Die mens lewe nie van brood alleen nie—Hoe ek Nazi-kampe oorleef het
Soos vertel deur Joseph Hisiger
“Wat lees jy?” het ek ’n medegevangene gevra. “Die Bybel”, het hy gesê en bygevoeg: “Ek sal dit vir jou gee in ruil vir jou week se broodrantsoen.”
EK IS op 1 Maart 1914 in Moselle gebore, wat destyds deel van Duitsland was. Nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1918 geëindig het, het Moselle weer deel van Frankryk geword. In 1940 is dit weer eens deur Duitsland geannekseer. Later, toe die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, het dit weer deel van Frankryk geword. My nasionaliteit het elke keer verander, en ek het dus geleer om Frans sowel as Duits te praat.
My ouers was stoere Katolieke. Elke aand voordat ons gaan slaap het, het ons gesin op ons knieë gegaan om te bid. Op Sondae en openbare vakansiedae het ons kerk toe gegaan. Ek het my godsdiens ernstig opgeneem en aan ’n Katolieke studiegroep behoort.
Ek neem ywerig deel aan ons predikingswerk
In 1935 het twee Getuies van Jehovah my ouers besoek. Die gesprek het gehandel oor godsdiens se betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog. Hierna het my belangstelling in die Bybel toegeneem, en in 1936 het ek die priester gevra of ek ’n Bybel kan kry. Hy het gesê dat ek teologie sal moet studeer om dit te verstaan. Dit het egter my begeerte om ’n Bybel te besit en te lees, net vergroot.
In Januarie 1937 het ’n werksmaat, Albin Relewicz, wat ’n Getuie was, met my begin praat oor wat die Bybel leer. “Jy het seker een, nè?” het ek gevra. Hy het een gehad, en kort daarna het hy my God se naam, Jehovah, gewys in ’n eksemplaar van die Duitse Elberfelder-vertaling, wat hy vir my gegee het. Ek het dit gretig gelees en die vergaderinge van die Getuies in die nabygeleë dorp Thionville begin bywoon.
In Augustus 1937 het ek saam met Albin na ’n internasionale byeenkoms van die Getuies in Parys gegaan. Daar het ek van deur tot deur begin preek. Kort daarna is ek gedoop, en vroeg in 1939 het ek ’n pionier, ’n voltydse Christenbedienaar, geword. Ek is na die stad Metz gestuur. Toe, in Julie, het ek ’n uitnodiging ontvang om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Parys te gaan werk.
Beproewinge tydens die oorlog
My diens by die tak was van korte duur, want ek is in Augustus 1939 opgeroep om in die Franse leër te dien. My gewete het my nie toegelaat om aan die oorlog deel te neem nie, en ek is dus tronk toe gestuur. Die daaropvolgende Mei, terwyl ek in die tronk was, het Duitsland ’n blitsaanval op Frankryk geloods. Teen Junie is Frankryk ingeneem, en ek was weer eens ’n Duitser. Toe ek in Julie 1940 uit die tronk vrygelaat is, het ek weer by my ouers gaan woon.
Aangesien ons onder die Nazi-regime was, het ons in die geheim bymekaargekom vir Bybelstudie. Ons het Die Wagtoring deur Maryse Anasiak gekry, ’n moedige Christenvrou wat ek gewoonlik ontmoet het in ’n bakkery wat aan ’n Getuie behoort het. Tot 1941 het ek daarin geslaag om die probleme te vermy waarmee die Getuies in Duitsland te kampe gehad het.
Toe het die Gestapo my eendag kom besoek. Nadat die offisier dit duidelik gemaak het dat daar ’n verbod op die Getuies geplaas is, het hy my gevra of ek van plan is om een te bly. Toe ek “Ja” antwoord, het hy vir my gesê om saam met hom te kom. My ma het van ontsteltenis inmekaargesak. Toe die Gestapo-offisier dit sien, het hy vir my gesê om te bly en na haar om te sien.
By die fabriek waar ek gewerk het, het ek nie die bestuurder met ’n “Heil Hitler!” gegroet nie. Ek het ook geweier om ’n lid van die Nazi-party te word. Die volgende dag is ek dus deur die Gestapo in hegtenis geneem. Gedurende die ondervragings het ek geweier om die name van mede-Getuies te verstrek. My ondervraer het my hard met ’n rewolwerkolf teen die kop geslaan, en ek het my bewussyn verloor. Op 11 September 1942 het die Sondergericht (Spesiale Hof) by Metz my tot drie jaar tronkstraf gevonnis “vir die verspreiding van propaganda namens die Vereniging van Jehovah se Getuies en die Bybelstudente”.
Ná twee weke in die tronk in Metz is ek op ’n reis geneem wat my uiteindelik by ’n strafkamp in Zweibrücken gebring het. Daar het ek saam met ’n span gewerk wat spoorlyne in stand gehou het. Ons het swaar spoorstawe vervang, dit vasgebout en weer die gruisklippe op die spoorlyn gelykgemaak. Ons het in die oggend net ’n beker koffie en omtrent 60 gram brood gekry en in die middag en in die aand net ’n bord sop. Toe is ek na ’n tronk in ’n nabygeleë dorp oorgeplaas, waar ek in ’n skoenmaker se winkel gewerk het. Ná ’n paar maande is ek na Zweibrücken teruggestuur, dié keer om op die landerye te werk.
Ek lewe, maar nie van brood alleen nie
In die tronk het ek ’n sel met ’n jong man uit Nederland gedeel. Ek kon hom van my oortuigings vertel deur sy taal tot ’n mate te leer praat. Hy het goeie geestelike vordering gemaak en my gevra om hom in die rivier te doop. Toe hy uit die water opkom, het hy my omhels en gesê: “Joseph, ek is jou broer!” Toe ek weer op die spoorlyn moes gaan werk, het ons paaie geskei.
Hierdie keer het ek ’n sel met ’n Duitse gevangene gedeel. Een aand het hy ’n klein boekie begin lees—’n Bybel! Dit was toe dat hy my die Bybel in ruil vir ’n week se broodrantsoen aangebied het. “Dis in die haak!” het ek geantwoord. Al was ’n week se broodrantsoen werklik ’n groot opoffering, was ek nooit spyt nie. Ek het die betekenis van Jesus se woorde begin leer: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.”—Matteus 4:4.
Noudat ek ’n Bybel gehad het, was dit ’n uitdaging om dit te behou. In teenstelling met ander gevangenes is die Getuies nie toegelaat om ’n Bybel te hê nie. Ek het dit dus snags stilletjies onder my komberse gelees. Bedags het ek dit onder my hemp saamgedra. Ek het dit nie in die sel gelos nie, omdat dit dikwels deursoek is.
Eendag, tydens ’n rollesing, het ek besef dat ek my Bybel vergeet het. Daardie aand is ek haastig terug na my sel toe, maar die Bybel was weg. Nadat ek tot God gebid het, is ek na die wag toe en het ek verduidelik dat iemand ’n boek geneem het wat aan my behoort en dat ek dit wou terughê. Hy het nie juis aandag geskenk nie, en ek kon dus my Bybel terugkry. Ek het Jehovah uit die diepte van my hart bedank!
By ’n ander geleentheid is ek gestuur om te gaan stort. Terwyl ek my vuil klere uitgetrek het, het ek die Bybel stilletjies op die vloer laat val. Toe die wag nie kyk nie, het ek dit met my voet na die stort toe geskuif. Daar het ek dit teen die kant weggesteek terwyl ek my gewas het. Toe ek uit die stort kom, het ek die proses herhaal en die Bybel na die hopie skoon klere toe geskuif.
Die wel en weë van gevangenskap
Een oggend in 1943, terwyl die gevangenes op die binneplein aangetree het, het ek Albin gesien! Hy is ook in hegtenis geneem. Hy het veelseggend na my gekyk en sy hand op sy hart geplaas as ’n simbool van broederskap. Toe het hy beduie dat hy vir my sou skryf. Die volgende dag het hy in die verbygaan ’n stukkie papier laat val. Maar die wag het dit gesien, en ons is albei vir twee weke in alleenopsluiting geplaas. Ons het net ou brood en water gekry en het op houtplanke sonder komberse geslaap.
Daarna is ek na die tronk in Siegburg oorgeplaas, waar ek in ’n metaalwerkswinkel gewerk het. Die werk was uitputtend, en die kos was te min. Ek het snags gedroom van lekkernye—koek en vrugte—en wakker geword met ’n grommende maag en ’n droë keel. Ek het minder as 50 kilogram geweeg. Maar ek het elke dag my Bybel gelees en ’n rede gevind om te lewe.
Uiteindelik vryheid!
Een oggend in April 1945 het die wagte skielik op die vlug geslaan en die tronkhekke wawyd oop gelos. Ek was vry! Maar ek moes eers ’n ruk in ’n hospitaal bly om te herstel. Teen die einde van Mei het ek by my ouers se huis aangekom. Hulle het al hoop opgegee dat ek nog lewe. Toe my ma my sien, het sy van vreugde in trane uitgebars. Ongelukkig is my ouers kort daarna oorlede.
Ek het weer met die Thionville-gemeente in aanraking gekom. Hoe hartverblydend was dit tog om my geestelike familie weer te sien! Dit was wonderlik om te hoor hoe getrou hulle gebly het ondanks baie beproewinge. My dierbare vriend Albin is in Regensburg, in Duitsland, oorlede. Later het ek gehoor dat my neef Jean Hisiger ’n Getuie geword het en as ’n gewetensbeswaarde tereggestel is. Jean Queyroi, saam met wie ek by die takkantoor in Parys gewerk het, was vyf jaar lank in ’n Duitse werkkamp.a
Ek het spoedig weer in die dorp Metz begin preek. Gedurende dié tyd het ek die Minzani-gesin dikwels gesien. Hulle dogter, Tina, is op 2 November 1946 gedoop. Sy was ywerig in die bediening, en ek het baie van haar gehou. Ons is op 13 Desember 1947 getroud. In September 1967 het Tina voltyds aan die predikingswerk begin deelneem, en sy het daarmee volgehou tot haar dood in Junie 2003, op die ouderdom van 98. Ek mis Tina verskriklik baie.
Ek is vandag ver oor die 90 en besef dat God se Woord my altyd die krag gegee het om beproewinge te verduur. Ek het soms ’n leë maag gehad, maar ek het my verstand en hart altyd met God se Woord gevoed. En Jehovah het my sterk gemaak. Sy “woord het my in die lewe gehou”.—Psalm 119:50.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1989, bladsye 22-26, vir die lewensverhaal van Jean Queyroi.
[Prent op bladsy 21]
My dierbare vriend Albin Relewicz
[Prent op bladsy 21]
Maryse Anasiak
[Prent op bladsy 22]
Die Bybel wat my een week se broodrantsoen gekos het
[Prent op bladsy 23]
Saam met my verloofde, Tina, in 1946
[Prent op bladsy 23]
Jean Queyroi saam met sy vrou, Titica