Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 9/15 bl. 25-28
  • Behou jou goeie naam

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou jou goeie naam
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Red jouself van dwase ooreenkomste
  • Wees vlytig soos die mier
  • Wees eerlik
  • Haat wat Jehovah haat
  • “Begeer haar skoonheid nie”
  • ‘Moenie vuur in jou skoot dra nie’
  • Die boek Spreuke—Baie wysheid in min woorde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • ‘Die lippe van waarheid sal vir ewig bestaan’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Glanspunte uit die boek Spreuke
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 9/15 bl. 25-28

Behou jou goeie naam

’N MAN wat pragtige geboue ontwerp, maak vir homself ’n naam as ’n uitstekende argitek. ’n Jong vrou wat op akademiese gebied uitblink, word bekend as ’n briljante student. Selfs iemand wat niks doen nie, kan vir homself ’n naam maak as ’n luiaard. Die Bybel beklemtoon die waarde daarvan om ’n goeie naam te maak deur te sê: “’n Goeie naam is begeerliker as groot rykdom, ’n goeie reputasie as silwer en goud.”—Spreuke 22:1, An American Translation.

’n Goeie naam word met verloop van tyd deur talle klein dade opgebou. Maar al wat nodig is om dit te skend, is een dwase daad. ’n Enkele geval van seksuele wangedrag kan byvoorbeeld ’n goeie reputasie skend. In die 6de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke waarsku koning Salomo van eertydse Israel ons teen gesindhede en dade wat ons reputasie kan skend, sowel as ons verhouding met Jehovah God kan skaad. Van hierdie dinge is ondeurdagte ooreenkomste, luiheid, bedrog en geslagsonsedelikheid—in wese dinge wat Jehovah haat. As ons gehoor gee aan hierdie raad, sal dit ons help om ons goeie naam te behou.

Red jouself van dwase ooreenkomste

Die 6de hoofstuk van Spreuke begin met die woorde: “My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir ’n vreemde jou handslag gegee het, verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond, doen dan dit, my seun, om jouself te red—want jy het in die hand van jou naaste geraak—gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste [“bestorm jou medemens met dringende versoeke”, “NW”].”—Spreuke 6:1-3.

Hierdie spreuk maan daarteen om betrokke te raak by die saketransaksies van ander, veral van vreemdelinge. Ja, die Israeliete moes ‘hulle broer ondersteun wat verarm het en agtergeraak het’ (Levitikus 25:35-38). Maar party ondernemende Israeliete het betrokke geraak by onseker sakeondernemings, en hulle het finansiële steun daarvoor gekry deur ander oor te haal om vir hulle ‘borg te staan’, waardeur hulle dan aanspreeklik geword het vir die skuld. Soortgelyke situasies kan vandag ontstaan. Finansiële instellings kan byvoorbeeld vereis dat daar ’n medeondertekenaar is voordat hulle ’n lening goedkeur wat hulle as ’n risiko beskou. Hoe onverstandig sou dit tog wees om oorhaastig so ’n verbintenis aan te gaan tot voordeel van ander! Dit kan vir ons ’n finansiële strik wees en ons selfs ’n slegte naam by banke en ander krediteure gee!

Sê nou ons bevind onsself in die dilemma waar ons iets gedoen het wat aanvanklik verstandig voorgekom het, maar by nadere ondersoek dwaas lyk? Die raad is om jou trots te laat vaar en ‘jou medemens met dringende versoeke te bestorm’. Ons moet alles in ons vermoë doen om die saak reg te stel. Een naslaanwerk sê: “Laat geen steen onaangeroer totdat jy met jou teenstander ooreengekom het en die saak opgelos het nie, sodat jy en jou gesin nie later weens jou ooreenkoms ly nie.” En dit moet sonder versuim gedoen word, want die koning voeg by: “Gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie; red jou soos ’n gemsbok uit die hand, en soos ’n voël uit die hand van ’n voëlvanger” (Spreuke 6:4, 5). Dit is beter om jou, indien moontlik, aan ’n onverstandige verbintenis te onttrek as om daardeur verstrik te raak.

Wees vlytig soos die mier

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!” vermaan Salomo. Watter wysheid kan ons verkry deur op die weë van ’n klein miertjie te let? Die koning antwoord: “Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.”—Spreuke 6:6-8.

Miere is verbasend goed georganiseerd en werk merkwaardig goed saam. Hulle versamel instinktief kosvoorrade vir die toekoms. Hulle het “geen aanvoerder, opsigter of heerser” nie. Die mierkoningin is wel daar, maar sy is net koningin in die sin dat sy eiers lê en die moeder van die kolonie is. Sy gee nie bevele nie. Al het die miere geen voorman wat hulle aanjaag of iemand wat oor hulle toesig hou nie, hou hulle onvermoeid aan met werk.

Behoort ons nie ook soos die mier vlytig te wees nie? Om hard te werk en ons werk te probeer verbeter, is goed vir ons, of ons nou dopgehou word of nie. Ja, ons moet ons bes doen, op skool, by die werk en terwyl ons aan geestelike bedrywighede deelneem. Soos die mier baat vind by sy vlytigheid, wil God hê dat ons ‘die goeie moet geniet by al ons moeitevolle arbeid’ (Prediker 3:13, 22; 5:18). ’n Skoon gewete en persoonlike bevrediging is die belonings vir harde werk.—Prediker 5:11.

Salomo gebruik twee retoriese vrae om ’n trae persoon uit sy luiheid te probeer wakker skud: “Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?” Die koning maak die luiaard se spraak na en voeg by: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ’n rondloper en jou gebrek soos ’n gewapende man” (Spreuke 6:9-11). Terwyl die luiaard ontspan, oorval armoede hom so vinnig soos ’n rower en val gebrek hom aan soos ’n gewapende man. Die landerye van ’n lui man word gou vol dorings en brandnekels (Spreuke 24:30, 31). Sy sakeonderneming begin gou verliese ly. Hoe lank sal ’n werkgewer iemand verdra wat lyf wegsteek? En kan ’n leerling wat te lui is om te leer, verwag dat hy goed sal vaar op skool?

Wees eerlik

Salomo beskryf nog ’n gedragspatroon wat ’n mens se reputasie in die gemeenskap en jou verhouding met God skend en sê voorts: “’n Deugniet, ’n kwaaddoener is hy wat met ’n valse mond rondloop, wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee; in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.”—Spreuke 6:12-14.

Dit is ’n beskrywing van ’n bedrieër. ’n Leuenaar probeer gewoonlik sy valsheid verbloem. Hoe? Nie net met “’n valse mond” nie, maar ook met lyftaal. Een geleerde sê: “Gebare, stemtoon en selfs gesigsuitdrukkings is weldeurdagte maniere om te bedrieg; agter die skyn van opregtheid skuil daar verdorwe denke en ’n gees wat onenigheid aanblaas.” So ’n deugniet beraam bose planne en saai heeltyd tweedrag. Hoe sal sake vir hom afloop?

“Daarom sal sy ondergang skielik kom”, antwoord die koning van Israel. “Onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is” (Spreuke 6:15). Wanneer hy aan die kaak gestel word, word die leuenaar se reputasie onmiddellik geskend. Wie sal hom weer vertrou? Sy einde is beslis rampspoedig, want “al die leuenaars” word genoem onder diegene wat die ewige dood sal kry (Openbaring 21:8). Laat ons ons dan daarop toelê om ons ‘in alles eerlik te gedra’.—Hebreërs 13:18.

Haat wat Jehovah haat

Haat die kwaad—wat ’n sterk motivering om ons te weerhou van dade wat ons reputasie sal skend! Moet ons dan nie leer om die kwaad te verafsku nie? Maar presies wat moet ons haat? Salomo sê: “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”—Spreuke 6:16-19.

Die spreuk noem sewe basiese kategorieë wat feitlik alle soorte oortredings dek. “Trotse oë” en “’n hart wat onheilsplanne beraam”, is sondes wat in ’n mens se gedagtes gepleeg word. “’n Leuenagtige tong” en “een wat as valse getuie leuens uitstrooi”, is sondige woorde. “Hande wat onskuldige bloed vergiet” en “voete wat haastig na die kwaad toe loop”, is bose dade. En wie veral haatlik is vir Jehovah, is iemand wat groot behae daarin skep om tweedrag te saai onder mense wat andersins vreedsaam sou saamwoon. Die feit dat die syfer van ses na sewe toeneem, dui aan dat die lys nie bedoel is om volledig te wees nie, aangesien mense voortdurend hulle bose dade vermeerder.

Ons moet inderdaad ’n weersin ontwikkel in dinge wat God haat. Ons moet byvoorbeeld “trotse oë”, of enige ander manier waarop trotsheid geopenbaar word, vermy. En skadelike skinderpraatjies moet beslis vermy word, want dit kan maklik ‘tweedrag tussen broers saai’. Ons “vergiet” dalk nie “onskuldige bloed” wanneer ons onvriendelike gerugte, ongeregverdigde kritiek of leuens versprei nie, maar ons kan beslis iemand anders se goeie reputasie vernietig.

“Begeer haar skoonheid nie”

Salomo begin die volgende gedeelte van sy raad deur te sê: “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals.” Die rede? “Mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.”—Spreuke 6:20-22.

Kan ’n skriftuurlike opvoeding ons werklik teen die strik van geslagsonsedelikheid beskerm? Ja, dit kan. Ons het die versekering: “Want die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir ’n slegte vrou, vir die gevlei van ’n vreemde tong” (Spreuke 6:23, 24). As ons die raad in God se Woord onthou en dit gebruik as ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’, sal dit ons help om die aanloklike uitnodigings van ’n slegte vrou, of selfs ’n slegte man, te weerstaan.—Psalm 119:105.

“Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie,” maan die wyse koning, “en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie.” Waarom nie? “Want vir ’n hoer verval ’n mens tot ’n stuk brood, en ’n ander se vrou maak jag op ’n kosbare lewe.”—Spreuke 6:25, 26.

Verwys Salomo na ’n owerspelige vrou as ’n prostituut? Moontlik. Of dit kan wees dat hy ’n onderskeid tref tussen die gevolge van geslagsonsedelikheid wat met ’n prostituut gepleeg word en die gevolge van egbreuk met ’n ander man se vrou. Iemand wat gemeenskap met ’n prostituut het, kan tot “’n stuk brood” verval—tot volslae armoede. Hy kan selfs begin ly aan pynlike en aftakelende seksueel oordraagbare siektes, waaronder dodelike vigs. Aan die ander kant sou die een wat gemeenskap het met iemand anders se huweliksmaat in groter onmiddellike gevaar wees onder die Wet. ’n Owerspelige vrou stel die “kosbare lewe” van die een wat saam met haar egbreuk gepleeg het in gevaar. “Meer as net die verkorting van ’n mens se lewe deur losbandigheid . . . word bedoel”, sê een naslaanwerk. “Die sondaar verdien die doodstraf” (Levitikus 20:10; Deuteronomium 22:22). Hoe dit ook al sy, so ’n vrou moet nie begeer word nie, al is sy fisies ook hoe mooi.

‘Moenie vuur in jou skoot dra nie’

Om die gevaar van egbreuk verder te beklemtoon, vra Salomo: “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?” Hy verduidelik die betekenis van die illustrasie deur te sê: “So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie” (Spreuke 6:27-29). So ’n sondaar sal beslis gestraf word.

“’n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het”, word daar vir ons gesê. Maar “as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee” (Spreuke 6:30, 31). In eertydse Israel is daar van ’n dief vereis om vergoeding te betaal, selfs al moes hy alles gee wat hy besit het.a Hoeveel te meer verdien ’n egbreker nie om gestraf te word, aangesien hy geen verskoning het vir wat hy gedoen het nie!

“Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand”, sê Salomo. ’n Man wat sonder verstand is, het nie goeie oordeel nie, aangesien hy “sy eie lewe wil verwoes” (Spreuke 6:32). Op die oog af lyk hy dalk na ’n gerespekteerde persoon, maar sy innerlike mens het beslis nie behoorlik ontwikkel nie.

Die egbreker pluk ook ander wrange vrugte. “Slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; want jaloersheid is ’n toorngloed in ’n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie; hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.”—Spreuke 6:33-35.

’n Dief kan vergoed vir wat hy gesteel het, maar daar is niks wat ’n egbreker as terugbetaling kan gee nie. Watter vergoeding kan hy ’n toornige eggenoot aanbied? Al smeek die oortreder ook hoe, staan hy nie juis ’n kans om medelye te verkry nie. Daar is geen manier waarop die egbreker vir sy sonde kan vergoed nie. Hy behou die smaad en oneer wat sy eie naam aangedoen is. Wat meer is, hy kan homself op geen manier loskoop of bevry van die straf wat hy verdien nie.

Hoe verstandig is dit tog om egbreuk te vermy, sowel as ander gedragspatrone en gesindhede wat ons goeie naam skend en dalk smaad op God se naam kan bring! Mag ons dan versigtig wees om nie dwase ooreenkomste aan te gaan nie. Laat ons die reputasie hê dat ons vlytig en eerlik is. En mag ons vir ons ’n goeie naam maak by Jehovah en by ons medemens, terwyl ons daarna strewe om te haat wat Jehovah haat.

[Voetnoot]

a Volgens die Mosaïese Wet is daar van ’n dief vereis om dubbel, viervoudig of vyfvoudig terug te betaal (Exodus 22:1-4). Die term “sewevoudig” dui waarskynlik op ’n volle maat van straf, wat baie meer kan wees as wat hy gesteel het.

[Prent op bladsy 25]

Wees versigtig om ’n medeondertekenaar vir ’n lening te wees

[Prent op bladsy 26]

Wees vlytig soos die mier

[Prent op bladsy 27]

Waak teen skadelike skinderpraatjies

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel