Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 3/1 bl. 10-13
  • Hoeveel redes tot dankbaarheid het ek tog nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoeveel redes tot dankbaarheid het ek tog nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My skoolloopbaan
  • Internasionale byeenkomste
  • Ek word ’n pionier
  • Die media help
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die “God se weg”-internasionale en streekbyeenkomste vir 1998
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Soek eers die Koninkryk—’n veilige en gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 3/1 bl. 10-13

Hoeveel redes tot dankbaarheid het ek tog nie!

SOOS VERTEL DEUR LOTTIE HALL

DIT het in 1963 op ons reis van Kalkutta, Indië, na Rangoen, Birma, gebeur. Kort nadat ons Kalkutta per vliegtuig verlaat het, het een van die broers opgemerk dat daar olie op die vlerk lek. Toe die bemanning se aandag daarop gevestig is, het hulle ’n noodlanding aangekondig. Die vliegtuig moes eers ’n groot klomp brandstof stort voordat hy kon land. Die kelner het uitgeroep: “As julle wil bid, doen dit nou!” Ons het inderdaad gebid dat ons veilig moet land, as dit Jehovah se wil is, en ons het. Ons het voorwaar iets gehad om voor dankbaar te wees!

JA, EN ek het nog steeds baie om voor dankbaar te wees. Op 79-jarige ouderdom geniet ek nog ’n sekere mate van gesondheid en krag, wat ek aan die voltydse bediening wy. Benewens al daardie seëninge wat Jehovah se volk as geheel daagliks ontvang, het ek talle uitsonderlike ondervindinge gehad. Ek geniet nou reeds altesaam oor die 60 jaar die kosbare voorreg om Jehovah te dien en meer as die helfte daarvan as ’n voltydse evangeliedienaar, of pionier.

Dit het alles met my vader begin toe ons in Carbondale, Illinois, gewoon het. Hy het aan die Dissipels van Christus-kerk behoort en wou graag ’n predikant word. Maar sy ondervinding met twee Bybelkolleges het hom ontnugterd gelaat, want hy het sy eie opvatting oor die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en ewige pyniging gehad.

Hy het in 1924, toe ek 12 jaar oud was, oplaas tevredenheid gevind in die Bybelwaarheid wat hy van ’n Bybelstudentkolporteur gehoor het. My vader was verheug om te verneem dat daar ander is wat soos hy dink, naamlik, dat die Drie-eenheid, helse vuur en die onsterflikheid van die menslike siel valse leerstellinge is. Kort daarna het ons gesin gereeld saam met die Bybelstudente vergader, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Die feit dat ek die waarheid aangaande Jehovah en sy Woord kon leer, is iets waarvoor ek innig dankbaar is.

Maar kort daarna het iets baie teleurstellends gebeur. Dit het aan die lig gekom dat die man wat hierdie waarhede aan my vader meegedeel het oneerlik asook onsedelik was. Hy het my vader laat struikel, maar nie my en my moeder nie. Ek was toe 15, die oudste van ses kinders, en ek het saam met my moeder vasgestaan in die waarheid.

In die somer van 1927 is dit aangekondig dat daar ’n groot byeenkoms van die Bybelstudente in Toronto, Kanada, gehou gaan word. Vader het gesê hy kan dit nie bekostig om te gaan nie, maar Moeder was ’n vasberade vrou. Sy het allerlei huishoudelike artikels verkwansel, en toe die tyd vir die byeenkoms aanbreek, het sy 20 rand gehad. Met daardie bedrag het ek en sy na Toronto begin ryloop, 1 600 kilometer ver. Dit het vyf dae en 37 geleenthede geneem voor ons uiteindelik ons bestemming ’n dag voor die byeenkoms bereik het. Omdat ons bra min geld gehad het, het ons gratis huisvesting gevra, en dit gekry. Toe broer A. H. Macmillan hoor hoe ons daar gekom het, het hy ’n artikel daaroor geskryf vir die byeenkomskoerantjie onder die opskrif: “Hierdie Bybelstudente bekommer hulle nie oor verhoogde treingelde nie.”

Moeder het Vader deur poskaarte op die hoogte gehou van wat by die byeenkoms gebeur. Ter elfder ure het hy dus besluit om tog te kom, en hy het net betyds per motor daar aangekom vir die openbare toespraak op die laaste dag van die byeenkoms. Nou was dit nie vir ons nodig om terug huis toe te ryloop nie. Wat ’n byeenkoms was dit tog! Hoe dankbaar was ek tog dat ons dit kon bywoon, en hoe dankbaar was ek dat dit my vader gehelp het om weer sy geestelike balans te vind!

Jare lank het ek, as mense my gevra het aan watter kerk ek behoort, geantwoord, “IBSA”, wat vir International Bible Students Association gestaan het. Maar ek het altyd ongelukkig gevoel oor daardie naam. Daarom was ek dankbaar toe ons in 1931 by die byeenkoms in Columbus, Ohio, die nuwe naam Jehovah se Getuies aangeneem het.

My skoolloopbaan

Onder die baie seëninge wat my lewe verryk het, was dié in verband met musiek. Ek is baie lief vir musiek en het reeds vroeg in my lewe geleer klavier speel. Baie jare lank het ek die voorreg gehad om die gemeentelike sang te begelei. Voor die Wagtoringgenootskap opnames van die Koninkryksliedere begin maak het, het ’n broer wat ’n sendeling in Papoea-Nieu-Guinee was, my gevra om ’n opname van ’n aantal liedere te maak sodat die Papoeas hulle kon leer sing. Dít het ek terdeë geniet.

My geliefkoosde instrument is egter die klarinet. Ek het baie daarvan gehou om dit in die kollegeorkes te speel. Die kollegeprofessor was so ingenome met my spel dat hy my gevra het om ook in die mansorkes te speel. Destyds het geen vrou ooit in ’n mansorkes gespeel nie. Toe die orkeslede dus van die professor se voorstel hoor, het hulle besluit om te staak. Maar hulle het gou van gedagte verander toe hulle in kennis gestel is dat hulle uit die kollege geskors sou word indien hulle sou staak. Nog ’n tradisie is verbreek toe ek saam met die orkes in ’n daglange optog moes marsjeer. Die koerant het dit as ’n sensasie beskou en dit met ’n hoofopskrif in vetdruk berig: “Musikale nooientjie tussen ’n trop mans.”

Mettertyd het ek vir ’n onderhoud gegaan met die oog op ’n professorskap in musiek. Maar gedagtig aan al die geskille wat kon opduik as ek musiekonderwys gee—soos as hulle my sou vra om studente godsdienstige of nasionalistiese musiek te leer of om dit self te speel—het ek besluit om liewer ’n ander rigting te volg en ’n onderwyspos in wêreldgeskiedenis gekry. Maar daardie verandering het my nie verhinder om jare later my klarinet in byeenkomsorkeste in talle lande te speel wanneer ek na internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies gegaan het nie.

Later het ek ’n onderwyseres in wêreldgeskiedenis aan ’n groot hoërskool in ’n voorstad van Detroit geword, en in hierdie hoedanigheid het die skoolhoof my eenkeer gevra om een van verskeie nuwe handboeke aan te beveel. Toe ek hulle nagaan, het dit my getref dat die handboek wat ons destyds gebruik het Jehovah se naam agt keer aangee, maar dat die nuwes die God van die Hebreërs naamloos gelaat het, hoewel hulle die name van talle van die gode van heidense nasies, soos Ra, Moleg, Zeus en Jupiter genoem het. Toe ’n verkoopsman ons besoek, het ek hom gevra waarom Jehovah nie in sy handboek genoem word nie, en hy het gesê: “Nee, vanweë Jehovah se Getuies wil ons nie daardie naam in ons handboek hê nie.” Toe het ek vir hom gesê: “Nou goed! Dan sal ek nie jou handboek aanbeveel nie.” Hy het die boek in sy tas geprop en by die deur uitgestorm.

Later het ek die prinsipaal meegedeel dat ons nie werklik ’n nuwe handboek nodig het nie en het etlike goeie redes verstrek. Hy het met my saamgestem. Almal was verheug oor hierdie besluit toe daar slegs ’n paar maande later besluit is om die wêreldgeskiedeniskursus uit die hoërskool se leerplan weg te laat. ’n Nuwe kursus, wat sosiale studie genoem is, het dit in die stelsel van 14 skole vervang. Dink net watter verlies die skool sou gely het indien hulle nuwe geskiedenisboeke gekoop het!

Ek het baie, aangename ondervindinge in my onderwysloopbaan geniet en ek was ’n streng ordehouer. Dit het tot ’n hele aantal lewenslange vriendskappe gelei. Ek het ook talle geleenthede gehad om informeel te getuig. Maar uiteindelik het tyd en omstandigheid daartoe gelei dat ek in die voltydse diens getree het.

Internasionale byeenkomste

Nadat ek 20 jaar lank onderwys gegee het, het my oë begin ingee. Boonop het my ouers gevoel dat hulle my nodig het. Daarom het my vader my gevra om huis toe te kom en gesê daar is ’n belangriker onderrigtingswerk om te doen, en Jehovah sal sorg dat ek nie honger ly nie. In 1955 het ek uit die onderwys getree, en een van my eerste seëninge daarna was om die reeks “Triomfantlike Koninkryk”-byeenkomste in Europa by te woon. Hoe dankbaar was ek tog om byeen te kom saam met ons broers in Europa, onder wie daar soveel was wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog baie gely het! Dit was veral ’n voorreg om onder die 107 000 te wees in die stampvol Zeppelinwiese in Neurenberg, waar Hitler van plan was om sy segetog ná die Tweede Wêreldoorlog te hou.

Dit was net die eerste van baie wêreldtoere wat ek bevoorreg was om mee te maak. In 1963 was ek en my moeder onder die 583 byeenkomsgangers wat reg om die wêreld gereis het saam met die “Ewige Goeie Nuus”-byeenkomste. Daardie reis het ons van New York na Europa geneem, toe verder na Asië en die eilande in die Stille Oseaan voordat dit in Pasadena, Kalifornië, geëindig het. Dit was gedurende daardie reis dat ons die angswekkende ondervinding gehad het wat in die inleiding beskryf word. Latere toere het ons na byeenkomste in Suid-Amerika, die Suidsee-eilande en Afrika geneem. Hierdie reise het my lewe waarlik verryk, en die voorreg om in die byeenkomsorkeste in baie van hierdie plekke te speel, was ’n ekstra bonus vir ’n musiekliefhebber.

Ek word ’n pionier

In 1955, nadat ons van Europa teruggekeer het, het ek by my moeder in die pionierdiens aangesluit en ’n jaar lank saam met haar gewerk. Toe het die Genootskap my gevra om saam met ’n klein gemeente in Apalachicola in die weste van Florida te werk. Ek en ’n ander suster het sewe jaar lank daar met die werk gehelp, en na ’n kort rukkie kon die gemeente ’n Koninkryksaal bou om vir die vermeerdering voorsiening te maak. Die vooruitgang het voortgeduur, en kort voor lank is nog ’n gemeente in Port Saint Joe gestig. Ek het 11 jaar saam met die drie gemeentes in Wes-Florida gewerk.

By een geleentheid het die kringopsiener my gevra om ’n plek vir ’n kringbyeenkoms te vind. Ek het daarin geslaag om die gebruik van die Centennial Building, ’n spoggebou in Port Saint Joe, vir slegs R25 te bekom. Maar ons het ook ’n kafeteria nodig gehad en het daaraan gedink om ’n skool se kafeteria te gebruik. Maar ek het gevind dat die superintendent van skole daarteen gekant was, en hy het gesê dat ek dit aan die skoolraad sal moet voorlê. Die burgemeester het ook na die vergadering gekom, want hy wou hê dat ons die gebruik van die kafeteria moes hê. Toe hy vra wat die besware daarteen is dat ons dit gebruik, het die hoof van die skoolraad gesê dat daar geen presedent is waar ’n godsdiensgroep skoolfasiliteite gebruik het nie. Die burgemeester het na my gekyk vir ’n antwoord. Wel, ek het ’n aantal strooibiljette gehad wat getoon het dat ons in ander dorpe skoolgeriewe vir ons vergaderinge gebruik het, en toe het ek na Handelinge 19:9 verwys waar dit sê dat die apostel Paulus in ’n skoolsaal gepreek het. Dit het die deurslag gegee. Die skoolraad het saam met die burgemeester ingestem dat ons die kafeteria kon kry—vir R90.

Toe ek net 13 jaar oud was, is ek gedoop en het ek gebid: “O God, laat my tog net een persoon in die waarheid bring.” Daardie gebed is nou reeds baie, baie kere beantwoord, aangesien ek die seën gehad het om ’n groot aantal mense te help om hulle standpunt vir Jehovah en sy Koninkryk in te neem. Maar ek is keer op keer na ’n ander gemeente gestuur net voordat ’n Bybelstudent die stadium bereik het waar hy hom toegewy en laat doop het. Nogtans het ek die voorreg gehad om te plant en nat te maak, en baie van hierdie studente het lewenslange vriende geword. Die feit dat ek aan sulke vrugbare bedrywighede kon deelneem, het waarlik vir my baie redes verskaf om dankbaar te wees.

Die media help

Hoewel die media in baie plekke herhaaldelik ongunstige berigte oor die bedrywigheid van Jehovah se Getuies gepubliseer het, is ek bly om te sê dat die media in die omgewing van De Land, Florida—waar ek nou dien—my al gehelp het om ’n getuienis te gee. Terwyl ons op een van daardie wêreldbyeenkomstoere was, het ek en my moeder byvoorbeeld lang berigte aan die plaaslike koerant gestuur, en hierdie berigte is geredelik saam met foto’s gepubliseer. Die berigte was in die vorm van reisverhale, maar ons kon hulle altyd gebruik om aangaande Jehovah se naam en Koninkryk te getuig.

Dieselfde geld ook in verband met my straatgetuieniswerk. Ek het ’n straathoekie waar ek twee tuinstoele het. Ek sit op een en stal ons leesstof op die ander een uit. Eenkeer het daar ’n artikel van ’n halfbladsy met ’n foto in die plaaslike koerant verskyn onder die opskrif: “Deland se Lottie sit ouers se werk as Getuies voort.” Meer onlangs, in 1987, het ’n ander koerant ’n artikel van ’n halfbladsy met ’n groot foto in kleur gepubliseer onder die opskrif: “Lottie Hall het haar eie hoekie vir Christus afgepen.” Die jaar daarop het ’n ander koerant ’n foto van my op die voorblad gepubliseer met opmerkinge soos: “Sy’s altyd daar” en “Wyl sy op ’n tuinstoel sit, gebruik die afgetrede onderwyseres haar straathoekpos om die sendingwerk van Jehovah se Getuies te doen.” Die plaaslike TV-stasie het ook al vier keer opnames oor my getuieniswerk vertoon. Ek neem nog steeds in ’n beperkte mate aan al die vertakkings van die Koninkryksbediening deel: huis-tot-huis-prediking, herbesoeke en tuisbybelstudies. Maar as gevolg van my gevorderde jare en liggaamlike gebreke bestee ek nou heelwat tyd in die straatwerk.

As ek so terugkyk, moet ek erken dat ek waarlik baie redes tot dankbaarheid het. Benewens die seëninge wat Jehovah se volk as geheel gereeld ontvang, het ek as onderwyseres die voorreg gehad om baie jongmense te beïnvloed; ek het die vreugde gehad om ’n aantal byeenkomste oor die hele wêreld by te woon; ek het ’n uiters vrugbare pionierbediening gehad en ek is ook geseën in verband met my musiek. Daarbenewens was daar die getuienis wat ek deur middel van die media kon gee. Ek kan waarlik saam met die psalmdigter Dawid sê: “Ek wil die Naam van God prys met ’n lied en Hom groot maak met danksegging.”—Psalm 69:31.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel