Vrae van lesers
◼ Waarom word engele in julle illustrasies met vlerke uitgebeeld, aangesien hulle geesskepsele sonder materiële liggame is? Is dit net ’n godsdienstradisie?
Ons beeld engele gewoonlik met vlerke uit omdat hulle simbolies in die Bybel so beskryf word.
Jy is heeltemal reg, geesskepsele het nie materiële liggame met letterlike vlerke—of gesigte, hande, voete of enige ander liggaamsdele—nie. Tog moes engele soos normale mense gelyk het toe hulle soms aan God se knegte verskyn het, want hulle is verkeerdelik vir mense aangesien.—Genesis 18:2, 22; 19:1; Rigters 6:11-22.
Soms het mense egter visioene van engele ontvang en hulle dan beskryf. Die profeet Esegiël het “vier wesens” gesien, en in ’n latere visioen het hy hulle geïdentifiseer as engele wat as gerubs bekend staan (Esegiël 1:5; 9:3; 10:3). Hierdie engele het elkeen vier vlerke gehad, wat getoon het dat hulle vinnig in enige rigting op God se bevele kon reageer. “Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan . . . Waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan; hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie.”—Esegiël 1:6, 9, 12.
Maar engele wat in visioene gesien is, het nie altyd dieselfde gelyk nie. Die engelagtige wesens wat Jesaja gesien het, is serafs genoem en het ses vlerke gehad (Jesaja 6:1, 2). Esegiël se visioene het selfs van mekaar verskil. In die eerste een het die engele voete gehad, hande onder elk van die vier vlerke en vier gesigte (soos die gesig van ’n mens, ’n leeu, ’n bees en ’n arend). In sy volgende visioen het een van die gesigte soos dié van ’n gerub eerder as dié van ’n bees gelyk, moontlik om die groot mag wat gerubs het aan te dui. Nog later, in die visioen van ’n simboliese tempel se versiering, het Esegiël gerubs gesien wat net twee gesigte, een van ’n mens en die ander van ’n leeu, gehad het (Esegiël 1:5-11; 10:7-17; 41:18, 19). In die Allerheiligste van die tabernakel, sowel as die tempel wat deur Salomo in Jerusalem gebou is, was daar gerubs met twee vlerke. Hulle was op die goue deksel van die kis wat die verbondsark genoem is. Die twee goue gerubs se gesigte was na mekaar gedraai en hulle het albei twee vlerke gehad wat oor die Ark uitgesprei was (Exodus 25:10-22; 37:6-9). In Salomo se tempel het daar bokant die Ark (en sy deksel) twee groter goudbedekte gerubs gestaan, elkeen met twee uitgestrekte vlerke.—1 Konings 8:6-8; 1 Kronieke 28:18; 2 Kronieke 5:7, 8.
Josephus het geskryf: “Wat [daardie] gerubs betref, weet niemand of kan niemand hulle voorstel hoe hulle gelyk het nie.” Sommige geleerdes en kunstenaars baseer dus hulle voorstelling van engele (veral gerubs) op sogenoemde antieke Nabye-Oosterse prototipes van gode in die vorm van gevleuelde diere. Maar ’n betroubaarder riglyn is Esegiël se kommentaar dat diegene wat hy gesien het “die gestalte van ’n mens gehad” het (Esegiël 1:5). Wanneer hemelse engele dus in ons publikasies geïllustreer word, beeld ons hulle gewoonlik hoofsaaklik in die gedaante van mense uit. Ons toon hulle met vlerke op grond van die talle Bybelse beskrywings van verskillende engele wat vlerke het en omdat daar gesê word dat engele “vlieg”.—Openbaring 14:6; Psalm 18:11.
Ten laaste beeld bladsy 288 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! ’n hemelse wese met vlerke uit, met ’n kroon op sy kop en ’n sleutel in sy hand. Dit is ’n kunstenaarsvoorstelling van Openbaring 20:1: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand.” Ons weet dat hierdie engel met die sleutel die verheerlikte Jesus Christus is. Die illustrasie toon hom met vlerke om ooreen te stem met die feit dat engele in visioene gewoonlik vlerke het.