Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 1/1 bl. 29
  • ’n Oos-Asiatiese man in die eertydse Italië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Oos-Asiatiese man in die eertydse Italië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ver oos kon sendelinge gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Deel 6—Die sesde wêreldmoondheid—Rome
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Rome in al sy gedaantes
    Ontwaak!—2001
  • Waar het die instruksies vandaan gekom?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 1/1 bl. 29

’n Oos-Asiatiese man in die eertydse Italië

HOE het ’n man van Oos-Asiatiese afkoms 2 000 jaar gelede in die eertydse Romeinse Ryk beland? Dit is die vraag waarvoor argeoloë te staan gekom het nadat hulle in 2009 ’n fassinerende vonds in Suid-Italië gemaak het.

Die opgrawingsterrein was ’n ou Romeinse begraafplaas by Vagnari, 60 kilometer wes van Bari. Vyf-en-sewentig geraamtes is opgegrawe. Toetse op die beendere het aangedui dat die meeste van die mense daar naby gebore is. Maar die geraamte van een man het die navorsers verbaas. Ontleding van sy mitochondriale DNS het getoon dat hy aan sy moeder se kant van Oos-Asiatiese afkoms was.a Sy oorskot dateer uit die eerste of tweede eeu HJ. Volgens ’n verslag oor die vonds “is dit blykbaar die eerste keer dat ’n geraamte van Oos-Asiatiese afkoms in die Romeinse Ryk gevind is”. Wie was hierdie man dan?

“Met die eerste oogopslag ontstaan die versoeking om hierdie man te verbind met die syhandel wat tussen China en Rome gefloreer het”, sê dieselfde verslag. Daar word egter gemeen dat hierdie handel deur middel van ’n reeks tussenhandelaars, of middelmanne, geskied het sodat niemand in werklikheid die hele reis van 8 000 kilometer tussen China en Italië afgelê het nie.

Wat kan ons leer uit die plek waar die oorskot gevind is? In die ou tyd was Vagnari ’n keiserlike landgoed waar die arbeiders yster gesmelt en kleiteëls gemaak het. Baie van die werkers daar was slawe, en hierdie Oosterling waarskynlik ook. Trouens, hy is nie soos ’n ryk man begrawe nie. Sy oorblywende besittings, wat saam met hom begrawe is, het uit ’n enkele pot bestaan, en ’n ander lyk is bo-op syne begrawe.

Waarom is hierdie vonds interessant? Die verspreiding van die Christelike boodskap in die eerste eeu HJ het afgehang van hoe ver die mense van die ou tyd gereis het. Die Bybel sê dat die goeie nuus ná Pinkster van 33 HJ wyd en syd uitgedra is deur buitelandse besoekers aan Jerusalem (Handelinge 2:1-12, 37-41). Op sy allerminste dui hierdie geraamte daarop dat daar wel mense was wat omstreeks daardie tyd van Oos-Asië na die Middellandse See-gebied gereis het.b

[Voetnote]

a Mitochondriale DNS-ontleding kan nie inligting oor die afkoms van die vader se kant voorsien nie.

b Daar is ook bewyse dat Westerlinge na Oos-Asië gereis het. Sien die artikel “Hoe ver oos kon sendelinge gaan?” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2009.

[Kaart op bladsy 29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ROME

Vagnari

Middellandse See

OOS-ASIË

STILLE OSEAAN

[Prent op bladsy 29]

Die Geraamte van ’n Oos-Asiatiese man wat in ’n ou Romeinse Begraafplaas opgegrawe is

[Erkenning]

© Su concessione del Ministero per i Beni e le Attività Culturali-Direzione Regionale per i Beni Culturali e Paesaggistici della Puglia-Soprintendenza per i Beni Archeologici della Puglia

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel