Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Deuteronomium 1:1-34:12
  • Deuteronomium

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deuteronomium
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Deuteronomium

DEUTERONOMIUM

1 Dit is wat Moses vir die hele Israel gesê het in die Jordaanstreek in die wildernis, op die woestynvlaktes oorkant Suf, tussen Paran, Tofel, Laban, Haʹserot en Di-Sahab. 2 (Dit neem 11 dae om van Horeb tot by Kaʹdes-Barneʹa+ met die pad van die berg Seïr te reis.) 3 In die 40ste jaar,+ in die 11de maand, op die eerste van die maand, het Moses vir die Israeliete alles vertel wat Jehovah hom beveel het om vir hulle te sê. 4 Dit was nadat hy Sihon,+ die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, en Og,+ die koning van Basan, wat in Asʹtarot gewoon het, in Edreʹï verslaan het.+ 5 In die Jordaanstreek, in die land Moab, het Moses die Wet begin verduidelik+ deur te sê:

6 “Jehovah ons God het vir ons by Horeb gesê: ‘Julle het lank genoeg in hierdie bergstreek+ gewoon. 7 Vertrek en gaan na die bergstreek van die Amoriete+ en na al die omliggende gebiede: die Aʹraba,+ die bergstreek, die Sjefeʹla, die Negeb en die seekus.+ Gaan na die land van die Kanaäniete. Gaan tot by die Liʹbanon-berge+ en die groot rivier, die Eufraatrivier.+ 8 Kyk, ek gee die land vir julle. Gaan in en neem die land in besit wat Jehovah aan julle vaders, aan Abraham, Isak+ en Jakob,+ met ’n eed belowe het om aan hulle en hulle nageslag* te gee.’+

9 “En ek het vir julle by daardie geleentheid gesê: ‘Ek kan julle nie alleen dra nie.+ 10 Jehovah julle God het julle laat vermeerder, en julle is vandag so baie soos die sterre van die hemel.+ 11 Mag Jehovah, die God van julle voorvaders, julle ’n duisend keer meer maak+ as wat julle is, en mag hy julle seën net soos hy julle belowe het.+ 12 Julle en julle probleme is ’n las en ’n vrag wat ek nie alleen kan dra nie.+ 13 Kies wyse, verstandige en ervare manne uit julle stamme, en ek sal hulle as hoofde oor julle aanstel.’+ 14 Julle het my geantwoord: ‘Wat u vir ons gesê het om te doen, is goed.’ 15 Toe het ek die hoofde van julle stamme geneem, wyse en ervare manne, en hulle as hoofde oor julle aangestel, hoofde oor 1 000, hoofde oor 100, hoofde oor 50, hoofde oor 10 en beamptes van julle stamme.+

16 “Toe het ek julle regters beveel: ‘Wanneer julle ’n saak tussen julle broers verhoor, moet julle met regverdigheid oordeel+ tussen ’n man en sy broer of ’n uitlander wat onder julle woon.+ 17 Julle mag nie partydig wees wanneer julle oordeel nie.+ Julle moet klein en groot op dieselfde manier behandel.+ Julle moenie deur mense geïntimideer word nie,+ want die oordeel behoort aan God.+ En as ’n saak vir julle te moeilik is, moet julle dit na my toe bring, en ek sal dit verhoor.’+ 18 Toe het ek vir julle instruksies gegee in verband met al die dinge wat julle moet doen.

19 “Daarna het ons van Horeb af weggetrek en deur daardie groot en verskriklike wildernis+ getrek, wat julle gesien het op die pad na die bergstreek van die Amoriete,+ net soos Jehovah ons God ons beveel het, en ons het uiteindelik by Kaʹdes-Barneʹa+ gekom. 20 Ek het toe vir julle gesê: ‘Julle het by die bergstreek van die Amoriete gekom, wat Jehovah ons God aan ons gee. 21 Kyk, Jehovah julle God het die land aan julle oorgegee. Gaan en neem dit in besit, net soos Jehovah, die God van julle voorvaders, vir julle gesê het.+ Moenie bang wees of vrees nie.’

22 “Maar julle almal het na my toe gekom en gesê: ‘Laat ons manne stuur om voor ons uit te gaan om die land vir ons te verken en vir ons te kom sê watter roete ons moet volg en by watter soort stede ons sal kom.’+ 23 Die voorstel het vir my goed geklink, en daarom het ek 12 van julle manne gekies, een vir elke stam.+ 24 Hulle het vertrek en in die bergstreek+ opgegaan en by die Eskol-vallei* gekom en dit verken. 25 Hulle het van die vrugte van die land geneem en dit na ons toe teruggebring, en hulle het vir ons kom sê: ‘Die land wat Jehovah ons God aan ons gee, is goed.’+ 26 Maar julle het geweier om te gaan, en julle het in opstand gekom teen die bevel van Jehovah julle God.+ 27 Julle het in julle tente bly kla en gesê: ‘Jehovah het ons gehaat, en daarom het hy ons uit Egipte uitgelei om ons aan die Amoriete oor te gee, sodat hulle ons kan vernietig. 28 Na watter soort plek gaan ons? Ons broers het ons moed laat verloor*+ deur te sê: “Hulle is ’n volk wat groter en langer is as ons, en hulle stede is groot en tot aan die hemel versterk,*+ en ons het die kinders van die Enakiete+ daar gesien.”’

29 “Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie vir hulle bang wees nie.+ 30 Jehovah julle God sal voor julle uit gaan en sal vir julle veg,+ net soos hy in Egipte voor julle oë gedoen het.+ 31 En julle het in die wildernis gesien hoe Jehovah julle God julle gedra het soos ’n man sy seun dra, oral waar julle gegaan het totdat julle by hierdie plek gekom het.’ 32 Maar ondanks dit alles het julle nie geloof gestel in Jehovah julle God nie,+ 33 wat voor julle uit gegaan het om vir julle ’n plek uit te soek waar julle kon kamp opslaan. Hy het in die nag deur middel van vuur en in die dag deur middel van ’n wolk verskyn om vir julle te wys op watter pad julle moet loop.+

34 “Die hele tyd het Jehovah gehoor wat julle sê, en hy het kwaad geword en het gesweer:+ 35 ‘Nie een man van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat ek met ’n eed belowe het om aan julle vaders te gee nie,+ 36 behalwe Kaleb, die seun van Jefunʹne. Hy sal dit sien, en ek sal aan hom en aan sy kinders die land gee waarop hy geloop het, omdat hy Jehovah heelhartig* gevolg het.+ 37 (Jehovah het selfs vir my kwaad geword as gevolg van julle, en hy het gesê: “Jy sal ook nie daar ingaan nie.+ 38 Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan,+ is die een wat in die land sal ingaan.+ Versterk hom,*+ want hy sal sorg dat Israel die land erf.”) 39 Wat meer is, julle kinders wat julle gesê het deur julle vyande weggeneem sal word,+ en julle seuns wat vandag nie weet wat goed of wat sleg is nie, hulle sal daar ingaan, en ek sal dit aan hulle gee om te besit.+ 40 Maar julle moet terugdraai en na die wildernis vertrek met die pad wat na die Rooisee gaan.’+

41 “Toe het julle vir my gesê: ‘Ons het teen Jehovah gesondig. Ons sal nou opgaan en veg, net soos Jehovah ons God ons beveel het!’ Toe het elkeen van julle sy oorlogswapens geneem, en julle het gedink dat dit maklik sou wees om in die bergstreek op te gaan.+ 42 Maar Jehovah het vir my gesê: ‘Sê vir hulle: “Julle moenie opgaan en veg nie, want ek sal nie met julle wees nie.+ As julle gaan, sal julle deur julle vyande verslaan word.”’ 43 Ek het dus met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. Julle het eerder in opstand gekom teen Jehovah se bevel. Julle was vermetel* en het na die bergstreek probeer opgaan. 44 Toe het die Amoriete wat in daardie bergstreek gewoon het, soos bye na julle toe uitgekom en julle weggejaag, en hulle het julle in Seïr tot by Horma verstrooi. 45 Toe het julle teruggekeer en voor Jehovah begin huil, maar Jehovah het nie na julle geluister of hom aan julle gesteur nie. 46 Dit is hoekom julle so lank in Kades gebly het.

2 “Toe het ons omgedraai en na die wildernis vertrek met die pad wat na die Rooisee gaan, net soos Jehovah vir my gesê het,+ en ons het baie lank om die berg Seïr getrek. 2 Uiteindelik het Jehovah vir my gesê: 3 ‘Julle het lank genoeg om hierdie berg getrek. Draai nou na die noorde toe. 4 En gee die volk hierdie bevel: “Julle sal langs die grens van julle broers verbygaan, die nakomelinge van Esau,+ wat in Seïr woon,+ en hulle sal bang wees vir julle,+ en julle moet baie versigtig wees. 5 Moenie met hulle in ’n geveg betrokke raak nie, want ek sal nie ’n deel van hulle land aan julle gee nie, nie eers die grootte van ’n voetspoor nie, want ek het die berg Seïr aan Esau as sy besitting gegee.+ 6 Julle moet vir hulle geld gee vir die kos wat julle sal eet, en julle moet betaal vir die water wat julle sal drink.+ 7 Want Jehovah julle God het julle geseën in alles wat julle gedoen het. Hy is deeglik bewus van julle trek deur hierdie groot wildernis. Hierdie 40 jaar was Jehovah julle God met julle, en julle het niks kortgekom nie.”’+ 8 Toe het ons verby ons broers getrek, die nakomelinge van Esau,+ wat in Seïr woon, en weggebly van die pad van die Aʹraba, van Elat en van Eʹseon-Geʹber.+

“Daarna het ons weggedraai en verder getrek met die pad van die wildernis van Moab.+ 9 Jehovah het toe vir my gesê: ‘Moenie met Moab in ’n geveg betrokke raak of oorlog teen hulle voer nie, want ek sal nie ’n deel van sy land aan julle as ’n besitting gee nie, omdat ek Ar aan die nakomelinge van Lot as ’n besitting gegee het.+ 10 (Die Emiete+ het voorheen daar gewoon. Hulle was ’n groot, sterk volk en hulle was lank soos die Enakiete. 11 Die Refaïete+ is ook soos die Enakiete+ beskou, en die Moabiete het hulle Emiete genoem. 12 Die Horiete+ het voorheen in Seïr gewoon, maar die nakomelinge van Esau het hulle land in besit geneem en hulle vernietig en in hulle plek gaan woon,+ net soos Israel sal doen met die land wat hulle besitting is, wat Jehovah beslis aan hulle sal gee.) 13 Gaan nou en trek deur die Sered-vallei.’* Gevolglik het ons deur die Sered-vallei*+ getrek. 14 Vandat ons van Kaʹdes-Barneʹa af weg is totdat ons deur die Sered-vallei* getrek het, het 38 jaar verbygegaan. Teen daardie tyd was daar niemand in die kamp oor van die hele geslag manne wat oud genoeg was om te veg nie. Hulle het almal gesterf, net soos Jehovah vir hulle gesweer het.+ 15 Jehovah se hand was teen hulle om hulle uit die kamp uit te wis, totdat hulle aan hulle einde gekom het.+

16 “En toe al die manne wat oud genoeg was om te veg onder die volk uitgesterf het,+ 17 het Jehovah weer met my gepraat en gesê: 18 ‘Julle gaan vandag verby die gebied van Moab, dit wil sê Ar. 19 Wanneer julle naby die Ammoniete kom, moet julle nie vyandig teenoor hulle wees of ’n geveg met hulle begin nie, want ek sal nie ’n deel van die land van die Ammoniete aan julle as ’n besitting gee nie, omdat ek dit aan die nakomelinge van Lot as hulle besitting gegee het.+ 20 Dit was ook as die land van die Refaïete+ beskou. (Die Refaïete het voorheen daar gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem. 21 Hulle was ’n groot, sterk volk en hulle was lank soos die Enakiete,+ maar Jehovah het hulle verslaan voor die Ammoniete, en hulle het hulle verdryf en in hulle plek gaan woon. 22 Hy het dieselfde gedoen vir die nakomelinge van Esau, wat nou in Seïr woon,+ toe hy die Horiete+ voor hulle verslaan het, sodat hulle hulle land in besit kon neem. Hulle woon vandag nog in hulle plek. 23 Die Awwiete het in dorpe gewoon tot by Gasa,+ totdat die Kaftoriete,+ wat van Kaftor* gekom het, hulle vernietig het en in hulle plek gaan woon het.)

24 “‘Staan op en trek deur die Arnon-vallei.*+ Kyk, ek het Sihon,+ die Amoriet, die koning van Hesbon, in julle hand gegee. Begin dus om sy land in besit te neem en voer oorlog teen hom. 25 Van vandag af sal ek al die volke onder die hemel wat die berig oor julle hoor, baie bang laat word vir julle. Hulle sal ontsteld wees en bewe* as gevolg van julle.’+

26 “Toe het ek boodskappers uit die wildernis Kedeʹmot+ na koning Sihon van Hesbon gestuur met hierdie woorde van vrede:+ 27 ‘Laat my deur u land trek. Ek sal op die pad bly en nie regs of links draai nie.+ 28 Ek sal net die kos eet en net die water drink wat u aan my sal verkoop. Laat my net toe om te voet deur u gebied te trek, 29 net soos die nakomelinge van Esau wat in Seïr woon en die Moabiete wat in Ar woon, vir my gedoen het. Dan kan ek deur die Jordaanrivier trek na die land wat Jehovah ons God aan ons gee.’ 30 Maar koning Sihon van Hesbon het ons nie deur sy gebied laat trek nie, want Jehovah julle God het toegelaat dat hy hardkoppig word+ en dat sy hart verhard, sodat Hy hom in julle hand kon gee, soos vandag die geval is.+

31 “Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Kyk, ek het reeds begin om Sihon en sy land aan julle oor te gee. Begin om sy land in besit te neem.’+ 32 Toe Sihon saam met sy hele leërmag uitkom om by Jahas teen ons te veg,+ 33 het Jehovah ons God hom aan ons oorgegee, sodat ons hom, sy seuns en sy hele leërmag verslaan het. 34 Ons het toe al sy stede ingeneem en elke stad vernietig, insluitende die mans, vrouens en kinders. Ons het niemand laat bly lewe nie.+ 35 Ons het net die vee vir ons geneem, saam met die buit wat ons gevat het uit die stede wat ons ingeneem het. 36 Van Aʹroër af,+ wat aan die rand van die Arnon-vallei* is (insluitende die stad wat in die vallei is), tot by Giʹlead, was daar geen stad wat vir ons te sterk was nie. Jehovah ons God het hulle almal aan ons oorgegee.+ 37 Maar julle het nie naby die land van die Ammoniete,+ die hele Jabbok-vallei*+ en die stede van die bergstreek gegaan nie, en ook nie na enige ander plek waar Jehovah ons God vir ons gesê het om nie te gaan nie.

3 “Daarna het ons met die pad van Basan gegaan. En Og, die koning van Basan, het met sy hele leërmag uitgekom om by Edreʹï+ teen ons te veg. 2 Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie, want ek sal hom en sy hele volk en sy land in julle hand gee, en julle moet met hom doen net soos julle gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.’ 3 Toe het Jehovah ons God koning Og van Basan en sy hele volk ook in ons hand gegee, en ons het hulle verslaan. Daar was nie ’n enkele oorlewende nie. 4 Ons het toe al sy stede ingeneem. Daar was nie ’n enkele stad wat ons nie van hulle afgevat het nie – 60 stede, die hele Argob-streek, die koninkryk van Og in Basan.+ 5 Al hierdie stede was versterk met hoë mure, deure en grendels. Ons het ook ’n groot aantal plattelandse dorpe ingeneem. 6 Maar ons het hulle almal vernietig,+ net soos ons met koning Sihon van Hesbon gedoen het. Ons het elke stad vernietig, insluitende die mans, vrouens en kinders.+ 7 En ons het al die vee en die buit wat ons in die stede gevat het, vir ons geneem.

8 “Ons het in daardie tyd die land afgevat van die twee Amoritiese konings+ wat in die Jordaanstreek was, van die Arnon-vallei* af tot by die berg Hermon+ 9 (dit is die berg wat die Sidoniërs voorheen Sirjon en wat die Amoriete voorheen Senir genoem het), 10 al die stede van die plato, die hele Giʹlead en die hele Basan tot by Salka en Edreʹï,+ die stede van die koninkryk wat aan Og in Basan behoort het. 11 Want koning Og van Basan was die laaste van die Refaïete. Sy lykbaar* was van yster* gemaak, en dit is nog steeds in Rabba van die Ammoniete. Dit is nege el* lank en vier el breed, volgens die standaard-el. 12 Ons het toe die land in besit geneem van Aʹroër+ af, wat by die Arnon-vallei* is, en die helfte van die bergstreek van Giʹlead, en ek het die stede aan die Rubeniete en die Gadiete gegee.+ 13 En ek het die res van Giʹlead en die hele Basan van die koninkryk van Og aan die halwe stam van Manasʹse gegee.+ Die hele Argob-streek, wat deel is van Basan, het as die land van die Refaïete bekend gestaan.

14 “Jaïr,+ die seun van Manasʹse, het die hele Argob-streek+ tot by die grens van die Gesuriete en die Maägatiete+ geneem, en hy het daardie dorpies van Basan na homself vernoem, Hawwot-Jaïr.*+ Die dorpies het vandag nog daardie naam. 15 En ek het Giʹlead aan Magir+ gegee. 16 En aan die Rubeniete en die Gadiete+ het ek die land gegee van Giʹlead af tot by die Arnon-vallei,* met die middel van die vallei as die grens, en van daar af tot by die Jabbok, die vallei wat die grens van die Ammoniete is, 17 en die Aʹraba en die Jordaanrivier en die aangrensende gebied, van Kinneʹret af tot by die See van die Aʹraba, die Soutsee,* aan die voet van Pisga in die ooste.+

18 “Ek het toe hierdie bevel aan julle gegee: ‘Jehovah julle God het hierdie land aan julle gegee om dit in besit te neem. Al julle dapper manne moet wapens opneem en voor julle broers, die Israeliete, oorgaan.+ 19 Net julle vrouens, julle kinders en julle vee (ek weet goed dat julle baie vee het) sal in die stede bly woon wat ek aan julle gegee het, 20 totdat Jehovah aan julle broers rus gee, net soos hy aan julle rus gegee het, en hulle ook die land in besit geneem het wat Jehovah julle God oorkant die Jordaanrivier aan hulle sal gee. Dan sal julle terugkom, elkeen na sy besitting wat ek aan julle gegee het.’+

21 “Ek het toe hierdie bevel aan Josua+ gegee: ‘Jy het met jou eie oë gesien wat Jehovah jou God met hierdie twee konings gedoen het. Jehovah sal dieselfde doen met al die koninkryke wat jy aan die oorkant sal teëkom.+ 22 Julle moenie vir hulle bang wees nie, want Jehovah julle God veg vir julle.’+

23 “Ek het toe by Jehovah gepleit en gesê: 24 ‘O Soewereine Heer Jehovah, u het vir u kneg u grootheid en u magtige arm+ begin wys, want watter god in die hemel of op die aarde kan sulke magtige dade doen soos u?+ 25 Laat my asseblief oorgaan en die goeie land oorkant die Jordaanrivier sien, daardie goeie bergstreek en die Liʹbanon.’+ 26 Maar Jehovah was nog steeds woedend vir my as gevolg van julle,+ en hy wou nie na my luister nie. Jehovah het egter vir my gesê: ‘Dit is nou genoeg! Moet nooit weer met my oor hierdie saak praat nie. 27 Klim op na die top van Pisga+ en kyk na die weste en noorde en suide en ooste. Kyk goed na die land, want jy sal nie deur hierdie Jordaanrivier trek nie.+ 28 Stel Josua+ aan en moedig hom aan en versterk hom, want hy is die een wat voor hierdie volk sal deurtrek,+ en hy sal sorg dat hulle die land erf wat jy sal sien.’ 29 Dit alles het gebeur terwyl ons in die vallei oorkant Bet-Peor+ gebly het.

4 “Luister dan nou, o Israel, na die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat ek julle leer om te gehoorsaam, sodat julle kan lewe+ en kan ingaan en die land in besit kan neem wat Jehovah, die God van julle voorvaders, aan julle gee. 2 Julle mag niks byvoeg by die woorde wat ek julle beveel nie, en julle mag ook niks daarvan wegneem nie,+ sodat julle die gebooie van Jehovah julle God kan gehoorsaam wat ek julle beveel.

3 “Julle eie oë het gesien wat Jehovah in die geval van die Baäl van Peor gedoen het: Jehovah julle God het elke man wat agter die Baäl van Peor+ aangeloop het, onder julle uitgeroei. 4 Maar julle wat getrou gebly het aan Jehovah julle God, lewe almal vandag nog. 5 Kyk, ek het vir julle wetsvoorskrifte en regterlike bevele geleer,+ net soos Jehovah my God my beveel het, sodat julle dit kan gehoorsaam in die land wat julle in besit gaan neem. 6 Julle moet streng daarby bly,+ want dan sal die volke wat van al hierdie wetsvoorskrifte hoor, sien dat julle wys+ en verstandig+ is, en hulle sal sê: ‘Hierdie groot nasie is beslis ’n wyse en verstandige volk.’+ 7 Want watter groot nasie het gode wat so naby aan hulle is soos Jehovah ons God aan ons is wanneer ons hom aanroep?+ 8 En watter groot nasie het regverdige wetsvoorskrifte en regterlike bevele soos hierdie hele Wet wat ek vandag vir julle gee?+

9 “Maar wees versigtig en sorg dat julle nie die dinge vergeet wat julle oë gesien het nie en dat dit al die dae van julle lewe in julle hart bly. Julle moet dit ook vir julle kinders en vir julle kleinkinders leer.+ 10 Op die dag toe julle voor Jehovah julle God in Horeb gestaan het, het Jehovah vir my gesê: ‘Laat die volk voor my bymekaarkom sodat ek hulle my woorde kan laat hoor,+ sodat hulle kan leer om my te vrees+ al die dae dat hulle op die aarde lewe en sodat hulle hulle kinders kan leer.’+

11 “Toe het julle nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan, en die berg het gebrand met vuur wat tot in die hemel opgegaan het. Daar was duisternis en digte, donker wolke.+ 12 En Jehovah het uit die vuur met julle begin praat.+ Julle het die geluid van woorde gehoor, maar julle het niemand gesien nie+ – daar was net ’n stem.+ 13 En hy het sy verbond aan julle bekend gemaak,+ wat hy julle beveel het om na te kom – die Tien Gebooie.*+ Daarna het hy dit op twee kliptablette geskryf.+ 14 Jehovah het my toe beveel om vir julle wetsvoorskrifte en regterlike bevele te leer, wat julle moet gehoorsaam in die land waarheen julle gaan en wat julle in besit gaan neem.

15 “Op die dag toe Jehovah by Horeb uit die vuur met julle gepraat het, het julle niemand gesien nie. Daarom moet julle versigtig wees 16 dat julle nie goddeloos optree deur vir julle ’n beeld in die vorm van enigiets te maak nie – nie ’n beeld van ’n man of ’n vrou,+ 17 ’n beeld van enige dier op die aarde of ’n beeld van enige voël wat in die lug vlieg,+ 18 ’n beeld van enigiets wat op die aarde kruip of ’n beeld van enige vis wat in die waters op die aarde is nie.+ 19 En wanneer julle na die hemel opkyk en die son en die maan en die sterre sien – die hele leërmag van die hemel – moet julle nie verlei word en voor hulle neerbuig en hulle dien nie.+ Jehovah julle God het dit aan al die volke onder die hemel gegee. 20 Maar Jehovah het julle uit die ystersmeltoond, uit Egipte, geneem om sy volk, sy persoonlike besitting,*+ te word, soos julle vandag is.

21 “Jehovah het vir my kwaad geword as gevolg van julle,+ en hy het gesweer dat ek nie deur die Jordaanrivier sal trek of in die goeie land sal ingaan wat Jehovah julle God aan julle as ’n erfdeel gee nie.+ 22 Want ek gaan in hierdie land sterf. Ek sal nie deur die Jordaanrivier trek nie,+ maar julle sal oorgaan en hierdie goeie land in besit neem. 23 Wees versigtig dat julle nie die verbond vergeet wat Jehovah julle God met julle gemaak het nie,+ en moenie vir julle enige beeld maak in die vorm van enigiets wat deur Jehovah julle God verbied is nie.+ 24 Want Jehovah julle God is ’n verterende vuur,+ ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis.+

25 “As julle kinders en kleinkinders het en lank in die land gewoon het en julle dan goddeloos optree deur enige soort beeld te maak+ en deur te doen wat sleg is in die oë van Jehovah julle God en hom aanstoot gee,+ 26 dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle beslis vinnig uit die land sal verdwyn wat julle in besit gaan neem nadat julle deur die Jordaanrivier getrek het. Julle sal nie lank in die land woon nie. Julle sal heeltemal vernietig word.+ 27 Jehovah sal julle onder die volke verstrooi,+ en net ’n paar van julle sal bly lewe+ onder die nasies waarheen Jehovah julle sal verdryf. 28 Daar sal julle gode van hout en klip moet dien wat deur mensehande gemaak is,+ gode wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie.

29 “As julle Jehovah julle God van daar af soek, as julle met julle hele hart en julle hele siel* na hom soek,+ sal julle hom beslis ook vind.+ 30 Wanneer julle in die toekoms baie swaarkry en al hierdie dinge met julle gebeur het, sal julle tot Jehovah julle God terugkeer en na sy stem luister.+ 31 Want Jehovah julle God is ’n genadige God.+ Hy sal julle nie in die steek laat of julle vernietig of die verbond vergeet wat hy deur middel van ’n eed met julle voorvaders gemaak het nie.+

32 “Vra nou asseblief hoe dit vroeër was, voor julle tyd, van die dag af dat God die mens op die aarde geskep het. Soek van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel. Het iets wat so wonderlik is al ooit gebeur? Of is daar al ooit van so iets gehoor?+ 33 Het enige ander volk die stem van God uit die vuur hoor praat, soos julle dit gehoor het, en bly lewe?+ 34 Of het God al ooit probeer om vir hom ’n nasie onder ’n ander nasie uit te neem met oordele,* tekens, wonderwerke,+ oorlog,+ ’n magtige hand,+ ’n uitgestrekte arm en skrikwekkende dade,+ soos Jehovah julle God vir julle voor julle oë in Egipte gedoen het? 35 Julle het hierdie dinge gesien sodat julle kan weet dat Jehovah die ware God is.+ Daar is geen ander God nie.+ 36 Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle reg te help, en op die aarde het hy julle sy groot vuur laat sien, en julle het sy woorde uit die vuur gehoor.+

37 “Omdat hy julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag* uitgekies het,+ het hy julle self deur middel van sy groot krag uit Egipte uitgelei. 38 Hy het nasies voor julle uitgedryf wat groter en magtiger is as julle, om julle in hulle land in te bring en dit as ’n erfdeel aan julle te gee, soos vandag die geval is.+ 39 Daarom moet julle vandag weet en ter harte neem dat Jehovah die ware God is in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.+ Daar is geen ander nie.+ 40 Julle moet sy wetsvoorskrifte en sy gebooie gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat dit met julle en julle kinders goed kan gaan, en sodat julle lank in die land kan bly wat Jehovah julle God aan julle gee.”+

41 Toe het Moses drie stede oos van die Jordaanrivier+ uitgekies. 42 As enigiemand sy medemens onopsetlik doodmaak en hy hom nie voorheen gehaat het nie,+ moet hy na een van hierdie stede vlug en bly lewe.+ 43 Die stede is Beser+ in die wildernis op die plato vir die Rubeniete, Ramot+ in Giʹlead vir die Gadiete en Golan+ in Basan vir die Manassiete.+

44 En dit is die Wet+ wat Moses aan die Israeliete gegee het. 45 Dit is die herinneringe, die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat Moses aan die Israeliete gegee het nadat hulle uit Egipte gekom het.+ 46 Hy het dit gedoen in die Jordaanstreek, in die vallei oorkant Bet-Peor,+ in die land van koning Sihon van die Amoriete, wat in Hesbon+ gewoon het, wat deur Moses en die Israeliete verslaan is nadat hulle uit Egipte gekom het.+ 47 En hulle het sy land en die land van koning Og+ van Basan in besit geneem, die twee konings van die Amoriete wat in die streek oos van die Jordaanrivier was, 48 van Aʹroër af,+ wat aan die rand van die Arnon-vallei* is, tot by die berg Sijon, dit wil sê Hermon,+ 49 en die hele Aʹraba in die streek oos van die Jordaanrivier en tot by die See van die Aʹraba,* aan die voet van Pisga.+

5 Moses het toe die hele Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Hoor, o Israel, die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat ek vandag aan julle bekend maak, en julle moet dit leer en presies doen wat dit sê. 2 Jehovah ons God het by Horeb ’n verbond met ons gemaak.+ 3 Jehovah het nie hierdie verbond met ons voorvaders gemaak nie, maar met ons, ons almal wat vandag lewe en hier bymekaar is. 4 Op die berg het Jehovah direk met julle uit die vuur gepraat.+ 5 By daardie geleentheid het ek tussen julle en Jehovah gestaan+ om Jehovah se woorde aan julle oor te dra, want julle was bang vir die vuur en het nie teen die berg+ opgeklim nie. Hy het gesê:

6 “‘Ek is Jehovah julle God wat julle uit Egipte, uit die huis van slawerny, uitgelei het.+ 7 Jy mag geen ander gode buiten my* hê nie.+

8 “‘Jy mag nie vir jou ’n beeld+ of ’n afbeelding* maak van enigiets wat bo in die hemel, onder op die aarde of in die waters op die aarde is nie. 9 Jy mag nie voor hulle neerbuig of verlok word om hulle te dien nie,+ want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis,+ wat straf vir die oortreding van vaders oor kinders bring, oor die derde geslag en oor die vierde geslag van dié wat my haat,+ 10 maar wat lojale liefde* betoon aan die duisendste geslag van dié wat my liefhet en my gebooie gehoorsaam.

11 “‘Jy mag nie die naam van Jehovah jou God op ’n disrespekvolle manier gebruik nie,+ want Jehovah sal niemand ongestraf laat bly wat sy naam op ’n disrespekvolle manier gebruik nie.+

12 “‘Hou die Sabbatdag sodat dit heilig sal bly, net soos Jehovah jou God jou beveel het.+ 13 Jy het ses dae om te werk en om alles te doen wat jy moet,+ 14 maar die sewende dag is ’n sabbat vir Jehovah jou God.+ Jy mag geen werk doen nie,+ nie jy of jou seun of jou dogter of jou slaaf of jou slavin of jou bul of jou donkie of enige van jou vee of die uitlander wat in julle stede* woon nie,+ sodat jou slaaf en jou slavin kan rus net soos jy.+ 15 Onthou dat julle slawe in Egipte geword het en dat Jehovah julle God julle met ’n magtige hand en ’n uitgestrekte arm daar uitgelei het.+ Daarom het Jehovah julle God julle beveel om die Sabbatdag te hou.

16 “‘Eer* jou pa en jou ma,+ net soos Jehovah jou God jou beveel het, sodat jy lank kan lewe en sodat dit met jou goed kan gaan* in die land wat Jehovah jou God aan julle gee.+

17 “‘Jy mag nie moord pleeg nie.+

18 “‘Jy mag ook nie egbreuk pleeg nie.+

19 “‘Jy mag ook nie steel nie.+

20 “‘Jy mag ook nie valslik getuig teen jou medemens nie.+

21 “‘Jy mag ook nie jou medemens se vrou begeer nie.+ Jy mag ook nie jou medemens se huis of sy landery of sy slaaf of sy slavin of sy bul of sy donkie of enigiets wat aan jou medemens behoort, selfsugtig begeer nie.’+

22 “Jehovah het op die berg hierdie gebooie* met ’n harde stem aan julle almal oorgedra, uit die vuur en uit die digte, donker wolk,+ en hy het niks bygevoeg nie. Daarna het hy dit op twee kliptablette geskryf en dit aan my gegee.+

23 “Maar die oomblik toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur gebrand het,+ het al die hoofde van julle stamme en die ouermanne na my toe gekom. 24 Toe het julle gesê: ‘Jehovah ons God het ons sy heerlikheid en sy grootheid gewys, en ons het sy stem uit die vuur+ gehoor. Vandag het ons gesien dat die mens kan bly lewe nadat God met hom gepraat het.+ 25 Maar hoekom moet ons sterf? Want hierdie groot vuur kan ons verteer. As ons die stem van Jehovah ons God nog langer hoor, sal ons beslis sterf. 26 Want wie is daar uit die hele mensdom wat soos ons die stem van die lewende God uit die vuur hoor praat het en tog bly lewe het? 27 Gaan jy nader om alles te hoor wat Jehovah ons God sal sê, en jy moet vir ons alles vertel wat Jehovah ons God vir jou sê, en ons sal luister en dit doen.’+

28 “En Jehovah het gehoor wat julle vir my gesê het, en Jehovah het vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het. Alles wat hulle gesê het, is goed.+ 29 As hulle maar net altyd ’n hart sal hê wat my vrees+ en al my gebooie gehoorsaam,+ dan sal dit vir ewig met hulle en hulle kinders goed gaan!+ 30 Gaan sê vir hulle: “Keer terug na julle tente.” 31 Maar jy moet hier by my bly, en laat ek al die gebooie, die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele aan jou gee wat jy vir hulle moet leer en wat hulle moet gehoorsaam in die land wat ek aan hulle gee om in besit te neem.’ 32 En julle moet sorg dat julle presies doen wat Jehovah julle God julle beveel het.+ Julle mag nie links of regs afwyk nie.+ 33 Julle moet in alles die weg volg wat Jehovah julle God julle beveel het om te volg,+ sodat julle kan lewe en sodat dit met julle goed kan gaan en julle lank sal woon in die land wat julle in besit gaan neem.+

6 “Hier is die gebooie, die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat Jehovah julle God gegee het om julle te leer, sodat julle dit kan gehoorsaam wanneer julle in die land ingaan wat julle in besit gaan neem 2 en sodat julle Jehovah julle God kan vrees en al sy wetsbepalings en sy gebooie kan gehoorsaam wat ek julle beveel – julle en julle kinders en julle kleinkinders+ – al die dae van julle lewe, sodat julle lank kan lewe.+ 3 En julle moet luister, o Israel, en presies doen wat dit sê, sodat dit met julle goed kan gaan en julle baie kan word in die land wat oorloop van melk en heuning, net soos Jehovah, die God van julle voorvaders, julle belowe het.

4 “Luister, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah.+ 5 Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel*+ en al jou krag.*+ 6 Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees, 7 en jy moet dit vir jou kinders herhaal*+ en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.+ 8 Bind dit as ’n herinnering op jou hand, en dit moet soos ’n band op jou voorkop* wees.+ 9 Skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte.

10 “Wanneer Jehovah julle God julle in die land inbring wat hy aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob gesweer het hy aan julle sal gee+ – groot en mooi stede wat julle nie gebou het nie,+ 11 huise vol allerhande goeie dinge waarvoor julle nie gewerk het nie, uitgekapte reënputte wat julle nie gegrawe het nie en wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie – en julle geëet en versadig geword het,+ 12 moet julle versigtig wees dat julle Jehovah nie vergeet,+ wat julle uit Egipte, uit die huis van slawerny, uitgelei het nie. 13 Julle moet Jehovah julle God vrees.+ Julle moet hom dien,+ en julle moet by sy naam sweer.+ 14 Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, agter enige van die gode van die volke wat rondom julle is nie,+ 15 want Jehovah julle God, wat by julle is, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis.+ Anders sal Jehovah julle God woedend word vir julle,+ en hy sal julle van die aarde af uitwis.+

16 “Julle mag Jehovah julle God nie toets+ soos julle hom by Massa+ getoets het nie. 17 Julle moet die gebooie van Jehovah julle God en sy herinneringe en sy wetsvoorskrifte wat hy julle beveel het, streng gehoorsaam. 18 Julle moet doen wat reg en goed is in Jehovah se oë, sodat dit met julle goed kan gaan en sodat julle kan ingaan in die goeie land wat Jehovah aan julle voorvaders met ’n eed belowe het en dit in besit kan neem+ 19 deur al julle vyande voor julle te verdryf, net soos Jehovah belowe het.+

20 “Wanneer jou seun jou in die toekoms vra: ‘Wat beteken die herinneringe en die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat Jehovah ons God julle beveel het?’ 21 dan moet jy vir jou seun sê: ‘Ons het slawe van Farao in Egipte geword, maar Jehovah het ons met ’n magtige hand uit Egipte uitgelei. 22 En Jehovah het aangehou om voor ons oë groot en verwoestende tekens en wonderwerke oor Egipte,+ oor Farao en oor sy hele huis te bring.+ 23 En hy het ons daar uitgelei om ons hierheen te bring sodat hy die land aan ons kan gee wat hy aan ons voorvaders met ’n eed belowe het.+ 24 Toe het Jehovah ons beveel om al hierdie wetsvoorskrifte te gehoorsaam en om Jehovah ons God te vrees sodat dit altyd met ons goed kan gaan+ en sodat ons kan bly lewe,+ soos vandag die geval is. 25 En ons sal as regverdig beskou word as ons sorg dat ons al hierdie gebooie voor Jehovah ons God gehoorsaam, net soos hy ons beveel het.’+

7 “Wanneer Jehovah julle God julle in die land inbring waarheen julle op pad is en wat julle in besit sal neem,+ sal hy groot nasies voor julle uit verdryf:+ die Hetiete, die Girgasiete, die Amoriete,+ die Kanaäniete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete,+ sewe nasies wat groter en magtiger is as julle.+ 2 Jehovah julle God sal hulle aan julle oorgee, en julle sal hulle verslaan.+ Julle moet hulle vir seker vernietig.+ Julle mag geen verbond met hulle maak nie, en julle mag glad nie vir hulle jammer voel nie.+ 3 Julle mag nie met hulle trou nie.* Moenie julle dogters aan hulle seuns gee of hulle dogters vir julle seuns neem nie.+ 4 Want hulle sal maak dat julle seuns my verlaat en ander gode dien.+ Dan sal Jehovah vir julle woedend word, en hy sal julle gou vernietig.+

5 “Julle moet eerder só met hulle maak: Breek hulle altare af, breek hulle heilige pilare stukkend,+ kap hulle heilige pale* af+ en verbrand hulle beelde.+ 6 Want julle is ’n heilige volk vir Jehovah julle God, en Jehovah julle God het julle uitgekies om sy volk te word, sy spesiale eiendom,* uit al die volke wat op die oppervlak van die aarde is.+

7 “Dit was nie omdat julle die grootste van al die volke was dat Jehovah liefde aan julle betoon het en julle uitgekies het nie,+ want julle was die kleinste van al die volke.+ 8 Maar dit was omdat Jehovah julle liefgehad het en getrou gebly het aan die eed wat hy aan julle voorvaders gesweer het.+ Daarom het Jehovah julle met ’n magtige hand uitgelei, om julle te verlos uit die huis van slawerny,+ uit die greep* van Farao, die koning van Egipte. 9 Julle weet goed dat Jehovah julle God die ware God is, die getroue God, wat sy verbond hou en lojale liefde betoon aan ’n duisend geslagte van dié wat hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam.+ 10 Maar hy sal diegene wat hom haat, terugbetaal deur hulle te vernietig.+ Hy sal sonder huiwering afreken met dié wat hom haat. Hy sal hulle openlik terugbetaal. 11 Daarom moet julle sorg dat julle die gebooie en die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele wat ek julle vandag beveel, gehoorsaam deur dit na te kom.

12 “As julle na hierdie regterlike bevele bly luister en dit gehoorsaam en dit uitvoer, sal Jehovah julle God die verbond hou en die lojale liefde betoon wat hy aan julle voorvaders met ’n eed belowe het. 13 Hy sal julle liefhê en julle seën en julle laat vermeerder. Ja, hy sal julle seën met baie kinders*+ en met die opbrengs van julle grond, julle graan, julle nuwe wyn, julle olie,+ die kalwers van julle troppe en die lammers van julle kuddes, in die land wat hy aan julle voorvaders met ’n eed belowe het om aan julle te gee.+ 14 Julle sal die geseëndste van al die volke word.+ Geen man of vrou onder julle sal kinderloos wees nie, en julle vee sal nie sonder kleintjies wees nie.+ 15 Jehovah sal alle siekte van julle verwyder, en hy sal nie enige van die verskriklike siektes oor julle laat kom wat julle in Egipte geken het nie.+ Hy sal dit eerder laat kom oor almal wat julle haat. 16 Julle moet al die volke vernietig* wat Jehovah julle God aan julle oorgee.+ Julle* mag nie vir hulle jammer voel nie,+ en julle mag nie hulle gode dien nie,+ want dit sal vir julle ’n strik wees.+

17 “As julle in julle hart sê: ‘Hierdie nasies is baie meer as ons. Hoe sal ons hulle kan verdryf?’+ 18 dan moet julle nie vir hulle bang wees nie.+ Julle moet terugdink aan wat Jehovah julle God aan Farao en die hele Egipte gedoen het,+ 19 die groot oordele* wat julle oë gesien het, en die tekens en die wonderwerke+ en die magtige hand en die uitgestrekte arm waarmee Jehovah julle God julle uitgelei het.+ Dit is wat Jehovah julle God sal doen aan al die volke vir wie julle bang is.+ 20 Jehovah julle God sal ’n gevoel van hopeloosheid* oor hulle bring totdat dié wat nog oor is+ en wat vir julle wegkruip, sterf. 21 Moenie vir hulle bang wees nie, want Jehovah julle God is met julle,+ ’n groot en ontsagwekkende God.+

22 “Jehovah julle God sal hierdie nasies bietjie vir bietjie voor julle uit verdryf.+ Julle sal nie toegelaat word om binne ’n kort tydjie ’n einde aan hulle te maak nie, sodat die wilde diere van die veld nie sal vermeerder en vir julle ’n gevaar sal word nie. 23 Jehovah julle God sal hulle aan julle oorlewer en hulle heeltemal verslaan totdat hulle vernietig is.+ 24 Hy sal hulle konings in julle hand gee,+ en julle sal hulle naam onder die hemel uitwis.+ Niemand sal teen julle staande kan bly nie.+ Julle sal hulle vernietig.+ 25 Julle moet die beelde van hulle gode met vuur verbrand.+ Moenie die silwer en die goud wat daaraan is, begeer of dit vir julle neem nie,+ sodat julle nie daardeur verstrik word nie, want dit is iets afskuweliks vir Jehovah julle God.+ 26 Julle mag niks afskuweliks in julle huis inbring en sodoende ook iets word wat vernietig moet word nie. Julle moet dit verafsku en absoluut haat, want dit is iets wat vernietig moet word.

8 “Julle moet sorg dat julle elke gebod gehoorsaam wat ek julle vandag gee, sodat julle kan bly lewe+ en kan vermeerder en kan ingaan en die land in besit kan neem wat Jehovah aan julle voorvaders met ’n eed belowe het.+ 2 Dink aan die lang pad waarlangs Jehovah julle God julle hierdie 40 jaar in die wildernis laat loop+ het om julle nederigheid te leer en om julle te toets+ sodat hy kan weet wat in julle hart is,+ of julle sy gebooie sal gehoorsaam of nie. 3 En hy het julle nederigheid geleer en julle laat honger ly+ en julle met die manna gevoed,+ wat nie julle of julle vaders geken het nie, om julle te leer dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens van elke woord uit Jehovah se mond lewe.+ 4 Gedurende hierdie 40 jaar het die klere wat julle gedra het, nie stukkend geword nie, en julle voete het ook nie geswel nie.+ 5 Julle weet goed in julle hart dat Jehovah julle God julle gedissiplineer het net soos ’n man sy seun dissiplineer.+

6 “En julle moet die gebooie van Jehovah julle God gehoorsaam deur sy weë te volg en hom te vrees. 7 Want Jehovah julle God bring julle in ’n goeie land,+ ’n land van waterstrome en fonteine* wat in die valleivlaktes en in die bergstreke vloei, 8 ’n land van koring en gars, van wingerdstokke, vyebome en granate,+ ’n land van olyfolie en heuning,+ 9 ’n land waar kos nie skaars sal wees nie en waar julle niks sal kortkom nie, ’n land waar die klippe yster bevat en waar julle koper uit die berge sal myn.

10 “Wanneer julle geëet en versadig geword het, moet julle Jehovah julle God loof vir die goeie land wat hy aan julle gegee het.+ 11 Wees versigtig dat julle nie Jehovah julle God vergeet deur ongehoorsaam te wees aan sy gebooie, sy regterlike bevele en sy wetsbepalings wat ek julle vandag beveel nie. 12 Wanneer julle eet en versadig word en gerieflike huise bou en daarin woon+ 13 en julle beeste en kleinvee vermeerder en julle al hoe meer silwer en goud verkry en ’n oorvloed van alles het, 14 moet julle nie toelaat dat julle hart trots word+ en dat dit julle van Jehovah julle God laat vergeet nie. Hy het julle uit Egipte, uit die huis van slawerny, uitgelei+ 15 en julle deur die groot en verskriklike wildernis+ laat gaan, met giftige slange en skerpioene en dorre grond sonder water. Hy het water uit die rots* laat vloei+ 16 en julle in die wildernis met manna gevoed,+ wat julle vaders nie geken het nie, om julle nederigheid te leer+ en om julle te toets, sodat dit in die toekoms met julle goed kan gaan.+ 17 As julle in julle hart sou sê: ‘Dit is my eie krag en die mag van my eie hand wat my hierdie rykdom laat verkry het,’+ 18 moet julle onthou dat dit Jehovah julle God is wat julle krag gee om rykdom te verkry.+ Hy doen dit sodat hy sy verbond kan nakom wat hy met ’n eed aan julle voorvaders belowe het, soos hy tot vandag toe gedoen het.+

19 “As julle Jehovah julle God ooit vergeet en agter ander gode aanloop en hulle dien en voor hulle neerbuig, getuig ek vandag teen julle dat julle vir seker vernietig sal word.+ 20 Soos die nasies wat Jehovah voor julle vernietig, so sal julle vernietig word omdat julle nie na die stem van Jehovah julle God geluister het nie.+

9 “Hoor, o Israel: Vandag trek julle deur die Jordaanrivier+ om ’n land in besit te neem met nasies wat groter en magtiger is as julle,+ met groot stede wat tot aan die hemel versterk is,*+ 2 met ’n volk wat groot en lank is, die kinders van die Enakiete,+ van wie julle gehoor het en van wie daar gesê word: ‘Wie kan teen die kinders van Enak staande bly?’ 3 Weet dus vandag dat Jehovah julle God voor julle uit sal gaan.+ Hy is ’n verterende vuur,+ en hy sal hulle vernietig. Hy sal hulle voor julle oë onderwerp sodat julle hulle vinnig kan verdryf en vernietig, net soos Jehovah julle belowe het.+

4 “Wanneer Jehovah julle God hulle voor julle verdryf, moet julle nie in julle hart sê: ‘Dit is weens my regverdigheid dat Jehovah my in hierdie land ingebring het om dit in besit te neem’ nie.+ Dit is eerder weens die goddeloosheid van hierdie nasies+ dat Jehovah hulle voor julle uit verdryf. 5 Dit is nie weens julle regverdigheid of weens die opregtheid van julle hart dat julle ingaan om hulle land in besit te neem nie. Dit is eerder weens die goddeloosheid van hierdie nasies dat Jehovah julle God hulle voor julle uit verdryf+ en om die belofte na te kom wat Jehovah aan julle voorvaders, Abraham,+ Isak+ en Jakob,+ gemaak het. 6 Weet dus dat dit nie weens julle regverdigheid is dat Jehovah julle God hierdie goeie land aan julle gee om in besit te neem nie, want julle is ’n hardkoppige volk.+

7 “Onthou hoe julle Jehovah julle God in die wildernis kwaad gemaak het,+ en moet dit nooit vergeet nie. Van die dag af dat julle uit Egipte getrek het totdat julle by hierdie plek gekom het, het julle teen Jehovah in opstand gekom.+ 8 Selfs by Horeb het julle Jehovah kwaad gemaak. Jehovah was so kwaad vir julle dat hy op die punt was om julle te vernietig.+ 9 Toe ek teen die berg opgeklim het om die kliptablette+ te ontvang, die tablette van die verbond wat Jehovah met julle gemaak het,+ het ek 40 dae en 40 nagte op die berg gebly+ en niks geëet of gedrink nie. 10 Toe het Jehovah vir my die twee kliptablette gegee waarop die vinger van God geskryf het. Al die woorde wat Jehovah op die berg uit die vuur vir julle gesê het op die dag toe julle* vergader het, was daarop geskryf.+ 11 Aan die einde van die 40 dae en 40 nagte het Jehovah vir my die twee kliptablette gegee, die tablette van die verbond, 12 en Jehovah het vir my gesê: ‘Staan op, gaan gou af teen die berg, want jou volk wat jy uit Egipte uitgelei het, het goddeloos opgetree.+ Hulle het baie gou weggedraai van die weg wat ek hulle beveel het om te volg. Hulle het vir hulle ’n metaalbeeld gemaak.’+ 13 Jehovah het toe vir my gesê: ‘Ek het gesien dat hierdie volk ’n hardkoppige volk is.+ 14 Moet my nie probeer keer nie, want ek gaan hulle vernietig en hulle naam onder die hemel uitwis. Laat ek jou ’n nasie maak wat magtiger en groter is as hulle.’+

15 “Daarna het ek omgedraai en teen die berg afgeklim terwyl die berg met vuur gebrand het,+ en die twee tablette van die verbond was in my hande.+ 16 Toe het ek gesien dat julle teen Jehovah julle God gesondig het! Julle het vir julle ’n kalf van metaal gemaak. Julle het gou weggedraai van die weg wat Jehovah julle beveel het om te volg.+ 17 Ek het toe die twee tablette gevat en dit met albei hande voor julle oë stukkend gegooi.+ 18 Daarna het ek 40 dae en 40 nagte lank voor Jehovah bly neerbuig, soos die eerste keer. Ek het niks geëet of gedrink nie+ as gevolg van al die sondes wat julle gepleeg het deur te doen wat sleg is in Jehovah se oë en hom aanstoot te gee. 19 Want ek was baie bang as gevolg van Jehovah se groot woede teen julle,+ omdat hy op die punt was om julle te vernietig. Maar Jehovah het by daardie geleentheid ook na my geluister.+

20 “Jehovah was so kwaad vir Aäron dat hy op die punt was om hom dood te maak,+ maar ek het toe ook vir Aäron smeekgebede gedoen. 21 Toe het ek die sondige ding wat julle gemaak het, die kalf,+ geneem en dit met vuur verbrand. Ek het dit stukkend gebreek en dit deeglik gemaal totdat dit so fyn was soos stof, en ek het die stof in die stroom gegooi wat van die berg afvloei.+

22 “Julle het Jehovah ook by Tabeʹra+ en by Massa+ en by Kibʹrot-Hattaʹäwa+ kwaad gemaak. 23 En toe Jehovah julle uit Kaʹdes-Barneʹa+ gestuur het en gesê het: ‘Gaan en neem die land in besit wat ek beslis aan julle sal gee!’ het julle weer teen die bevel van Jehovah julle God in opstand gekom,+ en julle het nie geloof in hom gehad nie,+ en julle het hom nie gehoorsaam nie. 24 Vandat ek julle ken, het julle teen Jehovah in opstand gekom.

25 “Ek het dus 40 dae en 40 nagte lank voor Jehovah bly neerbuig,+ en ek het dit gedoen omdat Jehovah gesê het dat hy julle gaan vernietig. 26 Ek het smeekgebede tot Jehovah begin doen en gesê: ‘O Soewereine Heer Jehovah, moenie u volk vernietig nie. Hulle is u persoonlike besitting,*+ wat u deur u grootheid verlos het en met ’n magtige hand uit Egipte uitgelei het.+ 27 Dink aan u knegte Abraham, Isak en Jakob.+ Moenie aandag skenk aan die hardkoppigheid van hierdie volk, aan hulle goddeloosheid en hulle sonde nie.+ 28 Anders sal die volk van die land waaruit u ons gelei het, dalk sê: “Jehovah was nie in staat om hulle in die land in te bring wat hy aan hulle belowe het nie. En omdat hy hulle gehaat het, het hy hulle uitgelei om hulle in die wildernis dood te maak.”+ 29 Want hulle is u volk en u persoonlike besitting,*+ wat u met u groot krag en u uitgestrekte arm uitgelei het.’+

10 “Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Kap vir jou twee kliptablette uit soos die eerstes+ en klim teen die berg op na my toe. Jy moet ook vir jou ’n ark* van hout maak. 2 En ek sal op die tablette die woorde skryf wat op die eerste tablette was, wat jy stukkend gegooi het, en jy moet dit in die ark sit.’ 3 Toe het ek ’n ark van akasiahout gemaak en twee kliptablette soos die eerstes uitgekap en teen die berg opgeklim met die twee tablette in my hand.+ 4 Daarna het hy op die tablette dieselfde woorde geskryf wat hy voorheen geskryf het,+ die Tien Gebooie,*+ wat Jehovah op die berg uit die vuur vir julle gegee het+ op die dag toe julle* vergader het.+ En Jehovah het dit vir my gegee. 5 Toe het ek omgedraai en teen die berg afgeklim+ en die tablette in die ark gesit wat ek gemaak het, waar dit nou nog is, net soos Jehovah my beveel het.

6 “Die Israeliete het van Beʹërot Beneʹ-Jaʹäkan af weggetrek na Moseʹra. Aäron het daar gesterf, en hy is daar begrawe,+ en sy seun Eleaʹsar het in sy plek as priester begin dien.+ 7 Hulle het daarvandaan weggetrek na Gudgoʹda, en van Gudgoʹda na Jotbaʹta,+ ’n land van waterstrome.*

8 “Toe het Jehovah die stam van Levi+ afgesonder om die ark van Jehovah se verbond+ te dra, om voor Jehovah te dien en om in sy naam te seën,+ soos hulle tot vandag nog doen. 9 Daarom het Levi nie ’n deel of ’n erfdeel saam met sy broers ontvang nie. Jehovah is sy erfdeel, net soos Jehovah julle God vir hom gesê het.+ 10 Ek het op die berg gebly soos ek die eerste keer gedoen het, 40 dae en 40 nagte,+ en Jehovah het ook by daardie geleentheid na my geluister.+ Jehovah wou julle nie vernietig nie. 11 Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Maak gereed om te vertrek en lei die volk, sodat hulle kan ingaan en die land in besit kan neem wat ek aan hulle voorvaders met ’n eed belowe het om aan hulle te gee.’+

12 “En nou, o Israel, wat vra Jehovah julle God van julle?+ Net dít: Om Jehovah jou God te vrees,+ om al sy weë te volg,+ om hom lief te hê, om Jehovah jou God met jou hele hart en jou hele siel* te dien+ 13 en om die gebooie en wetsbepalings van Jehovah te gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.+ 14 Kyk, aan Jehovah julle God behoort die hemel, selfs die hoogste hemele, en die aarde en alles wat daarin is.+ 15 Maar dit was net aan julle voorvaders wat Jehovah geheg geraak het en aan wie hy sy liefde betoon het, en hy het julle, hulle nageslag,+ uit al die volke uitgekies, soos vandag gesien kan word. 16 Nou moet julle julle harte reinig*+ en ophou om so hardkoppig te wees.*+ 17 Want Jehovah julle God is die God van die gode+ en die Here van die here, die groot, magtige en ontsagwekkende God, wat niemand partydig behandel+ en ook nie ’n omkoopgeskenk aanvaar nie. 18 Hy sorg dat die weeskind* en die weduwee regverdig behandel word,+ en hy is lief vir die uitlander+ wat onder julle woon, en hy gee vir hom kos en klere. 19 Julle moet ook lief wees vir die uitlander wat onder julle woon, want julle was uitlanders in Egipte.+

20 “Dit is Jehovah julle God wat julle moet vrees. Hy is die Een wat julle moet dien+ en aan wie julle getrou moet bly, en dit is by sy naam wat julle moet sweer. 21 Hy is die Een wat julle moet loof.+ Hy is julle God, wat al hierdie groot en ontsagwekkende dinge vir julle gedoen het wat julle met julle eie oë gesien het.+ 22 Toe julle voorvaders na Egipte afgetrek het,+ was hulle 70 mense,* en nou het Jehovah julle God julle so baie soos die sterre van die hemel gemaak.+

11 “Jy moet Jehovah jou God liefhê+ en altyd jou verpligting teenoor hom en teenoor sy wetsbepalings, sy regterlike bevele en sy gebooie nakom. 2 Julle weet dat ek vandag met julle praat, nie met julle kinders nie. Hulle het nie die dissipline van Jehovah julle God,+ sy grootheid,+ sy magtige hand+ en sy uitgestrekte arm geken of gesien nie. 3 Hulle het nie sy tekens en sy dade gesien wat hy in Egipte aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy hele land gedoen het nie.+ 4 Hulle het ook nie gesien wat hy aan die leërmag van Egipte gedoen het nie, aan Farao se perde en strydwaens, waaroor hy die waters van die Rooisee laat stroom het toe hulle julle agternagesit het. Jehovah het hulle eens en vir altyd* vernietig.+ 5 Hulle het nie gesien wat hy vir* julle in die wildernis gedoen het in die tyd voordat julle by hierdie plek aangekom het nie, 6 of wat hy aan Datan en Abiʹram, die seuns van Eliʹab, die seun van Ruben, gedoen het nie toe die aarde oopgeskeur het en hulle voor die oë van die hele Israel ingesluk het, saam met hulle huisgesinne en hulle tente en elke lewende ding wat hulle gevolg het.+ 7 Julle eie oë het al die groot dade gesien wat Jehovah gedoen het.

8 “Julle moet die hele gebod gehoorsaam wat ek vandag aan julle gee, sodat julle sterk kan word en kan ingaan in die land om dit in besit te neem 9 en sodat julle lank kan lewe+ in die land wat Jehovah met ’n eed belowe het om aan julle voorvaders en hulle nageslag* te gee,+ ’n land wat oorloop van melk en heuning.+

10 “Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte, wat julle verlaat het nie. Daar het jy jou saad gesaai en dit met jou voet natgelei* soos jy in ’n groentetuin sou doen. 11 Maar die land aan die oorkant wat julle binnekort in besit gaan neem, is ’n land van berge en valleivlaktes.+ Dit drink die reën wat uit die hemel val.+ 12 Dit is ’n land waarvoor Jehovah julle God sorg. Die oë van Jehovah julle God is altyd daarop, van die begin van die jaar tot aan die einde van die jaar.

13 “En as julle my gebooie wat ek julle vandag beveel, streng gehoorsaam en Jehovah julle God met julle hele hart en julle hele siel* liefhet en dien,+ 14 sal ek vir julle land reën gee op die vasgestelde tyd, herfsreën en lentereën, en julle sal julle graan en julle nuwe wyn en julle olie insamel.+ 15 En ek sal weiding in julle veld voorsien vir julle vee, en julle sal eet en versadig word.+ 16 Pasop dat julle hart nie verlei word om ’n verkeerde weg in te slaan en ander gode te aanbid en voor hulle neer te buig nie.+ 17 Anders sal Jehovah vir julle woedend word, en hy sal die hemel toesluit sodat dit nie sal reën+ en die grond nie sy opbrengs sal gee nie, en julle sal vinnig uit die goeie land verdwyn wat Jehovah aan julle gee.+

18 “Jy moet hierdie woorde van my in jou hart en jou siel* bewaar en dit as ’n herinnering op jou hand bind, en dit moet soos ’n band op jou voorkop* wees.+ 19 Leer dit vir jou kinders en praat daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.+ 20 Skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte, 21 sodat julle en julle kinders lank kan lewe+ in die land wat Jehovah met ’n eed belowe het om aan julle voorvaders te gee,+ solank as wat die hemel bo die aarde is.

22 “As julle hierdie gebod wat ek vir julle gee, streng gehoorsaam en dit uitvoer deur Jehovah julle God lief te hê,+ al sy weë te volg en aan hom getrou te bly,+ 23 dan sal Jehovah al hierdie nasies voor julle uit verdryf,+ en julle sal die land van nasies wat groter en magtiger is as julle, in besit neem.+ 24 Elke plek waar julle julle voete neersit, sal julle s’n word.+ Julle grens sal wees van die wildernis tot by die Liʹbanon, en van die Rivier, die Eufraatrivier, tot by die westelike see.*+ 25 Niemand sal teen julle staande kan bly nie.+ Jehovah julle God sal ’n vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle loop,+ net soos hy julle belowe het.

26 “Kyk, ek gee julle vandag die keuse tussen ’n seën en ’n vloek:+ 27 die seën as julle die gebooie van Jehovah julle God gehoorsaam wat ek julle vandag beveel,+ 28 en die vloek as julle nie die gebooie van Jehovah julle God gehoorsaam nie+ en wegdraai van die weg wat ek julle vandag beveel om te volg en julle agter ander gode aanloop wat julle nie geken het nie.

29 “Wanneer Jehovah julle God julle in die land inbring wat julle in besit gaan neem, moet julle die seën op die berg Geriʹsim uitspreek,* en die vloek op die berg Ebal.+ 30 Hierdie berge is aan die ander kant van die Jordaanrivier, aan die westekant,* in die land van die Kanaäniete wat in die Aʹraba woon, oorkant Gilgal, langs die groot bome van More.+ 31 Want julle trek deur die Jordaanrivier om in te gaan en die land in besit te neem wat Jehovah julle God aan julle gee.+ Wanneer julle dit in besit neem en daarin woon, 32 moet julle sorg dat julle al die wetsvoorskrifte en die regterlike bevele uitvoer wat ek vandag aan julle gee.+

12 “Julle moet sorg dat julle al die dae van julle lewe hierdie wetsvoorskrifte en regterlike bevele gehoorsaam in die land wat Jehovah, die God van julle voorvaders, aan julle sal gee om in besit te neem. 2 Julle moet al die plekke heeltemal vernietig waar die nasies wat deur julle verdryf sal word, hulle gode gedien het,+ hetsy op die hoë berge of op die heuwels of onder enige groot boom. 3 Julle moet hulle altare afbreek, hulle heilige pilare stukkend breek,+ hulle heilige pale* met vuur verbrand en die beelde van hulle gode afkap+ en sodoende die name van hulle gode uit daardie plek laat verdwyn.+

4 “Julle mag Jehovah julle God nie so aanbid nie.+ 5 Julle moet eerder na die plek gaan wat Jehovah julle God vir sy naam en as sy woonplek onder al julle stamme uitkies, en julle moet hom daar aanbid.*+ 6 Dit is waar julle julle brandoffers,+ julle offerandes, julle tiendes,+ die bydrae van julle hand,+ julle gelofte-offers, julle vrywillige offers+ en die eersgeborenes van julle beeste en kleinvee moet bring.+ 7 Julle en julle huisgesinne moet daar voor Jehovah julle God eet+ en vrolik wees oor alles wat julle uitgerig het,+ omdat Jehovah julle God julle geseën het.

8 “Julle mag nie doen soos ons vandag hier doen nie. Hier doen elkeen net wat reg is in sy eie oë* 9 omdat julle nog nie in die rusplek+ en die erfdeel gekom het wat Jehovah julle God aan julle gee nie. 10 Wanneer julle deur die Jordaanrivier trek+ en julle in die land woon wat Jehovah julle God aan julle gee om in besit te neem, sal hy julle beslis rus gee van al julle vyande om julle, en julle sal in veiligheid woon.+ 11 Julle sal alles wat ek julle beveel, bring na die plek wat Jehovah julle God vir sy naam uitkies+ – julle brandoffers, julle offerandes, julle tiendes,+ die bydrae van julle hand en al julle gelofte-offers wat julle belowe om aan Jehovah te gee. 12 Julle moet vrolik wees voor Jehovah julle God,+ julle en julle seuns, julle dogters, julle slawe, julle slavinne en die Leviete in julle stede,* want die Leviete het nie ’n deel of ’n erfdeel saam met julle ontvang nie.+ 13 Wees versigtig om nie julle brandoffers te offer op enige ander plek wat vir julle goed lyk nie.+ 14 Julle moet julle brandoffers net op die plek offer wat Jehovah in een van julle stamgebiede uitkies, en daar moet julle alles doen wat ek julle beveel.+

15 “Maar wanneer julle lus is vir vleis, mag julle in enige van julle stede* ’n dier slag en die vleis eet,+ volgens die seën wat Jehovah julle God julle gee. Die onrein persoon en die rein persoon mag dit eet, net soos julle ’n wildsbok* sou eet. 16 Maar julle mag nie die bloed eet nie.+ Julle moet dit op die grond uitgooi soos water.+ 17 Julle sal nie toegelaat word om in julle stede* die tiendes te eet van julle graan, julle nuwe wyn, julle olie, die eersgeborenes van julle beeste en kleinvee,+ enige van julle gelofte-offers wat julle belowe om te gee, julle vrywillige offers of die bydrae van julle hand nie. 18 Julle moet hierdie dinge voor Jehovah julle God eet op die plek wat Jehovah julle God sal uitkies+ – julle en julle seuns, julle dogters, julle slawe, julle slavinne en die Leviete in julle stede* – en julle moet voor Jehovah julle God bly wees oor alles wat julle uitgerig het. 19 Maak seker dat julle nie die Leviet afskeep+ solank as wat julle in julle land woon nie.

20 “Wanneer Jehovah julle God julle gebied uitbrei,+ net soos hy julle belowe het,+ en jy sê: ‘Ek wil vleis eet,’ omdat jy lus is om vleis te eet, mag jy vleis eet wanneer jy ook al daarvoor lus is.+ 21 As julle ver is van die plek wat Jehovah julle God uitkies om sy naam daar te vestig,+ moet julle van julle beeste of van julle kleinvee slag wat Jehovah julle gegee het, net soos ek julle beveel het, en julle moet in julle stede* eet wanneer julle ook al daarvoor lus is. 22 Julle mag dit eet net soos julle ’n wildsbok*+ sou eet. Die onrein persoon sowel as die rein persoon mag dit eet. 23 Wees net vasbeslote om nie die bloed te eet nie,+ want die bloed is die lewe,*+ en julle mag nie die lewe* saam met die vleis eet nie. 24 Julle mag dit nie eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi soos water.+ 25 Julle mag dit nie eet nie, sodat dit met julle en julle kinders goed kan gaan, omdat julle doen wat reg is in Jehovah se oë. 26 Wanneer julle na die plek gaan wat Jehovah sal uitkies, mag julle net julle heilige dinge en julle gelofte-offers neem. 27 Daar moet julle julle brandoffers, die vleis en die bloed,+ op die altaar van Jehovah julle God offer, en die bloed van julle offerandes moet teen die altaar van Jehovah julle God uitgegooi word,+ maar die vleis mag julle eet.

28 “Sorg dat julle al hierdie woorde gehoorsaam wat ek julle beveel, sodat dit altyd met julle en julle kinders goed kan gaan, omdat julle doen wat goed en reg is in die oë van Jehovah julle God.

29 “Wanneer Jehovah julle God die nasies vernietig wie se land julle in besit moet neem+ en julle in hulle land woon, 30 moet julle versigtig wees dat julle nie verstrik word nadat hulle voor julle uitgeroei is nie. Moenie oor hulle gode vra: ‘Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien?’ en sê: ‘Ek sal dit ook doen’ nie.+ 31 Julle mag Jehovah julle God nie so aanbid nie, want hulle doen vir hulle gode elke afskuwelike ding wat Jehovah haat. Hulle verbrand selfs hulle seuns en hulle dogters met vuur vir hulle gode.+ 32 Julle moet sorg dat julle elke woord uitvoer wat ek julle beveel.+ Julle mag niks daarby voeg of daarvan wegneem nie.+

13 “As ’n profeet of iemand wat deur middel van drome voorspellings maak, tussen julle opstaan en vir julle ’n teken of ’n voorteken gee, 2 en die teken of die voorteken waaroor hy met julle gepraat het, waar word, en hy sê: ‘Laat ons agter ander gode aanloop,’ gode wat julle nie geken het nie, ‘en laat ons hulle dien,’ 3 mag julle nie na die woorde van daardie profeet of daardie dromer luister nie,+ want Jehovah julle God toets julle+ om te weet of julle Jehovah julle God liefhet met julle hele hart en julle hele siel.*+ 4 Dit is Jehovah julle God wat julle moet volg, hy is die Een wat julle moet vrees, dit is sy gebooie wat julle moet gehoorsaam en dit is sy stem waarna julle moet luister. Hy is die Een wat julle moet dien, en hy is die Een aan wie julle lojaal moet bly.+ 5 Maar daardie profeet of daardie dromer moet doodgemaak word,+ want hy het julle aangehits om teen Jehovah julle God in opstand te kom. Hy wou julle laat afwyk van die weg wat Jehovah julle God, wat julle uit Egipte uitgelei en julle uit die huis van slawerny verlos het, julle beveel het om te volg. En julle moet wat sleg is, onder julle uit verwyder.+

6 “As jou broer, die seun van jou ma, of jou seun of jou dogter of jou geliefde vrou of jou beste vriend jou in die geheim probeer verlei deur te sê: ‘Laat ons ander gode gaan dien,’+ gode wat nie julle of julle voorvaders geken het nie, 7 gode van die volke om julle, of hulle nou naby julle is of ver van julle is, van die een einde van die land tot die ander einde van die land, 8 mag jy nie toegee of na hom luister nie,+ en jy mag ook nie vir hom jammer voel of medelye* betoon of hom beskerm nie, 9 maar jy moet hom vir seker doodmaak.+ Jy moet jou hand eerste lig om hom dood te maak, en daarna moet die hele volk dieselfde doen.+ 10 En jy moet hom met klippe doodgooi,+ want hy het jou probeer kry om Jehovah jou God te verlaat, wat jou uit Egipte, uit die huis van slawerny, uitgelei het. 11 Dan sal die hele Israel hoor en bang word, en niemand onder julle sal ooit weer so ’n slegte ding doen nie.+

12 “As julle hoor dat daar in een van julle stede, wat Jehovah julle God aan julle gee om in te woon, gesê word: 13 ‘Slegte mense het onder julle opgestaan om die inwoners van hulle stad te verlei deur te sê: “Laat ons ander gode gaan dien,” gode wat julle nie geken het nie,’ 14 dan moet julle die saak goed ondersoek en deeglik navraag doen.+ En as dit bevestig is dat hierdie afskuwelike ding wel onder julle volk gedoen is, 15 moet julle die inwoners van daardie stad vir seker met die swaard doodmaak.+ Vernietig dit en alles daarin,+ insluitende die vee, met die swaard. 16 Julle moet al die buit in die middel van die openbare plein bymekaarmaak en die stad met vuur verbrand, en al die buit sal ’n heeloffer aan Jehovah julle God wees. Die stad moet vir altyd ’n ruïne wees. Dit mag nooit herbou word nie. 17 Julle mag niks neem wat vernietig moet word* nie.+ Dan sal Jehovah se brandende woede bedaar, en hy sal genade en medelye* aan julle betoon en julle laat vermeerder, net soos hy vir julle voorvaders gesweer het.+ 18 Want julle moet Jehovah julle God gehoorsaam* deur al sy gebooie te onderhou wat ek julle vandag beveel. So doen julle wat reg is in die oë van Jehovah julle God.+

14 “Julle is kinders van Jehovah julle God. Julle mag nie julleself sny+ of julle voorkop kaal skeer vir ’n dooie persoon nie.+ 2 Want julle is ’n heilige volk+ vir Jehovah julle God, en Jehovah het julle uitgekies om sy volk te word, sy spesiale eiendom,* uit al die volke wat op die oppervlak van die aarde is.+

3 “Julle mag niks eet wat afstootlik is nie.+ 4 Julle mag die volgende diere eet:+ die bul, die skaap, die bok, 5 die takbok, die gasel, die reebok, die wilde bok, die wildsbok, die wilde skaap en die bergskaap. 6 Julle mag enige dier eet waarvan die hoewe heeltemal gesplete is en wat herkou. 7 Maar julle mag nie die volgende diere eet wat herkou of wat gesplete hoewe het nie: die kameel, die haas en die klipdassie, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie. Hulle is vir julle onrein.+ 8 En ook die vark, want dit het gesplete hoewe, maar dit herkou nie. Dit is vir julle onrein. Julle mag nie hulle vleis eet of aan hulle karkasse raak nie.

9 “Julle mag die volgende eet van alles wat in die waters is: Julle mag enigiets eet wat vinne en skubbe het.+ 10 Maar julle mag niks eet wat geen vinne en skubbe het nie. Dit is vir julle onrein.

11 “Julle mag enige rein voël eet. 12 Maar julle mag nie die volgende eet nie: die arend, die visvalk, die swartaasvoël,+ 13 die rooiwou, die swartwou, elke soort wou, 14 elke soort kraai, 15 die volstruis, die uil, die meeu, elke soort valk, 16 die steenuil, die langooruil, die swaan, 17 die pelikaan, die aasvoël, die kormorant, 18 die ooievaar, elke soort reier, die hoep-hoep en die vlermuis. 19 Elke insek met vlerke is ook vir julle onrein. Hulle mag nie geëet word nie. 20 Julle mag enige rein vlieënde dier eet.

21 “Julle mag geen dier eet wat dood gevind is nie.+ Julle mag dit gee vir die uitlander wat in julle stede* onder julle woon, en hy mag dit eet, of dit kan aan ’n uitlander verkoop word. Want julle is ’n heilige volk vir Jehovah julle God.

“Jy mag nie ’n boklam in sy ma se melk kook nie.+

22 “Jy moet vir seker ’n tiende gee van alles wat jou saad jaar ná jaar op die landerye voortbring.+ 23 Jy moet voor Jehovah jou God die tiendes eet van jou graan, jou nuwe wyn, jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee op die plek wat hy vir sy naam uitkies,+ sodat jy kan leer om Jehovah jou God altyd te vrees.+

24 “Maar as die reis vir jou te lank is en jy dit nie kan vervoer na die plek wat Jehovah jou God uitkies as die plek vir sy naam nie,+ omdat dit ver van jou af is (want Jehovah jou God sal jou seën), 25 dan kan jy dit verkoop en met die geld in jou hand reis na die plek wat Jehovah jou God sal uitkies. 26 Dan kan jy met die geld enigiets koop wat jy begeer – beeste, skape, bokke, wyn en ander alkohol en enigiets wat jy wil hê. En jy moet daar voor Jehovah jou God eet en bly wees, jy en jou huisgesin.+ 27 En moenie die Leviet wat in julle stede is,+ afskeep nie, want hy het nie ’n deel of ’n erfdeel saam met julle ontvang nie.+

28 “Aan die einde van elke derde jaar moet jy die hele tiende van jou opbrengs vir daardie jaar uitbring en dit in julle stede neersit.+ 29 Dan sal die Leviet, wat nie ’n deel of ’n erfdeel saam met julle ontvang het nie, die uitlander wat onder julle woon, die weeskind* en die weduwee wat in julle stede is, kom en eet en versadig word,+ sodat Jehovah jou God jou kan seën in alles wat jy doen.+

15 “Aan die einde van elke sewe jaar moet jy skuld afskryf.+ 2 Dit is hoe die skuld afgeskryf moet word: Elke skuldeiser moet sy naaste se skuld afskryf. Hy moenie aandring dat sy naaste of sy broer hom moet betaal nie, want daar sal aangekondig word dat die skuld ter ere van Jehovah afgeskryf word.+ 3 Jy mag daarop aandring dat die uitlander moet betaal,+ maar wat jou broer jou ook al skuld, moet jy afskryf. 4 Niemand onder julle hoef egter arm te word nie, want Jehovah sal julle vir seker seën+ in die land wat Jehovah julle God aan julle as ’n erfdeel gee om te besit, 5 maar dit sal net gebeur as julle die stem van Jehovah julle God streng gehoorsaam en streng bly by hierdie hele gebod wat ek julle vandag beveel.+ 6 Want Jehovah julle God sal julle seën net soos hy julle belowe het, en julle sal aan baie nasies leen, maar julle sal van niemand hoef te leen nie.+ En julle sal oor baie nasies heers, maar hulle sal nie oor julle heers nie.+

7 “As een van julle broers onder julle arm word in een van julle stede in die land wat Jehovah julle God aan julle gee, moet jy nie jou hart verhard of jou hand toehou vir jou arm broer nie.+ 8 Want jy moet jou hand met vrygewigheid vir hom oopmaak+ en vir hom leen wat hy ook al nodig het of kortkom. 9 Wees versigtig dat jy nie slegte gedagtes in jou hart koester en dan suinig is teenoor jou arm broer en vir hom niks gee nie omdat jy dink: ‘Die sewende jaar, die jaar wanneer skuld afgeskryf moet word, het naby gekom.’+ As hy tot Jehovah roep om oor jou te kla, sal dit vir jou ’n sonde wees.+ 10 Jy moet vryelik aan hom gee,+ en jy* moenie teësinnig aan hom gee nie, want dan sal Jehovah jou God jou seën in al jou werk en in alles wat jy aanpak.+ 11 Want daar sal altyd arm mense in die land wees.+ Daarom beveel ek jou: ‘Jy moet jou hand met vrygewigheid oopmaak vir jou behoeftige en arm broer in jou land.’+

12 “As een van jou broers, ’n Hebreeuse man of vrou, aan jou verkoop word en jou ses jaar lank gedien het, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat.+ 13 En wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande wegstuur nie. 14 Jy moet vrygewig wees en vir hom iets gee van jou kleinvee, jou dorsvloer, jou oliepers en jou wynpers. Jy moet aan hom gee volgens die seën wat Jehovah jou God jou gegee het. 15 Onthou dat jy ’n slaaf in Egipte geword het en dat Jehovah jou God jou verlos het. Daarom beveel ek jou vandag om hierdie dinge te doen.

16 “Maar as hy vir jou sê: ‘Ek sal nie van u af weggaan nie!’ omdat hy jou en jou huisgesin liefhet en hy gelukkig was by jou,+ 17 dan moet jy hom teen ’n deur laat staan, ’n els neem en dit deur sy oor tot in die deur steek, en hy sal vir die res van sy lewe jou slaaf word. Jy moet dieselfde met jou slavin doen. 18 Dit moenie vir jou moeilik wees wanneer jy hom vrylaat en hy jou verlaat nie, want sy ses jaar lange diens aan jou was twee keer meer werd as dié van ’n gehuurde werker, en Jehovah jou God het jou in alles geseën.

19 “Jy moet elke manlike eersgeborene van jou beeste en jou kleinvee vir Jehovah jou God heilig.+ Jy mag geen werk met die eersgeborene van jou beeste* doen nie, en jy mag ook nie die eersgeborene van jou kleinvee skeer nie. 20 Jy en jou huisgesin moet dit jaar ná jaar voor Jehovah jou God eet op die plek wat Jehovah sal uitkies.+ 21 Maar as dit ’n gebrek het – hetsy dit kreupel of blind is of enige ander ernstige gebrek het – mag jy dit nie aan Jehovah jou God offer nie.+ 22 Julle moet dit in julle stede* eet, die onrein persoon sowel as die rein persoon, net soos julle ’n wildsbok*+ sou eet. 23 Maar julle mag nie die bloed eet nie.+ Julle moet dit op die grond uitgooi soos water.+

16 “Onthou die maand Abib,* en vier die Pasga vir Jehovah julle God,+ want in die maand Abib het Jehovah julle God julle in die nag uit Egipte uitgelei.+ 2 En julle moet die Pasga-offer vir Jehovah julle God offer,+ uit die kleinvee en die beeste,+ op die plek wat Jehovah vir sy naam uitkies.+ 3 Julle mag niks daarby eet wat met suurdeeg gemaak is nie.+ Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet, die brood van swaarkry, want julle het haastig uit Egipte getrek.+ Doen dit sodat julle die dag toe julle uit Egipte gekom het, kan onthou solank as wat julle lewe.+ 4 Geen suurdeeg mag sewe dae lank by julle in julle hele gebied gevind word nie,+ en van die vleis wat julle op die eerste dag in die aand sal offer, mag niks die hele nag tot die volgende oggend toe oorbly nie.+ 5 Julle sal nie toegelaat word om die Pasga-offer in sommer enige van die stede te offer wat Jehovah julle God aan julle gee nie. 6 Maar dit moet gedoen word op die plek wat Jehovah julle God vir sy naam uitkies. Julle moet die Pasga-offer in die aand offer, sodra die son ondergaan,+ op dieselfde dag as wat* julle uit Egipte vertrek het. 7 Julle moet dit gaarmaak en eet+ op die plek wat Jehovah julle God sal uitkies,+ en in die oggend kan julle na julle tente teruggaan. 8 Ses dae moet julle ongesuurde brood eet, en op die sewende dag sal daar ’n heilige vergadering vir Jehovah julle God wees. Julle mag geen werk doen nie.+

9 “Jy moet sewe weke aftel. Jy moet sewe weke begin aftel vandat jy die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan steek.+ 10 Dan moet jy die Fees van die Weke vir Jehovah jou God vier+ met die vrywillige offer van jou hand. Dit moet in verhouding wees tot die seën wat Jehovah jou God jou gee.+ 11 En jy moet bly wees voor Jehovah jou God, jy en jou seun, jou dogter, jou slaaf, jou slavin, die Leviet wat in julle stede* is, die uitlander wat onder julle woon, die weeskind* en die weduwee wat by julle is, op die plek wat Jehovah jou God vir sy naam uitkies.+ 12 Onthou dat jy ’n slaaf in Egipte geword het,+ en jy moet hierdie wetsvoorskrifte gehoorsaam en nakom.

13 “Jy moet die Huttefees*+ sewe dae lank vier wanneer jy die opbrengs van jou dorsvloer, jou oliepers en jou wynpers insamel. 14 Wees bly gedurende jou fees,+ jy en jou seun, jou dogter, jou slaaf, jou slavin, die Leviet, die uitlander wat onder julle woon, die weeskind en die weduwee wat in julle stede is. 15 Sewe dae moet jy die fees+ vir Jehovah jou God vier op die plek wat Jehovah uitkies, want Jehovah jou God sal jou hele opbrengs en alles wat jy doen, seën,+ en jy moet net vreugdevol wees.+

16 “Drie keer per jaar moet al die mans voor Jehovah jou God verskyn op die plek wat hy uitkies: vir die Fees van die Ongesuurde Brode,+ die Fees van die Weke+ en die Huttefees,*+ en niemand mag met leë hande voor Jehovah verskyn nie. 17 Die gawe wat elkeen bring, moet in verhouding wees tot die seën wat hy van Jehovah sy God ontvang het.+

18 “Julle moet regters+ en beamptes aanstel vir elke stam in al die stede* wat Jehovah julle God aan julle gee, en hulle moet die volk met regverdigheid oordeel. 19 Julle mag nie die reg verdraai,+ partydig wees+ of ’n omkoopgeskenk aanvaar nie, want die omkoopgeskenk verblind die oë van die wyses+ en verdraai die woorde van die regverdiges. 20 Geregtigheid – geregtigheid moet julle nastreef,+ sodat julle kan bly lewe en die land in besit kan neem wat Jehovah julle God aan julle gee.

21 “Julle mag nie enige soort boom as ’n heilige paal*+ plant naby die altaar wat julle vir Jehovah julle God maak nie.

22 “Julle mag ook nie vir julle ’n heilige pilaar* oprig nie,+ iets wat Jehovah julle God haat.

17 “Julle mag nie aan Jehovah julle God ’n bul of ’n skaap offer wat ’n gebrek het of waarmee daar iets fout is nie, want dit is iets afskuweliks vir Jehovah julle God.+

2 “Sê nou daar word in een van julle stede wat Jehovah julle God aan julle gee, ’n man of ’n vrou onder julle gevind wat doen wat sleg is in die oë van Jehovah julle God en wat sy verbond verbreek.+ 3 Miskien het hy ’n verkeerde weg ingeslaan en ander gode aanbid en voor hulle of voor die son of die maan of die hele leërmag van die hemel neergebuig,+ iets wat ek nie beveel het nie.+ 4 Wanneer dit aan julle gerapporteer word of julle daarvan hoor, moet julle die saak deeglik ondersoek. As dit bevestig word+ dat hierdie afskuwelike ding in Israel gedoen is, 5 moet julle die man of die vrou wat hierdie slegte ding gedoen het, na die stadspoorte bring, en die man of die vrou moet met klippe doodgegooi word.+ 6 Die persoon moet doodgemaak word as die saak deur* twee of drie getuies bevestig word.+ Hy mag nie doodgemaak word as daar net een persoon is wat teen hom getuig nie.+ 7 Die getuies moet hulle hand eerste lig om hom dood te maak, en daarna moet die hele volk dieselfde doen. Julle moet wat sleg is, onder julle uit verwyder.+

8 “As ’n saak in een van julle stede na julle toe gebring word wat vir julle te moeilik is om oor te besluit, of dit nou te doen het met iemand wat doodgemaak is*+ of ’n wettige eis of ’n gewelddaad of enigiets anders waaroor daar ’n geskil is, dan moet julle na die plek gaan wat Jehovah julle God uitkies.+ 9 Gaan na die Levitiese priesters en na die regter+ wat in daardie dae dien en stel julle saak aan hulle, en hulle sal die besluit aan julle bekend maak.+ 10 Dan moet julle optree in ooreenstemming met die besluit wat hulle aan julle bekend maak by die plek wat Jehovah uitkies. Sorg dat julle alles doen wat hulle julle beveel. 11 Julle moet optree volgens die wet wat hulle vir julle wys en volgens die besluit wat hulle aan julle bekend maak.+ Moenie regs of links afwyk van die besluit wat hulle aan julle bekend sal maak nie.+ 12 Die man wat trots* is en nie luister na die regter of na die priester wat voor Jehovah julle God dien nie, moet sterf.+ Julle moet wat sleg is, uit Israel verwyder.+ 13 Die hele volk sal dan hiervan hoor en bang word, en hulle sal nie weer waag om so iets te doen* nie.+

14 “Wanneer julle in die land kom wat Jehovah julle God aan julle gee en julle dit in besit geneem het en daarin woon en julle sê: ‘Laat ons ’n koning oor ons aanstel soos al die nasies wat om ons is,’+ 15 dan moet julle ’n koning oor julle aanstel wat deur Jehovah julle God gekies word.+ Julle moet een van julle broers as koning aanstel. Julle mag nie ’n uitlander, wat nie julle broer is, oor julle aanstel nie. 16 Maar hy mag nie baie perde vir homself verkry+ of die volk na Egipte laat teruggaan om meer perde te kry nie,+ want Jehovah het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie.’ 17 Hy mag ook nie baie vrouens vir hom neem nie, sodat sy hart nie ’n verkeerde weg inslaan nie.+ Hy mag ook nie groot hoeveelhede silwer en goud vir homself verkry nie.+ 18 Wanneer hy op die troon van sy koninkryk gaan sit, moet hy vir hom in ’n boek* ’n afskrif skryf van hierdie Wet, wat deur die Levitiese priesters gehou word.+

19 “Dit moet by hom bly, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees,+ sodat hy kan leer om Jehovah sy God te vrees en om al die woorde van hierdie Wet en hierdie wetsvoorskrifte te gehoorsaam deur dit te doen.+ 20 Dan sal hy nie neersien op sy broers nie,* en hy sal nie regs of links van die gebod afwyk nie, en hy en sy seuns sal lank oor sy koninkryk in Israel regeer.

18 “Die Levitiese priesters, ja, die hele stam van Levi, sal nie ’n deel of ’n erfdeel saam met Israel ontvang nie. Hulle sal eet van die vuuroffers van Jehovah, wat sy erfdeel is.+ 2 Hulle mag dus geen erfdeel onder hulle broers hê nie. Jehovah is hulle erfdeel, net soos hy vir hulle gesê het.

3 “En die priesters sal die reg hê om die volgende van die volk te ontvang: Wanneer iemand ’n offerande bring, of dit nou ’n bul of ’n skaap is, moet hy die skouer, die kakebene en die maag vir die priester gee. 4 Die eerste opbrengs* van julle graan, julle nuwe wyn, julle olie en die eerste wol wat julle van julle kleinvee afskeer, moet julle vir hom gee.+ 5 Jehovah julle God het hom en sy seuns uit al julle stamme uitgekies om altyd in die naam van Jehovah te dien.+

6 “Maar as ’n Leviet een van julle stede in Israel verlaat waar hy gewoon het+ en hy na die plek wil gaan wat Jehovah uitkies,*+ 7 mag hy daar in die naam van Jehovah sy God dien net soos al sy broers, die Leviete, wat daar voor Jehovah dien.+ 8 Hy sal saam met hulle ’n gelyke deel van die voedsel ontvang,+ buiten die geld wat hy kry wanneer hy sy voorvaderlike besittings verkoop.

9 “Wanneer julle in die land ingegaan het wat Jehovah julle God aan julle gee, mag julle nie die afskuwelike gebruike van daardie nasies aanleer nie.+ 10 Die volgende mag nooit onder julle gevind word nie: enigiemand wat sy seun of sy dogter as ’n offerande in die vuur verbrand,*+ enigiemand wat van waarsêery gebruik maak,+ enigiemand wat toorkuns beoefen,+ enigiemand wat na tekens* soek,+ ’n towenaar,+ 11 enigiemand wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek, enigiemand wat hulp gaan soek by ’n persoon wat geeste oproep*+ of by ’n fortuinverteller+ of enigiemand wat die dooies raadpleeg.+ 12 Want enigiemand wat hierdie dinge doen, is afskuwelik vir Jehovah, en weens hierdie afskuwelike gebruike verdryf Jehovah julle God hulle voor julle uit. 13 Julle moet heeltemal rein wees voor Jehovah julle God.+

14 “Want hierdie nasies wie se land julle in besit neem, het geluister na diegene wat toorkuns+ en waarsêery+ beoefen, maar Jehovah julle God het julle nie toegelaat om so iets te doen nie. 15 Jehovah julle God sal vir julle uit julle broers ’n profeet soos ek laat kom. Julle moet na hom luister.+ 16 Dit is in antwoord op wat julle van Jehovah julle God gevra het op die dag toe julle* by Horeb vergader het,+ toe julle gesê het: ‘Moenie dat ons die stem van Jehovah ons God hoor of langer kyk na hierdie groot vuur nie, sodat ons nie sterf nie.’+ 17 Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is goed. 18 Ek sal vir hulle ’n profeet soos jy uit hulle broers laat kom,+ en ek sal my woorde in sy mond sit,+ en hy sal vir hulle alles sê wat ek hom beveel.+ 19 En ek sal rekenskap eis van die man wat nie na my woorde luister wat hy in my naam sal sê nie.+

20 “‘As enige profeet dit waag* om iets in my naam te sê wat ek hom nie beveel het om te sê nie of as hy in die naam van ander gode praat, moet daardie profeet sterf.+ 21 Maar julle sê dalk in julle hart: “Hoe sal ons weet dat Jehovah nie die woord gespreek het nie?” 22 Wanneer die profeet iets in die naam van Jehovah sê en dit nie vervul word of waar word nie, dan het Jehovah dit nie gesê nie. Die profeet het uit sy eie gepraat. Julle moenie vir hom bang wees nie.’

19 “Wanneer Jehovah julle God die nasies vernietig wie se land Jehovah julle God aan julle gee en julle hulle verdryf het en in hulle stede en huise gaan woon het,+ 2 moet julle drie stede afsonder in die land wat Jehovah julle God aan julle gee om te besit.+ 3 Julle moet die land wat Jehovah julle God aan julle gegee het om te besit, in drie dele verdeel en die paaie voorberei sodat enigeen wat iemand doodgemaak het, na een van hierdie stede kan vlug.

4 “En dít is wat moet gebeur in die geval van ’n persoon wat iemand doodgemaak het en wat daarheen vlug om te bly lewe: Sê nou hy maak sy medemens onopsetlik dood en het hom nie voorheen gehaat nie.+ 5 Dalk gaan hy saam met sy medemens in die woud in om hout bymekaar te maak, en wanneer hy sy hand lig om ’n boom af te kap, vlieg die kop van die byl van die handvatsel af en tref dit sy medemens, en hy sterf. In so ’n geval moet die persoon na een van hierdie stede vlug om te bly lewe.+ 6 Anders kan die bloedwreker in sy woede die persoon wat iemand doodgemaak het,+ agternasit, hom inhaal en hom doodmaak omdat die stad te ver was. Maar hy het nie verdien om te sterf nie omdat hy nie sy medemens voorheen gehaat het nie.+ 7 Daarom beveel ek julle: ‘Julle moet drie stede afsonder.’

8 “As Jehovah julle God julle gebied uitbrei soos hy vir julle voorvaders gesweer het+ en hy die hele land aan julle gegee het wat hy belowe het om aan julle voorvaders te gee+ 9 – omdat julle hierdie hele gebod getrou gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, naamlik om Jehovah julle God lief te hê en altyd sy weë te volg+ – dan moet julle vir julle drie ander stede by hierdie drie voeg.+ 10 Op hierdie manier sal geen onskuldige bloed vergiet word+ in julle land wat Jehovah julle God aan julle as ’n erfdeel gee nie, en geen bloedskuld sal op julle kom nie.+

11 “Maar as ’n man sy medemens gehaat het+ en hy hom voorgelê en hom* dodelik gewond het en hy gesterf het en die man na een van hierdie stede gevlug het, 12 dan moet die ouermanne van sy stad hom daarvandaan laat roep en hom in die hand van die bloedwreker gee, en hy moet sterf.+ 13 Julle* mag nie vir hom jammer voel nie, en julle moet die skuld weens onskuldige bloed uit Israel verwyder,+ sodat dit met julle goed kan gaan.

14 “Wanneer julle julle erfdeel ontvang in die land wat Jehovah julle God aan julle gee om te besit, mag julle nie julle medemens se grensmerker skuif+ van die plek waar julle voorouers die grense vasgestel het nie.

15 “’n Enkele getuie is nie genoeg om iemand skuldig te bevind aan* ’n oortreding of ’n sonde wat hy dalk gepleeg het nie.+ Die saak moet deur* twee of drie getuies bevestig word.+ 16 As ’n getuie met slegte bedoelings teen ’n man getuig en hom van die een of ander oortreding aankla,+ 17 moet die twee manne wat by die saak betrokke is, voor Jehovah verskyn, en voor die priesters en die regters wat in daardie dae sal dien.+ 18 Die regters moet deeglik ondersoek instel,+ en as die man wat getuig het, ’n valse getuie is en ’n valse aanklag teen sy broer ingebring het, 19 moet julle aan hom doen net soos hy beplan het om aan sy broer te doen,+ en julle moet wat sleg is, onder julle uit verwyder.+ 20 Dié wat oorbly, sal dit hoor en sal bang wees, en niemand onder hulle sal ooit weer so ’n slegte ding doen nie.+ 21 Julle* mag nie jammer voel nie:+ Lewe* moet vir lewe* wees, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.+

20 “As julle teen julle vyande gaan oorlog voer en julle sien dat hulle meer perde en strydwaens en soldate as julle het, moet julle nie vir hulle bang wees nie, want Jehovah julle God, wat julle uit Egipte uitgelei het, is met julle.+ 2 Net voordat julle gaan veg, moet die priester kom en met die volk praat.+ 3 Hy moet vir hulle sê: ‘Luister, o Israel, julle gaan nou teen julle vyande veg. Moenie moed verloor nie. Moenie bang wees of vrees of vir hulle bewe nie, 4 want Jehovah julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg en julle te red.’+

5 “Die beamptes moet ook vir die volk sê: ‘Wie het ’n nuwe huis gebou en dit nie in gebruik geneem* nie? Laat hom na sy huis terugkeer. Anders sterf hy dalk in die geveg, en dan sal ’n ander man dit in gebruik neem. 6 En wie het ’n wingerd geplant en dit nog nie begin gebruik nie? Laat hom gaan en na sy huis terugkeer. Anders sterf hy dalk in die geveg, en dan sal ’n ander man dit begin gebruik. 7 En wie het aan ’n vrou verloof geraak en nog nie met haar getrou nie? Laat hom gaan en na sy huis terugkeer.+ Anders sterf hy dalk in die geveg, en dan sal ’n ander man met haar trou.’ 8 Die beamptes moet ook vir die volk vra: ‘Wie is bang, en wie het moed verloor?+ Hy moet na sy huis terugkeer, sodat hy nie sy broers ook laat moed verloor nie.’*+ 9 Nadat die beamptes met die volk gepraat het, moet hulle hoofde oor die leërmag aanstel om die volk te lei.

10 “As julle by ’n stad kom om daarteen te veg, moet julle eers ’n vredesaanbod maak.+ 11 As die stad ’n vreedsame antwoord gee en hulle vir julle oopmaak, sal al die mense daarin julle slawe word, en hulle sal julle dien.+ 12 Maar as hulle weier om vrede met julle te maak en gereedmaak om oorlog teen julle te voer, moet julle dit beleër, 13 en Jehovah julle God sal dit beslis in julle hand gee, en julle moet elke man daarin met die swaard doodmaak. 14 Maar die vrouens, die kinders, die vee en alles wat in die stad is, al die buit, mag julle vir julle neem,+ en julle sal van die buit van julle vyande eet, wat Jehovah julle God aan julle gegee het.+

15 “So moet julle doen aan al die stede wat baie ver van julle af is, wat nie deel is van die stede van hierdie nabygeleë nasies nie. 16 Maar in die stede van die volgende volke, wat Jehovah julle God julle as ’n erfdeel gee, mag julle niks wat asemhaal, laat lewe nie.+ 17 Julle moet hulle geheel en al vernietig – die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete+ – net soos Jehovah julle God julle beveel het, 18 sodat hulle julle nie leer om al hulle afskuwelike gebruike te volg, die dinge wat hulle vir hulle gode gedoen het en wat julle teen Jehovah julle God+ sal laat sondig nie.

19 “As julle ’n stad beleër om dit in te neem en julle al dae lank daarteen veg, mag julle nie ’n byl teen die bome swaai en dit afkap nie. Julle mag daarvan eet, maar julle mag dit nie afkap nie.+ Want hoekom sou jy ’n boom van die veld aanval soos jy ’n mens sou aanval? 20 Julle mag net ’n boom afkap wat julle weet nie vir voedsel gebruik kan word nie. Julle mag dit afkap en beleëringswerke teen die stad bou wat teen julle oorlog voer, totdat dit val.

21 “As iemand wat doodgemaak is, in ’n veld gevind word in die land wat Jehovah julle God aan julle gee om te besit en niemand weet wie hom doodgemaak het nie, 2 dan moet julle ouermanne en regters+ uitgaan en die afstand meet van die lyk tot by die omliggende stede. 3 Daarna moet die ouermanne van die stad naaste aan die lyk ’n jong koei uit die beeste neem wat nog nooit gewerk het nie, wat nog nooit ’n juk gedra het nie. 4 Die ouermanne van daardie stad moet die jong koei na ’n vallei* neem waarin water vloei en waar die grond nie bewerk is nie en waar saad nie gesaai is nie, en hulle moet die nek van die jong koei daar in die vallei breek.+

5 “En die priesters, die Leviete, moet nader kom, want Jehovah julle God het hulle uitgekies om voor hom te dien,+ om seëninge in die naam van Jehovah uit te spreek.+ Hulle moet sê hoe elke saak wat met geweld te doen het, opgelos moet word.+ 6 Dan moet al die ouermanne van die stad naaste aan die lyk hulle hande was+ oor die jong koei wie se nek in die vallei gebreek is, 7 en hulle moet sê: ‘Ons het nie hierdie persoon doodgemaak nie,* en ons oë het ook nie gesien toe dit gebeur het nie. 8 Moenie dit teen u volk Israel hou, wat u verlos het nie,+ o Jehovah, en moenie die skuld weens onskuldige bloed op u volk Israel laat bly nie.’+ Dan sal die bloedskuld nie teen hulle gehou word nie. 9 So sal julle die skuld weens onskuldige bloed onder julle uit verwyder, want julle sal doen wat reg is in Jehovah se oë.

10 “As jy teen jou vyande gaan oorlog voer en Jehovah jou God hulle vir jou verslaan en jy hulle gevange neem+ 11 en jy onder die gevangenes ’n pragtige vrou sien en jy aangetrokke tot haar voel en jy haar as jou vrou wil neem, 12 dan mag jy haar in jou huis inbring. Sy moet dan haar kop skeer, haar naels versorg 13 en die klere van haar gevangenskap uittrek en in jou huis woon. Sy sal ’n volle maand oor haar pa en haar ma huil,+ en daarna mag jy seksuele omgang met haar hê. Jy sal haar man word, en sy sal jou vrou word. 14 Maar as jy nie tevrede met haar is nie, moet jy haar laat gaan+ waarheen sy ook al wil. Maar jy mag haar nie verkoop of haar wreed behandel nie, want jy het haar verneder.

15 “Sê nou ’n man het twee vrouens en hy het die een meer lief as die ander* en hy het seuns by al twee en die eersgebore seun is die kind van die vrou wat hy minder liefhet.+ 16 Op die dag dat hy sy erfdeel aan sy seuns gee, mag hy nie die seun van die vrou wat hy meer liefhet, as sy eersgeborene behandel ten koste van die ware eersgeborene, die seun van die vrou wat hy minder liefhet nie. 17 Hy moet die seun van die vrou wat hy minder liefhet, as die eersgeborene erken deur hom ’n dubbele deel te gee van alles wat hy het, want hy is die begin van sy voortplantingsvermoë. Die reg van die eersgeborene behoort aan hom.+

18 “As ’n man ’n seun het wat hardkoppig en opstandig is en wat nie sy pa of sy ma gehoorsaam nie+ en hulle hom probeer reghelp het, maar hy weier om na hulle te luister,+ 19 dan moet sy pa en sy ma hom na die ouermanne by die poort van sy stad neem 20 en vir die ouermanne van sy stad sê: ‘Hierdie seun van ons is hardkoppig en opstandig, en hy weier om ons te gehoorsaam. Hy is ’n vraat+ en ’n dronkaard.’+ 21 Dan moet al die manne van sy stad hom met klippe doodgooi. So moet julle dit wat sleg is, onder julle uit verwyder, en die hele Israel sal dit hoor en bang word.+

22 “As ’n man ’n sonde gepleeg het wat die doodstraf verdien en hy doodgemaak is+ en julle hom aan ’n paal gehang het,+ 23 mag sy lyk nie die hele nag aan die paal bly hang nie.+ Julle moet sorg dat julle hom daardie selfde dag begrawe, want iemand wat opgehang is, is deur God vervloek,+ en julle mag nie julle land, wat Jehovah julle God aan julle as ’n erfdeel gee, onrein maak nie.+

22 “As jy sien dat jou broer se bul of skaap wegdwaal, mag jy nie maak of jy dit nie gesien het nie.+ Jy moet die dier vir seker na jou broer toe teruglei. 2 Maar as jou broer nie naby jou woon nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe bring, en dit moet by jou bly totdat jou broer daarna soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee.+ 3 So moet jy doen met sy donkie, met sy klere en met enigiets wat jou broer verloor het en wat jy gevind het. Jy mag dit nie ignoreer nie.

4 “As jy sien dat jou broer se donkie of bul op die pad val, mag jy nie maak of jy dit nie gesien het nie. Jy moet hom vir seker help om die dier weer op te kry.+

5 “’n Vrou mag nie die klere van ’n man aantrek nie, en ’n man mag ook nie die klere van ’n vrou dra nie. Want enigiemand wat dit doen, is afskuwelik vir Jehovah jou God.

6 “As jy langs die pad op ’n voëlnes met kleintjies of eiers afkom, of dit nou in ’n boom of op die grond is, en die ma op die kleintjies of die eiers sit, mag jy nie die ma saam met haar kleintjies neem nie.+ 7 Jy moet die ma laat gaan, maar jy mag die kleintjies vir jou neem. Doen dit sodat dit met jou goed kan gaan en jy lank kan lewe.

8 “As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ook ’n muurtjie om jou dak bou,+ sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.

9 “Jy mag nie twee soorte saad in jou wingerd saai nie.+ Anders sal die volle opbrengs van die saad wat jy saai, sowel as die vrug van die wingerd, aan die heiligdom gegee moet word.

10 “Jy mag nie met ’n bul en ’n donkie saam ploeg nie.+

11 “Jy mag nie klere dra van materiaal wat gemaak is van ’n kombinasie van wol en linne nie.+

12 “Jy moet tossels vaswerk aan die vier hoeke van die klere wat jy dra.+

13 “As ’n man ’n vrou neem en seksuele omgang met haar het, maar haar later begin haat* 14 en hy haar van slegte gedrag beskuldig en haar ’n slegte naam gee deur te sê: ‘Ek het hierdie vrou geneem, maar toe ek seksuele omgang met haar gehad het, het ek geen bewys gevind dat sy ’n maagd was nie,’ 15 dan moet die pa en ma van die meisie die bewys van die meisie se maagdelikheid vir die ouermanne by die poort van die stad wys. 16 Die meisie se pa moet vir die ouermanne sê: ‘Ek het my dogter aan hierdie man as vrou gegee, maar hy haat* haar 17 en hy beskuldig haar van slegte gedrag deur te sê: “Ek het uitgevind dat jou dogter geen bewys van maagdelikheid het nie.” Hier is dan nou die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Hulle moet dan die doek voor die ouermanne van die stad uitsprei. 18 Die ouermanne van die stad+ moet die man neem en hom dissiplineer.+ 19 Hulle moet hom met 100 sikkels* silwer beboet en dit aan die meisie se pa gee, omdat die man ’n maagd van Israel belaster het,+ en sy sal sy vrou bly. Solank as wat hy lewe, sal hy nie toegelaat word om van haar te skei nie.

20 “Maar as die beskuldiging waar is en daar geen bewys is dat die meisie ’n maagd was nie, 21 dan moet hulle die meisie uitbring na die ingang van haar pa se huis, en die manne van haar stad moet haar met klippe doodgooi, omdat sy ’n skandelike daad+ in Israel gepleeg het deur seksuele onsedelikheid* in die huis van haar pa te pleeg.+ So moet julle dit wat sleg is, onder julle uit verwyder.+

22 “As ’n man betrap word terwyl hy by ’n ander man se vrou slaap, dan moet hulle al twee sterf, die man sowel as die vrou.+ So moet julle dit wat sleg is, uit Israel verwyder.

23 “As ’n maagd aan ’n man verloof is en ’n ander man haar in die stad teëkom en seksuele omgang met haar het, 24 dan moet julle hulle albei na die poort van daardie stad uitbring en hulle met klippe doodgooi, die meisie omdat sy nie in die stad geskree het nie en die man omdat hy die vrou van sy medemens verneder het.+ So moet julle dit wat sleg is, onder julle uit verwyder.

25 “Maar as die man die verloofde meisie in die veld teëgekom het en hy haar verkrag het, dan moet die man wat haar verkrag het, alleen sterf, 26 en julle moet niks aan die meisie doen nie. Die meisie het nie ’n sonde gepleeg wat die dood verdien nie. Hierdie saak is soos wanneer ’n man sy medemens aanval en hom vermoor.*+ 27 Want hy het haar in die veld teëgekom, en die verloofde meisie het geskree, maar daar was niemand om haar te red nie.

28 “As ’n man ’n maagd teëkom wat nie verloof is nie en hy die meisie gryp en seksuele omgang met haar het en hulle betrap word,+ 29 dan moet die man die meisie se pa 50 sikkels silwer gee, en sy moet sy vrou word.+ Omdat hy haar verneder het, sal hy nie toegelaat word om van haar te skei solank as wat hy lewe nie.

30 “Geen man mag sy pa se vrou neem nie, sodat hy nie skande oor sy pa bring nie.*+

23 “Geen man wat gekastreer is deurdat sy testikels stukkend gedruk is of wie se manlike orgaan afgesny is, mag in die gemeente van Jehovah kom nie.+

2 “Geen buite-egtelike seun mag in die gemeente van Jehovah kom nie.+ Selfs tot die tiende geslag mag nie een van sy nakomelinge in die gemeente van Jehovah kom nie.

3 “Geen Ammoniet of Moabiet mag in die gemeente van Jehovah kom nie.+ Selfs tot die tiende geslag mag nie een van hulle nakomelinge ooit in die gemeente van Jehovah kom nie, 4 omdat hulle julle nie gehelp het deur vir julle kos en water te gee nadat julle uit Egipte gekom het nie,+ en omdat hulle Biʹleam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotaʹmië, gehuur het om julle te vervloek.+ 5 Maar Jehovah julle God het geweier om na Biʹleam te luister.+ Jehovah julle God het die vloek eerder in ’n seën vir julle verander,+ omdat Jehovah julle God julle liefgehad het.+ 6 In al julle dae moet julle nooit hulle voordeel soek of hulle help om voorspoedig te wees nie.+

7 “Julle mag nie ’n Edomiet haat nie, want hy is julle broer.+

“Julle mag nie ’n Egiptenaar haat nie, want julle het as uitlanders in hulle land gewoon.+ 8 Van die derde geslag af mag die kinders wat vir hulle gebore word, in die gemeente van Jehovah kom.

9 “Wanneer julle teen julle vyande gaan veg en kamp opslaan, moet julle enigiets wat sleg is,* vermy.+ 10 As ’n man onrein word omdat hy ’n saadstorting in die nag het,+ moet hy uit die kamp uitgaan en buite die kamp bly. 11 Wanneer dit aand word, moet hy hom met water was, en dan mag hy ná sononder weer in die kamp inkom.+ 12 ’n Private plek* moet buite die kamp vir julle gebruik opsygesit word, en dit is waar julle moet gaan. 13 ’n Houtpen moet deel van jou gereedskap wees. Wanneer jy buite hurk, moet jy ’n gat daarmee grawe en dan jou ontlasting bedek. 14 Want Jehovah julle God is in julle kamp+ om julle te verlos en om julle vyande aan julle oor te lewer, en julle kamp moet heilig wees,+ sodat hy niks afstootliks by julle sien en wegdraai en ophou om saam met julle te gaan nie.

15 “Jy mag nie ’n slaaf aan sy meester oorlewer as hy van sy meester ontsnap en na jou toe kom nie. 16 Hy mag onder julle woon waar hy ook al wil, in enige plek wat hy in een van julle stede uitkies. Julle mag hom nie sleg behandel nie.+

17 “Geen dogter van Israel mag ’n tempelprostituut word nie,+ en ook mag geen seun van Israel ’n tempelprostituut word nie.+ 18 Julle mag nie die geld wat betaal is aan ’n vroulike prostituut of die geld wat betaal is aan ’n manlike prostituut* in die huis van Jehovah julle God bring om ’n gelofte na te kom nie, want albei is iets afskuweliks vir Jehovah julle God.

19 “Jy mag nie jou broer rente laat betaal nie,+ of dit nou rente is op geld, op kos of op enigiets waarop rente gevra kan word. 20 Jy mag ’n uitlander rente laat betaal,+ maar jy mag nie jou broer rente laat betaal nie,+ sodat Jehovah jou God jou kan seën in alles wat jy aanpak in die land wat jy in besit gaan neem.+

21 “As jy ’n gelofte aan Jehovah jou God maak,+ moet jy nie traag wees om dit na te kom nie.+ Want Jehovah jou God sal dit vir seker van jou eis. Anders sal dit ’n sonde vir jou word.+ 22 Maar as jy nie ’n gelofte maak nie, sal jy nie aan sonde skuldig wees nie.+ 23 Jy moet doen wat jy sê jy sal doen,+ en jy moet doen wat jy met jou eie mond as ’n vrywillige offer aan Jehovah jou God belowe het.+

24 “As jy in jou medemens se wingerd ingaan, mag jy genoeg druiwe eet om jou te versadig, maar jy mag niks daarvan in jou houer sit nie.+

25 “As jy in jou medemens se landery van ongesnyde graan ingaan, mag jy die ryp are met jou hand pluk, maar jy mag nie ’n sekel gebruik om jou medemens se graan af te sny nie.+

24 “As ’n man met ’n vrou trou, maar hy haar nie meer wil hê nie omdat hy iets omtrent haar gevind het wat skandelik is, dan moet hy vir haar ’n skeibrief uitskryf,+ dit vir haar gee en haar uit sy huis wegstuur.+ 2 Nadat sy sy huis verlaat het, mag sy met ’n ander man trou.+ 3 As die tweede man haar haat* en ’n skeibrief vir haar uitskryf, dit vir haar gee en haar uit sy huis wegstuur, of as die tweede man wat met haar getrou het, sterf, 4 sal haar eerste man wat haar weggestuur het, nie toegelaat word om haar weer as sy vrou te neem nadat sy onrein gemaak is nie, want dit is iets afskuweliks vir Jehovah. Julle mag nie sonde inbring in die land wat Jehovah julle God julle as ’n erfdeel gee nie.

5 “As ’n man pas getroud is, moet hy nie in die leërmag dien of enige ander pligte gegee word nie. Hy moet een jaar lank vrygestel word en by die huis bly en sy vrou gelukkig maak.+

6 “Niemand mag ’n handmeul of die boonste maalklip daarvan as waarborg neem vir ’n lening nie,*+ want dan neem jy iets as waarborg wat iemand nodig het om aan die lewe te bly.

7 “As daar uitgevind word dat iemand een van sy Israelitiese broers ontvoer het, hom mishandel het en hom verkoop het,+ dan moet die ontvoerder sterf.+ Julle moet wat sleg is, onder julle uit verwyder.+

8 “As melaatsheid* uitbreek, moet julle baie versigtig wees en alles doen wat die Levitiese priesters julle sal beveel.+ Sorg dat julle presies doen wat ek hulle beveel het. 9 Onthou wat Jehovah julle God aan Mirjam gedoen het toe julle op pad was van Egipte af.+

10 “As jy enigiets aan jou medemens leen,+ mag jy nie in sy huis ingaan om van hom te neem wat hy as waarborg aangebied het nie. 11 Jy moet buite bly staan, en die man aan wie jy geleen het, moet die voorwerp wat hy as waarborg gee, vir jou buitentoe bring. 12 En as die man arm is, mag jy nie bed toe gaan as jy nog die voorwerp het wat hy as waarborg gegee het nie.+ 13 Jy moet vir seker, sodra die son ondergaan, vir hom die voorwerp teruggee wat hy vir jou as waarborg gegee het, en hy moet met sy kleed bed toe gaan,+ en hy sal jou seën. Dan sal jy as regverdig voor Jehovah jou God beskou word.

14 “Jy mag nie ’n gehuurde werker wat behoeftig en arm is, uitbuit nie, of hy nou een van jou broers is of ’n uitlander wat in julle land, in julle stede,* woon nie.+ 15 Jy moet vir hom daardie selfde dag nog sy loon gee,+ voordat die son ondergaan, want hy is arm en sy lewe hang van sy loon af. Anders sal hy tot Jehovah roep om oor jou te kla, en jy sal aan sonde skuldig wees.+

16 “Vaders mag nie doodgemaak word vir wat hulle kinders doen nie, en kinders mag nie doodgemaak word vir wat hulle vaders doen nie.+ ’n Persoon moet net vir sy eie sonde doodgemaak word.+

17 “Jy mag nie die reg verdraai en die uitlander wat onder julle woon of die weeskind* benadeel nie,+ en jy mag nie die kleed van ’n weduwee as waarborg vir ’n lening* neem nie.+ 18 Onthou dat julle slawe in Egipte geword het en dat Jehovah julle God julle verlos het.+ Daarom beveel ek julle om hierdie dinge te doen.

19 “Wanneer julle die oes op julle landerye insamel en julle ’n graanbondel op die landery vergeet het, moet julle nie teruggaan om dit te gaan haal nie. Dit moet daar gelos word vir die uitlander wat onder julle woon, die weeskind en die weduwee,+ sodat Jehovah julle God julle kan seën in alles wat julle doen.+

20 “Wanneer julle die vrugte van julle olyfbome afslaan, mag julle dit nie ’n tweede keer doen nie. Wat oorbly, moet gelos word vir die uitlander wat onder julle woon, die weeskind en die weduwee.+

21 “Wanneer julle die druiwe van julle wingerde insamel, mag julle nie teruggaan om die oorblyfsels in te samel nie. Dit moet daar gelos word vir die uitlander wat onder julle woon, die weeskind en die weduwee. 22 Onthou dat julle slawe in Egipte geword het. Daarom beveel ek julle om hierdie dinge te doen.

25 “As daar ’n saak is waaroor manne nie saamstem nie, kan hulle na die regters gaan,+ en hulle sal hulle oordeel en die regverdige onskuldig verklaar en die goddelose skuldig verklaar.+ 2 As die goddelose persoon verdien om geslaan te word,+ moet die regter hom uitgestrek laat lê, en hy sal voor die regter geslaan word. Die aantal houe moet ooreenstem met die goddeloosheid van sy daad. 3 Hy mag hom tot 40 houe gee,+ maar nie meer nie. As hy hom meer houe as dit gee, sal jou broer voor jou verneder word.

4 “Jy mag nie ’n bul se bek toebind wanneer hy op die dorsvloer werk nie.+

5 “As broers bymekaar woon en een van hulle sterf sonder dat hy ’n seun het, moet die vrou van die dooie man nie met iemand buite die familie trou nie. Haar swaer moet na haar toe gaan, haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit.+ 6 Haar eersgeborene sal die naam van die dooie broer laat voortleef,+ sodat sy naam nie uit Israel uitgewis word nie.+

7 “En as die man nie met sy broer se weduwee wil trou nie, moet sy broer se weduwee na die ouermanne by die stadspoort gaan en sê: ‘My man se broer het geweier om sy broer se naam in Israel te laat voortbestaan. Hy wou nie die swaershuwelik met my sluit nie.’ 8 Die ouermanne van sy stad moet hom roep en met hom praat. As hy bly weier en sê: ‘Ek wil nie met haar trou nie,’ 9 dan moet sy broer se weduwee voor die ouermanne na hom toe gaan, sy sandaal van sy voet aftrek,+ in sy gesig spoeg en sê: ‘Dit is wat gedoen moet word met die man wat sy broer se huis nie wil opbou nie.’ 10 Daarna sal sy familie* in Israel bekend staan as: ‘Die huis van die een wie se sandaal uitgetrek is.’

11 “As twee mans met mekaar baklei en die vrou van die een haar man probeer help en sy haar hand uitsteek en die aanvaller aan sy geslagsdele gryp, 12 dan moet jy haar hand afkap. Jy* moenie jammer voel nie.

13 “Jy mag nie vir dieselfde gewig twee verskillende weegstene,+ ’n grote en ’n kleintjie, in jou sak hê nie. 14 Jy mag nie vir dieselfde maat twee verskillende maathouers,*+ ’n grote en ’n kleintjie, in jou huis hê nie. 15 Jy moet ’n akkurate en eerlike gewig en ’n akkurate en eerlike maathouer hê, sodat jy lank sal lewe in die land wat Jehovah jou God aan jou gee.+ 16 Want elke oneerlike persoon wat sulke dinge doen, is afskuwelik vir Jehovah jou God.+

17 “Onthou wat Aʹmalek op die pad aan julle gedoen het toe julle uit Egipte gekom het,+ 18 hoe hy dié van julle wat agtergeraak het, op die pad aangeval het terwyl julle moeg en uitgeput was. Hy het God nie gevrees nie. 19 Wanneer Jehovah julle God julle rus gegee het van al die vyande om julle in die land wat Jehovah julle God julle as ’n erfdeel gee om te besit,+ moet julle seker maak dat niemand onder die hemel Aʹmalek sal onthou nie.+ Julle moet dit nie vergeet nie.

26 “Wanneer julle uiteindelik in die land ingaan wat Jehovah julle God julle as ’n erfdeel gee en julle dit in besit geneem het en daarin woon, 2 dan moet jy ’n deel neem van die eerste opbrengs* van jou hele oes in die land wat Jehovah julle God aan julle gee. Jy moet dit in ’n mandjie sit en na die plek gaan wat Jehovah julle God vir sy naam uitkies.+ 3 Jy moet na die priester gaan wat in daardie dae sal dien en vir hom sê: ‘Vandag verklaar ek aan Jehovah u God dat ek in die land gekom het wat Jehovah aan ons voorvaders met ’n eed belowe het om aan ons te gee.’+

4 “Die priester sal die mandjie dan uit jou hand neem en dit voor die altaar van Jehovah jou God neersit. 5 Dan moet jy voor Jehovah jou God sê: ‘My vader was ’n Arameër+ wat rondgeswerf het,* en hy het met min mense na Egipte gegaan+ en daar as ’n uitlander gewoon.+ Maar daar het hy ’n baie groot en magtige nasie geword.+ 6 En die Egiptenare het ons sleg behandel en ons onderdruk en het ons hard laat werk as slawe.+ 7 Daarom het ons tot Jehovah, die God van ons voorvaders, begin uitroep, en Jehovah het ons stem gehoor, en hy het gesien hoe ons ly en swaarkry en onderdruk word.+ 8 Uiteindelik het Jehovah ons met ’n magtige hand en ’n uitgestrekte arm+ en met skrikwekkende dade en met tekens en wonderwerke uit Egipte uitgelei.+ 9 Toe het hy ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning.+ 10 Nou het ek die eerste opbrengs* gebring van die grond wat Jehovah aan my gegee het.’+

“Jy moet dit voor Jehovah jou God neersit en jy moet voor Jehovah jou God neerbuig. 11 Jy moet dan bly wees oor al die goeie dinge wat Jehovah jou God vir jou en jou huisgesin gegee het, jy en die Leviet en die uitlander wat onder julle woon.+

12 “Wanneer jy in die derde jaar, die jaar van die tiendes, die hele tiende van jou opbrengs klaar ingesamel het,+ dan moet jy dit aan die Leviet, die uitlander wat onder julle woon, die weeskind* en die weduwee gee, en hulle sal dit in julle stede* eet en versadig word.+ 13 Jy moet dan voor Jehovah jou God sê: ‘Ek het die heilige deel uit my huis geneem en dit aan die Leviet, die uitlander wat onder ons woon, die weeskind en die weduwee gegee,+ net soos u my beveel het. Ek het nie u gebooie oortree nie en was nie ongehoorsaam daaraan nie. 14 Ek het nie daarvan geëet terwyl ek gerou het nie of daaraan geraak terwyl ek onrein was nie, en ek het niks daarvan vir die dooies gegee nie. Ek het die stem van Jehovah my God gehoorsaam en het alles gedoen wat u my beveel het. 15 Kyk tog af uit u heilige woonplek, die hemel, en seën u volk Israel en die land wat u aan ons gegee het,+ net soos u vir ons voorvaders gesweer het,+ die land wat oorloop van melk en heuning.’+

16 “Vandag beveel Jehovah julle God julle om hierdie wetsvoorskrifte en regterlike bevele uit te voer. Julle moet dit met julle hele hart+ en julle hele siel* gehoorsaam en uitvoer. 17 Vandag het julle Jehovah se versekering ontvang dat hy julle God sal word as julle sy weë volg en sy wetsvoorskrifte,+ sy gebooie+ en sy regterlike bevele gehoorsaam+ en na sy stem luister. 18 En vandag het julle voor Jehovah gesê dat julle sy volk sal word, sy spesiale eiendom,*+ net soos hy julle belowe het, en julle het gesê dat julle al sy gebooie sal gehoorsaam. 19 En hy het gesê dat hy julle hoog bo al die ander nasies sal stel wat hy gemaak het+ en julle lof en roem en heerlikheid sal gee as julle ’n heilige volk vir Jehovah julle God is,+ net soos hy belowe het.”

27 Toe het Moses die volk hierdie bevele gegee terwyl die ouermanne van Israel by hom gestaan het: “Julle moet elke gebod gehoorsaam wat ek julle vandag gee. 2 En die dag waarop julle deur die Jordaanrivier trek na die land wat Jehovah julle God aan julle gee, moet julle ook vir julle groot klippe oprig en dit met kalk bedek.*+ 3 Wanneer julle deurgetrek het, moet julle al die woorde van hierdie Wet daarop skryf. Dan mag julle in die land ingaan wat Jehovah julle God aan julle gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning, net soos Jehovah, die God van julle voorvaders, julle belowe het.+ 4 Nadat julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet julle hierdie klippe op die berg Ebal+ oprig en dit met kalk bedek,* net soos ek julle vandag beveel. 5 Julle moet ook ’n altaar vir Jehovah julle God daar bou, ’n altaar van klippe. Julle mag nie die klippe met ystergereedskap bewerk nie.+ 6 Julle moet die altaar van Jehovah julle God met heel klippe bou en brandoffers aan Jehovah julle God daarop offer. 7 Julle moet vrede-offers* offer+ en dit daar eet,+ en julle moet bly wees voor Jehovah julle God.+ 8 En julle moet al die woorde van hierdie Wet duidelik op die klippe skryf.”+

9 Toe het Moses en die Levitiese priesters vir die hele Israel gesê: “Wees stil en luister, o Israel. Vandag het julle die volk van Jehovah julle God geword.+ 10 Julle moet na die stem van Jehovah julle God luister en sy gebooie en sy wetsvoorskrifte gehoorsaam+ wat ek julle vandag beveel.”

11 Op daardie dag het Moses die volgende bevel aan die volk gegee en gesê: 12 “Die volgende stamme moet op die berg Geriʹsim+ staan om die volk te seën nadat julle deur die Jordaanrivier getrek het: Siʹmeon, Levi, Juda, Isʹsaskar, Josef en Benjamin. 13 En die volgende stamme moet op die berg Ebal+ staan om die vloek uit te spreek: Ruben, Gad, Aser, Seʹbulon, Dan en Nafʹtali. 14 En die Leviete moet met ’n harde stem vir elke man van Israel sê:+

15 “‘Vervloek is die man wat ’n uitgekerfde beeld+ of ’n metaalbeeld maak+ – iets wat vir Jehovah afskuwelik is,+ die handewerk van ’n ambagsman* – en wat dit weggesteek het.’ (En die hele volk moet antwoord en sê: ‘Amen!’*)

16 “‘Vervloek is die persoon wat sy pa of sy ma sonder respek behandel.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

17 “‘Vervloek is die persoon wat die grensmerker van sy medemens verskuif.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

18 “‘Vervloek is die persoon wat ’n blinde persoon op die pad laat verdwaal.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

19 “‘Vervloek is die persoon wat die reg verdraai+ en ’n uitlander wat onder julle woon, ’n weeskind* of ’n weduwee benadeel.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

20 “‘Vervloek is die persoon wat seksuele omgang met sy pa se vrou het, want hy het sy pa onteer.’*+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

21 “‘Vervloek is die persoon wat seksuele omgang met enige dier het.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

22 “‘Vervloek is die persoon wat seksuele omgang het met sy suster, of dit nou die dogter van sy pa of die dogter van sy ma is.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

23 “‘Vervloek is die persoon wat seksuele omgang met sy skoonma het.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

24 “‘Vervloek is die persoon wat sy medemens voorlê en hom doodmaak.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

25 “‘Vervloek is die persoon wat ’n omkoopgeskenk aanvaar om ’n onskuldige persoon* dood te maak.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

26 “‘Vervloek is die persoon wat die woorde van hierdie Wet nie gehoorsaam en uitvoer nie.’+ (En die hele volk moet sê: ‘Amen!’)

28 “En as julle vir seker na die stem van Jehovah julle God luister en sorg dat julle al sy gebooie uitvoer wat ek julle vandag beveel, dan sal Jehovah julle God julle beslis hoog bo al die ander nasies van die aarde plaas.+ 2 Al hierdie seëninge sal oor julle kom en julle inhaal+ omdat julle na die stem van Jehovah julle God bly luister:

3 “Geseënd sal julle wees in die stad, en geseënd sal julle wees in die veld.+

4 “Geseënd sal julle kinders,*+ die opbrengs van julle grond, die kleintjies van julle vee, julle kalwers en julle lammers wees.+

5 “Geseënd sal julle mandjie+ en julle knieskottel wees.+

6 “Geseënd sal julle wees wanneer julle inkom, en geseënd sal julle wees wanneer julle uitgaan.

7 “Jehovah sal sorg dat julle vyande wat teen julle opstaan, voor julle verslaan word.+ Hulle sal julle vanuit een rigting aanval, maar hulle sal in sewe verskillende rigtings van julle af wegvlug.+ 8 Jehovah sal beveel dat die seën oor julle voorraadskure kom,+ en oor alles wat julle aanpak, en hy sal julle beslis seën in die land wat Jehovah julle God aan julle gee. 9 Jehovah sal julle ’n heilige volk vir hom maak,+ net soos hy vir julle gesweer het,+ omdat julle aanhou om die gebooie van Jehovah julle God te gehoorsaam en sy weë te volg. 10 Al die volke van die aarde sal moet sien dat Jehovah se naam oor julle uitgeroep is,+ en hulle sal vir julle bang wees.+

11 “Jehovah sal vir julle ’n oorvloed kinders en baie vee en vrugbare grond gee+ in die land wat Jehovah aan julle voorvaders met ’n eed belowe het om aan julle te gee.+ 12 Jehovah sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir julle oopmaak om julle land reën op die regte tyd te gee+ en om alles te seën wat julle doen. Julle sal aan baie nasies leen, terwyl julle van niemand sal hoef te leen nie.+ 13 As julle die gebooie van Jehovah julle God bly gehoorsaam wat ek julle vandag beveel om te onderhou en uit te voer, dan sal Jehovah julle die kop maak en nie die stert nie, en julle sal bo wees+ en nie onder nie. 14 Julle mag nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel,+ deur agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.+

15 “Maar as julle nie na die stem van Jehovah julle God luister deur al sy gebooie en sy wetsbepalings te gehoorsaam wat ek julle vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor julle kom en julle inhaal:+

16 “Vervloek sal julle wees in die stad, en vervloek sal julle wees in die veld.+

17 “Vervloek sal julle mandjie+ en julle knieskottel wees.+

18 “Vervloek sal julle kinders,*+ die opbrengs van julle grond, julle kalwers en julle lammers wees.+

19 “Vervloek sal julle wees wanneer julle inkom, en vervloek sal julle wees wanneer julle uitgaan.

20 “Jehovah sal die vloek, verwarring en straf oor julle bring in alles wat julle doen, totdat julle vernietig is en gou vergaan het as gevolg van julle slegte gebruike en omdat julle hom* verlaat het.+ 21 Jehovah sal die siekte aan julle laat kleef totdat hy julle uitgeroei het uit die land wat julle in besit gaan neem.+ 22 Jehovah sal julle tref met tering, brandende koors,+ inflammasie, koorsige hitte, die swaard,+ verskroeiende wind en swamsiektes.+ En hulle sal julle agtervolg totdat julle vergaan het. 23 Die hemel bo julle kop sal koper wees, en die aarde onder julle, yster.+ 24 Jehovah sal die reën van julle land in poeier en stof verander wat uit die hemel op julle sal val totdat julle uitgeroei is. 25 Jehovah sal maak dat julle voor julle vyande verslaan word.+ Julle sal hulle vanuit een rigting aanval, maar julle sal in sewe verskillende rigtings van hulle af wegvlug. En julle sal iets skokkends vir al die koninkryke van die aarde word.+ 26 En julle lyke sal voedsel word vir elke voël van die hemel en vir die diere van die veld, en niemand sal hulle wegjaag nie.+

27 “Jehovah sal julle tref met die swere van Egipte, aambeie, ekseem en veluitslag, waarvan julle nie genees sal kan word nie. 28 Jehovah sal julle met malheid en blindheid+ en verwarring tref. 29 Julle sal in die middel van die dag rondtas, net soos ’n blinde man in die donker rondtas,+ en niks wat julle doen, sal suksesvol wees nie. En julle sal keer op keer uitgebuit en beroof word, en niemand sal julle red nie.+ 30 Jy sal aan ’n vrou verloof raak, maar ’n ander man sal haar verkrag. Jy sal ’n huis bou, maar jy sal nie daarin woon nie.+ Jy sal ’n wingerd plant, maar jy sal dit nie begin gebruik nie.+ 31 Jou bul sal voor jou oë geslag word, maar jy sal niks daarvan eet nie. Jou donkie sal voor jou gesteel word, maar jy sal hom nie terugkry nie. Jou skaap sal aan jou vyande gegee word, maar jy sal geen redder hê nie. 32 Jou seuns en jou dogters sal aan ’n ander volk gegee word+ terwyl jy toekyk, en jy sal altyd na hulle verlang, maar jou hande sal magteloos wees. 33 Die vrug van jou grond en jou hele opbrengs sal geëet word deur ’n volk wat jy nie ken nie,+ en jy sal altyd uitgebuit en onderdruk word. 34 Jy sal mal word as gevolg van wat jou oë sien.

35 “Jehovah sal julle tref met pynlike en ongeneeslike swere op julle knieë en bene, van die sool van julle voet tot die kroon van julle kop. 36 Jehovah sal julle en die koning wat julle oor julle aanstel, na ’n nasie laat gaan wat nie julle of julle voorvaders geken het nie,+ en daar sal julle ander gode dien, gode van hout en van klip.+ 37 En julle sal iets skokkends en ’n bespotting word onder al die volke waarheen Jehovah julle sal laat gaan, en hulle sal op julle neersien.*+

38 “Julle sal baie saad op die landerye saai, maar julle sal min insamel,+ want die sprinkane sal dit verslind. 39 Julle sal wingerde plant en bewerk, maar julle sal geen wyn drink en niks insamel nie,+ want die wurms sal dit opeet. 40 Julle sal olyfbome in julle hele gebied hê, maar julle sal geen olie aan julle smeer nie, want julle olywe sal afval. 41 Julle sal aan seuns en dogters geboorte gee, maar hulle sal nie julle s’n bly nie, want hulle sal in gevangenskap gaan.+ 42 Swerms insekte sal op al julle bome en die vrugte van julle grond toesak. 43 Die uitlander wat onder julle woon, sal al hoe hoër bo julle uitstyg, terwyl julle al hoe laer sal daal. 44 Hy sal aan julle leen, maar julle sal nie aan hom leen nie.+ Hy sal die kop word, maar julle sal die stert word.+

45 “Al hierdie vloeke+ sal beslis oor julle kom en julle agtervolg en julle inhaal totdat julle uitgeroei is,+ omdat julle nie na die stem van Jehovah julle God geluister het deur sy gebooie en sy wetsbepalings te gehoorsaam wat hy julle beveel het nie.+ 46 En die vloeke sal op julle en julle nageslag bly as ’n permanente teken en waarskuwing vir almal+ 47 omdat julle Jehovah julle God nie met blydskap en vreugde van hart gedien het toe julle ’n oorvloed van alles gehad het nie.+ 48 Jehovah sal julle vyande teen julle stuur, en julle sal hulle dien+ terwyl julle honger+ en dors is en nie genoeg klere het om aan te trek nie en ’n gebrek aan alles het. Hy sal ’n ysterjuk op julle nek sit totdat hy julle uitgeroei het.

49 “Jehovah sal ’n nasie van ver af teen julle bring,+ van die einde van die aarde af. Hulle sal vinnig aanval soos ’n arend,+ ’n nasie wie se taal julle nie sal verstaan nie,+ 50 ’n nasie met ’n wrede voorkoms, wat geen respek vir die oumense sal hê en geen genade aan die jongmense sal betoon nie.+ 51 Hulle sal die kleintjies van julle vee en die vrugte van julle grond eet totdat julle uitgeroei is. Hulle sal vir julle geen graan, nuwe wyn of olie, kalwers of lammers laat oorbly nie, totdat hulle julle vernietig het.+ 52 Hulle sal julle in al julle stede* regdeur julle land aanval en julle daarin toesluit totdat julle hoë en versterkte mure waarop julle vertrou, val. Ja, hulle sal julle beslis beleër in al julle stede regdeur julle land wat Jehovah julle God aan julle gegee het.+ 53 Die beleëring en die rampspoed wat julle vyand oor julle sal bring, sal so erg wees dat julle julle eie kinders* sal moet eet, die vlees van julle seuns en julle dogters+ wat Jehovah julle God aan julle gegee het.

54 “Selfs die sagste en sensitiefste man onder julle sal glad nie jammer voel vir sy broer of sy geliefde vrou of sy seuns wat oorbly nie, 55 en hy sal nie ’n stukkie van die vlees van sy seuns wat hy sal eet, met hulle deel nie, want hy sal niks anders hê nie omdat die beleëring en die rampspoed wat julle vyand oor julle stede sal bring, so erg sal wees.+ 56 En die delikate en sensitiewe vrou onder julle wat nooit eers daaraan gedink het om haar voetsool op die grond te sit nie omdat sy so delikaat is,+ sal glad nie jammer voel vir haar geliefde man of haar seun of haar dogter nie, 57 want sy sal nie die nageboorte wat tussen haar bene uitkom en die kinders waaraan sy geboorte gegee het, met hulle deel nie. Sy sal alles in die geheim eet omdat die beleëring en die rampspoed wat julle vyand oor julle stede sal bring, so erg sal wees.

58 “As julle nie al die woorde van hierdie Wet streng gehoorsaam wat in hierdie boek geskryf is+ en nie hierdie glorieryke en ontsagwekkende naam,+ dié van Jehovah+ julle God, vrees nie, 59 dan sal Jehovah verskriklike plae oor julle en julle nageslag bring, groot en langdurige plae,+ en pynlike en langdurige siektes. 60 Hy sal al die siektes van Egipte waarvoor julle bang was, weer oor julle bring, en dit sal beslis aan julle kleef. 61 Wat meer is, Jehovah sal selfs elke siekte en plaag oor julle bring wat nie in die boek van hierdie Wet geskryf is nie totdat julle uitgeroei is. 62 Hoewel julle so baie soos die sterre van die hemel geword het,+ sal baie min van julle oorbly+ omdat julle nie na die stem van Jehovah julle God geluister het nie.

63 “En net soos dit vir Jehovah eers ’n vreugde was om julle voorspoedig te maak en julle te laat vermeerder, so sal dit vir Jehovah ’n vreugde wees om julle te vernietig en uit te roei. En julle sal weggeruk word uit die land wat julle in besit sal neem.

64 “Jehovah sal julle onder al die nasies verstrooi, van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde,+ en daar sal julle gode van hout en van klip moet dien wat nie julle of julle voorvaders geken het nie.+ 65 Julle sal geen vrede onder daardie nasies hê nie,+ en ook nie ’n rusplek vir julle voete nie. Jehovah sal julle daar eerder ’n angstige hart+ en swak oë en ’n gevoel van hopeloosheid gee.+ 66 Julle lewe sal in groot gevaar wees, en julle sal dag en nag bang voel. En julle sal nie van julle lewe seker wees nie. 67 In die oggend sal julle sê: ‘As dit maar net aand was!’ En in die aand sal julle sê: ‘As dit maar net oggend was!’ as gevolg van die vrees in julle hart en as gevolg van wat julle oë sal sien. 68 En Jehovah sal julle beslis met skepe na Egipte terugbring met die pad waarvan ek vir julle gesê het: ‘Julle sal dit nooit weer sien nie’. En julle sal julle daar as slawe en slavinne aan julle vyande moet verkoop, maar daar sal niemand wees om julle te koop nie.”

29 Dit is die woorde van die verbond wat Jehovah Moses beveel het om met die Israeliete te maak in die land Moab, bo en behalwe die verbond wat hy met hulle by Horeb gemaak het.+

2 Moses het toe die hele Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het alles gesien wat Jehovah voor julle oë in Egipte aan Farao en al sy knegte en sy hele land gedoen het,+ 3 die groot oordele* wat julle met julle eie oë gesien het, daardie groot tekens en wonderwerke.+ 4 Maar tot vandag toe het Jehovah nie vir julle ’n hart gegee wat verstaan en oë wat sien en ore wat hoor nie.+ 5 ‘Terwyl ek julle 40 jaar lank in die wildernis gelei het,+ het die klere en sandale wat julle gedra het, nie stukkend geword nie.+ 6 Julle het nie brood geëet en julle het nie wyn of enige ander alkohol gedrink nie, sodat julle kon weet dat ek Jehovah julle God is.’ 7 Julle het uiteindelik by hierdie plek gekom, en Sihon, die koning van Hesbon,+ en Og, die koning van Basan,+ het uitgekom om teen ons te veg, maar ons het hulle verslaan.+ 8 Daarna het ons hulle land geneem en dit as ’n erfdeel aan die Rubeniete, die Gadiete en die halwe stam van Manasʹse gegee.+ 9 Julle moet dus die woorde van hierdie verbond onderhou en gehoorsaam wees daaraan, sodat alles wat julle doen, suksesvol sal wees.+

10 “Julle almal staan vandag voor Jehovah julle God: die hoofde van julle stamme, julle ouermanne, julle beamptes, elke man van Israel, 11 julle kinders, julle vrouens+ en die uitlanders+ wat in julle kamp woon, van die persoon wat hout bymekaarmaak tot die waterdraer. 12 Julle is hier om in te stem tot die verbond van Jehovah julle God wat Jehovah julle God vandag deur middel van ’n eed met julle maak,+ 13 sodat hy julle vandag sy volk kan maak+ en sodat hy julle God kan wees,+ net soos hy julle belowe het en net soos hy vir julle voorvaders, Abraham,+ Isak+ en Jakob,+ gesweer het.

14 “En dit is nie net met julle wat ek hierdie verbond maak deur middel van hierdie eed nie, 15 maar dit is met diegene wat vandag hier saam met ons voor Jehovah ons God staan sowel as met diegene wat nie vandag hier saam met ons is nie. 16 (Want julle weet goed hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons gedurende ons reis tussen verskillende nasies deurgetrek het.+ 17 En julle het hulle afskuwelike dinge gesien en hulle walglike afgode*+ wat onder hulle was, afgode van hout en klip, silwer en goud.) 18 Pasop dat daar nie vandag onder julle ’n man of ’n vrou, ’n familie of ’n stam is wie se hart van Jehovah ons God afwyk om die gode van daardie nasies te gaan dien nie,+ sodat daar nie onder julle ’n wortel mag wees wat giftige vrugte en ook als* dra nie.+

19 “Maar as iemand die woorde van hierdie eed hoor en in sy hart spog en sê: ‘Ek sal vrede geniet, hoewel ek hardkoppig aanhou om die weë van my eie hart te volg,’ en hy sodoende ’n spoor van vernietiging agterlaat,* 20 sal Jehovah nie bereid wees om hom te vergewe nie.+ Jehovah sal eerder woedend word vir daardie man, en die hele vloek wat in hierdie boek geskryf is, sal beslis oor hom kom,+ en Jehovah sal sy naam inderdaad onder die hemel uitwis. 21 Jehovah sal hom dan van al die stamme van Israel afsonder sodat rampspoed hom kan tref volgens die hele vloek van die verbond wat in hierdie Wetboek geskryf is.

22 “Wanneer die toekomstige geslag van julle kinders en die uitlander van ’n verre land die plae van die land sien, die siektes wat Jehovah daaroor gebring het – 23 swael en sout en veldbrande, sodat geen deel van die land besaai sal word en niks sal uitspruit en geen plante daarin sal groei nie, soos die verwoesting van Sodom en Gomorʹra,+ Adma en Seboʹjim,+ wat Jehovah in sy groot woede verwoes het – 24 dan sal hulle en al die nasies vra: ‘Hoekom het Jehovah dit aan hierdie land gedoen?+ Wat was die oorsaak van hierdie groot, brandende woede?’ 25 Dan sal hulle sê: ‘Dit was omdat hulle die verbond van Jehovah,+ die God van hulle voorvaders, verlaat het, wat hy met hulle gemaak het toe hy hulle uit Egipte uitgelei het.+ 26 Maar hulle het ander gode gaan dien en voor hulle neergebuig, gode wat hulle nie geken het nie en wat hy gesê het hulle nie mag aanbid nie.+ 27 Toe het Jehovah se woede teen daardie land opgevlam, en hy het die hele vloek daaroor gebring wat in hierdie boek geskryf is.+ 28 Daarom het Jehovah hulle in sy groot woede+ en groot verontwaardiging uit hulle land uitgeruk en hulle na ’n ander land weggeneem, waar hulle vandag nog is.’+

29 “Die geheime dinge behoort aan Jehovah ons God,+ maar die geopenbaarde dinge behoort vir ewig aan ons en ons nakomelinge, sodat ons al die woorde van hierdie Wet kan uitvoer.+

30 “Wanneer al hierdie dinge oor julle kom, die seën en die vloek, wat ek aan julle voorgehou het,+ en julle weer daaraan terugdink*+ in al die nasies waarheen Jehovah julle God julle verstrooi het,+ 2 en julle tot Jehovah julle God terugkeer+ en na sy stem luister volgens alles wat ek julle vandag beveel, julle en julle kinders, met julle hele hart en julle hele siel,*+ 3 dan sal Jehovah julle God julle gevangenes terugbring+ en genadig wees teenoor julle+ en julle weer bymekaarmaak uit al die volke waarheen Jehovah julle God julle verstrooi het.+ 4 Selfs al is julle tot aan die einde van die aarde verstrooi, sal Jehovah julle God julle daarvandaan bymekaarmaak en julle terugbring.+ 5 Jehovah julle God sal julle in die land inbring wat julle vaders in besit geneem het, en julle sal dit besit. En hy sal sorg dat dit met julle goed gaan en hy sal julle meer laat word as julle vaders.+ 6 Jehovah jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag reinig,*+ sodat jy Jehovah jou God met jou hele hart en jou hele siel* sal liefhê en sodat jy kan lewe.+ 7 Dan sal Jehovah julle God al hierdie vloeke bring oor julle vyande, deur wie julle gehaat en vervolg is.+

8 “Julle sal dan terugkeer en na die stem van Jehovah luister en al sy gebooie gehoorsaam wat ek julle vandag beveel. 9 Jehovah julle God sal julle baie voorspoedig maak in alles wat julle doen.+ Hy sal julle kinders en julle vee en die opbrengs van julle grond laat vermeerder, want dit sal weer vir Jehovah ’n vreugde wees om julle voorspoedig te maak, net soos dit vir hom ’n vreugde was om julle voorvaders voorspoedig te maak.+ 10 Want dan sal julle na die stem van Jehovah julle God luister en sy gebooie en wetsbepalings gehoorsaam wat in hierdie Wetboek geskryf is, en julle sal met julle hele hart en julle hele siel* na Jehovah julle God terugkeer.+

11 “En hierdie gebod wat ek julle vandag beveel, is nie te moeilik vir julle nie, en dit is ook nie vir julle onbereikbaar nie.*+ 12 Dit is nie in die hemel, sodat julle moet sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar en dit vir ons gaan haal, sodat ons dit kan hoor en kan uitvoer?’ nie.+ 13 Dit is ook nie aan die oorkant van die see, sodat julle moet sê: ‘Wie sal na die oorkant van die see gaan en dit vir ons gaan haal, sodat ons dit kan hoor en kan uitvoer?’ nie. 14 Want die woord is baie naby julle, in julle eie mond en in julle eie hart,+ sodat julle dit kan doen.+

15 “Kyk, ek gee julle vandag ’n keuse: die lewe en wat goed is of die dood en wat sleg is.+ 16 As jy luister na die gebooie van Jehovah jou God wat ek jou vandag beveel, deur Jehovah jou God lief te hê,+ deur sy weë te volg en deur sy gebooie en sy wetsbepalings en sy regterlike bevele te gehoorsaam, dan sal jy lewe+ en vermeerder, en Jehovah jou God sal jou seën in die land wat jy gaan besit.+

17 “Maar as jou hart afwyk+ en jy nie luister nie, en jy verlei word en voor ander gode neerbuig en hulle dien,+ 18 dan sê ek vandag vir jou dat jy sekerlik sal sterf.+ Jy sal nie lank lewe in die land wat jy gaan besit nadat jy deur die Jordaanrivier getrek het nie. 19 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat ek jou tussen die lewe en die dood laat kies, tussen die seën en die vloek.+ En jy moet die lewe kies sodat jy kan lewe,+ jy en jou nageslag,+ 20 deur Jehovah jou God lief te hê,+ deur na sy stem te luister en deur lojaal aan hom te bly,+ want hy is jou lewe en deur middel van hom sal jy ’n lang tyd in die land kan woon wat Jehovah aan julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob, met ’n eed belowe het om aan hulle te gee.”+

31 Toe het Moses uitgegaan en hierdie woorde aan die hele Israel oorgedra 2 en vir hulle gesê: “Ek is vandag 120 jaar oud.+ Ek kan julle nie meer lei nie* omdat Jehovah vir my gesê het: ‘Jy sal nie deur hierdie Jordaanrivier trek nie.’+ 3 Jehovah julle God trek voor julle deur, en hy sal hierdie nasies voor julle vernietig, en julle sal hulle verdryf.+ Josua sal voor julle deurtrek en julle lei,+ net soos Jehovah gesê het. 4 Jehovah sal met hulle doen net soos hy met Sihon+ en Og,+ die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het toe hy hulle vernietig het.+ 5 Jehovah sal hulle vir julle verslaan, en julle moet aan hulle doen volgens die hele gebod wat ek julle gegee het.+ 6 Wees moedig en sterk.+ Moet hulle nie vrees nie en moenie vir hulle bang wees nie,+ want Jehovah julle God trek saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat of julle verlaat nie.”+

7 Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom voor die oë van die hele Israel gesê: “Wees moedig en sterk,+ want jy sal hierdie volk in die land inbring wat Jehovah aan hulle voorvaders met ’n eed belowe het om aan hulle te gee, en jy sal dit aan hulle as ’n erfdeel gee.+ 8 Jehovah gaan voor jou uit, en hy sal voortdurend met jou wees.+ Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Moenie bang wees of vrees nie.”+

9 Toe het Moses hierdie Wet neergeskryf+ en dit gegee aan die priesters, die Leviete, wat die ark van Jehovah se verbond dra, en aan al die ouermanne van Israel. 10 Moses het hulle die volgende bevele gegee en gesê: “Aan die einde van elke sewe jaar, op die vasgestelde tyd van die jaar wanneer skuld afgeskryf word,+ gedurende die Huttefees,*+ 11 wanneer die hele Israel voor Jehovah julle God verskyn+ op die plek wat hy uitkies, moet julle hierdie Wet lees sodat die hele Israel dit kan hoor.+ 12 Laat die volk bymekaarkom,+ die mans, die vrouens, die kinders en die uitlanders wat in julle stede* woon sodat hulle na Jehovah julle God kan luister, van hom kan leer, hom kan vrees en kan seker maak dat hulle al die woorde van hierdie Wet gehoorsaam. 13 Dan sal hulle kinders wat nie hierdie Wet geken het nie, luister+ en leer om Jehovah julle God te vrees al die dae wat julle in die land woon wat julle gaan besit nadat julle deur die Jordaanrivier getrek het.”+

14 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Kyk! Die tyd vir jou om te sterf, het nader gekom.+ Roep Josua en gaan staan saam met hom* by die tent van samekoms, sodat ek hom as leier kan aanstel.”+ Moses en Josua het toe by die tent van samekoms gaan staan. 15 Toe het Jehovah by die tent in die wolkkolom verskyn, en die wolkkolom het by die ingang van die tent gaan staan.+

16 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Jy gaan nou sterf,* en hierdie volk sal die vreemde gode begin aanbid* wat in die land is waarheen hulle gaan.+ Hulle sal my verlaat+ en my verbond verbreek wat ek met hulle gemaak het.+ 17 Dan sal my woede teen hulle opvlam,+ en ek sal hulle verlaat+ en my gesig van hulle af wegdraai,+ totdat hulle verslind is. En nadat baie rampspoed oor hulle gekom het en hulle baie swaargekry het,+ sal hulle sê: ‘Het hierdie rampspoed nie oor ons gekom omdat ons God nie by ons is nie?’+ 18 Maar op daardie dag sal ek my gesig wegdraai as gevolg van al die goddelose dinge wat hulle gedoen het toe hulle ander gode aanbid het.+

19 “Skryf dan nou vir julle hierdie lied neer+ en leer dit vir die Israeliete.+ Laat hulle dit leer* sodat hierdie lied as my getuie teen die Israeliete kan dien.+ 20 Wanneer ek hulle inbring in die land wat ek aan hulle voorvaders met ’n eed belowe het+ – ’n land wat oorloop van melk en heuning+ – en hulle eet en versadig word en dit met hulle goed gaan,*+ sal hulle op ander gode vertrou en hulle dien en my sonder respek behandel en my verbond verbreek.+ 21 Wanneer baie rampspoed oor hulle gekom het en hulle baie swaargekry het,+ dan sal hierdie lied teen hulle getuig (want hulle nageslag moet dit nie vergeet nie), want ek weet goed watter neiging hulle ontwikkel+ selfs voordat ek hulle in die land inbring wat ek hulle met ’n eed belowe het.”

22 Toe het Moses op daardie dag hierdie lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer.

23 Hy* het Josua,+ die seun van Nun, toe as leier aangestel en gesê: “Wees moedig en sterk,+ want jy sal die Israeliete in die land inbring wat ek met ’n eed aan hulle belowe het,+ en ek sal met jou wees.”

24 Nadat Moses al die woorde van hierdie Wet in ’n boek neergeskryf het,+ 25 het Moses die Leviete, wat die ark van Jehovah se verbond dra, die volgende bevel gegee en gesê: 26 “Julle moet hierdie Wetboek+ neem en dit langs die ark+ van die verbond van Jehovah julle God neersit, en daar sal dit as ’n getuie teen julle dien. 27 Want ek weet goed dat julle opstandig+ en hardkoppig+ is. As julle so opstandig teen Jehovah is terwyl ek nog lewe en by julle is, hoeveel opstandiger sal julle dan nie ná my dood wees nie! 28 Laat al die ouermanne van julle stamme en al julle beamptes by my bymekaarkom, sodat ek hierdie woorde vir hulle kan sê, en laat ek die hemel en die aarde as getuies teen hulle neem.+ 29 Want ek weet goed dat julle ná my dood goddeloos sal optree+ en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het. En aan die einde van die dae sal rampspoed vir seker oor julle kom+ omdat julle sal doen wat sleg is in die oë van Jehovah en hom aanstoot sal gee met die werk van julle hande.”

30 Toe het Moses die woorde van hierdie lied, van begin tot einde, voor die hele gemeente van Israel opgesê:+

32 “Luister, o hemele, en ek sal praat,

en laat die aarde die woorde van my mond hoor.

 2 My onderrigting sal val soos die reën,

my woorde sal drup soos die dou,

soos sagte reën op die gras

en soos oorvloedige reënbuie op die plante.

 3 Want ek sal die naam van Jehovah bekend maak.+

Verkondig die grootheid van ons God!+

 4 Die Rots, volmaak is sy werk,+

want al sy weë is geregtigheid.+

’n God van getrouheid,+ wat nooit onregverdig is nie,+

regverdig en reg is hy.+

 5 Hulle het goddeloos opgetree.+

Hulle is nie sy kinders nie, die fout lê by hulle.+

Hulle is ’n oneerlike en verdraaide geslag!+

 6 Is dit hoe julle Jehovah moet behandel,+

o onverstandige en onwyse volk?+

Is hy nie julle Vader wat julle geskep het,+

die Een wat julle gemaak en stewig gevestig het nie?

 7 Onthou die dae van ouds,

dink terug aan die jare van vorige geslagte.

Vra jou pa, en hy kan vir jou vertel,+

julle ouermanne, en hulle sal vir julle sê.

 8 Toe die Allerhoogste aan die nasies hulle erfdeel gegee het,+

toe hy die kinders van Adam* van mekaar geskei het,+

het hy die grens van die volke vasgestel+

volgens die getal van die kinders van Israel.+

 9 Want Jehovah se volk is sy deel,+

Jakob is sy erfdeel.+

10 Hy het hom in ’n woeste land gevind,+

en in ’n leë, huilende woestyn.+

Hy het hom met sy beskerming omring, vir hom gesorg+

en hom bewaar soos die appel van sy oog.+

11 Net soos ’n arend haar kleintjies leer om te vlieg,

oor haar kleintjies sweef,

haar vlerke uitsprei, hulle opneem,

hulle op haar vlerkvere dra,+

12 het net Jehovah hom* bly lei.+

Daar was geen vreemde god by hom nie.+

13 Hy het hom op die aarde se hoogtes laat ry+

en hom die opbrengs van die veld laat eet.+

Hy het hom gevoed met heuning uit die groot rots,

met olie uit ’n vuurkliprots,

14 met botter van die beeste en melk van die kleinvee,

met die beste* skape,

met skaapramme van Basan, met bokramme

en met die beste* koring.+

En julle het wyn van die bloed* van druiwe gedrink.

15 Toe Jesuʹrun* vet begin word het, het hy opstandig geraak en geskop.

Ja, jy het vet geword, jy het dik geword, jy het jou ooreet.+

Daarom het hy God, wat hom gemaak het, verlaat+

en geen respek vir die Rots van sy redding getoon nie.

16 Hulle het hom woedend gemaak met vreemde gode.+

Hulle het hom aanstoot gegee met afskuwelike dinge.+

17 Hulle het aan demone geoffer, nie aan God nie,+

aan gode wat hulle nie geken het nie,

nuwes wat onlangs aangekom het,

aan gode wat julle voorvaders nie geken het nie.

18 Julle het die Rots wat julle Vader geword het, vergeet,+

en julle het nie die God wat aan julle geboorte gegee het, onthou nie.+

19 Toe Jehovah dit sien, het hy hulle verwerp+

omdat sy seuns en sy dogters hom aanstoot gegee het.

20 Daarom het hy gesê: ‘Ek sal my gesig van hulle af wegdraai.+

Ek sal sien wat van hulle gaan word.

Want hulle is ’n slegte geslag,+

kinders in wie daar geen getrouheid is nie.+

21 Hulle het my woedend* gemaak met iets wat nie ’n god is nie.+

Hulle het my aanstoot gegee met hulle waardelose afgode.+

Daarom sal ek hulle jaloers maak met dit wat nie ’n volk is nie.+

Ek sal hulle aanstoot gee met ’n dwase nasie.+

22 Want my woede het ’n vuur aangesteek+

wat tot in die dieptes van die Graf*+ sal brand,

en dit sal die aarde en sy opbrengs verteer

en die fondamente van berge aan die brand steek.

23 Ek sal die een ramp ná die ander oor hulle laat kom.

Ek sal al my pyle op hulle afskiet.

24 Hulle sal uitgeput wees van die honger+

en verteer word deur brandende koors en bittere vernietiging.+

Ek sal die tande van diere teen hulle stuur,+

en die gif van reptiele van die stof.

25 Buite sal ’n swaard hulle van kinders beroof.+

Binne is daar vrees+

vir jong man sowel as maagd,

klein kindjie sowel as bejaarde.+

26 Ek sou gesê het: “Ek sal hulle verstrooi.

Ek sal seker maak dat niemand hulle onthou nie,”

27 maar ek was bang vir die vyand se reaksie,+

want die vyand sou dit dalk misverstaan.+

Hulle sou dalk sê: “Danksy ons krag het ons oorwin.+

Dit was nie Jehovah wat dit alles gedoen het nie.”

28 Want hulle is ’n nasie sonder verstand,*

en daar is geen begrip onder hulle nie.+

29 As hulle maar net wys was!+ Dan sou hulle hieroor nadink.+

Hulle sou dink oor wat hulle uiteinde sal wees.+

30 Hoe kan een mens 1 000 agternasit,

en twee mense 10 000 laat vlug?+

Nie tensy hulle Rots hulle verkoop het+

en Jehovah hulle oorgelewer het nie.

31 Want hulle rots is nie soos ons Rots nie,+

selfs ons vyande het dit besef.+

32 Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom

en uit die terrasse van Gomorʹra.+

Hulle druiwe is giftige druiwe,

hulle trosse is bitter.+

33 Hulle wyn is die gif van slange,

die wrede gif van kobras.

34 Is al hierdie dinge nie by my bewaar

en in my stoorkamer verseël nie?+

35 Die wraak is myne, en die straf,+

op die vasgestelde tyd wanneer hulle voet gly.+

Want die dag van hulle ongeluk is naby,

en wat op hulle wag, sal gou kom.’

36 Want Jehovah sal sy volk oordeel,+

en hy sal jammer voel vir* sy knegte+

wanneer hy sien dat hulle krag minder geword het

en dat net die hulpeloses en swakkes oorbly.

37 Dan sal hy sê: ‘Waar is hulle gode,+

die rots by wie hulle beskerming gesoek het,

38 wat die vet van hulle offerandes geëet het,*

wat die wyn van hulle drankoffers gedrink het?+

Laat hulle opstaan en julle help.

Laat hulle vir julle as ’n beskerming dien.

39 Besef nou dat ek God is,+

en daar is geen ander God as ek nie.+

Ek maak dood en ek maak lewend.+

Ek wond+ en ek sal genees,+

en niemand kan uit my hand red nie.+

40 Want ek lig my hand op na die hemel,

en ek sweer: “So waar as wat ek vir ewig lewe,”+

41 wanneer ek my glinsterende swaard skerp maak

en my hand gereedmaak om te oordeel,+

sal ek wraak neem op my vyande+

en diegene straf wat my haat.

42 Ek sal my pyle dronk maak van die bloed,

en my swaard sal vlees eet:

die bloed van dié wat doodgemaak is en die gevangenes,

die koppe van die leiers van die vyand.’

43 Wees bly, o nasies, saam met sy volk,+

want hy sal die bloed van sy knegte wreek,+

en hy sal wraak neem op sy vyande+

en versoening doen vir die land van sy volk.”*

44 So het Moses al die woorde van hierdie lied voor die volk opgesê,+ hy en Hoseʹa,*+ die seun van Nun. 45 Nadat Moses al hierdie woorde aan die hele Israel oorgedra het, 46 het hy vir hulle gesê: “Neem al die woorde van die waarskuwing wat ek julle vandag gee,+ ter harte sodat julle julle kinders kan beveel om al die woorde van hierdie Wet streng te gehoorsaam.+ 47 Want dit is nie vir julle leë woorde nie, maar julle lewe hang daarvan af,+ en deur middel van hierdie woorde sal julle lank kan lewe in die land wat julle gaan besit nadat julle deur die Jordaanrivier getrek het.”

48 Jehovah het op daardie selfde dag vir Moses gesê: 49 “Klim op teen die berg Nebo+ in die Abaʹrim-berge,+ wat in die land Moab is en wat op Jeʹrigo uitkyk, en kyk na die land Kanaän, wat ek aan die Israeliete as ’n besitting gee.+ 50 Dan sal jy sterf op die berg waarteen jy sal opklim en tot jou volk versamel word,* net soos jou broer Aäron op die berg Hor gesterf het+ en tot sy volk versamel is, 51 omdat julle al twee ontrou was aan my onder die Israeliete by die waters van Meʹriba+ by Kades, in die wildernis Zin, toe julle my nie voor die Israeliete geheilig het nie.+ 52 Jy sal die land van ver af sien, maar jy sal nie in die land ingaan wat ek aan die Israeliete gee nie.”+

33 Dít is die seën wat Moses, die man van die ware God, voor sy dood oor die Israeliete uitgespreek het.+ 2 Hy het gesê:

“Jehovah – van Siʹnai het hy gekom,+

en hy het uit Seïr op hulle geskyn.

Hy het vanuit die bergstreek Paran in heerlikheid gestraal,+

en saam met hom was tienduisende heiliges,+

aan sy regterhand sy vegters.+

 3 Hy het sy volk liefgehad.+

Al hulle heiliges is in u hand.+

Hulle het aan u voete gesit.+

Hulle het na u woorde begin luister.+

 4 (Moses het aan ons ’n bevel gegee, ’n wet,+

as ’n besitting van die gemeente van Jakob.)+

 5 En Hy het koning geword in Jesuʹrun*+

toe die hoofde van die volk bymekaargekom het+

saam met al die stamme van Israel.+

 6 Laat Ruben lewe en nie uitsterf nie,+

en laat sy manne nie min word nie.”+

 7 En hy het hierdie seën oor Juda uitgespreek:+

“Hoor, o Jehovah, die stem van Juda,+

en mag u hom na sy volk toe terugbring.

Sy arms het verdedig* wat syne is,

en mag u hom help teen sy vyande.”+

 8 Van Levi het hy gesê:+

“O God, u Tummim en u Urim+ behoort aan die man wat lojaal is aan u,+

wat by Massa deur u getoets is.+

U het by die waters van Meʹriba met hom begin stry,+

 9 die man wat van sy pa en sy ma gesê het: ‘Ek het hulle nie in ag geneem nie.’

Selfs sy broers het hy nie erken nie,+

en hy het nie sy eie seuns se kant gekies nie.

Want hulle het u woord bewaar,

en hulle het u verbond gehou.+

10 Laat hulle Jakob in u regterlike bevele onderrig,+

en Israel in u Wet.+

Laat hulle reukwerk offer as ’n aangename geur vir u,*+

en ’n heeloffer op u altaar.+

11 Seën, o Jehovah, sy krag,

en mag u tevrede wees met die werk van sy hande.

Breek die bene* van diegene wat teen hom opstaan

sodat dié wat hom haat, nie meer kan opstaan nie.”

12 Van Benjamin het hy gesê:+

“Laat die geliefde van Jehovah in veiligheid by hom woon.

Hy sal hom die hele dag beskerm,

en hy sal tussen sy skouers woon.”

13 Van Josef het hy gesê:+

“Mag sy land deur Jehovah geseën word+

met die heel beste dinge van die hemel,

met dou en die waters van die fonteine onder die aarde,+

14 met die heel beste dinge wat die son laat groei,

en die heel beste opbrengs elke maand,+

15 met die heel beste dinge van die ou berge,*+

en die heel beste dinge van die ewige heuwels,

16 met die heel beste dinge van die aarde en wat daarop is,+

en met die goedkeuring van die Een wat in die doringbos woon.+

Mag dit op die kop van Josef kom,

op die kroon van die kop van die een wat onder sy broers uitgesonder is.+

17 Sy prag is soos dié van ’n eersgebore bul,

en sy horings is die horings van ’n wilde bul.

Daarmee sal hy volke stoot,*

al die volke tot aan die eindes van die aarde.

Hulle is die tienduisende van Eʹfraim,+

en hulle is die duisende van Manasʹse.”

18 Van Seʹbulon het hy gesê:+

“Wees bly, o Seʹbulon, wanneer jy uitgaan,

en jy, o Isʹsaskar, in jou tente.+

19 Hulle sal volke na die berg roep.

Daar sal hulle die offerandes van regverdigheid offer.

Want hulle sal voordeel trek uit die oorvloedige rykdom van die seë*

en die versteekte skatte van die sand.”

20 Van Gad het hy gesê:+

“Geseënd is hy wat die grense van Gad uitbrei.+

Hy lê daar soos ’n leeu,

gereed om die arm en selfs die kop te verskeur.

21 Hy sal die eerste deel vir hom kies,+

want daar is die toegewese deel wat ’n wetgewer vir hom bewaar.+

Die hoofde van die volk sal bymekaarkom.

Die regverdigheid van Jehovah sal hy uitvoer,

en sy regterlike bevele in verband met Israel.”

22 Van Dan het hy gesê:+

“Dan is ’n leeuwelpie.+

Hy sal uit Basan uitspring.”+

23 Van Nafʹtali het hy gesê:+

“Nafʹtali is versadig met die goedkeuring van Jehovah

en word ryklik deur hom geseën.

Neem die weste en die suide in besit.”

24 Van Aser het hy gesê:+

“Geseënd met seuns is Aser.

Mag hy sy broers se goedkeuring geniet,

en mag hy sy voete in olie bad.*

25 Die slotte van jou poorte is yster en koper,+

en jy sal al jou dae veilig wees.*

26 Daar is niemand soos die ware God+ van Jesuʹrun+ nie,

wat deur die hemel ry om jou te help

en wat op die wolke ry in sy majesteit.+

27 God is van die ou tyd af ’n beskerming,+

sy ewige arms is onder jou.+

En hy sal die vyand voor jou uit verdryf,+

en hy sal sê: ‘Vernietig hulle!’+

28 Israel sal in veiligheid woon,

en die fontein van Jakob sal afgesonder wees,

in ’n land van graan en nuwe wyn,+

waar die dou van die hemel drup.+

29 Gelukkig is jy, o Israel!+

Wie is soos jy,+

’n volk wat redding geniet in Jehovah,+

jou beskermende skild,+

en jou indrukwekkende swaard?

Jou vyande sal voor jou kruip,+

en jy sal op hulle rug* trap.”

34 Toe het Moses van die woestynvlaktes van Moab af teen die berg Nebo+ opgeklim, na die top van Pisga,+ wat op Jeʹrigo+ uitkyk. En Jehovah het hom die hele land gewys, van Giʹlead tot by Dan+ 2 en die hele Nafʹtali en die land van Eʹfraim en Manasʹse en die hele land van Juda tot by die westelike see,*+ 3 sowel as die Negeb+ en die Distrik,+ die valleivlakte van Jeʹrigo, die stad van palmbome, tot by Soar.+

4 Jehovah het toe vir hom gesê: “Dít is die land wat ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed belowe het deur te sê: ‘Aan jou nakomelinge* sal ek dit gee.’+ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen oortrek nie.”+

5 Daarna het Moses, die kneg van Jehovah, daar in die land Moab gesterf, net soos Jehovah gesê het.+ 6 Hy het hom in die vallei in die land Moab, oorkant Bet-Peor, begrawe, en tot vandag toe weet niemand waar sy graf is nie.+ 7 Moses was 120 jaar oud toe hy gesterf het.+ Sy oë het nie dof geword nie en sy krag het hom nie verlaat nie. 8 Die volk Israel het 30 dae lank in die woestynvlaktes van Moab oor Moses getreur.+ Toe het die tyd om oor Moses te treur en te rou, tot ’n einde gekom.

9 Josua, die seun van Nun, was vol van die gees van wysheid, want Moses het sy hande op hom gelê.+ En die Israeliete het na hom begin luister, en hulle het gedoen net soos Jehovah Moses beveel het.+ 10 Maar daar was nooit weer so ’n profeet in Israel nie. Jehovah het Moses+ van aangesig tot aangesig geken.+ 11 Hy het al die tekens en die wonderwerke gedoen wat Jehovah hom gestuur het om in Egipte te doen voor Farao en al sy knegte en sy hele land.+ 12 Moses het ook ’n magtige hand en ontsagwekkende krag voor die oë van die hele Israel geopenbaar.+

Lett. “saad”.

Of “wadi Eskol”. Sien Woordelys.

Lett. “het ons hart laat smelt”.

D.w.s. met mure wat baie hoog is.

Lett. “ten volle; volkome”.

Of moontlik “God het hom versterk”.

Iemand is vermetel as hy iets doen wat hy nie die reg of gesag het om te doen nie.

Of “wadi Sered”. Sien Woordelys.

Of “wadi Sered”. Sien Woordelys.

Of “wadi Sered”. Sien Woordelys.

D.w.s. Kreta.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Of “pyne hê soos dié by ’n geboorte”.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Of “wadi Jabbok”. Sien Woordelys.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Of “doodskis; sarkofaag”.

Of moontlik “swart basalt”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Beteken “tentdorpe van Jaïr”.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Die Dooie See.

Lett. “die Tien Woorde”. Ook die Dekaloog genoem.

Of “sy erfdeel”.

Sien Woordelys.

Of “beproewinge”.

Lett. “saad”.

Of “wadi Arnon”. Sien Woordelys.

Ook die Soutsee of die Dooie See genoem.

Of “in verset teen my”. Lett. “teen my aangesig”.

Of “vorm”.

Of “liefderyke goedhartigheid”.

Lett. “poorte”.

Of “Respekteer”.

Of “sodat jy voorspoedig kan wees”.

Lett. “woorde”.

Sien Woordelys.

Of “lewenskrag; middele”.

Of “by jou kinders inskerp; op jou kinders se hart graveer”.

Lett. “tussen jou oë”.

Of “nie huweliksverbintenisse met hulle aangaan nie”.

Sien Woordelys.

Of “kosbare besitting”.

Lett. “hand”.

Lett. “hy sal die vrug van jou baarmoeder seën”.

Lett. “verslind”.

Lett. “Jou oog”.

Of “beproewinge”.

Of moontlik “paniek; vrees”.

Of “fonteine en diep waterbronne”.

Lett. “vuurkliprots”.

D.w.s. met mure wat baie hoog is.

Of “die gemeente”.

Of “u erfdeel”.

Of “u erfdeel”.

Of “kis”.

Lett. “die Tien Woorde”. Ook die Dekaloog genoem.

Of “die gemeente”.

Of “wadi’s”. Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Lett. “die voorhuid van julle hart besny”.

Lett. “en julle moet julle nek nie meer verhard nie”.

Lett. “vaderlose seun”.

Of “siele”.

Of “tot vandag toe”.

Of “aan”.

Lett. “saad”.

D.w.s. deur die voet op die een of ander manier te gebruik, hetsy deur ’n waterwiel te trap of deur watervore te maak of oop te maak.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Lett. “tussen julle oë”.

Die Grootsee, die Middellandse See.

Of “gee”.

Of “in die rigting van die sonsondergang”.

Sien Woordelys.

Lett. “soek”.

Of “wat hy dink reg is”.

Lett. “poorte”.

Lett. “in al jou poorte”.

Lett. “die gasel en die takbok”.

Lett. “poorte”.

Lett. “poorte”.

Lett. “poorte”.

Lett. “die gasel en die takbok”.

Of “siel”.

Of “siel”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “deur die ban geheilig is”.

Sien Woordelys.

Of “na die stem van Jehovah julle God luister”.

Of “kosbare besitting”.

Lett. “poorte”.

Lett. “vaderlose seun”.

Lett. “jou hart”.

Lett. “bul”.

Lett. “poorte”.

Lett. “die gasel en die takbok”.

Sien Aanh. B15.

Of “op die vasgestelde tyd dat”.

Lett. “poorte”.

Lett. “vaderlose seun”.

Of “Fees van Tydelike Skuilings”.

Of “Fees van Tydelike Skuilings”.

Lett. “in al jou poorte”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “uit die mond van”.

Of “met bloedvergieting”.

Of “vermetel”.

Of “weer vermetel optree”.

Of “boekrol”.

Lett. “sy hart hom nie bo sy broers verhef nie”.

Of “Die eerstelinge”. Sien Woordelys.

D.w.s. die plek wat Jehovah as die sentrum vir aanbidding uitkies.

Of “deur die vuur laat gaan”.

Of “voortekens”.

Of “by ’n spiritistiese medium”.

Of “die gemeente”.

Of “so vermetel is”.

Of “sy siel”.

Lett. “Jou oog”.

Lett. “om op te staan teen iemand weens”.

Of “uit die mond van”.

Lett. “Jou oog”.

Of “Siel”.

Of “siel”.

Of “ingewy”.

Of “sodat hy nie sy broers se hart laat smelt soos sy eie hart nie”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Lett. “Ons hande het nie hierdie bloed vergiet nie”.

Lett. “As ’n man twee vrouens het, een wat hy liefhet en een wat hy haat”.

Of “haar dan verwerp”.

Of “verwerp”.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Of “prostitusie”.

Of “hom, ’n siel, vermoor”.

Lett. “nie die kleed van sy pa oplig nie”.

Of “wat julle kan verontreinig”.

D.w.s. ’n plek wat as ’n toilet gebruik kan word.

Lett. “’n hond”.

Of “verwerp”.

Of “as ’n pand neem nie”.

Die Hebreeuse woord wat met “melaatsheid” vertaal word, het ’n breë betekenis. Sien Woordelys.

Lett. “poorte”.

Lett. “vaderlose seun”.

Of “as ’n pand”.

Of “die naam van sy huisgesin”. Lett. “sy naam”.

Lett. “Jou oog”.

Lett. “’n efa en ’n efa”. Sien Aanh. B14.

Of “die eerstelinge”. Sien Woordelys.

Of moontlik “wat op die punt was om te sterf”.

Of “die eerstelinge”. Sien Woordelys.

Lett. “vaderlose seun”.

Lett. “poorte”.

Sien Woordelys.

Of “kosbare besitting”.

Lett. “met kalk afwit”.

Lett. “met kalk afwit”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Of “’n hout-en-metaal-werker”.

Of “Laat dit so wees!”

Lett. “vaderlose seun”.

Lett. “die kleed van sy pa opgelig”.

Of “’n siel van onskuldige bloed”.

Lett. “die vrug van jou baarmoeder”.

Lett. “die vrug van jou baarmoeder”.

Lett. “my”.

Lett. “en jy sal ’n spreekwoord word”.

Lett. “poorte”.

Lett. “die vrug van jou baarmoeder”.

Of “beproewinge”.

Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.

’n Soort bitter plant.

Lett. “die een wat goed natgemaak is sowel as die droë een wegvee”.

Lett. “en jy dit na jou hart terugbring”.

Sien Woordelys.

Lett. “besny”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Lett. “en dit is ook nie ver weg nie”.

Lett. “Ek kan nie meer uitgaan en inkom nie”.

Of “Fees van Tydelike Skuilings”.

Lett. “poorte”.

Of “neem julle plekke in”.

Lett. “by jou vaders rus”.

Of “sal geestelike prostitusie begin pleeg met die vreemde gode”.

Lett. “Sit dit in hulle monde”.

Lett. “en hulle vet word”.

Blykbaar God.

Of moontlik “die menserasse”.

D.w.s. Jakob.

Lett. “die vet van”.

Lett. “die niervet van”.

Of “sap”.

’n Eretitel vir Israel wat “die opregte” beteken.

Of “jaloers”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of moontlik “wat doof is vir raad”.

Of “spyt voel oor”.

Of “wat hulle heel beste offerandes geëet het”.

Of “en die land van sy volk reinig”.

Josua se oorspronklike naam. Hosea is ’n verkorte vorm van Hosaja, wat “gered deur Jah; Jah het gered” beteken.

’n Poëtiese uitdrukking wat na die dood verwys.

’n Eretitel vir Israel wat “die opregte” beteken.

Of “het gestry vir”.

Lett. “in u neus”.

Of “heupe”.

Of moontlik “die berge van die ooste”.

Of “deurboor”.

Lett. “sal die oorvloed van die seë suig”.

Of “doop”.

Lett. “en jou krag sal soos jou dae wees”.

Of moontlik “hoë plekke”.

Die Grootsee, die Middellandse See.

Lett. “saad”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel