STUDIEARTIKEL 32
LIED 38 Hy maak jou sterk
Hoe Jehovah ons help om te volhard
“Die God van alle onverdiende goedheid . . . sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak, hy sal julle ’n stewige fondament gee.” – 1 PET. 5:10.
FOKUS
Die voorsienings wat Jehovah beskikbaar gemaak het om ons te help om te volhard en hoe ons elkeen goed kan gebruik.
1. Hoekom het ons volharding nodig, en watter hulp het ons? (1 Petrus 5:10)
IN HIERDIE moeilike laaste dae het Jehovah se volk volharding nodig. Party ly aan ’n kroniese siekte. Ander gaan deur ’n moeilike tyd omdat iemand vir wie hulle lief is, gesterf het. En ander word teëgestaan, of dit nou deur familielede of deur regeringsamptenare is (Matt. 10:18, 36, 37). Wees verseker dat Jehovah jou kan help om te volhard, maak nie saak watter probleme jy deurmaak nie. – Lees 1 Petrus 5:10.
2. Waar kom ons vermoë om as Christene te volhard vandaan?
2 Volharding is die vermoë om uit te hou en om hoopvol te bly ten spyte van struikelblokke, vervolging, moeilike tye of versoekings. Die vermoë om te volhard as Christene kom nie van ons eie krag nie; dit kom eerder van Jehovah, die een wat ons “krag wat bo die normale is,” kan gee (2 Kor. 4:7). In hierdie artikel sal ons vier voorsienings bespreek wat Jehovah beskikbaar gemaak het om ons te help om te volhard. Ons sal ook sien hoe ons goed gebruik kan maak van elke voorsiening.
GEBED
3. Hoekom kan ons sê dat gebed ’n wonderwerk is?
3 Jehovah het ’n wonderdadige voorsiening gemaak wat ons kan help om te volhard. Hy het dit vir ons moontlik gemaak om met hom te kommunikeer ten spyte van ons sondige toestand (Heb. 4:16). Dink hieraan: Ons kan enige tyd en oor enige saak tot Jehovah bid. Hy kan ons in enige taal en van enige plek af hoor, selfs as ons afgesonderd of in die tronk is (Jona 2:1, 2; Hand. 16:25, 26). As ons so angstig word dat ons nie die woorde kan vind om te sê hoe ons voel nie, kan Jehovah nog steeds verstaan wat ons wil sê (Rom. 8:26, 27). Gebed is regtig ’n wonderwerk!
4. Hoekom kan ons sê dat ons gebede vir volharding in ooreenstemming met Jehovah se wil is?
4 Jehovah verseker ons in sy Woord dat “hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Joh. 5:14). Kan ons Jehovah vra om ons te help om te volhard? Ja! Dit is in ooreenstemming met sy wil. Hoekom kan ons so sê? Wanneer ons moeilike tye verduur, gee ons Jehovah ’n antwoord wat hy aan die een wat hom uittart, Satan die Duiwel, kan gee (Spr. 27:11). Buiten dit sê die Bybel dat Jehovah gretig is “om dié te ondersteun wat met hulle hele hart op hom vertrou” (2 Kron. 16:9). So ons kan seker wees dat Jehovah die krag en die begeerte het om ons te help om te volhard. – Jes. 30:18; 41:10; Luk. 11:13.
5. Hoe kan gebed ons innerlike vrede gee? (Jesaja 26:3)
5 Die Bybel sê dat “die vrede van God, wat alle denke oortref, [ons] harte en [ons] verstande [sal] beskerm” wanneer ons ernstig bid oor ons bekommernisse (Fil. 4:7). Dink aan wat dit beteken. Mense wat Jehovah nie dien nie, gaan deur moeilike tye, en hulle probeer dalk om innerlike vrede op verskillende maniere te verkry. Byvoorbeeld, party gebruik ’n vorm van meditasie om die verstand leeg te maak van alle gedagtes, insluitende angstige gedagtes. Dit is geestelik gevaarlik om die verstand leeg te maak. (Vergelyk Matteus 12:43-45.) Om die waarheid te sê, die vrede wat Jehovah voorsien wanneer ons bid, is ver verhewe bo enige vorm van vrede wat iemand dalk sal verkry deur middel van sulke meditasie. Wanneer ons tot Jehovah bid, wys ons dat ons ten volle op hom vertrou en gee hy ons “blywende vrede”. (Lees Jesaja 26:3.) Een manier hoe Jehovah dit doen, is deur ons te help om die gerusstellende waarhede wat ons uit sy Woord geleer het, te onthou. Daardie waarhede stel ons verstand en hart gerus omdat ons weet dat Jehovah vir ons omgee en wil hê dat ons suksesvol moet wees. – Ps. 62:1, 2.
6. Hoe kan jy ten volle gebruik maak van die voorsiening van gebed? (Sien ook prent.)
6 Wat jy kan doen. Terwyl jy ’n toets van geloof verduur, “gee jou las vir Jehovah” en bid vir sy vrede (Ps. 55:22). Bid ook vir die wysheid wat jy nodig het sodat jy jou uitdaging kan hanteer (Spr. 2:10, 11). Saam met jou smeekgebede vir volharding, moenie vergeet om Jehovah in gebed te dank nie (Fil. 4:6). Soek na tekens dat Jehovah jou gedurende jou moeilike tyd ondersteun, en bedank hom vir sy ondersteuning. Moenie toelaat dat jou moeilike tyd jou verblind vir die seëninge wat jy alreeds ontvang het nie. – Ps. 16:5, 6.
Wanneer jy bid, praat jy met Jehovah. Wanneer jy die Bybel lees, praat Jehovah met jou (Sien paragraaf 6)b
GOD SE WOORD
7. Hoe kan dit ons help om te volhard wanneer ons die Bybel studeer?
7 Jehovah het ons sy Woord gegee om ons te help om te volhard. Die Bybel bevat baie verse wat ons verseker van Jehovah se ondersteuning. Kyk na net een voorbeeld. Matteus 6:8 sê: “Julle Vader weet wat julle nodig het selfs nog voordat julle hom vra.” Jesus het daardie woorde gesê, en hy ken Jehovah baie beter as enige iemand anders. Daarom het ons geen rede om te twyfel dat Jehovah in ons behoeftes belangstel wanneer ons moeilike tye deurmaak nie. Die Bybel bevat baie soortgelyke gedagtes wat ons meer vasbeslote kan maak om te volhard. – Ps. 94:19.
8. (a) Gee ’n voorbeeld van ’n Bybelbeginsel wat ons kan help om te volhard. (b) Wat kan ons help om Bybelbeginsels te onthou wanneer ons dit nodig het?
8 Bybelbeginsels kan ons help om te volhard. Dit bevat praktiese wysheid wat ons kan help om goeie besluite te maak (Spr. 2:6, 7). Byvoorbeeld, die Bybel moedig ons aan om een dag op ’n slag te neem eerder as om te bekommerd te wees oor wat môre dalk of dalk nie sal bring nie (Matt. 6:34). As ons in die gewoonte is om die Bybel te lees en om daaroor na te dink, sal ons meer geneig wees om die beginsels wat ons nodig het, te onthou wanneer ons dit nodig het.
9. Hoe versterk Bybelverslae ons vertroue in Jehovah se hulp?
9 Die Bybel bevat ook ware verhale van gewone mense wat op Jehovah vertrou het en sy ondersteuning ontvang het (Heb. 11:32-34; Jak. 5:17). Wanneer ons oor sulke verslae nadink, versterk ons ons vertroue dat Jehovah “ons skuilplek en sterkte [is], ’n hulp wat maklik gevind kan word in moeilike tye” (Ps. 46:1). Wanneer ons dink aan die getroue weg van Jehovah se knegte in die verlede, word ons beweeg om hulle geloof en hulle volharding na te volg. – Jak. 5:10, 11.
10. Hoe kan jy ten volle gebruik maak van die voorsiening van God se Woord?
10 Wat jy kan doen. Lees die Bybel elke dag, en hou ’n lys verse wat jou veral help. Baie het ook gevind dat die dagteks ’n goeie manier is om die dag met ’n aanmoedigende gedagte uit die Bybel te begin. ’n Suster met die naam Mariea het gesien hoe waar dit is toe albei haar ouers met kanker gediagnoseer is. Wat het haar gehelp om te volhard terwyl sy vir hulle gesorg het gedurende hulle laaste maande? “Ek het elke oggend die dagteks in die Ondersoek die Skrif elke dag gelees en daaroor nagedink,” sê sy. “Hierdie roetine het my gehelp om my verstand te vul met ’n skriftuurlike gedagte wat my gehelp het om te fokus op iets groters as ek en die moeilike situasie waardeur ek besig was om te gaan.” – Ps. 61:2.
MEDEGELOWIGES
11. Hoekom is dit aanmoedigend om te weet dat ons nie alleen is terwyl ons moeilike tye verduur nie?
11 Jehovah voorsien ons van ’n Christenbroederskap om ons te help om te volhard. Net om te weet dat “die hele gemeenskap van [ons] broers . . . op dieselfde manier ly”, verseker ons dat ons nie alleen is nie (1 Pet. 5:9). Ja, ongeag watter situasie ons deurmaak, ons kan seker wees dat ander al iets soortgelyks deurgemaak het, en hulle het volhard. Dit beteken dat ons ook kan volhard! – Hand. 14:22.
12. Hoe kan medegelowiges ons help, en wat kan ons vir hulle doen? (2 Korintiërs 1:3, 4)
12 Terwyl ons volhard, kan medegelowiges ons aanmoedig. Die apostel Paulus het gevind dat dit waar is. Hy het dikwels waardering uitgespreek teenoor dié wat hom gehelp het terwyl hy onder huisarres was en het hulle by die naam genoem. Hulle het Paulus vertroos, aangemoedig en praktiese hulp gegee (Fil. 2:25, 29, 30; Kol. 4:10, 11). Vandag ondervind ons dalk iets soortgelyks. Wanneer ons hulp nodig het om te volhard, is ons broers en susters daar vir ons; en wanneer hulle ondersteuning nodig het, is ons daar vir hulle. – Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.
13. Wat het ’n suster met die naam Maja gehelp om te volhard?
13 Die broederskap het ’n suster in Rusland met die naam Maja baie aangemoedig. Haar huis is in 2020 deursoek, en sy moes later voor die hof verskyn omdat sy haar geloof met ander gedeel het. “Gedurende ’n tyd toe ek emosioneel uitgeput was, het die broers en susters my gebel en vir my geskryf en my verseker van hulle liefde,” sê Maja. “Ek het altyd geweet dat ek ’n groot, liefdevolle gesin het. Maar sedert 2020 is ek veral hiervan bewus.”
14. Hoe kan ons baat vind by die ondersteuning van medegelowiges terwyl ons volhard? (Sien ook prent.)
14 Wat jy kan doen. Terwyl jy volhard, bly na aan jou Christenbroers en -susters. Moenie huiwer om die ouermanne vir hulp te vra nie. Hulle kan “’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees” (Jes. 32:2). Onthou ook dat jou mede-Christene ook moeilike tye verduur. Wanneer jy iets liefdevols vir iemand doen wat dit nodig het, sal dit jou help om gebalanseerd en positief te bly terwyl jy jou eie moeilike tyd verduur. – Hand. 20:35.
Bly na aan jou Christenbroers en -susters (Sien paragraaf 14)c
ONS HOOP
15. Wat het hoop vir getroues, insluitende Jesus, gedoen? (Hebreërs 12:2)
15 Jehovah het ons ’n vaste hoop gegee om ons te help om te volhard (Rom. 15:13). Dink aan hoe hoop Jesus gehelp het om die moeilikste dag van sy aardse lewe te verduur. (Lees Hebreërs 12:2.) Jesus het geweet dat sy getrouheid sou bydra tot die regverdiging van Jehovah se naam. Jesus het ook daarna uitgesien om weer saam met sy Vader te wees en met verloop van tyd saam met sy broers in die hemelse Koninkryk te dien. Net so help ons hoop om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe, ons om enige moeilike tye te verduur wat Satan se wêreld oor ons bring.
16. Hoe het hoop ’n suster gehelp om te volhard, en wat leer jy uit wat sy gesê het?
16 Kyk hoe die Koninkrykshoop ’n suster in Rusland met die naam Alla gehelp het. Haar man is gearresteer en in aanhouding geplaas. Toe dit gebeur, het Alla gesê: “Om oor ons toekomstige hoop te bid en daaroor na te dink, help my om nie te mismoedig te word nie. Ek verstaan dat dit nie die einde is nie. Jehovah sal oorwin, en ons sal ook.”
17. Hoe kan ons ons waardering wys vir ons Bybelse hoop? (Sien ook prent.)
17 Wat jy kan doen. Neem tyd om te dink oor die wonderlike toekoms wat Jehovah jou belowe het. Sien jouself in God se nuwe wêreld, en dink aan die seëninge wat ons sal hê. En enige moeilike tyd wat ons nou dalk deurmaak, duur net “’n kort rukkie en is lig” in vergelyking met die ewige lewe in die Paradys (2 Kor. 4:17). Doen ook wat jy kan om jou geloof met ander te deel. Dink net hoe dit vir hulle moet wees om die moeilike tye van Satan se wêreld te hanteer sonder om te weet wat God se doel vir die toekoms is. Jy kan selfs met ’n kort bespreking hulle belangstelling in ons Koninkrykshoop wek.
Neem tyd om te dink oor die wonderlike toekoms wat Jehovah jou belowe het (Sien paragraaf 17)d
18. Hoekom kan ons op Jehovah se beloftes vertrou?
18 Nadat Job verskeie moeilike tye suksesvol verduur het, het hy vir Jehovah gesê: “Nou weet ek dat u enigiets kan doen en dat niks wat u in gedagte het, vir u onmoontlik is nie” (Job 42:2). Job het geleer dat niks kan inmeng met die vervulling van Jehovah se doel vir die mens nie. Daardie feit kan ons versterk terwyl ons volhard. Om te illustreer, dink aan ’n siek vrou wat mismoedig is omdat sy al by baie dokters was, maar niemand kon haar genees nie. Maar dan vind sy ’n ervare en betroubare dokter wat die probleem identifiseer en verduidelik hoe hy haar siekte sal behandel. Sy voel onmiddellik verlig, al sal dit tyd neem om gesond te word. Sy kan nou volhard met die wete dat sy ’n helder hoop het – die hoop dat sy beter sal word. Net so help ons vertroue in ons hoop op die toekomstige Paradys ons om te volhard.
19. Wat het ons nodig om te volhard?
19 Soos ons gesien het, help Jehovah ons om ons moeilike tye te verduur deur middel van gebed, sy Woord, ons medegelowiges en ons hoop. As ons ten volle gebruik maak van hierdie voorsienings, sal Jehovah ons deur elke moeilike tyd wat ons dalk deurmaak, dra tot die dag dat die moeilike tye van Satan se wêreld weg is. – Fil. 4:13.
LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah
a Party name in hierdie artikel is verander.
b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Bejaarde broer volhard getrou, seisoen ná seisoen.
c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Bejaarde broer volhard getrou, seisoen ná seisoen.
d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Bejaarde broer volhard getrou, seisoen ná seisoen.