Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yp1 hfst. 20 bl. 142-148
  • Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?
  • Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om spesifieke probleme op te los
  • Verkry ’n langtermynbeskouing
  • Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?
    Jongmense vra
  • Onderwysers—Waarom het ons hulle nodig?
    Ontwaak!—2002
  • Die onderwys—Die opofferings en die gevare
    Ontwaak!—2002
  • Waarom ’n onderwyser wees?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
yp1 hfst. 20 bl. 142-148

Hoofstuk 20

Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?

Wie is jou gunstelingonderwyser? ․․․․․

Waarom hou jy van hierdie onderwyser? ․․․․․

Met watter onderwyser is dit vir jou die moeilikste om oor die weg te kom? ․․․․․

JY KAN jou vriende kies, maar vir ’n groot deel van jou lewe as ’n jongmens kan jy nie jou onderwysers kies nie. Dalk hou jy van hulle almal. David, 18, sê: “Ek het nooit regtig probleme met enige van my onderwysers gehad nie. Ek het hulle gerespekteer, en hulle het van my gehou.”

Maar dalk het jy ’n onderwyser soos die een wat die 11-jarige Sarah beskryf het. “Sy is so gemeen. En ek kan haar nie verstaan nie. Sy verduidelik óf te min óf hopeloos te veel oor ’n les.” Om met jou onderwyser oor die weg te kan kom, moet jy eers vasstel presies wat jy dink die probleem is. Sodra jy weet wat die uitdaging is, sal jy dit makliker kan oorkom. Maak ’n ✔ langs die gepaste blokkie(s) hieronder of skryf jou eie rede neer.

□ Dit is vir my moeilik om my onderwyser te verstaan

□ Ek voel ek verdien hoër punte

□ Ek dink dat ander voorgetrek word

□ Ek kry meer dissipline as wat ek verdien

□ Ek voel dat daar teen my gediskrimineer word

□ Ander ․․․․․

Wat kan jou help om die situasie die hoof te bied? Een van die eerste stappe is om die raad toe te pas wat die apostel Petrus gegee het. Hy het geskryf: “Julle [moet] almal eensgesind wees [en] meegevoel betoon” (1 Petrus 3:8). Waarom sou jy meegevoel vir ’n ‘gemene’ onderwyser wou hê? Kyk na ’n paar feite oor onderwysers wat jou kan help.

Onderwysers is onvolmaak. Hulle het ook hulle eienaardighede, probleme en, ja, vooroordele. “As iemand in woord nie struikel nie”, het die dissipel Jakobus geskryf, “is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2). Brianna, 19, sê: “My wiskundeonderwyseres was nie baie geduldig nie en het dikwels op ons geskreeu. Daarom was dit vir ons moeilik om haar te respekteer.” Wat het tot hierdie situasie bygedra? “Die klas was altyd in rep en roer”, sê Brianna, “en die kinders het opsetlik te kere gegaan om die onderwyseres nog meer te ontstel.”

Jy waardeer dit ongetwyfeld wanneer ’n onderwyser jou foute en tekortkominge oorsien, veral as daar baie druk op jou is. Kan jy dieselfde vir jou onderwyser doen? Skryf neer wat onlangs by die skool gebeur het en wat jy dink jou onderwyser so laat optree het.

․․․․․

Onderwysers het witbroodjies. Dink aan die uitdagings waarmee jou onderwysers te kampe het: Hoeveel van die leerders in jou klas wil daar wees? Hoeveel van dié wat wel daar wil wees, kan ’n halfuur of langer op een onderwerp konsentreer en is bereid om dit te doen? Hoeveel leerders hou daarvan om hulle opgekropte frustrasies en vyandigheid op onderwysers uit te haal? Stel jou nou voor dat jy 20, 30 of selfs meer van jou portuurs moet onderrig, en boonop in ’n onderwerp waarin min van hulle belangstel. Sal jy nie geneig wees om meer aandag te gee aan dié wat lyk of hulle belangstel nie?

Dit sal jou dalk wel irriteer wanneer dit vir jou lyk asof ander openlik voorgetrek word. Natasha sê van een van haar onderwysers: “Hy het ’n sperdatum vir take gestel, maar het altyd uitsonderings gemaak vir die voetbalspelers—en vir niemand anders nie. Toevallig was hy ook die onderafrigter van die span.” As iets soortgelyks met jou gebeur, vra jou af: ‘Word my opvoedkundige behoeftes geïgnoreer?’ As jou antwoord nee is, waarom sal jy jou dan ontstel of jaloers wees?

Skryf neer wat jy kan doen om duideliker vir jou onderwyser te wys dat jy belangstel in wat hy of sy jou leer.

․․․․․

Onderwysers verstaan leerders verkeerd. Soms kan ’n persoonlikheidsverskil of ’n misverstand jou onderwyser teen jou laat draai. Leergierigheid kan as opstandigheid beskou word, of ’n grap kan as ’n gebrek aan respek of as verspottigheid beskou word.

Wat kan jy doen as jou onderwyser jou verkeerd verstaan? Die Bybel sê: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:17, 18). Probeer om nie jou onderwyser kwaad te maak nie. Vermy onnodige konfrontasies. Moenie vir jou onderwyser geldige redes gee om te kla nie. Probeer eerder om vriendelik te wees. ‘Vriendelik? Teenoor hom?’ vra jy. Ja, toon goeie maniere deur jou onderwyser respekvol te groet wanneer jy by die klas instap. As jy altyd goed gemanierd is—selfs nou en dan glimlag—kan dit sy opinie van jou verander.—Romeine 12:20, 21.

Byvoorbeeld, Ken se onderwysers het dikwels die verkeerde indruk van hom gekry. “Ek is baie skaam”, sê hy, “en ek het nooit met my onderwysers gepraat nie.” Wat het hy omtrent die probleem gedoen? “Ek het uiteindelik besef dat my onderwysers my gewoonlik wil help. Ek het dit dus my doelwit gemaak om al my onderwysers persoonlik te leer ken. Nadat ek dit gedoen het, het my punte baie verbeter.”

Om goeie maniere aan die dag te lê en met ’n onderwyser te gesels, sal nie noodwendig maak dat hy van jou hou nie. Maar wees geduldig. Koning Salomo het geskryf: “Geduld en sagte woorde kan ’n heerser [of onderwyser] oorhaal en enige probleem oorkom” (Spreuke 25:15, Contemporary English Version). Bly kalm en gebruik sagte woorde wanneer jy onregverdig behandel word. Jou onderwyser sal miskien ’n ander opinie van jou kry.—Spreuke 15:1.

Wat is gewoonlik jou eerste reaksie wanneer jou onderwyser jou verkeerd verstaan of jou onregverdig behandel?

․․․․․

Wat sou ’n beter reaksie wees?

․․․․․

Hoe om spesifieke probleme op te los

Om jou onderwyser se beperkings te verstaan, is net ’n begin. Wat kan jy doen om ’n spesifieke probleem op te los? Sê nou jy voel ontevrede oor die volgende dinge?

Ek verdien beter punte. “Ek het altyd A’s gekry”, sê Katrina. “Maar een jaar het my wetenskaponderwyser my ’n F gegee. Ek het beter punte verdien. My ouers het met die hoof gaan praat. Maar hy het dit net na ’n D verander, en ek was nog steeds baie ontsteld.” As jy in ’n soortgelyke situasie is, moet jy nie jou onderwyser van allerhande dinge beskuldig nie. Leer eerder by die Bybelkarakter Natan. Hy het die moeilike taak gehad om ’n ernstige tekortkoming van koning Dawid bloot te lê. Natan het nie by die paleis ingestorm en beskuldigings rondgeslinger nie; hy het Dawid eerder taktvol genader.—2 Samuel 12:1-7.

Net so kan jy jou onderwyser op ’n nederige en kalm manier nader. As jy ontsteld raak of jou onderwyser van onbevoegdheid of iets ergers beskuldig, sal jy hom beslis nie aan jou kant kry nie. Probeer ’n meer volwasse benadering. Jy kan begin deur jou onderwyser te vra om te verduidelik hoe hy punte toeken. “Luister voordat jy antwoord”, het Salomo geskryf. “As jy dit nie doen nie, is jy dwaas en beledigend” (Spreuke 18:13, Today’s English Version). Nadat jy geluister het, sal jy dalk vir hom kan wys waar jy dink die fout ingesluip het. Selfs as jou punte nie verander word nie, sal jou volwassenheid heel moontlik ’n goeie indruk op jou onderwyser maak.

Ek voel dat my onderwyser bevooroordeeld is. Neem Rachel se ondervinding. Sy het gewoonlik A’s en B’s op haar rapport gekry. Maar toe sy in Graad 7 kom, het dinge verander. “My onderwyser het alles in sy vermoë gedoen om my sy vak te laat druip”, sê Rachel. Wat was die probleem? Die onderwyser het Rachel sowel as haar ma duidelik laat verstaan dat hy nie van hulle godsdiens hou nie.

Wat het gebeur? Rachel sê: “Elke keer wanneer dit duidelik was dat ek as gevolg van die onderwyser se vooroordeel lae punte gekry het, het my ma saam met my gekom om die saak met hom te bespreek. Hy het uiteindelik opgehou om die lewe vir my moeilik te maak.” As jy iets soortgelyks ondervind, moet jy die moed hê om met jou ouers daaroor te praat. Hulle sal ongetwyfeld met die onderwyser en moontlik die skoolraad wil praat om ’n oplossing te probeer vind.

Verkry ’n langtermynbeskouing

Daar is natuurlik nie ’n eenvoudige oplossing vir elke probleem nie. Soms moet jy net vasbyt. “Een van my onderwysers het ’n slegte gesindheid teenoor sy leerders gehad”, sê Tanya. “Hy het ons dikwels beledig en ons dom genoem. In die begin het hy my laat huil, maar ek het geleer om sy beledigings nie persoonlik op te neem nie. Ek het op my werk gekonsentreer en my in sy klas besig gehou. Daarom het hy my nie veel gepla nie, en ek was een van die min leerders wat goeie punte gekry het. Twee jaar later is daardie onderwyser afgedank.”

As jy leer hoe om ’n moeilike onderwyser te hanteer, sal jy ’n waardevolle lewensvaardigheid verkry—een wat jy goed sal kan gebruik as jy eendag ’n moeilike baas het. Jy sal ook leer om goeie onderwysers te waardeer.

IN ONS VOLGENDE HOOFSTUK

Voel dit of daar nie genoeg ure in ’n dag is nie? Leer hoe om die horlosie jou vriend te maak, nie jou vyand nie.

SLEUTELTEKSTE

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12.

WENK

As jy dink dat jou onderwyser vervelig is, moet jy op die onderwerp konsentreer en nie op die persoon nie. Maak notas, vra respekvol vir nog inligting en wees entoesiasties oor die onderwerp. Entoesiasme is aansteeklik.

HET JY GEWEET . . . ?

Jou onderwyser het waarskynlik al tientalle of selfs honderde kere dieselfde les aan ander klasse gegee. Daarom is dit dalk vir hom moeilik om dieselfde entoesiasme oor die onderwerp te hê as wat hy aan die begin gehad het.

AKSIEPLAN!

Om my te help om ’n vervelige klas interessanter te maak, sal ek ․․․․․

As ek dink dat my onderwyser my onregverdig behandel, sal ek ․․․․․

Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․

WAT DINK JY?

● Waarom is dit belangrik om eerder op die onderwerp as op die onderwyser te konsentreer?

● Hoe kan jou gesindheid teenoor ’n onderwerp ’n onderwyser se gesindheid teenoor jou beïnvloed?

[Lokteks op bladsy 146]

Ek het hard probeer om met al my onderwysers vriende te wees. Ek weet wat hulle name is, en as ek hulle op straat sien, stop ek om ’n paar minute met hulle te gesels.’’—Carmen

[Prent op bladsy 145]

Onderwysers is soos trapklippe wat jou kan help om van onkunde na geletterdheid oor te gaan, maar jy moet jou kant bring

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel