Ek is dankbaar dat ek dit oorleef het
AS JY die rolprent The Bridge on the River Kwai gesien het, kan jy jou maklik in my verhaal indink. Ek was ’n gevangene van die Japannese gedurende die Tweede Wêreldoorlog en was onder diegene wat gedwing is om die treinspoor langs die Kwai-rivier (nou Khwae Noi) te bou.
Ons Nederlandse en plaaslike troepe het in Maart 1942 by Bandoeng, Java, oorgegee nadat hulle dae lank voor ’n groter Japannese leër geretireer het. Ons het ’n paar weke in ’n plaaslike siviele gevangenis deurgebring; toe is ons een oggend vroeg aangesê om ons vir ’n lang tog gereed te maak.
Maar ons is eers per trein van Bandoeng na Batavia (nou Djakarta), Java se hoofstad, geneem. Daar moes ons op ’n skip klim vir ons reis na Singapoer. In Singapoer is ons gedwing om in ’n trein te klim en is ons 1600 kilometer ver na Siam (nou Thailand) vervoer. Voordat ons die hoofstad, Bangkok, bereik het, het ons trein weswaarts gedraai op ’n sylyn en in Kantsjanaboeri, naby Birma (nou Myanma) se grens, aangekom.
Die voorgenome treinspoor sou langs die Kwai-rivier loop, aangesien die rivier ’n bron van drink- en badwater was. Ons verhongerde gevangenes moes die treinspoor tot in Birma bou. Vragmotors het ons tot by die einde van die teerpad en toe oor ’n grondpad na die eerste krygsgevangenekamp geneem. Die volgende oggend is ons na ’n tweede kamp geneem.
Van hierdie tweede kamp af het ons lang tog begin. Maar voordat ek vertel wat gebeur het, laat ek iets sê oor my agtergrond en hoe ek ’n krygsgevangene van die Japannese geword het.
Die oorlog bereik Nederlands-Indië
My ma was van Duitse afkoms, en Pa was Nederlands. Ons het op ’n pragtige, vrugbare plaas gewoon teen die hang van die vulkaan Boekit Daoen op Java, die vierde grootste eiland van die meer as 13 600 eilande waaruit Nederlands-Indië (nou Indonesië) bestaan het. Pa was die bestuurder van ’n rubberplantasie, en ek het in die groot stad Bandoeng skoolgegaan. Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het ons ongeveer 550 kilometer ver na die dorp Lahat, op Sumatra, verhuis.
Ma was Rooms-Katoliek, en ek en my twee broers is dus na ’n Katolieke kosskool gestuur. Eendag in die klas het ek die priester gevra: “Waarom vervolg Hitler die Jode as Jesus ook ’n Jood was?” Hy het driftig geantwoord dat Jesus nie ’n Jood was nie en het nadruklik gesê dat hy God, deel van die Drie-eenheid, is.
“Wel, was Maria, Jesus se moeder, ’n Jodin?” het ek gevra.
Die priester het selfs driftiger geword en gesê: “Ek sal jou vertel wanneer jy ouer is. Dit is te moeilik vir jou om nou te verstaan!”
In Mei 1940 het die Duitse leer in Europa die Nederlande binnegeval. Nederlands-Indië was destyds ’n Nederlandse kolonie. My pa het hom vroeër by die NSU (Nasionaal Sosialistiese Unie) aangesluit, omdat hy gemeen het dat hierdie politieke party Nederlands-Indië in oorlogstyd van beter verdediging kon voorsien. Maar nadat Duitsland die Nederlande binnegeval het, het die NSU Hitler begin ondersteun. Pa het dadelik uit die party bedank, maar dit was te laat. Al die lede van die NSU is deur die Nederlandse leër in Nederlands-Indië gevange geneem en na ’n konsentrasiekamp gestuur. Pa is ook opgesluit.
Toe die Duitse slagskip die Bismarck in Mei 1941 gekelder is, was baie leerlinge by ons kosskool verheug. Omdat hulle geweet het dat my ma van Duitse afkoms was, het hulle geskree: “Die enigste goeie Duitsers is dooie Duitsers!” In die klas het ek die priester gevra: “Beteken dit dat alle Katolieke biskoppe en priesters in Duitsland dood behoort te wees?” Hy het dadelik uit die klaskamer uitgegaan. Toe hy ongeveer ’n uur later terugkeer, het hy ons verbied om weer oor politiek en die oorlog te praat.
Aangesien Pa ’n politieke gevangene was, het Ma dit moeilik gevind om die plaas te bestuur. Ek het dus teruggegaan huis toe om haar te help terwyl my twee broers in die skool gebly het. In een van Pa se briewe het hy melding gemaak van ’n medegevangene, ’n gewetensbeswaarde, wat hom interessante dinge uit die Bybel geleer het.
Omstreeks hierdie tyd is my ouer broer opgeroep, en drie maande later het ek vrywillig by die leër aangesluit. Ek het ’n werk in ’n staatskantoor gekry, maar toe die Japannese in Desember 1941 Pearl Harbor aangeval het, is ek dadelik deur die Nederlands-Indiese leër opgeroep en in bosoorlogvoering opgelei. Ons het geleer om ammunisie in die bos te begrawe en dit dan op kaarte van die leër aan te teken. Dit was om te verseker dat ons, met behulp van hierdie kaarte, altyd toegang tot ammunisie sou hê om in bosgevegte te gebruik.
Kort voor lank het Japannese gewapende magte op die eilande Billiton (nou Belitoeng) en Sumatra geland. Hier het ons troepe wat in die minderheid was teen hulle te staan gekom. Die Japannese het kort daarna Palembang, een van Sumatra se grootste stede, ingeneem. Ons is beveel om terug te trek oor die Soenda-seestraat na Merak aan die weskus van Java, en daarvandaan het ons na Batavia teruggetrek. Uiteindelik het ons, soos ek vroeër gesê het, by Bandoeng aan die Japannese oorgegee en krygsgevangenes geword.
Ek sien my pa weer
As gevolg van ’n vreemde sameloop van omstandighede het die Japannese magte wat Bandoeng beset het my pa, asook alle ander politieke gevangenes, uit die gevangenis daar vrygelaat. Hy het toe by my tannie in Bandoeng gaan woon. Daar het hy uitgevind dat ek ’n gevangene daar naby was, en hy het my besoek. Ek kon hom vertel waar ons gesin toe gewoon het en dat my ouer broer as vermis aangegee is.
Pa het my opgewonde begin vertel wat hy by sy medegevangene oor die Bybel geleer het. Hy het my vertel dat God se naam nie Jesus is nie, maar ’n naam wat destyds vir my vreemd geklink het—Jehovah. Ongelukkig het die Japannese geweier dat Pa my weer besoek, en gevolglik het ek nie weer met hom gepraat nie. Pa se vryheid was kort van duur. Ek het ná die oorlog uitgevind dat hy in Oktober 1944 in ’n Japannese konsentrasiekamp naby Bandoeng gesterf het.
Ons bou die treinspoor
Soos ek aan die begin gesê het, is ons krygsgevangenes na Birma se grens vervoer. Ons is in groepe ingedeel, en die plan was dat elke groep ongeveer 20 kilometer van die treinspoor moes bou. Die eerste groep moes werk totdat hulle by die punt kom waar ’n ander groep 20 kilometer verder begin het. Groepe gevangenes wat dele van die treinspoor voltooi het, sou uiteindelik ander groepe gevangenes ontmoet wat die treinspoor van Birma af gelê het.
In die tropiese hitte en humiditeit was dit uitputtend genoeg, selfs vir mans in ’n goeie fisiese toestand, om ’n treinspoor met die hand, feitlik sonder enige meganiese toerusting, te bou. Maar in ons halfverhongerde toestand was dit amper meer as wat ’n mens kon verduur. Wat verder tot ons ellende bygedra het, was die feit dat ons kort voor lank kaalvoet en amper naak moes werk omdat aanhoudende moesonreëns ons klere en skoene binne ’n paar weke laat verrot het.
Om sake te vererger, het ons feitlik geen medisyne of verbande gehad nie. Uit desperaatheid het ons ons muskietnette as verbande gebruik. Maar toe, sonder nette, is ons bedags deur swerms vlieë en snags deur ’n menigte muskiete aangeval. Siekte was spoedig aan die orde van die dag. Baie van die gevangenes, wat reeds in ’n haglike toestand was, is deur malaria, disenterie en hepatitis platgetrek.
Toe het verskriklike tropiese sere, selfs onder dié wat sterker gelyk het, uitgebreek. Die gebrek aan medisyne het die paar dokters wat daar onder ons was, gedwing om die ulkusse met teeblare, koffiemoer en modder te behandel. Die enigste medisyne wat die Japannese voorsien het, was kinientablette om malaria te help voorkom. In hierdie omstandighede was dit nie verbasend dat sterfgevalle vinnig toegeneem het nie, totdat ses sterfgevalle per dag—hoofsaaklik weens malaria en tropiese sere—iets alledaags geword het. Dit is verbasend dat die treinspoor na Birma, ten spyte van al hierdie ontberinge en menselyding, uiteindelik voltooi is!
Maar toe het Geallieerde magte bomaanvalle op die treinspoor begin doen. Hierdie aanvalle het meestal snags plaasgevind. Dikwels is tydbomme gebruik, maar teen die volgende oggend vroeg het hulle almal gewoonlik al ontplof. Ons gevangenes moes dan die skade herstel wat die vorige nag aangerig is. Nadat die treinspoor voltooi is, het ons ook tonnels vir masjiengewere gebou aan die voet van die Three Pagodas-pas op die grens tussen Birma en Siam. Daar was twee brûe oor die Kwai-rivier by hierdie punt. Dit is waar ek was toe die oorlog geëindig het.
Teen die lente van 1945, nadat ek meer as drie jaar lank as ’n krygsgevangene geswoeg het, het die Japannese in daardie gebied oorgegee. Ek was baie siek en het malaria, amebiese disenterie en hepatitis gehad. Ek het minder as 40 kilogram geweeg. Maar ek was dankbaar dat ek daardie verskriklike jare oorleef het.
Na die oorlog
In die somer van 1945 is ek teruggeneem na Siam, waar ek voedsel en medisyne ontvang het; dit het egter drie maande geduur voordat ek in redelike mate herstel het. Daarna het ek steeds in die leër gedien, eers in Bangkok, daarna op die Nederlands-Indiese eilande Soembawa, Bali en Celebes (nou Soelawesi).
Ek het met my ma en jonger broer in aanraking probeer kom. Toe ek eindelik met hulle in aanraking gekom het, het ek om spesiale verlof aansoek gedoen, aangesien Ma weens ’n ernstige siekte na die Nederlande moes gaan. Ek is drie weke verlof toegestaan en ek was verheug om haar weer in Batavia te sien. In Februarie 1947 het Ma uit Nederlands-Indië na die Nederlande vertrek, waar sy tot haar dood in 1966 gewoon het. Ek het ook besluit om na die Nederlande te immigreer, en in Desember 1947 is ek daar uit die leër ontslaan, nadat ek ses jaar lank soldaat was.
Dit was nie maklik om goeie werk te kry nie. Maar nadat ek drie jaar lank aandskool bygewoon het, het ek uiteindelik my eindeksamen geslaag en as ’n skeepsingenieur gekwalifiseer. Die gesin by wie ek gewoon het, het my gevra wat ek by daardie geleentheid as ’n geskenk wou hê. Ek het ’n Bybel gevra, en hulle het my ’n “Nuwe Testament” gegee, wat ek snags dikwels gelees het terwyl ek op die see uit was, waar my werk my ook al geneem het.
In 1958 het ek na Amsterdam verhuis met die voorneme om vir ’n hoër graad te studeer. Maar ek het gevind dat die intensiewe studie te veeleisend vir my gesondheid was, wat reeds die tekens begin toon het van my lyding gedurende die oorlog. Ek kon nog die krygsgevangenes uit Australië onthou met wie ek vriende gemaak het terwyl ons die treinspoor gebou het, en gevolglik het ek besluit om aansoek te doen om na Australië te immigreer.
Ek begin antwoorde vind
Voordat ek uit Amsterdam na Australië verhuis het, het ek ’n aantal kerke besoek om antwoorde op my vrae te soek. Na een diens het ek die vikaris gevra of hy God se persoonlike naam ken. Hy het geantwoord dat dit Jesus is. Ek het geweet dat dit nie reg is nie, maar ek kon nie onthou wat my pa baie jare vantevore vir my gesê het die naam van God is nie.
Kort hierna het ’n paartjie aan my deur geklop en verduidelik dat hulle graag met my oor goeie nuus uit die Bybel wil praat. Gedurende die gesprek het hulle gevra of ek God se naam ken. Ek het geantwoord: “Jesus.” Hulle het verduidelik dat dit die naam van God se Seun is en my toe in die Bybel gewys dat God se naam Jehovah is (Psalm 83:18, NW). Ek het dadelik onthou dat dit was wat my pa gesê het. Toe ek hulle vra aan watter godsdiens hulle behoort, het hulle geantwoord: “Jehovah se Getuies.”
Die Getuies het my weer besoek, maar ek kon nie so maklik oortuig word nie. ’n Paar dae later het ek ’n vikaris van die Nederduits Gereformeerde Kerk ontmoet en hom gevra wat hy van Jehovah se Getuies dink. Hy het geantwoord dat hy nie van hulle hou nie, maar hy het hulle oor een ding geprys—hulle neem nie aan oorloë deel nie. Na die gruwels wat ek gedurende die Tweede Wêreldoorlog gesien het, het daardie feit my beïndruk.
’n Paar dae later, in 1959, het ek na Australië geïmmigreer, en daar het Jehovah se Getuies weer met my in aanraking gekom. Ek het my bande met die Katolieke Kerk verbreek nadat ek onder andere besef het dat die leerstellings van die helse vuur en die Drie-eenheid onjuis is. Bybelkennis het my gehelp om ontslae te raak van die nagmerries en skuldgevoelens wat ek jare lank as gevolg van my ondervindinge gedurende die oorlog gehad het. Die waarheid in die Bybel het my vrygemaak.—Johannes 8:32.
Ek het my aan Jehovah God toegewy en is in 1963 gedoop. Kort daarna het ek na Townsville, aan die kus van Noord-Queensland, verhuis waar ek aan voltydse predikingswerk deelgeneem het. Daar het ek Muriel ontmoet, ’n getroue mede-Getuie, en ons is in 1966 getroud. Sedertdien dien ons Jehovah saam, dikwels in die voltydse bediening.
Toe ons hoor dat daar meer evangeliedienaars in die agterveld van Australië benodig word, het ons aangebied om in Alice Springs, reg in die hartjie van hierdie uitgestrekte land, te dien. Ons dien nou reeds baie gelukkige jare saam hier. Gedurende hierdie jare het ek en my vrou die voorreg gehad om ’n aantal mense op die pad na geestelike vryheid en die ewige lewe te help.—Soos vertel deur Tankred E. van Heutsz.
[Prent op bladsy 21]
Tankred E. van Heutsz en sy vrou