Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 11/8 bl. 10-14
  • Die wêreldbevolking—Wat van die toekoms?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wêreldbevolking—Wat van die toekoms?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is daar te veel mense?
  • Sal daar genoeg voedsel wees?
  • Wat van die omgewing?
  • Die eintlike kwessie
  • Is daar ’n rooskleurige toekoms?
  • Die wêreldbevolkingsaanwas—’n lewensbelangrike vraagstuk
    Ontwaak!—1991
  • Demografie, die Bybel en die toekoms
    Ontwaak!—2004
  • Chaotiese weer
    Ontwaak!—1998
  • Kinders—Bates of laste?
    Ontwaak!—1993
Ontwaak!—1991
g91 11/8 bl. 10-14

Die wêreldbevolking—Wat van die toekoms?

VERVALLE woonplekke, onhigiëniese toestande, ’n gebrek aan voedsel en skoon water, siekte, ondervoeding—hierdie en talle ander ontberinge is ’n daaglikse werklikheid in die lewe van ’n groot deel van die wêreld se bevolking. Maar, soos ons reeds gesien het, slaag die meeste mense wat in hierdie toestande verkeer op die een of ander manier daarin om daarmee saam te lewe en met hulle daaglikse lewe voort te gaan.

Maar wat van die toekoms? Sal mense vir altyd sulke harde werklikhede van die lewe moet verduur? En om sake verder te kompliseer, ontstaan die vraag oor die onheil wat omgewingswetenskaplikes en ander as gevolg van die volgehoue bevolkingsaanwas voorspel. Hulle sê vir ons dat ons ons eie woonplek verwoes deurdat ons die lug, water en die grond waarvan ons afhanklik is, besoedel. Hulle vestig ook die aandag op die kweekhuiseffek—die emissie van gasse, soos koolstofdioksied, metaan, chloorfluoorkoolstowwe (koelmiddels en skuimmiddels), wat verwarming van die atmosfeer en veranderinge in die wêreldwye weerpatrone sal veroorsaak en verskriklike gevolge sal hê. Sal dit uiteindelik die einde van die beskawing soos ons dit ken tot gevolg hê? Kom ons beskou ’n paar van die vername faktore van naderby.

Is daar te veel mense?

In die eerste plek, sal die wêreld se bevolking vir altyd aanhou groei? Is daar enige aanduiding van hoe ver dit sal gaan? Dit is natuurlik ’n feit dat die wêreldbevolking groei ten spyte van die pogings om gesinsbeplanning toe te pas. Die jaarlikse aanwas is nou ongeveer 90 miljoen (gelyk aan nog ’n Mexiko elke jaar). Dit lyk nie of dit op die oomblik enigsins gestuit kan word nie. Maar wanneer hulle vooruitkyk, is die meeste demograwe dit eens dat die bevolking uiteindelik sal stabiliseer. Die vraag wat by hulle opkom, is op watter vlak en wanneer.

Volgens skattings wat deur die VN se bevolkingsfonds gemaak is, kan die wêreldbevolking 14 miljard bereik voordat dit stabiliseer. Maar ander raam dat die hoogtepunt tussen 10 miljard en 11 miljard sal wees. Hoe dit ook al sy, die belangrike vrae is: Sal daar te veel mense wees? Kan die aarde twee tot drie keer die huidige bevolking huisves?

Uit ’n statistiese oogpunt sal 14 miljard mense wêreldwyd ’n gemiddelde van 104 mense per vierkante kilometer beteken. Soos ons reeds gesien het, is die bevolkingsdigtheid van Hongkong 5 592 mense per vierkante kilometer. Nederland se bevolkingsdigtheid is op die oomblik 430, terwyl Japan se bevolkingsdigtheid 327 is, en dit is lande wat ’n lewenstandaard bo die gemiddelde geniet. Dit is duidelik dat die aantal mense nie die probleem is nie, al sou die wêreldbevolking ook tot die voorspelde getalle groei.

Sal daar genoeg voedsel wees?

Maar wat van die voedselvoorraad? Kan die aarde genoeg voedsel produseer om 10 miljard of 14 miljard mense te voed? Die wêreld se huidige voedselproduksie is klaarblyklik nie voldoende om in die behoeftes van so ’n groot bevolking te voorsien nie. Trouens, ons hoor dikwels van voedselskaarstes, ondervoeding en verhongering. Beteken dit dat ons nie genoeg voedsel produseer om in die behoeftes van die huidige bevolking, om nie te praat van ’n bevolking wat twee of drie keer groter is, te voorsien nie?

Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van wat met “genoeg” bedoel word. Terwyl honderdmiljoene mense in die wêreld se armste nasies nie genoeg voedsel kan kry om selfs ’n minimale gesonde dieet te handhaaf nie, ly mense in die ryk nywerheidslande aan die gevolge van ’n dieet wat veels te ryk is—beroertes, etlike soorte kanker, hartsiekte, ensovoorts. Hoe raak dit die voedselsituasie? Dit neem volgens een berekening vyf kilogram graan om een kilogram biefstuk te produseer. Die kwart van die wêreld se bevolking wat vleis eet, verbruik gevolglik byna die helfte van die wêreld se graanproduksie.

