Jehovah, en jy sal jou baie selfverwyt spaar.”

      Mike: “Jou waardigheid en jou onskuld is van die kosbaarste dinge wat Jehovah jou gee. As jy hierdie gawes weggooi net omdat jy nie selfbeheersing het nie, maak jy jou goedkoop. Praat met jou ouers en ander geestelike ryp persone oor jou probleme. As jy ’n fout maak, praat so gou as moontlik met iemand daaroor en stel die situasie reg. As jy dinge op Jehovah se manier doen, sal jy ware gemoedsrus geniet.”

      Bybelstandaarde—Dwangbaadjie of veiligheidsgordel?

      Jehovah is “die gelukkige God”, en hy wil hê dat jy ook gelukkig moet wees (1 Timoteus 1:11; Prediker 11:9). Die standaarde wat in die Bybel opgeteken staan, is vir jou eie beswil. Jy kán dit beskou as ’n dwangbaadjie wat jou vryheid beperk. Maar die Bybel se sedewette is in werklikheid meer soos ’n veiligheidsgordel wat jou beskerm.

      Jy kan die Bybel beslis vertrou. As jy besluit om volgens die standaarde daarvan te lewe, sal jy nie net Jehovah gelukkig maak nie, maar jy sal ook jouself bevoordeel.—Jesaja 48:17.

      IN ONS VOLGENDE HOOFSTUK

      Jy kán God se vriend wees. Vind uit hoe.

      SLEUTELTEKSTE

      “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.”—Jesaja 48:17.

      WENK

      Dink aan hoe jy die wysheid van Bybelstandaarde kan verdedig wanneer jy met jou jonger broer of suster praat. Om oor jou oortuigings te praat, is ’n goeie manier om dit in jou hart te laat insink.

      HET JY GEWEET . . .?

      Dit neem net oomblikke om jou verhouding met Jehovah te skaad, maar dit kan jare neem om dit te herstel.

      AKSIEPLAN!

      Om my te help om die wysheid van Bybelstandaarde in te sien, sal ek ․․․․․

      As ek mense begin beny wat volgens die wêreld se standaarde lewe, sal ek ․․․․․

      Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․

      WAT DINK JY?

      ● Met die oog op die gevolge van ongehoorsaamheid aan God se wette, waarom is persoonlike ondervinding nie die beste leermeester nie?

      ● Wat leer jy uit die kommentare van Deborah, Mike, Andrew en Tracy?

      ● Waarom beskou party mense Bybelstandaarde dalk as ’n dwangbaadjie, maar waarom is so ’n beskouing kortsigtig?

      [Lokteks op bladsy 285]

      Al voel ’n mens sleg wanneer jy gedissiplineer word as jy iets verkeerd gedoen het, is dit nie naastenby so erg soos die pyn wat jy ervaar as jy dit probeer wegsteek nie.’’—Donna

      [Prente op bladsy 288]

      Bybelstandaarde beperk nie jou geluk nie; dit beskerm jou

  • Hoe kan ek God se vriend word?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
    • Hoofstuk 35

      Hoe kan ek God se vriend word?

      ’n Persoonlike tragedie het Jeremy laat besef hoe kosbaar ’n vriendskap met God is. “Toe ek 12 was, het my pa ons gesin verlaat”, verduidelik hy. “Een aand het ek in die bed gelê en Jehovah gesmeek om my pa te laat terugkom.”

      In sy mismoedigheid het Jeremy sy Bybel begin lees. Toe hy Psalm 10:14 lees, het dit hom diep getref. Dié vers sê van Jehovah: “Aan u vertrou die ongelukkige, die vaderlose seun, homself toe. U het sy helper geword.” Jeremy sê: “Dit het vir my gevoel asof Jehovah met my praat en vir my sê dat hy my helper is; hý is my Vader. Watter beter vader as hy kon ek tog hê?”

      OF JY nou in dieselfde soort situasie as Jeremy is of nie, die Bybel toon dat Jehovah wil hê dat jy sy vriend moet wees. Dit sê immers: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Dink aan wat daardie woorde beteken: Al kan jy hom nie sien nie—en hy in geen sin van die woord jou portuur is nie—nooi Jehovah God jou om sy vriend te wees!

      Maar vriendskap met God sal inspanning van jou verg. Ter toeligting: As jy ’n potplant het, weet jy uit ondervinding dat dit nie vanself groei nie. As jy wil hê dat dit mooi moet groei, moet jy dit gereeld natgooi en in ’n omgewing hou waar dit goed sal aard. Dieselfde geld vir vriendskap met God. Wat kan jy doen om daardie vriendskap te laat groei?

      Die belangrikheid van studie

      Vriendskap behels tweerigtingkommunikasie—om te luister sowel as te praat. Dis ook waar van vriendskap met God. Ons luister na wat God vir ons sê deur die Bybel te lees en te bestudeer.—Psalm 1:2, 3.

      Toegegee, jy hou dalk nie daarvan om te studeer nie. Baie jongmense sou eerder TV kyk, ’n speletjie speel of met vriende uithang. Maar as jy vriendskap met God wil aankweek, is daar geen kortpad nie. Jy sal na hom moet luister deur sy Woord te bestudeer.

      Maar moenie bekommerd wees nie. Bybelstudie hoef nie ’n onaangename taak te wees nie. Jy kan leer om dit te geniet—al dink jy nie aan jouself as ’n gebore student nie. Die eerste ding wat jy moet doen, is om tyd opsy te sit vir Bybelstudie. “Ek het ’n rooster”, sê ’n meisie met die naam Lais. “Wanneer ek soggens wakker word, lees ek een hoofstuk van die Bybel.” Maria, 15, het ’n ander roetine. “Elke aand voordat ek gaan slaap, lees ek ’n stukkie uit die Bybel”, sê sy.

      Kyk na die venster op bladsy 292 vir idees om jou eie studieprogram te begin. Skryf dan hieronder neer wanneer jy dalk ’n halfuur of wat kan gebruik om God se Woord te bestudeer.

      ․․․․․

      Om tyd opsy te sit, is net die begin. As jy eers begin studeer, sal jy dalk agterkom dat dit nie altyd so maklik is om die Bybel te lees nie. Jy sal dalk met die 11-jarige Jezreel saamstem, wat reguit sê: “Party dele van die Bybel is moeilik om te verstaan en nie juis interessant nie.” As jy so voel, moenie tou opgooi nie. Beskou Bybelstudie altyd as tyd wat jy gebruik om na Jehovah God, jou vriend, te luister. Op die ou end hang dit van jouself af hoe opwindend en lonend Bybelstudie sal wees!

      Gebed is noodsaaklik

      Deur middel van gebed kan ons met God praat. Dink aan wat ’n wonderlike gawe gebed tog is! Jy kan enige tyd van die dag of nag met Jehovah God praat. Hy is altyd beskikbaar. Wat meer is, hy wil hoor wat jy te sê het. Daarom spoor die Bybel jou aan: “Laat [jou] versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.”—Filippense 4:6.

      Soos hierdie teks toon, is daar baie dinge waaroor jy met Jehovah kan praat. Dit kan jou probleme en bekommernisse insluit. Dit kan ook dinge insluit waarvoor jy dankbaar is. Jy sê tog immers vir jou vriende dankie vir die goeie dinge wat hulle vir jou gedoen het, nie waar nie? Jy kan ook vir Jehovah dankie sê, wat meer vir jou gedoen het as wat enige ander vriend ooit sou kon doen.—Psalm 106:1.

      Skryf hieronder ’n paar dinge neer waarvoor jy dankbaar is teenoor Jehovah.

      ․․․․․

      Daar is ongetwyfeld vrese en bekommernisse wat jou van tyd tot tyd kwel. Psalm 55:22 sê: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”

      Skryf hieronder enige persoonlike bekommernisse neer waaroor jy wil bid.

      ․․․․․

      Persoonlike ondervinding

      Daar is nog ’n aspek van jou vriendskap met God wat jy nie moet ignoreer nie. Die psalmis Dawid het geskryf: “Smaak en sien dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8). Kort voordat Dawid die 34ste Psalm geskryf het, het hy ’n angswekkende ondervinding gehad. Hy het vir die moorddadige koning Saul gevlug—wat al klaar ’n swaar beproewing was. Maar toe moes hy skuiling soek by sy vyande, die Filistyne. Dawid het gedink dat hy beslis doodgemaak sou word en daarom het hy gemaak asof hy kranksinnig is en kon hy wegkom.—1 Samuel 21:10-15.

      Dawid het nie gedink dat sy noue ontkoming aan sy eie vindingrykheid te danke was nie. Hy het eerder aan Jehovah die eer gegee. Vroeër in die psalm wat hierbo genoem word, het hy geskryf: “Ek het Jehovah geraadpleeg, en hy het my geantwoord, en uit al my verskrikkinge het hy my verlos” (Psalm 34:4). Dit was dus uit persoonlike ondervinding dat Dawid ander kon aanspoor om te “smaak en [te] sien dat Jehovah goed is”.a

      Kan jy aan ’n ondervinding in jou lewe dink wat bewys dat Jehovah besorg is oor jou? Indien wel, skryf dit hieronder neer. Wenk: Die ondervinding hoef nie baie dramaties te wees nie. Probeer aan eenvoudige, alledaagse seëninge dink, waarvan party maklik as vanselfsprekend aangeneem kan word.

      ․․․․․

      Miskien het jou ouers jou van die Bybel geleer. Indien wel, is dit ’n seën. Jy moet nogtans ’n persoonlike vriendskap met God aankweek. As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy die inligting in hierdie hoofstuk gebruik om jou te help om dit te doen. Jehovah sal jou pogings seën. Die Bybel sê: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind.”—Matteus 7:7.

      LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUKKE 38 EN 39

      IN ONS VOLGENDE HOOFSTUK

      Is dit vir jou moeilik om met ander oor God te praat? Vind uit hoe jy jou geloof kan verdedig.

      [Voetnoot]

      a Sommige Bybels vertaal die frase “smaak en sien” as “ontdek self”, “vind self uit” en “ondervind en sien self”.—Contemporary English Version, Today’s English Version en Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

      SLEUTELTEKSTE

      “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

      WENK

      As jy elke dag net vier bladsye van die Bybel lees, sal jy dit in omtrent ’n jaar deurlees.

      HET JY GEWEET . . .?

      Die feit dat jy hierdie boek lees en die Bybelse raad daarin toepas, toon dat Jehovah in jou as persoon belangstel.—Johannes 6:44.

      AKSIEPLAN!

      Om meer baat te vind by persoonlike Bybelstudie, sal ek ․․․․․

      Om my te help om meer gereeld te bid, sal ek ․․․․․

      Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․

      WAT DINK JY?

      ● Hoe kan jy jou persoonlike Bybelstudie genotvoller maak?

      ● Waarom wil Jehovah na die gebede van onvolmaakte mense luister?

      ● Hoe kan jy die gehalte van jou gebede verbeter?

      [Lokteks op bladsy 291]

      Toe ek jonger was, het ek altyd dieselfde dinge gesê wanneer ek bid. Nou probeer ek om te bid oor die goeie en slegte dinge wat elke dag gebeur. Omdat elke dag anders is, sê ek nie dieselfde dinge oor en oor nie.’’—Eve

      [Venster/Prent op bladsy 292]

      Delf dieper in jou Bybel

      1. Kies ’n Bybelverslag wat jy wil lees. Bid vir wysheid om dit te kan verstaan.

      2. Lees die verslag noukeurig deur. Moenie jaag nie. Gebruik jou verbeelding terwyl jy lees. Span soveel van jou sintuie in as wat jy kan: Probeer die gebeure sien, die stemme van die karakters hoor, die lug ruik, die kos proe, ensovoorts. Laat die verslag in jou gedagtes lewe!

      3. Dink na oor wat jy so pas gelees het. Vra jou vrae soos die volgende af:

      ● Waarom het Jehovah hierdie verslag in sy Woord ingesluit?

      ● Watter karakters is navolgenswaardig, en watter dien as waarskuwende voorbeelde?

      ● Watter praktiese lesse kan ek uit hierdie leesgedeelte leer?

      ● Wat leer die verslag my van Jehovah en die manier waarop hy dinge doen?

      4. Doen ’n kort gebed tot Jehovah. Sê vir hom wat jy uit jou Bybelstudie geleer het en hoe jy beplan om die lesse in jou lewe toe te pas. Dank Jehovah altyd vir die gawe wat hy jou gegee het—sy Woord, die Heilige Bybel!

      [Prent]

      “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.

      [Venster/Prent op bladsy 294]

      Stel prioriteite

      Te besig om te bid? Geen tyd vir Bybelstudie nie? Dit het dikwels te doen met jou prioriteite.

      Doen hierdie eksperiment: Kry ’n emmer en sit ’n paar groot klippe daarin. Gooi nou sand in die emmer—totdat dit heeltemal vol is. Jy het nou ’n emmer vol klippe en sand.

      Maak die emmer nou leeg, maar hou dieselfde klippe en sand. Doen die eksperiment nou andersom: Gooi die sand in die emmer en probeer dan die klippe in die emmer sit. Nie genoeg plek nie? Dis omdat jy dié keer die sand eerste in die emmer gegooi het.

      Die punt? Die Bybel sê: “Maak [seker] van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). As jy onbelangrike dinge soos ontspanning eerste stel, sal dit lyk asof jy nooit genoeg tyd in jou lewe het vir die belangrike dinge—geestelike strewes—nie. Maar as jy die Bybel se raad volg, sal jy vind dat jy tyd het vir Koninkryksbelange sowel as ’n bietjie ontspanning. Dit hang alles af van wat jy eerste in jou emmer sit!

      [Prent op bladsy 290]

      Soos met ’n potplant, moet jy aandag gee aan jou vriendskap met God as jy wil hê dit moet groei

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel