Het jy “die denke van Christus”?
“Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle dieselfde geestesgesindheid . . . sal hê as wat Christus Jesus gehad het.”—ROMEINE 15:5.
1. Hoe word Jesus in baie van die Christendom se skilderye uitgebeeld, en waarom is dit nie ’n eerlike voorstelling van Jesus nie?
“MENSE het hom nooit sien lag nie.” Dit is hoe Jesus beskryf is in ’n dokument waarin valslik beweer word dat dit deur ’n Romeinse amptenaar van die ou tyd geskryf is. Hierdie dokument, wat sedert ongeveer die 11de eeu in sy huidige vorm bekend is, het vermoedelik ’n invloed op baie kunstenaars gehad.a In ’n aantal skilderye word Jesus as ’n droefgeestige man uitgebeeld wat selde indien ooit glimlag. Maar dit is nouliks ’n eerlike voorstelling van Jesus wat in die Evangelies as ’n hartlike, goedhartige man met diep gevoelens uitgebeeld word.
2. Hoe kan ons ‘dieselfde geestesgesindheid aankweek as wat Christus Jesus gehad het’, en waarvoor sal dit ons toerus?
2 Dit is duidelik dat ons net die ware Jesus sal leer ken as ons ons verstand en hart vul met ’n juiste begrip van die soort persoon wat Jesus waarlik was toe hy hier op aarde was. Kom ons ondersoek dus ’n paar Evangelieverslae wat ons insig gee in “die denke van Christus”—dit wil sê sy gevoelens, sy beskouing van sake, sy gedagtes en die manier waarop hy oor dinge geredeneer het (1 Korintiërs 2:16). Terwyl ons dit doen, kan ons dink hoe ons ‘dieselfde geestesgesindheid as wat Christus Jesus gehad het’, kan aankweek (Romeine 15:5). Sodoende kan ons beter toegerus wees om die voorbeeld wat hy gestel het in ons lewe en in ons handelinge met ander na te volg.—Johannes 13:15.
Genaakbaar
3, 4. (a) Wat het volgens die verslag in Markus 10:13-16 by een geleentheid plaasgevind? (b) Hoe het Jesus gereageer toe sy dissipels probeer keer het dat die jong kinders na hom toe kom?
3 Mense het aangetrokke tot Jesus gevoel. By verskeie geleenthede het persone van verskillende ouderdomme en agtergronde hom vryelik genader. Dink byvoorbeeld aan die geval wat in Markus 10:13-16 opgeteken staan. Dit het na aan die einde van sy bediening plaasgevind toe hy vir die laaste keer op pad was na Jerusalem, waar hy ’n pynlike dood sou sterf.—Markus 10:32-34.
4 Stel jou die toneel voor. Mense bring hulle kinders, selfs babas, na Jesus om hulle te seën.b Maar die dissipels probeer keer dat die kinders na Jesus toe kom. Die dissipels voel moontlik dat Jesus beslis nie gedurende hierdie kritieke weke deur kinders lastig geval wil word nie. Maar hulle het dit mis. Toe Jesus sien wat die dissipels doen, is hy ontevrede. Jesus roep die kinders na hom en sê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie” (Markus 10:14). Dan doen hy iets wat ’n waarlik tere en liefdevolle geaardheid openbaar. Die verslag sê: “Hy het die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën” (Markus 10:16). Die kinders het ongetwyfeld op hulle gemak gevoel toe Jesus hulle in sy liefdevolle arms geneem het.
5. Wat sê die verslag in Markus 10:13-16 vir ons omtrent die soort persoon wat Jesus was?
5 Hierdie kort verslag sê vir ons baie omtrent die soort persoon wat Jesus was. Let op dat hy genaakbaar was. Hoewel hy ’n hoë posisie in die hemel beklee het, het hy nie onvolmaakte mense geïntimideer en verkleineer nie (Johannes 17:5). Is dit nie ook betekenisvol dat selfs kinders op hulle gemak by hom gevoel het nie? Hulle sou beslis nie aangetrokke gevoel het tot ’n onvriendelike, vreugdelose persoon wat nooit geglimlag of gelag het nie! Mense van alle ouderdomme het Jesus genader omdat hulle kon aanvoel dat hy ’n hartlike, liefdevolle persoon was, en hulle was vol vertroue dat hy hulle nie sou wegjaag nie.
6. Hoe kan ouer manne leer om genaakbaarder te wees?
6 As ons oor hierdie verslag nadink, kan ons ons afvra: ‘Het ek die denke van Christus? Is ek genaakbaar?’ In hierdie kritieke tye het God se skape genaakbare herders nodig, manne wat soos “’n toevlug teen die wind” is (Jesaja 32:1, 2; 2 Timoteus 3:1). Ouer manne, as julle ’n opregte, hartgrondige belangstelling in julle broers aankweek en gewillig is om van julleself ten behoewe van hulle te gee, sal hulle julle besorgdheid aanvoel. Hulle sal dit sien in julle gesigsuitdrukking, dit hoor in julle stemtoon en dit waarneem in julle vriendelike optrede. Sulke opregte hartlikheid en besorgdheid kan ’n atmosfeer van vertroue skep wat dit makliker maak vir ander om julle te nader, insluitende kinders. ’n Christenvrou verduidelik waarom sy haar hart teenoor ’n sekere ouer man kon uitpraat: “Hy het op ’n teer en simpatieke manier met my gepraat. Anders sou ek seker nie ’n woord gesê het nie. Hy het my veilig laat voel.”
Bedagsaam teenoor ander
7. (a) Hoe het Jesus getoon dat hy bedagsaam teenoor ander was? (b) Waarom het Jesus moontlik die sig van ’n sekere blinde man geleidelik herstel?
7 Jesus was bedagsaam. Hy het ander se gevoelens in ag geneem. Wanneer hy geteisterdes gesien het, het dit hom so diep geraak dat hy beweeg is om hulle lyding te verlig (Matteus 14:14). Hy het ook ander se beperkings en behoeftes in aanmerking geneem (Johannes 16:12). Eenkeer het mense ’n blinde man na hom gebring en Jesus gesmeek om hom gesond te maak. Jesus het die man se sig herstel, maar hy het dit geleidelik gedoen. Eers het die man die mense net vaagweg gesien—“ek bemerk iets wat soos bome lyk”, het die man gesê, “maar hulle loop rond”. Toe het Jesus sy sig heeltemal herstel. Waarom het hy die man geleidelik genees? Hy het dit heel moontlik gedoen sodat dit nie vir hierdie man, wat so gewoond aan donkerte was, te veel van ’n skok sou wees wanneer hy skielik ’n sonnige en komplekse wêreld sien nie.—Markus 8:22-26.
8, 9. (a) Wat het gebeur kort nadat Jesus en sy dissipels die gebied van die Dekapolis ingegaan het? (b) Beskryf hoe Jesus die dowe man genees het.
8 Kyk ook na ’n voorval wat ná die Pasga van 32 G.J. plaasgevind het. Jesus en sy dissipels het die gebied van die Dekapolis, oos van die See van Galilea, ingegaan. Daar het ’n groot skare hom spoedig gevind en baie siekes en gebreklikes na Jesus gebring, en hy het hulle almal gesond gemaak (Matteus 15:29, 30). Wat interessant is, is dat Jesus aan een man in die skare spesiale aandag gegee het. Die Evangelieskrywer Markus, die enigste een wat hierdie voorval neergeskryf het, vertel wat gebeur het.—Markus 7:31-35.
9 Die man was doof en kon beswaarlik praat. Jesus het dalk aangevoel dat hierdie man besonder senuweeagtig was of verleë gevoel het. Jesus het toe iets gedoen wat ietwat ongewoon was. Hy het die man eenkant toe geneem, weg van die skare af, na ’n private plek. Daarna het Jesus vir die man beduie wat hy van plan was om te doen. Hy het “sy vingers in die man se ore gesteek, en nadat hy gespoeg het, het hy sy tong aangeraak” (Markus 7:33). Toe het Jesus na die hemel opgekyk en in gebed gesug. Hierdie aksies sou vir die man sê: ‘Wat ek nou gaan doen, is deur die krag van God.’ Jesus het laastens gesê: “Word geopen” (Markus 7:34). Die man se gehoor is onmiddellik herstel, en hy kon normaal praat.
10, 11. Hoe kan ons toon dat ons die gevoelens in ag neem van diegene in die gemeente? in die gesin?
10 Hoe bedagsaam was Jesus tog teenoor ander! Hy het hulle gevoelens in ag geneem, en hierdie simpatieke bedagsaamheid het hom weer beweeg om so op te tree dat hy nie hulle gevoelens seermaak nie. As Christene sal dit goed wees as ons die denke van Christus in hierdie verband aankweek en openbaar. Die Bybel spoor ons aan: “Julle almal [moet] eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees” (1 Petrus 3:8). Dit vereis beslis dat ons ander se gevoelens in ag neem in wat ons sê en doen.
11 In die gemeente kan ons ander se gevoelens in ag neem deur waardigheid aan hulle te verleen en hulle te behandel soos ons behandel wil word (Matteus 7:12). Dit sal insluit dat ons let op wat ons sê sowel as hoe ons dit sê (Kolossense 4:6). Onthou dat ‘onverskillige woorde soos swaardsteke’ kan wees (Spreuke 12:18). Wat van in die gesin? ’n Man en vrou wat mekaar waarlik liefhet, neem mekaar se gevoelens in ag (Efesiërs 5:33). Hulle vermy ongevoelige woorde, voortdurende kritiek en snydende sarkasme—alles dinge wat ander se gevoelens kan seermaak en nie maklik geheel word nie. Kinders het ook gevoelens, en liefdevolle ouers neem dit in aanmerking. Wanneer kinders tereggewys moet word, sal liefdevolle ouers dit op ’n manier doen wat die waardigheid van hulle kinders respekteer en hulle onnodige verleentheid spaar (Kolossense 3:21).c As ons op dié maniere bedagsaamheid teenoor ander openbaar, toon ons dat ons die denke van Christus het.
Gewillig om ander te vertrou
12. Watter gebalanseerde, realistiese beskouing het Jesus van sy dissipels gehad?
12 Jesus het ’n gebalanseerde, realistiese beskouing van sy dissipels gehad. Hy het goed geweet dat hulle nie volmaak was nie. Hy kon per slot van rekening mense se harte lees (Johannes 2:24, 25). Hy het nogtans nie bloot hulle onvolmaakthede raakgesien nie, maar ook hulle goeie eienskappe. Hy het ook die potensiaal gesien van hierdie manne wat deur Jehovah getrek is (Johannes 6:44). Jesus se positiewe beskouing van sy dissipels kon duidelik gesien word in die manier waarop hy hulle behandel het. Hy het byvoorbeeld vertroue in hulle gestel.
13. Hoe het Jesus vertroue in sy dissipels geopenbaar?
13 Hoe het Jesus daardie vertroue geopenbaar? Toe hy die aarde verlaat het, het hy ’n groot verantwoordelikheid aan sy gesalfde dissipels gedelegeer. Hy het hulle die verantwoordelikheid gegee om na die wêreldwye belange van sy Koninkryk om te sien (Matteus 25:14, 15; Lukas 12:42-44). Gedurende sy bediening het hy selfs op klein, indirekte maniere getoon dat hy hulle vertrou het. Toe hy op wonderdadige wyse voedsel vermeerder het om die skares te voed, het hy sy dissipels die verantwoordelikheid gegee om die voedsel uit te deel.—Matteus 14:15-21; 15:32-37.
14. Hoe sal jy die verslag in Markus 4:35-41 opsom?
14 Beskou ook die verslag wat in Markus 4:35-41 opgeteken staan. By hierdie geleentheid het Jesus en sy dissipels op ’n boot geklim en ooswaarts oor die See van Galilea gevaar. Kort nadat hulle vertrek het, het Jesus agter in die boot gaan lê en vas aan die slaap geraak. Maar spoedig het “’n besonder hewige windstorm . . . losgebars”. Sulke storms was algemeen op die See van Galilea. Omdat die see so laag geleë is (ongeveer 200 meter onder seevlak) is die lug daar baie warmer as in die omliggende gebied, en dit lei tot atmosferiese steurings. Boonop waai sterk winde oor die Jordaanvallei van die berg Hermon af, wat in die noorde geleë is. ’n Hewige storm kan dus skielik op ’n kalm see losbars. Dink hieroor na: Jesus het ongetwyfeld geweet dat storms ’n algemene verskynsel daar is, want hy het in Galilea grootgeword. En tog het hy rustig geslaap en vertroue gestel in die vaardighede van sy dissipels, waarvan sommige vissermanne was.—Matteus 4:18, 19.
15. Hoe kan ons Jesus se gewilligheid om sy dissipels te vertrou, navolg?
15 Kan ons Jesus se gewilligheid om sy dissipels te vertrou, navolg? Party vind dit moeilik om verantwoordelikhede aan ander te delegeer. Hulle moet altyd as ’t ware aan die roer staan. Hulle dink moontlik: ‘As ek iets reg gedoen wil hê, moet ek dit self doen!’ Maar as ons alles self moet doen, loop ons gevaar om onsself uit te put, en ons moet dalk onnodige tyd weg van ons gesin deurbring. Buitendien beroof ons ander dalk van die nodige ondervinding en opleiding as ons nie gepaste take en verantwoordelikhede aan hulle delegeer nie. Dit sal verstandig wees om te leer om ander te vertrou en take aan hulle te delegeer. Ons kan ons gerus eerlik afvra: ‘Het ek die denke van Christus in hierdie saak? Is ek gewillig om sekere take aan ander te delegeer en vertrou ek dat hulle hulle bes sal doen?’
Hy het getoon dat hy in sy dissipels glo
16, 17. Watter versekering het Jesus sy apostels op die laaste nag van sy aardse lewe gegee, al het hy geweet dat hulle hom in die steek sou laat?
16 Jesus het op ’n ander belangrike manier ’n positiewe beskouing van sy dissipels geopenbaar. Hy het hulle die versekering gegee dat hy op hulle staatmaak. Dit het duidelik geblyk uit sy bemoedigende woorde aan sy apostels op die laaste nag van sy aardse lewe. Let op wat gebeur het.
17 Dit was ’n besige aand vir Jesus. Hy het sy apostels ’n praktiese les in nederigheid geleer deur hulle voete te was. Daarna het hy die aandmaal ingestel wat ’n herdenking van sy dood sou wees. Toe het die apostels weer eens in ’n hewige stryery gewikkel geraak oor wie van hulle nou eintlik die grootste was. Jesus was geduldig en het hulle nie oor die kole gehaal nie, maar met hulle geredeneer. Hy het hulle vertel wat voorlê: “Julle almal sal vannag in verband met my tot struikeling gebring word, want daar staan geskrywe: ‘Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word’” (Matteus 26:31; Sagaria 13:7). Hy het geweet dat sy intiemste metgeselle hom op hierdie kritieke tydstip in die steek sou laat. Maar hy het hulle nogtans nie veroordeel nie. Hy het eerder vir hulle gesê: “Maar nadat ek opgewek is, sal ek voor julle uit na Galilea gaan” (Matteus 26:32). Ja, hy het hulle verseker dat hy hulle nie in die steek sou laat nie, al sou hulle hom in die steek laat. As hierdie verskriklike beproewing eers verby was, sou hy hulle weer ontmoet.
18. Watter gewigtige opdrag het Jesus aan sy dissipels gegee terwyl hulle in Galilea was, en hoe het die apostels dit uitgevoer?
18 Jesus het sy woord gehou. Later, in Galilea, het die verrese Jesus aan die 11 getroue apostels verskyn, wat blykbaar saam met baie ander vergader het (Matteus 28:16, 17; 1 Korintiërs 15:6). Daar het Jesus hulle ’n gewigtige opdrag gegee: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Die boek Handelinge gee ons duidelike bewyse dat die apostels daardie opdrag uitgevoer het. Hulle het getrou die voortou geneem met die werk om die goeie nuus in die eerste eeu te verkondig.—Handelinge 2:41, 42; 4:33; 5:27-32.
19. Wat leer ons omtrent die denke van Christus uit Jesus se optrede ná sy opstanding?
19 Wat leer ons uit hierdie insiggewende verslag omtrent die denke van Christus? Jesus het sy apostels op hulle ergste gesien, en tog het hy “hulle tot die einde toe liefgehad” (Johannes 13:1). Ten spyte van hulle tekortkominge het hy hulle verseker dat hy in hulle glo. Let op dat Jesus se vertroue nie misplaas was nie. Die vertroue en geloof wat hy in hulle uitgespreek het, het hulle ongetwyfeld versterk om vasbeslote in hulle hart te wees om die werk te doen wat hy aan hulle opgedra het.
20, 21. Hoe kan ons ’n positiewe beskouing van ons medegelowiges openbaar?
20 Hoe kan ons die denke van Christus in hierdie verband openbaar? Ons moenie ’n pessimistiese beskouing van ons medegelowiges hê nie. As jy die ergste van hulle dink, sal jou woorde en dade dit waarskynlik toon (Lukas 6:45). Maar die Bybel sê vir ons dat die liefde ‘alles glo’ (1 Korintiërs 13:7). Die liefde is positief, nie negatief nie. Dit bou eerder op as om af te breek. Mense reageer beter op liefde en aanmoediging as op intimidasie. Ons kan ander opbou en aanmoedig deur vertroue in hulle uit te spreek (1 Tessalonisense 5:11). As ons, soos Christus, ’n positiewe beskouing van ons broers het, sal ons hulle behandel op maniere wat hulle opbou en die beste in hulle na vore bring.
21 Om die denke van Christus aan te kweek en te openbaar, vereis meer as om net sekere dinge na te volg wat Jesus gedoen het. Soos in die voorgaande artikel gemeld is, moet ons eers leer om dinge soos Jesus te beskou voor ons waarlik soos hy kan optree. Die Evangelies help ons om nog ’n aspek van sy persoonlikheid en denke te verstaan en te sien hoe hy oor sy toegewese werk gevoel het, soos die volgende artikel sal bespreek.
[Voetnote]
a In die dokument beskryf die vervalser hoe Jesus glo gelyk het, insluitende die kleur van sy hare, sy baard en oë. Die Bybelvertaler Edgar J. Goodspeed verduidelik dat hierdie vervalste dokument “bedoel was om die beskrywing wat in die skildershandboeke oor die persoonlike voorkoms van Jesus gevind word meer oortuigend te maak”.
b Die kinders was blykbaar van verskillende ouderdomme. Die woord wat hier met “jong kinders” vertaal word, is ook vir Jaïrus se 12-jarige dogtertjie gebruik (Markus 5:39, 42; 10:13). Maar in die parallelle verslag gebruik Lukas ’n woord wat ook vir babas gebruik is.—Lukas 1:41; 2:12; 18:15.
c Sien die artikel “Respekteer jy hulle waardigheid?” in Die Wagtoring van 1 April 1998.
Kan jy verduidelik?
• Hoe het Jesus gereageer toe sy dissipels probeer keer het dat die kinders na hom toe kom?
• Op watter maniere het Jesus bedagsaamheid teenoor ander getoon?
• Hoe kan ons Jesus se gewilligheid om sy dissipels te vertrou, navolg?
• Hoe kan ons die vertroue wat Jesus in sy apostels gestel het, navolg?
[Prent op bladsy 16]
Kinders het op hulle gemak by Jesus gevoel
[Prent op bladsy 17]
Jesus het ander met medelye behandel
[Prent op bladsy 18]
Genaakbare ouer manne is ’n seën