Let op wat die boek Bread for the World sê oor die totale hoeveelheid voedsel wat geproduseer word: “As die wêreld se huidige voedselproduksie gelykop en met die minste vermorsing onder al die mense in die wêreld verdeel sou word, sal almal genoeg hê. Skaars genoeg miskien, maar genoeg.” Daardie stelling is in 1975, meer as 15 jaar gelede, gemaak. Wat is die situasie vandag? Volgens die World Resources Institute “het die wêreld se totale voedselproduksie oor die laaste twee dekades toegeneem en die aanvraag oorskry. Gevolglik het die pryse van die vernaamste voedselsoorte in onlangse jare in werklikheid op internasionale markte gedaal.” Ander studies toon dat die pryse vir vername voedselsoorte soos rys, mielies, sojabone en ander graansoorte oor daardie tydperk met meer as die helfte of meer gedaal het.

Dit kom daarop neer dat die voedselprobleem nie soseer in die hoeveelheid wat geproduseer word as in die vlak en die manier van verbruik lê nie. Die nuwe genetiese tegnologie het maniere uitgevind om rys-, koring- en ander graanvariëteite te kweek wat die huidige opbrengs kan verdubbel. Maar baie van die vaardigheid op hierdie gebied word op omset-oeste, soos tabak en tamaties, toegespits om eerder in die behoeftes van die rykes te voorsien as om die mae van die armes te vul.

Wat van die omgewing?

Diegene wat die situasie fyn dophou, besef al hoe meer dat die bevolkingsaanwas net een van die faktore is wat die mensdom se toekomstige welstand bedreig. In hulle boek The Population Explosion sê Paul en Anne Ehrlich byvoorbeeld dat die uitwerking wat die mens se bedrywighede op ons omgewing het met hierdie eenvoudige vergelyking weergegee kan word: Uitwerking = bevolking × vlak van welvarendheid × uitwerking van die huidige tegnologie op die omgewing.

Die skrywers meen dat lande soos die Verenigde State volgens hierdie standaard oorbevolk is, nie omdat hulle te veel mense het nie, maar omdat hulle vlak van welvarendheid afhang van ’n hoë verbruikstempo van natuurlike hulpbronne, asook van tegnologie wat groot skade aan die omgewing aanrig.

Dit lyk of ander studies dit bevestig. The New York Times haal ekonoom Daniel Hamermesh aan wat sê dat ‘kweekhuisemissies nader verband hou met die vlak van ekonomiese bedrywigheid as met die aantal mense wat die emissies veroorsaak. Die gemiddelde Amerikaner produseer 19 keer soveel koolstofdioksied as die gemiddelde Indiër. En dit is byvoorbeeld heeltemal moontlik dat ’n ekonomies welvarende Brasilië met ’n stadige bevolkingsaanwas sy tropiese woude vinniger sal afbrand as ’n verarmde Brasilië met ’n vinnige bevolkingsaanwas.’

Alan Durning van die Worldwatch Institute voer basies dieselfde punt aan: “Die rykste miljard mense in die wêreld het ’n beskawingsvorm geskep wat so hebsugtig en verkwistend is dat die planeet in gevaar verkeer. Die lewenstyl van hierdie hoëlui—die motoreienaars, die beesvleiseters, die koeldrankdrinkers en die verbruikers van weggooiprodukte—vorm ’n ekologiese bedreiging wat, buiten miskien die bevolkingsaanwas, ongeëwenaard in erns is.” Hy wys daarop dat hierdie “rykste vyfde” van die mensdom byna nege tiendes van die chloorfluoorkoolstowwe en meer as die helfte van die ander kweekhuisgasse wat die omgewing bedreig, produseer.

Die eintlike kwessie

Dit blyk uit die voorafgaande bespreking dat ’n mens die kern mis kyk as jy net die bevolkingsaanwas vir die ellendes wat die mens vandag in die gesig staar, blameer. Die probleem wat ons vandag in die gesig staar is nie dat ons te min leefruimte het of dat die aarde nie genoeg voedsel vir ’n gesonde dieet vir almal kan produseer of dat al die natuurlike hulpbronne binnekort sommer sal opraak nie. Hierdie dinge is bloot simptome. Die eintlike kwessie is dat al hoe meer mense na ’n al hoe hoër vlak van materiële verbruik strewe sonder om die gevolge van hulle optrede in ag te neem. Hierdie onversadigbare begeerte na meer plaas so ’n swaar druk op ons omgewing dat die aarde se dravermoë baie vinnig oorskry word. Die basiese probleem lê met ander woorde nie soseer in die aantal mense as in die aard van die mens nie.

Skrywer Alan Durning stel dit so: “Die uiteindelike lot van die mens kan in ’n delikate biosfeer daarvan afhang of hy ’n dieper sin vir selfbeperking kan aankweek wat gegrond is op ’n algemene beleid om verbruik te beperk en niemateriële verryking te verkry.” Dit is alles goed en wel, maar die vraag ontstaan: Is dit waarskynlik dat mense in alle wêrelddele gewillig selfbeperking aan die dag sal lê, verbruik sal beperk en niemateriële verryking sal nastreef? Beslis nie. Te oordeel na die gemaksugtige en genotsugtige lewenstyl wat vandag so algemeen is, is die kanse groter dat die teenoorgestelde sal gebeur. Dit lyk of die meeste mense se leuse vandag is: “Laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!”—1 Korinthiërs 15:32.

Selfs as genoeg mense wakker skrik en hulle lewenswyse begin verander, sal ons die neiging steeds nie in die nabye toekoms kan verander nie. Kyk maar na die talle groepe omgewingsaktiviste en die alternatiewe lewenstyle wat oor die jare te voorskyn gekom het. Party van hulle het daarin geslaag om groot opslae in die nuus te maak, maar het hulle enige indruk op die gewoontes van die sogenaamde hoofstroomgemeenskap gemaak? Hoegenaamd nie. Wat is die probleem? Die probleem is dat die hele stelsel—kommersieel, kultureel en polities—daarop ingestel is om die konsep van inherente onduursaamheid en weggooi-verbruikersgerigtheid te bevorder. Daar kan teen hierdie agtergrond geen verandering wees sonder dat daar ’n algehele rekonstruksie van die fondament af is nie. En dit sal omvattende heropvoeding vereis.

Is daar ’n rooskleurige toekoms?

Die situasie kan vergelyk word met dié van ’n gesin wat in ’n gemeubileerde en ten volle toegeruste huis woon wat deur ’n weldoener voorsien is. Hulle word toestemming gegee om al die fasiliteite in die huis na hulle goeddunke te gebruik, sodat hulle heeltemal tuis sal voel. Wat sal gebeur as die gesin die meubels begin beskadig, die vloer uitkap, die vensters breek, die pypwerk laat verstop, die elektriese stroombane oorlaai —kortom, dreig om die huis heeltemal te ruïneer? Sal die eienaar net gedweë toekyk en niks doen nie? Dit is hoogs onwaarskynlik. Hy sal ongetwyfeld stappe doen om die vernielsugtige bewoners van sy eiendom af te verwyder en dit dan tot die vorige goeie toestand te herstel. Niemand sal sê dat sulke optrede nie geregverdig was nie.

Maar wat van die mensdom? Is ons nie soos mense wat in ’n goed gemeubileerde en voortreflik toegeruste huis woon wat deur die Skepper, Jehovah God, voorsien is nie? Ja, ons is, want soos die psalmis dit gestel het: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon” (Psalm 24:1; 50:12). God het ons nie net van al die dinge wat die lewe moontlik maak—lig, lug, water en voedsel—voorsien nie, maar hy het ’n oorvloed en ’n groot verskeidenheid daarvan voorsien sodat die lewe genotvol kan wees. Maar hoe het die mensdom as bewoners van die aarde opgetree? Ongelukkig nie baie goed nie. Ons is letterlik besig om hierdie pragtige huis waarin ons woon te ruïneer. Wat sal die eienaar, Jehovah God, daaromtrent doen?

“Die verderwers van die aarde . . . verderf”—dit is wat God sal doen! (Openbaring 11:18). En hoe sal hy dit doen? Die Bybel antwoord: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Wat kan ons onder die heerskappy van God se ewigdurende Koninkryk verwag? Die woorde van die profeet Jesaja gee ons ’n voorskou van wat gaan kom:

“Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.”—Jesaja 65:21-23.

Wat ’n rooskleurige toekoms is dit tog nie vir die mensdom nie! In daardie nuwe wêreld van God sal die mensdom nie meer deur die probleme van behuising, voedsel, water, gesondheid en verwaarlosing geteister word nie. Die gehoorsame mensdom sal dan eindelik die hele aarde onder God se leiding kan vul en onderwerp, sonder enige bedreiging van oorbevolking.—Genesis 1:28.

[Venster op bladsy 13]

Waarom is voedsel dikwels duur?

Al het die werklike koste van voedsel gedaal, is die algemene bevinding dat voedselpryse styg. Waarom? ’n Eenvoudige rede is verstedeliking. Voedsel moet oor groot afstande vervoer word om die massa mense in die wêreld se steeds groeiende stede te voed. Byvoorbeeld: In die Verenigde State “reis die tipiese mondvol kos [2 100 kilometer] van die landery tot op die bord”, sê ’n studie wat deur Worldwatch gedoen is. Die verbruiker betaal nie net vir die voedsel nie, maar ook vir die versteekte koste van verwerking, verpakking en vervoer.

[Diagram op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die aarde se atmosfeer hou die son se hitte binne. Maar die hitte wat geskep word—wat deur infrarooi strale gedra word—kan vanweë die kweekhuisgasse nie maklik ontsnap nie en laat die hitte van die aarde se oppervlak gevolglik toeneem

Kweekhuis-gasse

Ontsnappende straling

Vasgekeerde infrarooi straling

[Prente op bladsy 12]

Dit neem vyf kilogram graan om een kilogram biefstuk te produseer. Die kwart van die wêreld se bevolking wat vleis eet, verbruik dus byna die helfte van die wêreld se graanproduksie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel