Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 1/8 bl. 3-4
  • Daklose kinders—Wie dra die skuld?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Daklose kinders—Wie dra die skuld?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hulle op die strate leef
  • Daklose kinders—Is daar ’n oplossing?
    Ontwaak!—1990
  • Daklose kinders—Waarom is dit so moeilik om hulle te help?
    Ontwaak!—1990
  • Haweloosheid—’n Wêreldwye probleem
    Ontwaak!—2005
  • Haweloosheid—Wat is die oorsaak?
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 1/8 bl. 3-4

Daklose kinders—Wie dra die skuld?

Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië

FRANCISCO neem sy vrou en kinders een aand na die plaaslike pizzaplek. In die parkeerterrein bied ’n armoedig geklede seuntjie aan om Francisco se motor op te pas terwyl die gesin die maaltyd geniet. Toe Francisco en sy gesin die restaurant verlaat, hou die seuntjie sy hande gretig uit om ’n paar sente vir sy diens te ontvang. Kinders soos hy sukkel tot laat in die nag in die stad se strate om ’n bestaan te maak. Hulle is nie haastig om te vertrek nie, want die straat is hulle tuiste.

DAKLOSE kinders word as uitgeworpenes beskou en is al bestempel as “niemandskinders” of “weggooikinders”. Hulle getalle is ongelooflik en skrikwekkend—moontlik 40 miljoen. Maar dit is moeilik om ’n juiste syfer te kry. Ongelukkig stem alle gesaghebbendes egter saam dat die probleem wêreldwyd, veral in Latyns-Amerika, toeneem. Die gesig van daklose kinders wat inmekaargekrimp in ingange sit of geld bedel, is so treurig dat die samelewing hulle in koue statistieke op ’n ongevallelys verander, sy skouers ophaal en daarvan vergeet. Maar die samelewing kan nie meer bekostig om dit te doen nie. Volgens UNICEF (United Nations International Children’s Emergency Fund) gebruik 60 persent van die dakloses tussen 8 en 17 jaar stowwe wat hallusinasies veroorsaak, gebruik 40 persent sterk drank, is 16 persent dwelmverslaafdes en gebruik 92 persent tabak. En aangesien hulle geen bemarkbare vaardighede het nie, bly hulle dikwels aan die lewe deur te bedel, te steel of deur prostitusie. Omdat hulle as “niemandskinders” grootword, loop hulle die gevaar om misdadigers te word, en misdadigers is ’n bedreiging vir die veiligheid van enige gemeenskap.

Die Brasiliaanse koerant O Estado de São Paulo het verslag gelewer oor ’n bende daklose kinders: “Hulle het geen gesin, geen familielede en geen hoop vir die toekoms nie. Hulle lewe elke dag asof dit die laaste is. . . . Die kinders . . . verspil geen tyd nie: Binne sekondes neem hulle ’n tiener se polshorlosie, ruk hulle ’n vrou se halskettinkie af, gryp hulle ’n bejaarde man se beursie. En hulle verspil ook geen tyd om tussen die mense in te verdwyn nie. . . . Geslagsomgang begin op ’n vroeë ouderdom onder die . . . minderjariges. Elfjarige meisies en 12-jarige seuns kom bymekaar en verbreek die romanse dan binne ’n maand of twee net so maklik as wat dit begin is.”

Waarom hulle op die strate leef

Dit is nie maklik om daklose kinders te help nie. Een berig het getoon dat 30 persent van die straatkinders so bang was dat hulle geweier het om enige informasie oor hulle agtergrond, nie eens hulle name nie, aan instansies te gee. Maar waarom leef hulle op die strate? Is dit moontlik die begeerte om onafhanklik te wees? Dit was die geval met een Brasiliaanse jeugdige wat gesê het dat hy nie weer huis toe sou gaan nie omdat sy vader hom nie sou toelaat om te doen wat hy wil nie. Maar volgens die Mexikaanse koerant El Universal is die hoofrede vir die groot aantal straatkinders verwerping deur hulle vaders. Mislukte huwelike kan dus beskou word as ’n hoofoorsaak van die toename in die aantal straatkinders.

Daarbenewens is sommige ouers onverantwoordelik wat die versorging van hulle kinders betref: hulle slaan hulle, mishandel hulle seksueel, gooi hulle uit die huis, of ignoreer hulle net. Gevolglik voel die mishandelde of verwaarloosde kind dikwels dat hy op sy eie, selfs op die strate, beter daaraan toe is.

Maar kinders het liefdevolle sorg en leiding nodig. Dit is goed uitgedruk deur James Grant, UNICEF se uitvoerende direkteur. Sy woorde is aangehaal in ’n hoofartikel van die Latin America Daily Post met die titel “Kinders en môre”, waar hy sê: “Teen die ouderdom van drie of vier jaar is 90 persent van ’n mens se breinselle reeds aanmekaargekoppel en fisiese ontwikkeling is so ver gevorder dat die patroon vasgestel is vir die res van sy lewe. Gedurende daardie vroeë jare is daar dus ’n dringende behoefte aan beskerming, om die kind se reg te verdedig om tot sy volle potensiaal te ontwikkel, asook om in die ontwikkeling van mense te belê sodat hulle in groter mate tot die welsyn van hulle gesinne en hulle nasies kan bydra.”

Waarnemers is dus bekommerd en gee die ekonomie, die regerings of die publiek die skuld vir daklose kinders. Dieselfde artikel het voorts gesê: “Nòg die humanitêre nòg die ekonomiese saak om ‘in kinders te belê’ het veel vordering gemaak. . . . ‘Ekonomiese aanpassing’ het dikwels beteken dat subsidies vir kos en daaglikse lewensbenodigdhede besnoei is. . . . Omdat sulke besnoeiings saamgeval het met toenemende werkloosheid en dalende reële lone beteken dit dat dié wat dit die minste kon bekostig—die armste gesinne en hulle kinders—die swaarste deur resessie getref word.”

Die swak ekonomie in talle lande is ongetwyfeld nog ’n rede vir die toenemende aantal straatkinders. Ouers stuur hulle kinders die strate in om te verdien wat hulle kan en op watter manier hulle ook al kan. Waarom is dit egter so moeilik om die probleem van daklose kinders op te los?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel