Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 11/22 bl. 16-20
  • “As jy iets onnosels aanvang, maak ek jou dood”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “As jy iets onnosels aanvang, maak ek jou dood”
  • Ontwaak!—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Die olifant se slurp
    Is dit ontwerp?
  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind
    Ontwaak!—1995
  • Die olifant se slurp
    Ontwaak!—2012
  • Ek was ’n gyselaar
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 11/22 bl. 16-20

“As jy iets onnosels aanvang, maak ek jou dood”

Die loop van ’n vuurwapen is deur die opening van die motorvenster gesteek en op my kop gerig. ’n Stem het gesê:

“Moenie na my kyk nie, Dame. Sluit die deur oop. Skuif oor na die passasiersitplek.” Ek het gedoen soos ek beveel is. Die man het agter die stuurwiel ingeskuif, terwyl hy die vuurwapen steeds op my gerig het.

“Het jy ’n sleutel vir die bank?”

“Ek het nie ’n sleutel nie. Iemand sal binnekort hier wees om oop te sluit.”

“As jy iets onnosels aanvang”, het hy gewaarsku, “maak ek jou dood.” Hy het my motor aangeskakel en weggery.

Dit het nou ’n gewoonte begin word. Ek was ’n kassier in ’n tak van die Trust Company Bank. ’n Vrou het verlede April haar handsak op my gerig en gesê: “Daar is ’n vuurwapen hierin. Gee die geld vir my.” Ek het dit gedoen.

’n Paar weke later het ’n man na my loket gekom. Sy vuurwapen was duidelik te sien. “Gee my die geld.” Ek het ’n stapel banknote na hom toe gestoot.

Ek het genoeg gehad. Ek het gevra om na ’n ander tak oorgeplaas te word. My versoek is toegestaan. En nou, Donderdagoggend, 23 Mei, sit ek hier in my motor in die parkeerterrein van die nuwe tak, die Peachtree Mall-tak in Columbus, Georgia. Ek wag dat dit moet oopmaak. Dit is 8:25. Ek kom gewoonlik ’n paar minute vroeër werk toe en lees die Bybelteks vir die dag. Op hierdie spesifieke oggend is dit Mattheüs 6:13, wat sê: “Verlos ons van die Bose.” Ek het dit nie toe besef nie, maar daardie teks sou die volgende twee dae vir my baie belangrik word.

Ek het nog net twee weke by hierdie nuwe tak gewerk en het nog nie ’n sleutel ontvang nie. My motorvenster was net effens oop, en ek het nagedink oor die teks wat ek net klaar gelees het, toe die loop van die vuurwapen in die venster verskyn het. Rowers het twee keer vantevore met bankgeld gevlug. Hierdie keer was dit met my.

Ek het hardop begin bid toe hy wegry: “O Jehovah, help my asseblief!”

“Wie is Jehovah?” het my ontvoerder skerp gevra.

“Hy is die God wat ek aanbid.”

“Moenie na my kyk nie! Hou aan om by jou venster uit te kyk! Jehovah . . . dit is die Wagtoring, Jehovah se Getuies, is dit nie?”

“Ja.”

“Ek het hulle geken toe ek in New York-stad gebly het. Ek is ’n Katoliek. In elk geval, bid saggies. Ek wil dit nie hoor nie.” Maar hy het bygevoeg: “Kyk, ek gaan jou nie seermaak nie. Ek wil die geld hê, nie vir jou nie. Moet niks onnosels aanvang nie, en jy sal nie seerkry nie.”

Hy het my heeltyd oor die bank uitgevra terwyl ons gery het. Wie gaan daar wees om oop te sluit? Wanneer maak dit vir die publiek oop? Hoeveel geld is daar in die bank? ’n Klomp vrae oor die bank. Ek het hulle so goed as moontlik beantwoord en terselfdertyd stil gebid. Ek het Jehovah gesmeek om my veilig hierdeur te bewaar.

Ná ongeveer tien minute het hy ’n grondpad geneem wat iewers in die bosse ingaan. Hy het blykbaar verwag om iemand daar te ontmoet, want hy het by homself begin mompel: “Waar is hy? Waar is hy?” Hy het stilgehou en uitgeklim en my gedwing om oor die sitplek te skuif en by die bestuurder se kant uit te klim, terwyl my rug die heeltyd na hom gekeer was. Hy het die vuurwapen in my sy gedruk en my dieper die bosse ingelei, terwyl my oë heeltyd op die grond gerig was sodat ek hom nie kon sien nie. Dit was moeilik om in my rok en hoëhakskoene deur die ruigte te gaan. Hy het my na ’n boom gelei, my met my gesig na die stam toe laat staan en sterk kleeflint wat gebruik word om nate in pype mee te seël oor my oë en mond geplak. Hy het my hande agter my rug vasgemaak en my aan die boom vasgemaak met kleeflint wat hy om my en die boomstam gedraai het.

