Gesinne—Kom na aan mekaar voor dit te laat is
“Die gesin is die oudste instelling van die mens. In baie opsigte is dit die belangrikste instelling. Dit is die samelewing se mees basiese eenheid. Hele beskawings het, na gelang van die krag of die swakheid van die gesinslewe, bly bestaan of ten gronde gegaan.”—The World Book Encyclopedia (1973-uitgawe).
DIE gesinseenheid is vir kinders ’n sambreel van beskerming. Op baie plekke is daardie sambreel vandag vol gate; op baie ander plekke word dit toegemaak en in die kas gedruk. Die tradisionele gesin word dikwels as verouderd opsygeskuif. In televisiekomedies word vaders dikwels uitgebeeld as sukkelaars, moeders as slimmer as die vaders, maar kinders as die slimste.
Huweliksontrou is iets algemeens. In party nywerheidslande eindig een uit elke twee eerste huwelike in ’n egskeiding. Namate egskeidings toeneem, neem enkelouergesinne toe. In al hoe meer gevalle lewe twee mense saam sonder die voordeel van ’n huwelik. Homoseksuele probeer om hulle verhouding eerbaar te maak deur huweliksgeloftes af te lê. Seks, normaal en abnormaal, is die middelpunt van belangstelling in rolprente en video’s. Skole beskou kuisheid as onprakties en deel kondome uit om hoerery veilig te maak—maar hulle maak dit nie veilig nie. Seksueel oorgedraagde siektes en tienerswangerskappe skiet die hoogte in. Babas is die slagoffers—as hulle toegelaat word om gebore te word. Die tradisionele gesin gaan tot niet, en kinders verloor die meeste.
Jare gelede het die Nobelpryswenner Alexis Carrel in sy boek Man, the Unknown hierdie waarskuwing laat hoor: “Die hedendaagse samelewing het ’n ernstige fout begaan toe die skool onderrigting in die gesin geheel en al vervang het. Die moeders laat hul kinders by die kindertuin [deesdae vroeër met dagsorg en kleuterskool] sodat hulle aan hulle loopbane, hulle sosiale ambisies, hulle seksuele genietinge, hulle literêre en kunssinnige voorliefdes kan aandag skenk, of bloot om brug te speel, bioskoop toe te gaan of hulle tyd in bedrywige ledigheid deur te bring. Daarom is hulle verantwoordelik vir die verdwyning van die gesinsgroep waar die kind in voeling met volwassenes gehou is en by wie hulle baie geleer het. . . . Om sy volle sterkte te kan bereik, het die individu die relatiewe afsondering en die aandag nodig van die beperkte sosiale groep waaruit die gesin bestaan.”—Bladsy 176.
Die komediant Steve Allen het onlangs kommentaar gelewer op televisie se aanval op die gesin, met sy beheptheid met vuil taal en geslagsonsedelikheid. Hy het gesê: “Hierdie stroom sleep ons almal tot in die modder mee. Juis die soort taal wat ouers hulle kinders verbied het om te gebruik, word nou nie net deur permissiewe kabel-TV-base aangemoedig nie, maar deur die eens hoogwaardige netwerke. Programme wat uitbeeld hoe kinders en ander vulgêre taal gebruik, onderstreep net die mislukking van die Amerikaanse gesin.”
Watter erfenis laat die samelewing nou vir sy kinders na? Lees die koerante, kyk na die televisie, let op na die video’s, skakel die aandnuus aan, luister na die rap-musiek, sien die voorbeelde van volwassenes oral om jou. Kinders word met verstandelike en emosionele gemorskos volgestop. Die gewese Britse minister van onderwys, sir Keith Joseph, het gesê: “As jy ’n land wil vernietig, moet jy sy geldstelsel bederf.” En hy het bygevoeg: “Die manier om ’n samelewing te vernietig, is om die kinders te bederf.” “Bederf” beteken volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal “laat agteruitgaan, versleg, ontaard”. Dit word vandag met mening gedoen. Daar word baie gesê oor misdaad deur die jeug; daar moet meer gesê word oor misdaad deur volwassenes.
Hulle sal by ons kom spook
Geneva B. Johnson, voorsitster en hoof- uitvoerende beampte van Family Service America, het in ’n lesing wat vroeër vanjaar gehou is, gesê: “Die gesin is ernstig, dalk dodelik, siek.” Sy het dit ’n “somber prentjie vir baie van ons kinders” genoem, en toe het sy voorspel: “Die gewilligheid van die nasie om soveel van ons swak behuiste, swak gevoede, medies swak behandelde en swak opgevoede kinders as verstotenes in ’n ryk samelewing te beskou, gaan nog by ons kom spook.” Dit spook reeds by ons. Jy kan in die koerante daarvan lees, oor die nuusuitsendings daarvan hoor en op jou televisie daarna kyk. Hier is ’n paar voorbeelde:
Judonne ruk ’n pistool uit en skiet Jermaine drie maal in die bors. Jermaine is dood; hy was 15. Judonne is 14. Hulle was boesemvriende. Hulle het oor ’n meisie gestry.
Honderd mense kom by die 16-jarige Michael Hilliard se begrafnis byeen. Hy is agter in die kop geskiet toe hy van ’n stryery by ’n korfbalwedstryd weggestap het.
In Brooklyn, New York, steek drie tieners ’n hawelose paartjie aan die brand. Toe ’n alkoholvryfmiddel nie werk nie, het hulle petrol probeer. Dit het gewerk.
In Florida het ’n vyfjarige ’n klein kindjie van die vierde verdieping in ’n trapkuil af na sy dood gestamp.
In Texas het ’n tienjarige ’n vuurwapen geneem, sy speelmaat geskiet en sy liggaam onder die huis ingedruk.
In Georgia steek ’n 15-jarige seun sy skoolhoof met ’n mes terwyl hy ’n pak slae kry.
In die stad New York het ’n bende in hulle laat tiender- en vroeë twintigerjare, gewapen met kolwe, pype, byle, messe en ’n vleisbyl, gaan amok maak by ’n nedersetting vir hawelose mans. Hulle het baie beseer en een se keel afgesny. Die rede? Een speurder het verduidelik: “Dit was vir hulle pret om die haweloses aan te val.”
In Detroit, Michigan, het ’n 11-jarige en ’n 15-jarige ’n 2-jarige dogtertjie verkrag. Hulle het hulle slagoffer na bewering in ’n vullishouer gelos.
In Cleveland, Ohio, het vier seuns tussen ses en nege ’n negejarige meisie by ’n laerskool verkrag. Rubriekskrywer Brent Larkin het hieroor kommentaar gelewer en het in die Clevelandse Plain Dealer geskryf: “Dit spreek boekdele oor wat in hierdie land gebeur, oor hoe ons stelsel van waardes verdorwe raak.”
Dr. Leslie Fisher, ’n professor in sielkunde aan die Cleveland-staatsuniversiteit het die televisie die skuld gegee. Hy het dit “’n groot seksmasjien” genoem, en “kinders van 8 en 9 kyk na hierdie dinge”. Hy het ouers ook die skuld gegee vir die agteruitgang van die Amerikaanse gesin: “Mamma en Pappa is te betrokke by hulle eie probleme en staan nie die tyd af om na hulle kinders te kyk nie.”
Vullis in, vullis uit
Verskeie elemente in die samelewing, veral die media, vermaakkunstenaars en die vermaaklikheidsbedryf—elemente wat wins maak deur hulle toe te spits op die slegste in die mens—beeld seks en geweld en korrupsie oorvloedig uit en dra sodoende grootliks by tot die agteruitgang van die jeug en die gesin. Die reël tree dus in werking: Saai verderf, maai verderf. Vullis in, vullis uit. Nou pluk ons die vrugte—en dit is wrange vrugte.
Maak die samelewing ’n geslag kinders sonder ’n gewete groot? Dié vraag is geopper ná die opspraakwekkende voorval in New York se Central Park, toe ’n bende tieners ’n 28-jarige vrou geslaan en verkrag en vir dood agtergelaat het. Die polisie het gesê hulle was “selfvoldaan en glad nie spyt nie”, en toe hulle in hegtenis geneem is, het hulle “grappe gemaak, gesels en gesing”. Hulle het redes verskaf vir wat hulle gedoen het: “Dit was pret”, “Ons was verveeld”, “Dit was iets om te doen.” Die tydskrif Time het hulle “psigies geamputeerdes” genoem wat “daardie psigiese aanhangsel wat ons die gewete noem, verloor het of dalk nooit ontwikkel het nie”.
Die U.S.News & World Report het gesê: “Hierdie nasie moet optree om nog ’n geslag kinders sonder ’n gewete te verhoed.” Dr. Ken Magid, ’n vooraanstaande sielkundige, en Carole McKelvey het juis daardie gevaar in hulle boek, High Risk: Children Without a Conscience, beklemtoon. Gevalbeskrywings en verslae van sielkundiges en psigiaters gee oorweldigende ondersteuning aan Magid se bewering: Die grondoorsaak is ’n mislukking van die sterk binding tussen ouer en kind by geboorte en in die daaropvolgende vormingsjare.
Gesinne moet beslis gedurende daardie vormingsjare na aan mekaar kom voor dit te laat is!