Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 3/1 bl. 2-5
  • Die groot geskil—Wat is dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die groot geskil—Wat is dit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die groot geskil
  • Die oorsprong van die heelal
  • Die oorsprong van lewe
  • Die geskil word besleg
  • Wat sê die Bybel oor kernoorlog?
    Nog onderwerpe
  • Het dit sommer net gebeur, of is dit geskep?
    Ontwaak!—1999
  • Kernoorlog—Wie is die bedreigings?
    Ontwaak!—2004
  • Die Skepper kan jou lewe sinvoller maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 3/1 bl. 2-5

Die groot geskil—Wat is dit?

WAT is die groot geskil wat elkeen van ons raak? Is dit stygende seevlakke en fratsweer wat deur wêreldwye verwarming veroorsaak word? Is dit die verdwyning van die osoonlaag wat tot blootstelling aan die son se skadelike ultraviolet strale lei? Is dit ’n bevolkingsontploffing wat ander wêreldwye probleme, soos armoede en misdaad, vererger? Of is dit die moontlikheid dat ontelbare miljoene in ’n kernoorlog uitgewis sal word, en dat enigiemand wat dié groot slagting oorleef pynlik sal sterf weens koue, verhongering of straling?

Nadat die tydskrif Scientific American in 1989 hierdie en ander kwessies bespreek het, het dit tot die volgende slotsom gekom: “Die moontlikheid van kernoorlog verteenwoordig ongetwyfeld die grootste gevaar vir . . . oorlewing.” Is kernoorlog dan die groot kwessie wat ons raak?

Die groot geskil

Met die verandering in die politieke klimaat sedert 1989 lyk dit of die gevaar van ’n kernoorlog afgeneem het. Solank kernwapens bestaan, sal hulle nietemin ’n ernstige gevaar vir die mens inhou. Maar die 1990 Britannica Book of the Year vestig die aandag op nog ’n sorgwekkende saak. Volgens hierdie naslaanwerk is meer as 230 miljoen van die mense op aarde ateïste. Ander bronne toon dat nog miljoene beïnvloed word deur Oosterse filosofieë wat nie die bestaan van ’n Skepper erken nie. Origens glo miljoene wel in ’n Skepper, maar hulle opvattings oor hom verskil radikaal. En in baie gevalle bring hulle dade groot oneer op die Een wat hulle voorgee hulle aanbid.—2 Petrus 2:1, 2.

As God bestaan—en hy bestaan beslis—is hy vandag ongetwyfeld by dié groot geskil betrokke. Waarom het hy die mens geskep? Wat is ons verantwoordelikheid teenoor hom? Hoe sal hy reageer op die wyse waarop die mens die aarde verwoes? En hoe sal hy reageer op die uitdaging wat spruit uit die feit dat so baie nie in hom glo of hulle nie aan sy wil onderwerp nie? Trouens, die groot geskil wat elkeen van ons raak, is of ons God, “wie se naam alleen JEHOVAH is”, se soewereiniteit aanvaar of verwerp.—Psalm 83:18, King James Version.

Die oorsprong van die heelal

Vir diegene wat nie in God glo nie, is ons verantwoordelikheid teenoor hom natuurlik nie eers ter sprake nie. Maar enigiemand wat die ontwerp en die skoonheid van ons aardse tuiste eerlik beskou, moet erken dat daar ’n groot Ontwerper moet wees. Die meeste wetenskaplikes neem God weliswaar nie in aanmerking wanneer hulle probeer om die natuurwonders om ons heen te verduidelik nie. Baie sê byvoorbeeld dat die heelal uit ’n klein puntjie baie kleiner as die kop van ’n speld tot sy huidige grootte gegroei het, dat dit alles “natuurlik”, per toeval, gebeur het sonder die toedoen van ’n Skepper. Maar ná fisikus Hanbury Brown ’n gewilde nuwe teorie oor die oorsprong van die heelal in sy boek The Wisdom of Science verduidelik het, erken hy: “Ek neem aan dat dit vir die meeste mense meer na ’n goëltoertjie as na ’n verduideliking sal klink.” Professor Brown kom tot die slotsom dat “die oorsprong en doel van die wêreld” “groot verborgenhede” is wat die wetenskap blykbaar nie kan opklaar nie.

Wetenskaplikes het bewys dat materie en energie na verwant is aan mekaar en dat materie in energie en energie in materie omgesit kan word. Kernontploffings toon dat ’n klein hoeveelheid materie ’n groot hoeveelheid energie verteenwoordig. Waar is die bron dan van al die energie wat die 100 000 miljoen sterre in ons sterrestelsel, sowel as die meer as 1 000 miljoen sterrestelsels wat die sigbare heelal uitmaak, verteenwoordig?