Teen hierdie tyd het ek verskriklik gebewe. Hy het my beveel om daarmee op te hou. Ek het deur die kleeflint gemompel dat ek nie kon nie. “Wel, staan net stil. Iemand hou jou dop, en as jy probeer loskom, sal hy jou doodmaak.” Toe het hy my daar gelos. Ek het die dagteks onthou wat gesê het: “Verlos ons van die Bose”, en gedink hoe gepas dit vir my op hierdie tydstip was.

Hy het gou weer teruggekom maar in ’n ander motor—ek sou myne aan die enjin se gedreun herken het. Hy moes dit omgeruil het vir sy eie motor. Hy het die kleeflint om my middel en om die boomstam afgehaal maar het dié oor my oë en mond gelos, en my gewrigte was nog agter my rug vasgemaak. Hy het my deur die ruigte na die motor teruggelei. Hy het die bagasiebak oopgemaak, my daar ingebondel, die bak toegeslaan en weggery.

Ek het weer begin bid. Ek het amper die hele dag deur gebid en Jehovah gevra om my die nodige krag te gee om wat ook al voorlê te kan verduur. Ons het waarskynlik 15 of 20 minute lank gery voordat hy stilgehou en die bagasiebak oopgemaak het. Hy het die kleeflint van my mond afgehaal en my gevra wat die telefoonnommer van die bank is. Ek het dit vir hom gegee. Hy het my gevra wie my baas is. Ek het vir hom gesê, en hy het die kleeflint weer oor my mond gesit. Toe het hy die bank gebel en die geld geëis—$150 000, soos ek later verneem het.

Hy het vir George—dit is die naam van die beampte wat daardie dag by die bank diens gedoen het—gesê om teen twee-uur die middag in ’n spesifieke telefoonhokkie suid van Atlanta met die geld te wees, waar hy verdere instruksies sou ontvang. Hy het my van daardie verwikkelings vertel en my verseker dat ek binnekort vrygelaat sou word. Maar dit was nog lank voor twee-uur, en ek was nog ingehok en vasgebind in hierdie bagasiebak en het al hoe warmer gekry. Die ure het stadig verbygesleep. Hy het een of twee keer by my ingeloer om te sien hoe dit gaan. “Jou God Jehovah sorg vir jou”, het hy gesê. Hy het dus my gebed aan Jehovah van die oggend af onthou.

Ek het aan my gesin gedink. Het hulle ooit geweet dat ek weg was? As hulle geweet het, hoe het hulle daarop gereageer? Ek was selfs meer bekommerd oor hulle as oor myself. Ek het aan verskillende tekste gedink. Die een oor Jehovah se naam wat ‘’n sterk toring is en die regverdiges wat daarin hardloop en beskut word’. Ook ‘as jy die naam van Jehovah aanroep, sal jy gered word’. En ek het beslis die apostel Paulus se raad om ‘sonder ophou te bid’ toegepas (Spreuke 18:10, NW; Romeine 10:13, NW; 1 Thessalonicense 5:17). Benewens Bybeltekste het die woorde en melodieë van Koninkryksliedere in my kop gemaal, liedere soos ‘Jehovah, my rots, my sterkte en my mag’ en ‘Jehovah is my toevlug’.

Ek het ondervindings onthou wat ek in Die Wagtoring gelees het waar Jehovah ander gehelp het om moeilike toetse te deurstaan. Een in die Ontwaak! wat helder in my gedagte was, was van ’n Getuie wat as gyselaar in ’n bankroof aangehou is.a Die rower het haar styf om die nek vasgehou terwyl hy ’n handgranaat rondgeswaai het en haar gedreig het. Haar beproewing het ure lank aangehou; sy en die rower het binne geskuil, en die polisie was buite. Sy het ook haar beproewing deurstaan deur tot Jehovah te bid en aan tekste te dink, en haar moed is beloon deurdat sy veilig aan haar gesin terugbesorg is.

Die motor het uiteindelik tot stilstand gekom, en die bestuurder het uitgeklim. Ek kon nie my horlosie sien nie, aangesien dit aan my gewrig was en agter my rug vasgebind was, maar ek het reg aangeneem dat dit twee-uur was en dat hy gegaan het om met George van die bank in verbinding te tree. Ek het gehoop dat ek binnekort vrygelaat sou word. Maar dit het nie so uitgewerk nie. Sy planne het blykbaar nie glad verloop nie, en ons het weer begin ry.

Die enjin het skielik begin jaag, en die motor het in volle vaart voortgesnel! Hy het nie net baie vinnig gery nie, maar het ook heen en weer geswenk asof hy deur die verkeer vleg. Ek is oral in die bagasiebak rondgegooi. My liggaam het op die vloer rondgewip, en my kop het teen die kante van die bagasiebak gestamp. Met my hande en arms wat agter my rug vasgemaak was, was ek kragteloos om myself te beskerm of die stampe af te weer terwyl ek in alle rigtings geslinger is. Dit het seker tien minute lank aangehou, maar dit het baie langer gevoel.

Die motor het kort hierna gestop, en hy het die bagasiebak oopgemaak om te sien hoe dit met my gaan. Ek het uiteraard baie aan skok gely en was ontsteld oor die stampe wat ek moes verduur. My hart het vinnig geklop en ek het swaar asemgehaal. Ek was papnat gesweet en kon dit nie wegvee nie, aangesien my hande agter my vasgebind was. Dit was veral moeilik om asem te haal met net my neus wat tussen die kleeflint oor my oë en die kleeflint oor my mond uitgesteek het. Hy het die kleeflint vir ’n rukkie van my mond afgehaal sodat ek makliker kon asemhaal en kon praat as ek wou.

Hy het vir my gesê dat die polisie sy motor herken het, moontlik vanuit hulle waarnemingsplek, en hom agternagesit het. Dit is waarom hy so vinnig gery het en deur die verkeer gevleg het om te verhoed dat hy ander motors stamp. Hy het daarin geslaag om die polisie te ontglip. Hy het aan my verduidelik dat hy nog nie die geld gekry het nie, maar dat hy iets anders gaan probeer, dat dit ’n bietjie langer sou neem, maar dat ek nie bekommerd moet wees nie. Hy het my weer verseker dat hy my nie sou seermaak nie, dat dit nie sy plan was nie. Hy het geld nodig gehad, en ek was die middel waardeur hy dit kon kry. Toe hy dit gesê het, het dit my gerus gestel, aangesien ek gebid het dat Jehovah my moet help om op die regte manier te reageer as hy my begin seermaak.

Die ure het verbygesleep. Hy het ’n paar keer stilgehou, miskien om nog telefoonoproepe te maak of om die geld te probeer kry. Een keer toe hy stilgehou het, het ek gehoor hoe hy die tenk vol petrol maak. Ek was so ingehok dat ek my bes probeer het om rond te skuif, maar het sodoende ’n bietjie geraas gemaak. Hy het die bagasiebak onmiddellik oopgemaak en my gewaarsku om nie enige geraas te maak nie. Ek het gewonder hoe laat dit was. Hy het my nooit spesifiek gesê nie, behalwe die eerste keer, toe dit twee-uur was. Ek het geweet dat ons nog in die Atlantagebied was, omdat ek die vliegtuie kon hoor opstyg en land by die lughawe.

Daarna het hy die bagasiebak oopgemaak en gesê: ‘Dit sal nog ’n uur duur. Nog ’n uur en jy sal vry wees.’ Hy het dit verskeie kere gesê. Ek het hom nie meer geglo nie. Ek het net gehoop. Dit was nie ’n baie warm dag nie, maar in die bagasiebak was dit beknop en bedompig, en dit het al hoe warmer geword. Ek het baie gesweet, en dit het moeiliker geword om asem te haal. Ek het oor die opstanding begin bid omdat ek nie geweet het hoe lank ek nog sou kon asemhaal nie.

As ek sou sterf, het ek gehoop dat Jehovah my familie sou help om dit te verwerk. Ek was bekommerd oor my familie en oor myself. Ek het geweet dat as ek sou sterf, Jehovah my in die opstanding sou terugbring en dat ek met my familie herenig sou word in sy beloofde nuwe wêreld van geregtigheid (Johannes 5:28, 29; 2 Petrus 3:13). My gedagtes aan Jehovah en sy beloftes het my krag gegee.

Die bestuurder het die bagasiebak weer oopgemaak. Dit was donker—dit was al ure lank donker. Hy het nog telefoonoproepe gemaak. Nie een van sy pogings om die losprys te kry, het geslaag nie. Hy het gesê dat hy moeg was om te probeer en dat hy my na Columbus gaan terugneem en my gaan vrylaat. Ek was heeltemal uitgeput teen die tyd dat ons teruggekom het. Ek het net in die bagasiebak gelê en gewens dat alles tot ’n einde moet kom. Maar toe het ek myself moed begin inpraat en gedink: ‘Nee, ek moet op my hoede bly. Ek moet myself dwing om wakker te bly. Alles gaan binnekort oor wees. Hy het tou opgegooi, en hy neem my huis toe.’

Hy wou my by my motor vrylaat, maar dit was nie waar hy gedink het dit sou wees nie. Hy het my na ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies geneem, maar die ligte was aan in die woonstel waar een van ons reisende verteenwoordigers gebly het. “Ek gaan jou nie vrylaat waar daar mense is nie!” Maar hy het my vir die eerste keer uit die bagasiebak laat klim. Ek was nog geblinddoek, my hande was nog agter my rug vasgebind, maar hy het die kleeflint van my mond afgehaal. Ek het lighoofdig gevoel en kon skaars loop. My bene was so dood. Hy het my weer in die bagasiebak gesit en my ’n ent langs die pad af geneem, my agter ’n Baptistekerk gelos en weggery. Dit was 1:30 Vrydagoggend.

Ek het werklik lighoofdig gevoel, gaan sit en my bewussyn verloor. Die laaste ding wat ek onthou was die geluid van sy motor wat weggery het. Toe ek drie uur later bykom, het ek in die gras en modder gelê. Ek het die kleeflint van my gewrigte afgewikkel en dit van my oë afgetrek. Ek het na my horlosie gekyk. Dit was kwart voor vyf. Ek was 17 uur lank in die bagasiebak en 3 uur lank bewusteloos op die grond. Ek het met bene wat bewe en geen gevoel in hulle gehad het nie die pad afgestap. ’n Man was besig om met sy vragmotor by sy rylaan uit te ry. Ek het vir hom gesê dat ek ontvoer is en dat ek my familie en die polisie moes bel. Die polisie was binne tien minute daar. Dit was verby.

Ek is hospitaal toe geneem vir ’n ondersoek. Ek het 20 uur lank niks gehad om te drink of te eet nie en het geen badkamergeriewe gehad nie, en ek het net die laaste drie uur geslaap. My liggaam was gekneus, my klere vol modder, my hare ’n gemors en my gesig vuil en vol merke van die kleeflint. Maar dit het nie my hereniging bederf met my man, Brad, en my ma, Glenda, sowel as die baie ander dierbare familielede en vriende wat daar bymekaargekom het om my terug te verwelkom nie. Die beproewing wat hulle deurgemaak het terwyl hulle moes wag en hulle bekommer het, was anders as myne, maar was in sekere sin miskien nog verskrikliker.

Ek het van die hospitaal na die polisiestasie gegaan om vrae te beantwoord en ’n verklaring af te lê. Volgens ’n berig in die Columbus Ledger-Enquirer van 25 Mei 1991 het die polisie gesê dat die ontvoerder, wat toe al in hegtenis geneem is, ook “aangekla sou word van verkragting en ernstig sodomie wat die vorige naweek plaasgevind het”, net voordat hy my ontvoer het. Polisiehoof Wetherington se versoek om ’n mediaverbod is ook in hierdie persverklaring verduidelik: “Ons was werklik baie bekommerd oor Lisa se lewe.” Dit alles het my selfs meer oortuig dat dit my vertroue op Jehovah was wat my bewaar het.

Ek het huis toe gegaan na die heerlikste warm bad van my lewe, na soet, genesende slaap en na hierdie sielverkwikkende gedagte terwyl ek in ’n diep slaap geval het: Die dagteks van Mattheüs 6:13 was nog ’n vertroosting vir my, en in harmonie met Psalm 146:7 (NW) het ek ‘’n bevryding na gebondenheid’ beleef.—Soos vertel deur Lisa Davenport.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Desember 1990, bladsye 17-19.

[Lokteks op bladsy 17]

“Bid saggies. Ek wil dit nie hoor nie”

[Lokteks op bladsy 17]

Hy het die bagasiebak oopgemaak, my daar ingebondel, die bak toegeslaan en weggery

[Lokteks op bladsy 18]

Ek het op die vloer rondgewip, my kop het teen die kante van die bagasiebak gestamp

[Lokteks op bladsy 19]

Ek het net in die bagasiebak gelê en gewens dat alles tot ’n einde moet kom

[Lokteks op bladsy 20]

Toe ek drie uur later bykom, het ek in die gras en modder gelê

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel