Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w21 Maart bl. 2-7
  • Jong manne – Hoe kan julle ander se vertroue wen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jong manne – Hoe kan julle ander se vertroue wen?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • LEER BY KONING DAWID
  • LEER BY KONING ASA
  • LEER BY KONING JOSAFAT
  • MAAK JOU HEMELSE VADER TROTS
  • “Daar is ’n beloning vir julle werk”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Dien Jehovah met ’n volkome hart!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Vra jy: “Waar is Jehovah?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Gebruik jou tyd wyslik gedurende ’n tyd van vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
w21 Maart bl. 2-7

STUDIEARTIKEL 9

Jong manne – Hoe kan julle ander se vertroue wen?

“In pragtige heiligheid . . . kom u geselskap van jong manne net soos doudruppels.” – PS. 110:3.

LIED 39 Maak ’n goeie naam by God

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Hoe help jong broers die gemeente vandag?

JONG broers, julle kan die gemeente baie help. Baie van julle is sterk en vol energie (Spr. 20:29). Julle sien dalk uit daarna om as bedieningsknegte aangestel te word. Maar dalk voel julle dat ander dink dat julle te jonk is of nog nie gereed is om belangrike toewysings te kry nie. Maar al is julle jonk, is daar dinge wat julle nou kan doen om die vertroue en respek van ander in julle gemeente te kry.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel gaan ons fokus op die lewe van koning Dawid. Ons gaan ook kortliks kyk na ’n paar dinge wat met Asa en Josafat, twee konings van Juda, gebeur het. Ons gaan kyk na die soort uitdagings wat hierdie drie manne gehad het, hoe hulle gereageer het en wat jong broers uit hulle voorbeelde kan leer.

LEER BY KONING DAWID

3. Wat is een manier hoe jong mense ouer mense in die gemeente kan help?

3 Toe Dawid jonk was, het hy vaardighede aangeleer wat ander waardeer het. Dit is duidelik dat hy ’n goeie vriendskap met Jehovah gehad het. Hy het ook hard gewerk om ’n goeie musikant te word. En hy het hierdie vaardigheid gebruik om Saul, God se aangestelde koning, te help (1 Sam. 16:16, 23). Jong manne, het julle ’n vaardigheid wat ander in die gemeente kan help? Baie van julle het. Byvoorbeeld, party ouer persone waardeer dit wanneer ander vir hulle wys hoe om hulle tablette en ander elektroniese toestelle vir persoonlike studie en vir die vergaderinge te gebruik. Omdat julle baie omtrent hierdie dinge weet, kan julle ouer persone hiermee help.

Jong Dawid, die toekomstige koning van Israel, maak gereed om ’n kudde skape teen ’n beer te beskerm.

Toe Dawid na sy pa se kudde omgesien het, was hy betroubaar en verantwoordelik en het hy die skape selfs teen ’n beer beskerm (Sien paragraaf 4)

4. Net soos Dawid, watter eienskappe moet jong broers aanleer? (Sien prent op voorblad.)

4 Dawid het in sy daaglikse lewe gewys dat hy verantwoordelik en betroubaar is. Byvoorbeeld, toe hy ’n jong man was, het hy hard gewerk om vir sy pa se skape te sorg. Dit was eintlik ’n gevaarlike toewysing. Dawid het later vir koning Saul gesê: “U kneg het ’n herder van sy pa se kleinvee geword, en eenkeer het ’n leeu ’n skaap uit die trop weggedra. Later het ’n beer dieselfde gedoen. Ek het agter hulle aan gegaan en hulle neergeslaan en die skaap uit hulle bek gered” (1 Sam. 17:34, 35). Dawid het geweet dat hy na die skape moes omsien, en hy was dapper en het geveg om hulle te beskerm. Jong broers kan Dawid navolg deur hulle bes te doen om enige werk wat hulle in die gemeente kry, goed te doen.

5. Wat is volgens Psalm 25:14 die belangrikste ding wat jong broers kan doen?

5 Toe Dawid jonk was, het hy ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah opgebou. Daardie verhouding was belangriker as Dawid se moed of sy vaardigheid as ’n musikant. Jehovah was nie net Dawid se God nie, maar ook sy Vriend – sy beste Vriend. (Lees Psalm 25:14.) Jong broers, die belangrikste ding wat julle kan doen, is om julle verhouding met julle hemelse Vader te versterk. Dan sal julle dalk nog voorregte in die gemeente kry.

6. Wat het party mense van Dawid gedink?

6 Een probleem wat Dawid gehad het, was dat party mense gedink het dat hy te jonk was of dat hy onverantwoordelik was. Byvoorbeeld, toe Dawid gesê het dat hy teen Goliat sal veg, het koning Saul hom probeer keer deur te sê: “Jy is maar net ’n seun” (1 Sam. 17:31-33). Vroeër het Dawid se eie broer gesê dat hy onverantwoordelik is (1 Sam. 17:26-30). Maar Jehovah het nie gedink dat Dawid te jonk is of onverantwoordelik is nie. Hy het die jong man geken. En Dawid kon Goliat doodmaak omdat hy op sy Vriend, Jehovah, vertrou het. – 1 Sam. 17:45, 48-51.

7. Wat kan jy uit een verhaal oor Dawid leer?

7 Wat kan jy leer uit wat met Dawid gebeur het? Ons leer dat ons geduldig moet wees. Dit sal dalk tyd neem vir persone wat jou as ’n kind geken het, om jou nou as ’n jong volwassene te sien. Maar jy kan seker wees dat Jehovah nie op jou uiterlike fokus nie. Hy ken jou en hy weet wat jy kan doen (1 Sam. 16:7). Versterk jou verhouding met God. Dawid het dit gedoen deur na die dinge te kyk wat Jehovah gemaak het. Dawid het nagedink oor wat hierdie dinge hom van die Skepper leer (Ps. 8:3, 4; 139:14; Rom. 1:20). Nog iets wat jy kan doen, is om Jehovah te vra om jou die krag te gee wat jy nodig het. Byvoorbeeld, spot party van jou skoolmaats jou omdat jy een van Jehovah se Getuies is? As dit gebeur, vra Jehovah om jou te help om hierdie probleem te hanteer. En gebruik die raad wat in sy Woord en in ons Bybelpublikasies en -video’s is. Elke keer wanneer jy sien hoe Jehovah jou met ’n probleem help, sal jou vertroue in hom sterker word. En as ander sien dat jy op Jehovah vertrou, sal jy hulle vertroue wen.

’n Jong broer kry ’n ouer suster se rolstoel reg terwyl sy ma die suster help om uit die kar te klim.

Jong broers kan ander op baie maniere nederig help (Sien paragraaf 8-9)

8-9. Wat het Dawid gehelp om geduldig te wag totdat hy koning geword het, en wat kan jong broers uit sy voorbeeld leer?

8 Dink aan nog ’n uitdaging wat Dawid gehad het. Nadat Dawid as koning gesalf was, moes hy baie jare wag voordat hy as koning van Juda kon regeer (1 Sam. 16:13; 2 Sam. 2:3, 4). Wat het hom gehelp om in hierdie tyd geduldig te wag? Dawid het nie mismoedig geword nie. Hy het eerder gefokus op wat hy kon doen. Byvoorbeeld, terwyl Dawid as ’n vlugteling in die gebied van die Filistyne gebly het, het hy hierdie geleentheid gebruik om teen Israel se vyande te veg. Deur dit te doen, het hy die grense van die gebied van Juda beskerm. – 1 Sam. 27:1-12.

9 Wat kan jong broers uit Dawid se voorbeeld leer? Gebruik die geleenthede wat jy het om jou broers te dien. Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Ricardo.b Van sy tienerjare af wou hy baie graag ’n gewone pionier wees. Maar hy was nog nie gereed nie. Eerder as om op te gee of bitter te word, het Ricardo meer in die bediening begin doen. Hy sê: “As ek terugdink, kan ek sien dat dit vir my goed was om die nodige vordering te maak. Ek het seker gemaak dat ek na elke persoon teruggaan wat belanggestel het en ek het vir elke besoek voorberei. Ek het selfs my eerste Bybelstudie gehou. Hoe meer ervaring ek opgedoen het, hoe meer selfvertroue het ek gekry.” Ricardo dien nou as ’n baie goeie gewone pionier en as ’n bedieningskneg.

10. Wat het Dawid een keer gedoen voordat hy ’n belangrike besluit gemaak het?

10 Dink aan iets anders wat met Dawid gebeur het. Gedurende die tyd toe hy en sy manne vlugtelinge was, het hulle hulle families agtergelaat om te gaan veg. Terwyl die manne weg was, het hulle vyande hulle huise gestroop en hulle families gevange geneem. Dawid kon gedink het dat omdat hy ’n ervare vegter was, hy maklik aan ’n goeie plan kon dink om hulle te red. Maar Dawid het Jehovah gevra om hom te help. Met die hulp van ’n priester met die naam Abjatar, het Dawid vir Jehovah gevra: “Moet ek hierdie rowerbende agternasit?” Jehovah het vir Dawid gesê dat hy dit moet doen en het hom verseker dat hy suksesvol sou wees (1 Sam. 30:7-10). Wat kan jy hieruit leer?

Dieselfde jong broer is bly om raad by ’n ouerman te aanvaar.

Jong broers moet die ouermanne vra vir raad (Sien paragraaf 11)

11. Wat kan jy doen voordat jy besluite maak?

11 Vra ander vir raad voordat jy besluite maak. Praat met jou ouers. Jy kan ook goeie raad kry deur met ervare ouermanne te praat. Jehovah vertrou hierdie aangestelde manne, en jy kan ook. Jehovah sien hulle as “gawes” aan die gemeente (Ef. 4:8). Jy sal goeie besluite maak as jy hulle geloof navolg en na die wyse voorstelle luister wat hulle vir jou gee. Kom ons kyk nou wat ons by koning Asa kan leer.

LEER BY KONING ASA

12. Watter eienskappe het koning Asa gehad toe hy begin regeer het?

12 As ’n jong man, was koning Asa nederig en dapper. Byvoorbeeld, nadat sy pa, Abia, gesterf het, het Asa koning geword. Hy het toe begin om al die afgode uit die land te verwyder. Hy het ook “vir Juda gesê dat hulle Jehovah, die God van hulle voorvaders, moet dien en die Wet en die gebod moet gehoorsaam” (2 Kron. 14:1-7). En toe Serag die Etiopiër Juda met 1 000 000 soldate aangeval het, het Asa vir Jehovah gevra om hom te help. Hy het gesê: “O Jehovah, dit maak nie vir u saak of dié aan wie u hulp verleen, sterk of swak is nie. Help ons, Jehovah ons God, want ons vertrou op u.” Hierdie pragtige woorde wys dat Asa geglo het dat Jehovah hom en sy volk sou red. Asa het op sy hemelse Vader vertrou, en “Jehovah [het] vir Asa en Juda die oorwinning oor die Etiopiërs gegee”. – 2 Kron. 14:8-12.   

13. Wat het later met Asa gebeur, en hoekom?

13 Dit moes Asa sekerlik baie bang gemaak het toe 1 000 000 soldate gekom het om teen hom te veg. Maar omdat hy op Jehovah vertrou het, was hy suksesvol. Maar ongelukkig het Asa nie op Jehovah vertrou toe ’n kleiner leërmag hom wou aanval nie. Toe die goddelose koning Baäsa van Israel Asa gedreig het, het hy die koning van Sirië gevra om hom te help. Deur middel van sy profeet Hanani het Jehovah vir Asa gesê: “Omdat u op die koning van Sirië vertrou het en nie op Jehovah u God vertrou het nie, het u die kans om die leërmag van die koning van Sirië te verslaan, deur u vingers laat glip.” Van daardie tyd af was daar heeltyd oorloë teen Asa (2 Kron. 16:7, 9; 1 Kon. 15:32). Wat is die les?

14. Hoe kan jy op Jehovah vertrou, en wat sal jy volgens 1 Timoteus 4:12 word as jy dit doen?

14 Bly nederig en hou aan om op Jehovah te vertrou. Toe jy gedoop is, het jy gewys dat jy sterk geloof het en dat jy op Jehovah vertrou. En Jehovah was baie bly om jou die voorreg te gee om deel van sy familie te word. Maar dit is belangrik dat jy aanhou om op Jehovah te vertrou. Dit lyk dalk of dit maklik is om op Jehovah te vertrou wanneer jy groot besluite in jou lewe moet maak. Maar wat van ander tye? Dit is baie belangrik dat jy op Jehovah vertrou wanneer jy besluite maak, selfs wanneer dit kom by vermaak, werk en jou doelwitte. Moenie op jou eie wysheid vertrou nie. Soek eerder na Bybelbeginsels wat jou in jou situasie kan help en pas dit dan toe (Spr. 3:5, 6). As jy dit doen, sal jy Jehovah gelukkig maak en sal jy die respek van ander in jou gemeente wen. – Lees 1 Timoteus 4:12.

LEER BY KONING JOSAFAT

15. Watter foute het koning Josafat gemaak, volgens 2 Kronieke 18:1-3; 19:2?

15 Jy is natuurlik onvolmaak, net soos ons almal, en jy sal soms foute maak. Maar dit moet jou nie keer om jou bes in Jehovah se diens te doen nie. Kyk na die voorbeeld van koning Josafat. Hy het baie goeie eienskappe gehad. As ’n jong man “het [hy] die God van sy Vader gedien en sy gebod gevolg”. Hy het ook hoë amptenare gestuur om die mense in die stede van Juda oor Jehovah te leer (2 Kron. 17:4, 7). Maar Josafat het soms slegte besluite gemaak. As gevolg van een van hierdie besluite, het Josafat streng raad by een van Jehovah se verteenwoordigers gekry. (Lees 2 Kronieke 18:1-3; 19:2.) Watter les kan jy uit daardie verhaal leer?

Die jong broer help om die Koninkryksaal skoon te maak. Die ouerman wat hom vroeër raad gegee het, staan ’n entjie weg en hou hom dop.

Jong broers wat hard werk en betroubaar is, wen die vertroue van ander (Sien paragraaf 16)

16. Wat kan jy uit Rajeev se voorbeeld leer?

16 Aanvaar raad en pas dit toe. Soos baie jong manne, sukkel jy dalk om Jehovah se diens die belangrikste ding in jou lewe te maak. Moenie mismoedig wees nie. Kyk na die ondervinding van ’n jong broer met die naam Rajeev. Rajeev sê oor sy tienerjare: “Ek het soms nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie. Net soos baie ander jongmense, het ek meer belanggestel in sport en om my lewe te geniet as om vergaderinge toe te gaan of om velddiens te doen.” Wat het Rajeev gehelp? ’n Liefdevolle ouerman het hom raad gegee. Rajeev vertel: “Hy het my gehelp om te dink aan die beginsel in 1 Timoteus 4:8.” Rajeev was nederig en het die raad toegepas en het gedink aan wat die belangrikste in sy lewe was. Hy sê: “Ek het besluit om Jehovah se diens eerste in my lewe te stel.” Wat was die resultaat? Rajeev verduidelik: “’n Paar jaar nadat ek hierdie raad gekry het, het ek as ’n bedieningskneg begin dien.”

MAAK JOU HEMELSE VADER TROTS

17. Hoe voel ouer persone oor die jong manne wat Jehovah dien?

17 Ouer persone waardeer die jong manne wat Jehovah “skouer aan skouer” saam met hulle dien! (Sef 3:9). Hulle geniet julle ywerige gees en die entoesiastiese manier waarop julle die werk doen wat julle gekry het. Hulle is baie lief vir julle. – 1 Joh. 2:14.

18. Hoe voel Jehovah oor die jong manne wat hom dien, volgens Spreuke 27:11?

18 Jong broers, moet nooit vergeet dat Jehovah julle liefhet en julle vertrou nie. Hy het gesê dat daar in die laaste dae ’n leërmag jong manne sal wees wat hulle gewillig sal aanbied (Ps 110:1-3). Hy weet dat julle hom liefhet en julle beste wil gee in julle diens aan hom. So wees geduldig met ander en wees geduldig met julleself. Wanneer julle foute maak, aanvaar die opleiding en dissipline wat julle kry en besef dat dit van Jehovah kom (Heb. 12:6). Werk hard in enige toewysing wat julle kry. En nog belangriker, maak julle hemelse Vader trots in alles wat julle doen. – Lees Spreuke 27:11.

WAT HET JY GELEER BY . . . 

  • Dawid?

  • Asa?

  • Josafat?

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

a Wanneer jong broers se vriendskap met Jehovah sterker word, wil hulle meer vir hom doen. Om as bedieningsknegte te kwalifiseer, moet hulle hard werk om die respek van ander in die gemeente te kry en te behou. Wat kan jong broers doen om die respek van ander te kry?

b Party name is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel