Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w06 8/15 bl. 16-19
  • Barug—Jeremia se getroue sekretaris

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Barug—Jeremia se getroue sekretaris
  • ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Agtergrond en status
  • Openbare ondersteuning van Jeremia
  • Moenie “groot dinge” soek nie
  • Barug ondersteun Jeremia weer
  • Wat kan ons by Barug leer?
  • Moenie ‘vir jou groot dinge soek’ nie
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Die regte roete moet nou gekies word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Bou sterk vriendskappe op voordat die einde kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Jehovah hou sy oë op ons tot ons voordeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
w06 8/15 bl. 16-19

Barug—Jeremia se getroue sekretaris

KEN jy “Barug, die seun van Neria”? (Jeremia 36:4). Hoewel hy in net vier hoofstukke van die Bybel gemeld word, ken Bybellesers hom goed as die persoonlike sekretaris en intieme vriend van die profeet Jeremia. Hulle het die laaste 18 onstuimige jare van die koninkryk van Juda, die verskriklike vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in 607 v.G.J. en die daaropvolgende ballingskap in Egipte saam deurgemaak.

In onlangse jare het die ontdekking van twee kleiseëlsa uit die sewende eeu v.G.J. met die bewoording “Behoort aan Berekhjahoe [Barug se Hebreeuse naam], seun van Nerijahoe [Neria se Hebreeuse naam], die skrywer”, geleerdes se belangstelling in hierdie Bybelkarakter gewek. Wie was Barug? Watter familieagtergrond, geleerdheid en status het hy gehad? Wat openbaar die ferm standpunt wat hy saam met Jeremia ingeneem het? Wat kan ons by hom leer? Kom ons soek die antwoorde deur na die beskikbare Bybelse en geskiedkundige inligting te kyk.

Agtergrond en status

Baie hedendaagse geleerdes glo dat Barug ’n lid van ’n vooraanstaande familie van skrywers in Juda was. Hulle verstrek ’n aantal redes vir hierdie gevolgtrekking. Byvoorbeeld, volgens die Bybelverslag het Barug die spesiale titel “die sekretaris”, of “die skrywer” in party vertalings, gehad. Die Skrif meld ook dat Seraja, sy broer, ’n belangrike amptenaar aan die hof van koning Sedekia was.—Jeremia 36:32; 51:59.

Die argeoloog Philip J. King sê aangaande skrywers in Jeremia se dag: “Skrywers, lede van ’n beroepsklas, het gedurende die laat sewende en vroeë sesde eeu v.G.J. ’n vername posisie in Juda beklee. . . . Die titel is aan hoë koninklike amptenare gegee.”

Daarbenewens wek die verslag in Jeremia hoofstuk 36, wat ons in besonderhede sal bespreek, die indruk dat Barug toegang tot die koning se raadgewers gehad het en toegelaat is om die eetkamer, of die kabinetskamer, van Gemarja, ’n vors of ’n amptenaar, te gebruik. Die Bybelgeleerde James Muilenberg redeneer: “Barug kon die kabinetskamer van die skrywer binnegaan omdat hy ’n regmatige plek daar gehad het en self ’n lid was van die koninklike amptenare wat bymekaargekom het vir die uiters belangrike geleentheid waartydens die rol in die openbaar voorgelees is. Hy was tussen kollegas.”

Die publikasie Corpus of West Semitic Stamp Seals voeg nog ’n argument by ter stawing van Barug se status: “Aangesien die kleiseël van Berekhjahoe saam met ’n groot klomp kleiseëls van ander hoë amptenare gevind is, is dit redelik om aan te neem dat Barug/Berekhjahoe opgetree het in dieselfde amptelike raamwerk waarin die ander amptenare werksaam was.” Dit lyk volgens die beskikbare inligting of Barug en sy broer Seraja hoë amptenare was wat die getroue profeet Jeremia gedurende die gebeurtenisvolle jare voor die vernietiging van Jerusalem ondersteun het.

Openbare ondersteuning van Jeremia

Chronologies verskyn Barug vir die eerste keer in Jeremia hoofstuk 36, in “die vierde jaar van Jojakim”, of ongeveer 625 v.G.J. Teen hierdie tyd het Jeremia al 23 jaar lank as ’n profeet gedien.—Jeremia 25:1-3; 36:1, 4.

Jehovah het toe vir Jeremia gesê: “Neem vir jou ’n boekrol, en jy moet daarin al die woorde skryf wat ek teen Israel en teen Juda en teen al die nasies tot jou gespreek het, . . . van die dae van Josia af, ja, tot vandag toe.” Die verslag gaan voort: “Jeremia het Barug, die seun van Neria, geroep, sodat Barug uit Jeremia se mond al die woorde van Jehovah . . . kon skryf.”—Jeremia 36:2-4.

Waarom is Barug geroep? Jeremia het vir hom gesê: “Ek is opgesluit. Ek kan nie in die huis van Jehovah ingaan nie” (Jeremia 36:5). Jeremia is blykbaar belet om die tempelterrein binne te gaan, waar Jehovah se boodskap gelees moes word, miskien omdat vroeëre boodskappe die gesaghebbendes kwaad gemaak het (Jeremia 26:1-9). Barug was sonder twyfel ’n opregte aanbidder van Jehovah, en hy “het gedoen volgens alles wat die profeet Jeremia hom beveel het”.—Jeremia 36:8.

Dit het tyd geneem om die waarskuwings neer te skryf wat gedurende die vorige 23 jaar gegee is, en miskien het Jeremia ook vir die regte oomblik gewag. Maar in November of Desember 624 v.G.J. het Barug met vrymoedigheid “die woorde van Jeremia uit die boek begin voorlees in die huis van Jehovah, in die eetkamer van Gemarja . . . , voor die ore van die hele volk”.—Jeremia 36:8-10.

Migaja, die seun van Gemarja, het sy vader en ’n aantal vorste vertel wat gebeur het, en hulle het Barug genooi om die rol ’n tweede keer voor te lees. “En net toe hulle al die woorde hoor”, sê die verslag, “het hulle mekaar beangs aangekyk; en hulle het vir Barug gesê: ‘Ons sal vir seker al hierdie woorde aan die koning meedeel. . . . Gaan, versteek jou, jy en Jeremia, sodat hoegenaamd niemand sal weet waar julle is nie.’”—Jeremia 36:11-19.

Toe koning Jojakim hoor wat Barug geskryf het, soos gedikteer deur Jeremia, het hy die rol woedend opgeskeur, dit in die vuur gegooi en sy manne beveel om Jeremia en Barug in hegtenis te neem. Op bevel van Jehovah het die twee mans ’n duplikaatrol gemaak terwyl hulle weggekruip het.—Jeremia 36:21-32.

Barug het ongetwyfeld geweet watter gevare hierdie toewysing inhou. Hy het sekerlik geweet van die dreigemente wat ’n paar jaar vroeër teen Jeremia gemaak is. Hy sou ook gehoor het van Uria se lot, wat “ooreenkomstig al die woorde van Jeremia” geprofeteer het maar deur koning Jojakim doodgemaak is. Barug was nietemin bereid om sy professionele vaardighede en sy kontakte met regeringsamptenare te gebruik om Jeremia in hierdie toewysing te ondersteun.—Jeremia 26:1-9, 20-24.

Moenie “groot dinge” soek nie

Terwyl Barug die eerste rol geskryf het, het hy ’n tydperk van angs deurgemaak. Hy het uitgeroep: “Wee my tog, want Jehovah het droefheid by my pyn gevoeg! Ek het moeg geword weens my gesug, en ek het geen rusplek gevind nie.” Wat het hierdie krisis veroorsaak?—Jeremia 45:1-3.

Geen direkte antwoord word verstrek nie. Maar probeer jou Barug se situasie voorstel. ’n Oorsig van 23 jaar se waarskuwings aan die volk van Israel en Juda het ongetwyfeld hulle afvalligheid en verwerping van Jehovah baie duidelik gemaak. Jehovah se besluit om Jerusalem en Juda te vernietig en die nasie vir 70 jaar in ballingskap na Babilon te laat wegvoer—inligting wat Jehovah daardie selfde jaar geopenbaar het en moontlik in die rol ingesluit het—het Barug sekerlik geskok (Jeremia 25:1-11). Boonop was daar die gevaar dat sy kragtige ondersteuning van Jeremia gedurende hierdie kritieke tyd hom sy posisie en loopbaan kon kos.

Hoe dit ook al sy, Jehovah self het tussenbeide getree om Barug te help om die komende oordeel in gedagte te hou. “Wat ek opgebou het, breek ek af, en wat ek geplant het, ruk ek uit, ja, die hele land”, het Jehovah gesê. Toe het hy Barug gemaan: “Maar wat jou betref, jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie.”—Jeremia 45:4, 5.

Jehovah het nie spesifiek gesê wat hierdie “groot dinge” was nie, maar Barug het ongetwyfeld geweet of dit selfsugtige strewes, vernaamheid of materiële voorspoed was. Jehovah het hom gemaan om realisties te wees en te dink aan wat voorlê: “Kyk, ek bring rampspoed oor alle vlees, . . . en ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.” Barug se kosbaarste besitting, sy lewe, sou bewaar word waar hy ook al gaan.—Jeremia 45:5.

Ná hierdie gebeure wat in Jeremia hoofstukke 36 en 45 beskryf word en wat van 625 tot 624 v.G.J. plaasgevind het, sê die Bybel niks oor Barug nie tot ’n paar maande voordat die Babiloniërs in 607 v.G.J. Jerusalem en Juda vernietig het. Wat het toe gebeur?

Barug ondersteun Jeremia weer

Barug verskyn weer in die Bybelverslag gedurende die tyd dat die Babiloniërs Jerusalem beleër. Jeremia was “opgesluit in die Voorhof van die Lyfwag” toe Jehovah vir hom gesê het om sy neef se stuk grond in Anatot te koop as ’n teken dat daar ’n herstelling sou wees. Barug is gevra om met die regsaspekte te help.—Jeremia 32:1, 2, 6, 7.

Jeremia het verduidelik: “Ek [het] dit in ’n kontrak geskryf en die seël daarop gedruk en getuies geneem terwyl ek die geld op die weegskaal geweeg het. Daarna het ek die koopkontrak geneem, die een wat verseël is . . . en die een wat oopgelaat is; en toe het ek die koopkontrak vir Barug [gegee].” Hy het Barug toe beveel om hierdie koopkontrakte in ’n erdehouer te verseël vir veilige bewaring. Party geleerdes meen dat toe Jeremia gesê het dat hy die kontrak “geskryf” het, hy dit sou gedikteer het vir Barug, ’n professionele skrywer, wat die eintlike skryfwerk sou gedoen het.—Jeremia 32:10-14; 36:4, 17, 18; 45:1.

Barug en Jeremia het die regsgebruike van die tyd gevolg. Een aspek was die dubbele kontrak. Die boek Corpus of West Semitic Stamp Seals verduidelik: “Die eerste kontrak is die ‘verseëlde kontrak’ genoem omdat dit opgerol en met ’n kleiseël of -seëls verseël is; dit het die oorspronklike weergawe van die kontrak bevat. . . . Die tweede, ‘oop kontrak’ was ’n kopie van die verseëlde, bindende kontrak en was bedoel vir algemene bestudering. Daar was dus twee tekste, ’n oorspronklike en ’n duplikaat, geskryf op twee afsonderlike papirusvelle.” Argeologiese ontdekkings bevestig die gebruik om die dokumente in ’n erdehouer te bewaar.

Eindelik het die Babiloniërs Jerusalem verower, dit afgebrand en almal behalwe ’n paar armes in ballingskap weggevoer. Nebukadnesar het Gedalja as goewerneur aangestel. Hy is twee maande later vermoor. Die oorblywende Jode het beplan om na Egipte te trek, in stryd met die geïnspireerde raad van Jeremia, en dit is in hierdie konteks dat Barug weer gemeld word.—Jeremia 39:2, 8; 40:5; 41:1, 2; 42:13-17.

Die Joodse leiers het vir Jeremia gesê: “Dit is ’n leuen wat jy spreek. Jehovah ons God het jou nie gestuur om te sê: ‘Moenie Egipte binnegaan om daar as vreemdelinge te woon nie.’ Maar Barug, die seun van Neria, stook jou teen ons op om ons in die hand van die Galdeërs te gee, sodat hulle ons kan doodmaak of ons in ballingskap na Babilon kan wegvoer” (Jeremia 43:2, 3). Uit die beskuldiging wil dit voorkom of die Joodse leiers geglo het dat Barug groot invloed oor Jeremia uitgeoefen het. Het hulle geglo dat Barug, weens sy posisie of sy jare lange vriendskap met Jeremia, opgetree het as meer as net ’n skrywer vir die profeet? Miskien, maar ongeag wat die Joodse leiers gedink het, die boodskap het van Jehovah af gekom.

Ondanks goddelike waarskuwings het die oorblywende Jode vertrek en “die profeet Jeremia en Barug, die seun van Neria”, saam met hulle geneem. Jeremia het geskryf: “Hulle het uiteindelik in Egipteland gekom, want hulle het nie die stem van Jehovah gehoorsaam nie; en hulle het geleidelik tot by Tagpanhes gekom”, ’n grensstad in die oostelike Nyldelta, wat aan Sinai grens. Dan verdwyn Barug uit die Bybelverslag.—Jeremia 43:5-7.

Wat kan ons by Barug leer?

Daar is talle waardevolle lesse wat ons by Barug kan leer. ’n Uitstekende les is sy bereidwilligheid om sy professionele vaardighede en kontakte in Jehovah se diens te gebruik, ongeag die gevolge. Baie van Jehovah se hedendaagse Getuies—mans en vroue—toon dieselfde gees en bied aan om hulle vaardighede te gebruik in Betheldiens, bouwerk, ensovoorts. Hoe kan jy dieselfde gees as Barug toon?

Toe Barug daaraan herinner is dat daar gedurende die laaste dae van Juda nie tyd was vir persoonlike “groot dinge” nie, het hy blykbaar positief gereageer, want hy het sy siel as buit ontvang. Dit is redelik om hierdie raad op onsself toe te pas, aangesien ons ook in die laaste dae van ’n stelsel van dinge lewe. Jehovah maak dieselfde belofte aan ons—ons lewe sal gespaar word. Kan ons soos Barug op hierdie herinneringe ag slaan?

Daar is ook ’n praktiese les wat ons uit hierdie verhaal kan leer. Barug het Jeremia en sy neef gehelp met die nodige regsprosedure in hulle saketransaksie, al was die twee mans familie. Dit dien as ’n skriftuurlike presedent vir Christene wat saketransaksies met hulle geestelike broers en susters aangaan. Dit is skriftuurlik, prakties en liefdevol om hierdie voorbeeld te volg om sakeooreenkomste op skrif te stel.

Hoewel Barug net kortliks in die Bybel verskyn, kan alle hedendaagse Christene gerus op hom ag gee. Sal jy die goeie voorbeeld van hierdie getroue sekretaris van Jeremia volg?

[Voetnoot]

a ’n Kleiseël is gebruik om die lyn wat om ’n belangrike dokument gebind is, te verseël. ’n Seël wat die eienaar of afsender identifiseer, is in die klei afgedruk.

[Prent op bladsy 16]

Barug se kleiseël

[Erkenning]

Kleiseël: Courtesy of Israel Museum, Jerusalem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel