Het jy geweet?
Wie was die skrifgeleerdes wat Jesus teëgestaan het?
Gedurende sy bediening het Jesus skrifgeleerdes nie net in Jerusalem teëgekom nie, maar ook in kleiner stede en dorpies. Buite Jerusalem—en selfs in Joodse gemeenskappe buite Palestina—was sulke mans amptenare van ’n laer rang wat geskoold was in die Wet en moontlik as kopiïste of plaaslike regters gedien het.—Markus 2:6; 9:14; Lukas 5:17-21.
In Jerusalem was daar noue samewerking tussen die skrifgeleerdes en die Joodse regering (Matteus 16:21). Hulle rol daar, sê The Anchor Bible Dictionary, “het blykbaar behels om saam met die priesters te werk, in regterlike sake sowel as die handhawing van Joodse gebruike en wetgewing en die daaglikse bedrywighede van die Sanhedrin”. As vooraanstaande onderrigters van die Wet was party van hierdie skrifgeleerdes in werklikheid lede van die Sanhedrin, of die Joodse Hoë Raad. Hulle het saam met die hoofpriesters en Fariseërs gedien.
Die skrifgeleerdes word oor die algemeen as Jesus se godsdiensteenstanders beskryf. Maar party het hom nie teëgestaan nie. Een het byvoorbeeld vir Jesus gesê: “Ek sal u volg waar u ook al gaan.” Jesus het vir ’n ander een gesê: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”—Matteus 8:19; Markus 12:28-34.
Wat het dit beteken vir iemand om gesalf te word?
In Bybeltye in die Midde-Ooste was dit ’n blyk van guns teenoor iemand of ’n daad van gasvryheid teenoor ’n gas om sy kop met olie te salf. Die olie wat gebruik is, was gewoonlik olyfolie waarby parfuum gevoeg is. Die Hebreërs het ook olie op ’n persoon se kop uitgegiet, of hom gesalf, wanneer hy amptelik in ’n spesiale gesagsposisie aangestel is. Aäron is byvoorbeeld gesalf toe hy aangestel is om as hoëpriester te dien (Levitikus 8:12). In die geval van koning Dawid “het Samuel die horing met olie geneem en hom . . . gesalf. En van dié dag af het die gees van Jehovah oor Dawid werksaam geword.”—1 Samuel 16:13.
In Hebreeus is die term wat vir hierdie salwing gebruik word ma·sjachʹ, waarvan die woord ma·sjiʹach, of Messias, afgelei word. Die ooreenstemmende Griekse woord is chriʹo, waarvan die woord chri·stos, of Christus, kom. Daar kan dus na Aäron sowel as Dawid verwys word as ’n messias, of ’n gesalfde. Moses word ook ’n christus, of ’n gesalfde, genoem in die sin dat God hom aangestel het om as Sy verteenwoordiger te dien.—Hebreërs 11:24-26.
Jesus van Nasaret is persoonlik deur God aangestel in ’n posisie van groot gesag. Jesus is nie met letterlike olie gesalf nie, maar eerder met God se heilige gees (Matteus 3:16). As Jehovah se uitverkore Gesalfde word Jesus tereg die Messias, of Christus, genoem.—Lukas 4:18.