My angs op Vlug 232
Soos vertel deur ’n oorlewende
Toe Vlug 232 van United Airlines verlede jaar in ’n koringland in Iowa neergestort het, het 110 passasiers en bemanningslede gesterf. Maar 186 het dit op merkwaardige wyse oorleef.
“ONS gaan ’n noodlanding doen in Sioux City”, het die vlieënier gewaarsku. “Dit gaan baie stamperig wees.”
Dit was 19 Julie 1989, en ek en my man was op pad na Chicago om ’n kongres by te woon van ’n rekenaarmaatskappy wat my man, Kevin, bestuur het. Ons het alreeds van Albuquerque na Denver gevlieg, waar ons ’n vriend teëgekom het wat op pad was na dieselfde kongres, maar met ’n ander vlug. Ek onthou dat ons geskerts het oor wie Chicago eerste sou bereik. Ons vliegtuig, United se Vlug 232, het eerste vertrek, die ander sou omtrent tien minute later vertrek.
Moeilikheid aan boord
Gedurende ons maaltyd aan boord, was daar skielik ’n harde geraas, en die vliegtuig het begin ruk en hoogte verloor. Kort daarna het die vlieënier aangekondig dat ons ’n motor verloor het en dat ons laat in Chicago sou aankom. Hy het kalm geklink.
Die lugbemanning was bekommerd, maar nie buitengewoon bekommerd nie. Almal het oor die situasie gepraat, maar niemand was paniekerig nie. Later het ek verneem dat die vliegtuig net na regs kon vlieg omdat die hidrouliese leidings afgesny is toe ’n motor uitmekaar geval het.
Kort daarna het die vlieënier aangekondig dat ons in Sioux City, Iowa, sou land en dat ons ’n stamperige landing sou hê. Hy het gesê dat alles goed behoort te gaan, maar hy het ons opdrag gegee om ons vir ’n buiklanding voor te berei. Die lugbemanning het gedemonstreer hoe ons ons sitplekgordels moet vasmaak en ons enkels moet vasgryp.
Van die oomblik dat die motor uitmekaar geval het, het ek begin huil en kon ek nie ophou nie. Kevin het my vasgehou, en hy het vir ons albei ’n gebed tot Jehovah God gedoen. Hoe bly was ons tog dat ons twee dogters, onderskeidelik ses en twee jaar oud, nie saam met ons op hierdie reis was nie!
Die vrou langs my, met haar twee seuns, het oorgeleun en my hand vasgehou terwyl ons gereed gemaak het om te land. Die vliegtuig het glad gedaal, en ek het regtig gedink dat ons dit gemaak het toe dit vir my voel of ons geland het.
Oorlewing en hospitalisasie
Ek het sonlig gesien terwyl ek my oë op ’n skrefie getrek het en dit het gevoel of ek in ’n tuimeltrein is. Die laaste ding wat ek onthou, is dat my skoene afgesuig word en dat ek my tone probeer omkrul het om hulle aan te hou.
Toe ek my oë oopmaak, was dit donker en ek het beweeg. ’n Reddingswerker was besig om my sitplek op te lig. Ons was in ’n koringland. Dit was swart en groen, en die son het helder geskyn. Kevin was nog steeds langs my vasgegordel. Ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.
Hulle het my op die grond neergesit, waar ek my op my elmboë opgelig het. Ek het gevra of my man nog lewe. Die reddingswerker het sy kop ontkennend geskud. Ek het net ontspan. Gedurende die ambulansrit het ek al die geluide gehoor, maar nie regtig geluister nie. Ek kon my oog voel opswel.
By die Marion County Health Center was die mense besorg en hulpvaardig, veral ’n verpleegster met die naam Lori. Ek was genoeg by my positiewe om my suster in Albuquerque se telefoonnommer vir haar te gee, en sy het my familie gebel om hulle te laat weet dat ek lewe.
Ek het regtig gedink niemand sou my besoek nie, aangesien ek in Iowa was. Maar daardie eerste aand het twee ouere manne van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies my in die hospitaal besoek. Gedurende my verblyf van vier dae het die plaaslike Getuies my gereeld besoek, gebel en aan my geskryf. United Airlines het ’n rekening oopgemaak by J. C. Penney’s en die Getuies het vir my inkopies gedoen sodat ek iets kon hê om aan te trek.
Die volgende dag is ek weer verras toe my moeder, my suster en Kevin se broer en ouers almal opgedaag het om by my te wees. Nie een van hulle wou my laat dink dat Kevin dood is nie. Ek het dus steeds ’n straaltjie hoop bly koester dat hy onder die beseerdes was wat nog nie uitgeken is nie.
Toe ek na die televisienuus gekyk het, kon ek nie glo wat ek sien nie. Ek het nie eers geweet dat ons neergestort het nie! Toe ek gedink het dat die vliegtuig net geland het, het ek aangeneem dat ons veilig was. Ek het nie eers gewonder waarom ons buite die vliegtuig was nie. Ek en Kevin was in die ry sitplekke agter die vlerk. Ons was in die middelste gedeelte van vyf sitplekke, en toe die vliegtuig uitmekaar gebreek het, het ons sitplekke grond toe getuimel. Kevin en die vrou langs my het gesterf, maar ek en haar twee seuntjies het dit oorleef.
Een reddingswerker—die enigste een wat ek onthou het—het my in die hospitaal besoek. Dit het hom gepla dat sekere mense bly leef en ander gesterf het. Dit was ’n kwessie van ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenis wat die betrokkenes oorval het’, het ek verduidelik (Prediker 9:11, NW). God het nie vir sekere mense sitplekke aangewys waar hulle sou sterf en vir ander sitplekke waar hulle dit sou oorleef nie. Ek het hom die Bybeltraktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? en die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” gegee. Ons het mekaar omhels en ek dink hy het ’n bietjie beter gevoel toe hy weg is.
Lori, wat my wonde versorg het in die ongevallesaal, het my gereeld besoek terwyl ek in die hospitaal was, al was ek nie op haar pasiëntelys nie. Sy het my innerlike krag bewonder, en ek het probeer om aan haar te verduidelik dat ek dit kry van my God, Jehovah, wat my gehelp het om alles te verwerk.—Psalm 121:1-3.
Hoe ek dit steeds verwerk
Teen Sondag, 23 Julie, kon ek huis toe gaan om daar aan te sterk. Terwyl ons aan boord van die vliegtuig gegaan het, het ek myself moed ingepraat en op my asemhaling gekonsentreer sodat ek nie paniekerig sou raak nie. Toe my tweejarige dogterjie, Mercedes, my vol verbande en kneusplekke sien, wou sy niks met my te doen hê nie. Sy het eers na drie of vier dae weer toenadering tot my gesoek. Tarrah was bly om haar ma terug te hê, maar sy het haar pa gemis.
Om saam met diegene te wees wat Kevin geken het en wat sy geestelike vordering gesien het (hy sou in Oktober as een van Jehovah se Getuies gedoop word), het dit moeiliker vir my gemaak om te aanvaar dat hy werklik dood is. Party sê Santa Fe het nog nooit ’n groter begrafnis as syne gesien nie. Hy het geweet hoe om ’n vriend te wees en het baie mense se lewens geraak.
Ek het besef dat ek besig moes bly en dat daar geen beter werk as die Christenbediening is nie. In April en Mei het ek aan die hulppionierdiens, ’n vorm van voltydse diens, deelgeneem. Daarna was ek vasbeslote om dit weer in September te doen. Dit was inderdaad nuttig om by ander mense en hulle probleme betrokke te raak. Ek het ook dinge in die huis begin doen, soos om blindings voor die vensters aan te bring, muurpapier in die eetkamer en woonkamer te plak en die eetkamertafel op te knap.
Toe die ongeluk gebeur het, het ek twee tuisbybelstudies gehou met mense wat in God se Woord belangstel en ná die ongeluk wou ’n gewese student haar studie hervat. Al drie studente het gevra: ‘Waarom het Jehovah jou gespaar en Kevin nie, aangesien hy ook sy bes gedoen het om God te behaag?’
Ek het die verskil tussen ’n daad van God en ’n natuurramp of ’n ongeluk aan hulle verduidelik. Met ’n daad van God kry ons ’n goddelike waarskuwing dat iets gaan gebeur. ’n Voorbeeld hiervan is die Vloed van Noag se dag. In daardie geval het God Noag vertel wat hy moes doen om die ramp vry te spring. Hy moes ’n ark bou. Aan die ander kant is ongelukke en natuurrampe onvoorsiens en raak dit elkeen, goed en sleg, sonder onderskeid. Niemand het geweet dat ons vliegtuig onklaar sou raak nie. As hulle dit geweet het, sou niemand aan boord gegaan het nie. My oorlewing was net so onvoorsiens soos Kevin se dood.
Mense wat vir my vertel hoe “sterk” ek is, besef nie hoe dikwels ek na aan trane is nie. Dit verg tyd om oor my ondervinding te kom. Ek kan oor Kevin praat of na foto’s van hom kyk en dit gaan goed totdat ek alleen is; dan huil ek. Dit is vir my ’n baie pynlike gedagte dat ek my maat verloor het na so ’n kort tydjie saam—net sewe jaar.
My dogtertjies gee meer aandag as gewoonlik aan enige Christenbroer wat kom besoek aflê en hou partykeer aan hulle bene vas sodat hulle nie moet gaan nie. Tarrah was ’n ruk lank kwaad en het soms gehuil sonder om presies te weet waarom. Sy vaar egter goed op skool en probeer om vir haar klasmaats van die opstanding te vertel.—Johannes 5:28, 29.
Ons probeer om ons lewe te vereenvoudig en die Christenbediening ’n lewenswyse te maak. Met Jehovah se hulp sal ons dit regkry. Omtrent ’n jaar gelede het ’n vriend my aangemoedig om as ’n gewone pionier te begin dien. Ek is bly dat ek daardie aanmoediging aanvaar het. As ’n voltydse bedienaar wat ander help om van God se voornemens te leer, is ek gehelp om God se grootse voorneme om ’n aardse paradys te skep en afgestorwe dierbares op te wek, voor oë te hou (Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4).—Soos vertel deur Lydia Francis Atwell.
[Prent op bladsy 26]
Saam met my man voor die vlug
[Foto-erkenning op bladsy 25]
UPI/Bettmann Newsphotos