’n Vroeë uitgewer bevorder die Bybel
HANDGESKREWE boeke en boekrolle het ’n geskiedenis van duisende jare. Maar gedrukte boeke is nie so oud nie. Die eerste gedrukte boeke waarvan ons weet, is in 868 HJ in China vervaardig met behulp van gesnede houtblokke wat gebruik is om die afdrukke te maak. Omstreeks 1455, in Duitsland, het Johannes Gutenberg los metaalletters ontwikkel en die eerste Bybel in Latyn gedruk.
Dit is egter eers ’n paar jaar later, nadat uitgewery ’n gevestigde bedryf geword het, dat Bybels en ander boeke werklik op groot skaal versprei is. Neurenberg het die middelpunt van die Duitse uitgewersbedryf geword, en Anton Koberger, ’n inwoner van daardie stad, was moontlik die eerste grootskaalse, internasionale drukker en uitgewer van Bybels.
Mense van alle kulture is baie verskuldig aan die vroeë Bybeluitgewers, insluitende Anton Koberger. Kom ons beskou Koberger en sy werk dus van naderby.
“Die sorg wat bestee is aan een boek—die Bybel”
Koberger het in 1470 Neurenberg se eerste drukkery geopen. Toe sy firma op sy hoogtepunt was, was daar 24 drukperse gelyktydig in werking met 100 drukkers, vakmanne en ander werkers in diens in Basel, Straatsburg, Lyon en ander Europese stede. Koberger het Middeleeuse Latynse geskrifte en baie van die wetenskaplike literatuur van sy dag uitgegee. Gedurende sy loopbaan het hy 236 afsonderlike werke vervaardig. Party het uit honderde bladsye bestaan wat almal een vir een op handperse gedruk is.
Weens Koberger se hoëgehaltelettertipes het sy boeke beroemd geword vir hulle prag en leesbaarheid. “Koberger het altyd daarop aangedring dat pasgegote, skerp gedefinieerde lettertipes gebruik word”, skryf die geskiedkundige Alfred Börckel. “Hy het nie toegelaat dat geslyte letters gebruik word nie.” Verder het baie van Koberger se boeke en Bybels gedetailleerde houtdrukprente bevat.
Van die begin tot die einde van Koberger se loopbaan word “die sorg wat bestee is aan een boek—die Bybel—deurgaans gesien”, het sy biograaf, Oscar Hase, geskryf. Koberger en sy kollegas het groot moeite gedoen om die akkuraatste Bybeltekste wat beskikbaar was, te verkry. Dit kon nie ’n maklike taak gewees het nie, aangesien baie perkamentmanuskripte die kosbare skatte was van spesifieke kloosters en net ’n kort rukkie—indien ooit—uitgeleen is sodat afskrifte gemaak kon word.
Latynse en Duitse Bybels
Koberger het 15 afsonderlike oplae van die Biblia Latina (Latynse Bybel) gedruk, waarvan die eerste uitgawe in 1475 verskyn het. Party uitgawes het afbeeldings van Noag se ark, die Tien Gebooie en Salomo se tempel bevat. In 1483 het Koberger sy Biblia Germanica (Duitse Bybel) gedruk, met ’n oplaag van ongeveer 1 500—’n groot aantal vir daardie tyd. Hierdie Bybel het meer as 100 houtdrukprente bevat om die leser se belangstelling te prikkel, die teks te illustreer en diegene wat nie kan lees nie, aan bekende Bybelverhale te herinner. Die prente in hierdie Bybel het latere Bybelillustreerders grootliks beïnvloed, veral in die geval van Duitse Bybels.
Hoewel Koberger se Duitse Bybel van 1483 gewild geword het, was dit op die ou end die enigste Duitse Bybel wat Koberger ooit uitgegee het. Al het sy redakteurs die bewoording noukeurig gewysig om met die kerkgoedgekeurde Latynse Vulgaat ooreen te stem, was sy weergawe gebaseer op ’n 14de-eeuse Waldensiese vertaling waarop daar ’n verbod was.a Die volgende jaar het pous Innocentius VIII stappe gedoen om die Waldensiese gemeenskappe te vernietig. Daarna het die kerk se teenstand teen Bybels in volkstale bly toeneem. Op 22 Maart 1485 het die aartsbiskop Berthold van Mainz, Duitsland, ’n edik uitgevaardig wat die vertaling van die Bybel in Duits veroordeel het. Op 4 Januarie die volgende jaar het Berthold die edik hernieu. In daardie vyandige atmosfeer het Koberger dit nooit weer gewaag om die Bybel in Duits te druk nie.
Anton Koberger se werk was egter nie tevergeefs nie. Hy het die voortou daarin geneem om die nuutontwikkelde drukkuns te gebruik om baie verskillende soorte boeke meer bekostigbaar en meer bekombaar in Europa te maak. Koberger se werk het dus gehelp om die Bybel in die hande van die gewone mense te kry.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Die Waldense—van kettery tot Protestantisme”, in Die Wagtoring van 15 Maart 2002.
[Prente op bladsy 26]
Van links na regs: Houtdrukprent van Daniël in die leeukuil; Beginletter met Bladgoud versier; skerp gedefinieerde lettertipes
[Prent op bladsy 26]
Koberger
[Prente op bladsy 26]
Detail van Koberger se Latynse en Duitse Bybels, met gekleurde versierings en kommentaar op Genesis 1:1
[Foto-erkennings op bladsy 26]
Al die Bybelfoto’s: Courtesy American Bible Society Library; Koberger: Mit freundlicher Genehmigung der Linotype GmbH