Bloedoortappings en portuurdwang
Baie mense, met inbegrip van party dokters, weier deesdae bloedoortappings. Op watter gronde? Nie om godsdiensredes soos in die geval van Jehovah se Getuies nie, maar op mediese gronde. Om watter rede? Weens die inherente risiko’s (soos hepatitis, Vigs en ’n onderdrukte immuunstelsel) wat altyd aan iemand anders se bloed verbonde is. In die meeste gevalle waar bloed aanbeveel word, is vriende en hospitaalpersoneellede nietemin geneig om druk op die pasiënt uit te oefen om ’n oortapping te aanvaar. Maar daar is dikwels ’n ander soort druk ter sprake—portuurdwang op die dokters wat die geval behartig.
The Journal of the American Medical Association het in sy nommer van 25 Julie 1990 soos volg berig: “Bewyse toon dat bloedprodukte, net soos ander middels vir gesondheidsorg, dikwels op ondoelmatige wyse gebruik word . . . Ons het onderhoude met 122 algemene chirurge, ortopediese chirurge en narkotiseurs in drie hospitale gevoer om vas te stel watter invloed verskeie kliniese en nie-kliniese faktore op besluite rakende bloedoortappings het. Ons het gevind dat daar groot leemtes in geneeshere se kennis van oortappingsrisiko’s en -indikasies bestaan.”
Wat word met “nie-kliniese faktore” bedoel? Die verslag antwoord ten dele: “Geneeshere se besluite word deur middel van professionele en maatskaplike netwerke deur hulle kollegas beïnvloed. Die invloed van portuurdwang is die sterkste wanneer ’n paar geneeshere saam praktiseer . . . Onder hierdie omstandighede kan ’n geneesheer se optrede by tye beïnvloed word deur die verwagting van ’n hoër geplaaste of invloedryke portuur, ’n begeerte om hom na groepnorme te skik of om kritiek te vermy.”
Die artikel het gesê dat “slegs 10% egter gesê het dat hulle minstens een keer per maand ’n potensieel onnodige oortapping toegedien het om ’n kollega tevrede te stel . . . Nie minder nie as 61% van die inwonende geneeshere het aangedui dat hulle minstens een keer per maand oortappings gegee het wat na hulle mening onnodig was, omdat ’n meer senior geneesheer aanbeveel het dat hulle dit doen.” Watter ander faktor, benewens hierdie soort professionele portuurdwang, kan ’n dokter beweeg om te beveel dat ’n oortapping gegee word?
“Party geneeshere is geneig om behandeling toe te dien vanweë hulle voorkeur vir opdragfoute bo versuimfoute.” Een mediese kundige “meen dat die tradisionele opdrag Primum non nocere (‘Doen vir eers geen skade nie’) dikwels opsygeskuif word ten gunste van die reël ‘Doen eers iets’. So ’n neiging om daadwerklik op te tree kan ’n faktor ter verklaring van ondoelmatige oortappingspraktyke wees.”
Is pasiënte bewus van oortappingsrisiko’s? “Geneeshere het oor die algemeen gesê dat die helfte van die pasiënte vir wie hulle rooisel-oortappings voorskryf, kommer uitspreek oor die risiko’s van ’n oortapping.”
Wat oortappings betref, lig dié toedrag van sake ongetwyfeld toe dat ’n ingeligte geneesheer en ’n ingeligte pasiënt in ’n beter posisie is om onnodige risiko’s te vermy. Die ingeligte Christen het selfs beter beskerming—Jehovah se gebooie teen die misbruik van bloed.—Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:13-16; Handelinge 15:19, 20, 28, 29.