Die Bybel sê: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” Wie is daardie Een? Die Bybel bevat die antwoord: “Ek is die HERE [Jehovah, NW], dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee . . . nie.”—Jesaja 40:26; 42:5, 8.

Bespiegelings dat die aarde en die res van die heelal per toeval ontstaan het, ontneem die Skepper, Jehovah God, die eer wat hom toekom (Openbaring 4:11). Dit neem ook ’n sterk beweegrede weg om verantwoordelik ten opsigte van die aarde op te tree. As mense geweet het dat hulle voor God aanspreeklik is vir wat hulle aan sy skepping doen, sou hulle moontlik versigtiger wees wat dinge soos besoedeling, die vernietiging van die osoonlaag en wêreldwye verwarming betref.

Die oorsprong van lewe

Beskou ook die vraag: Hoe het lewe begin? Mense is geleer dat lewe ontstaan het sonder dat God iets daarmee te doen gehad het. Maar dit weerspreek ’n goed gevestigde wetenskaplike beginsel. Daar is vroeër geglo dat kewers uit beesmis, wurms uit verrotte vleis en muise uit modder ontstaan het. Wetenskaplikes het tydens die afgelope eeu nog geleer dat mikroörganismes uit lewelose materie ontstaan. Maar Redi, Pasteur en ander wetenskaplikes het sulke idees weerlê. The World Book Encyclopedia (1990-uitgawe) sê: “Ná Pasteur se eksperimente het die meeste bioloë die idee aanvaar dat alle lewe van bestaande lewe afkomstig is.”

Wetenskaplikes teoretiseer nietemin dat dinge in die verre verlede anders was. Hulle sê dat die eerste eensellige organismes per toeval uit ’n lewelose mengsel ontstaan het wat hulle ’n oersop noem, wat die chemikalieë wat nodig is vir lewe bevat het. “Toeval, en net toeval, het dit alles gedoen, van die oersop af tot by die mens”, sê Christian de Duve in A Guided Tour of the Living Cell.

Die Bybel sê van God: “By U is die fontein [bron, NW] van die lewe” (Psalm 36:10). Hierdie woorde stem waarlik ooreen met waarnemings wat gemaak is—dat lewe net van vooraf bestaande lewe kan kom. Maar omdat die hoofstroomwetenskap verkies om een van God se kosbaarste gawes, die lewe, te beskou as iets wat vanself ontstaan het, meen die meeste mense dat hulle nie aan God verantwoording hoef te doen oor hoe hulle hulle lewe lei nie. Hulle verbreek derhalwe God se wette deur mekaar te onderdruk, van mekaar te steel, mekaar te vermoor en baie geld, tyd en vindingrykheid daaraan te bestee om moordwapens te ontwerp wat met skrikwekkende doeltreffendheid dood en vernietig.

Die geskil word besleg

Benewens ateïste en moderniste loën tallose ander God se soewereiniteit. Ontsaglik baie mense beweer vandag dat hulle in God glo, en meer as 1 700 miljoen mense noem hulleself Christene. Die kerke van die Christendom het God eeue lank openlik tydens hulle dienste geloof. Maar waar staan die meeste van die 1 700 miljoen mense werklik wat God se soewereiniteit betref?

Individue sowel as nasies het getoon dat hulle dit misken deur God se uitdruklike wette te oortree. Sogenaamde Christelike nasies het goddelose gewelddade gepleeg, die twee ergste oorloë in die mensegeskiedenis inkluis—en “Christelike” geestelikes aan albei kante het daardie oorloë geseën! Deur sulke skynheiligheid het hulle ’n wanbeeld van God gegee. Die Bybel sê: “Hulle maak in die openbaar bekend dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur hulle werke.”—Titus 1:16, NW.

Maar God “kan Homself nie verloën nie” (2 Timotheüs 2:13). Die tyd moet aanbreek wanneer hy al die aspekte van hierdie geskil van soewereiniteit in ooreenstemming met sy eie verklaarde doel gaan besleg: “Hulle sal weet dat Ek die HERE [Jehovah, NW] is” (Esegiël 38:23). Maar waarom het dit hom so lank geneem? Hoe sal die geskil eindelik beslis word? En hoe kan jy die regte besluite neem in hierdie allerbelangrikste saak?

[Foto-erkenning op bladsy 2]

Cover background: U.S. Naval Observatory photo

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Background: U.S. Naval Observatory photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel