Skattejag met ’n verskil
VAN die vroegste tye af waardeer mense die prag van die skatte van die skepping wat eens in die aarde verborge was. Hawila, ’n plek wat met eertydse Arabië vereenselwig word, was byvoorbeeld beroemd vir sy kleurryke oniksstene (Genesis 2:11, 12). Of stel jou voor dat jy ’n hoëpriester van eertydse Israel sien wat ’n borsplaat dra van oniks, robyn, smarag, topaas en ander edelstene—altesaam 12—wat in goud gemonteer is. Hoe asemrowend moes dit tog nie gewees het nie! (Exodus 28:15-20). Talle kosbare stene is ook gebruik om die tempel in Jerusalem te bou wat aan die aanbidding van Jehovah gewy was (1 Kronieke 29:2). Baie van daardie edelstene was moontlik skitterblink gepoleer. Onlangse argeologiese vondste toon dat mense duisende jare gelede ’n eenvoudige trapmasjien gebruik het om ’n slypsteen aan te dryf waarmee hulle klippe gepoleer het. Ons hedendaagse stokperdjie om klippe te versamel, is dus nie iets nuuts nie.
Toerusting en opsporing
‘Watter toerusting sal ek nodig hê om klippe te versamel?’ vra jy dalk. ’n Kliphamer, wat vierkantig en plat aan die een kant en skerp aan die ander kant is, is noodsaaklik. Papier om monsters in toe te draai en ’n sak om hulle in te dra, is voldoende. Sien jy nou? Dit is glad nie so duur nie.
‘Waar begin ek klippe soek?’ wonder jy vervolgens. Valleie en rivierbeddings is goeie plekke om met jou soektog te begin. Waarom daar? Omdat ongewone stukkies rots, wat van groter, hoogliggende rotse afgebreek het, moontlik teen die heuwel of in die rivier sal afrol en in die proses glad gemaak en gepoleer sal word. Waar riviere in die see uitmond, kan jy klippe vind wat na die riviermonding afgespoel het en klippies wat van ondersese riwwe af op die strand uitgespoel het. Ander waarskynlike plekke wat opwindende moontlikhede vir klipversamelaars bied, is paddeurgrawings en gebiede naby verlate steengroewe of myne. Maar daar moet jy versigtig wees. Daar is altyd die gevaar dat los klippe kan val. By party plekke sal jy moontlik toestemming moet verkry voordat jy met jou soektog begin.
As jy in Suid-Afrika of Brasilië woon, is jy dalk gelukkig genoeg om diamante te vind. Robyne en saffiere kan in rivierbeddings in Indië, Myanma en Thailand gevind word, en smaragde in Colombia, Indië, Suid-Afrika en Zimbabwe. In China en Japan is nefriet en jadeïet baie gesog vir juweliersware, ornamente en wierookbranders. Nefriet word in Myanma, Nieu-Seeland, Alaska en ook in Japan aangetref.
Een van die pragtigste edelstene is die opaal, ’n vorm van nie-kristallyne silika. Opale word in Australië en Mexiko gevind en het ’n fassinerende verskeidenheid kleure—vurige tinte rooi, geel, groen en blou. Opale is redelik sag en wanneer dit gepoleer word, word dit dikwels met ’n dun lagie kwarts bedek om te keer dat dit krap.
Materiaal vir amateurs
Hierdie soort stene is materiaal vir deskundiges en sal waarskynlik nie deur amateurs gevind word nie. Kwarts is egter volop en makliker om te vind. Dit is een van die algemeenste gesteentevormende minerale en word in drie van die hoofrotsgroepe aangetref. Jy vind dalk dat een kwartssoort deursigtig is terwyl ander deurskynend of selfs dof kan wees. Party is gekleur met rooi, geel, pers, groen of bruin merke. Behalwe om na kwarts te soek, kan jy enige klippe met interessante kleure of patrone versamel. En wanneer die klip gepoleer is, sal jy dalk aangenaam verras wees deur die skoonheid daarvan en sal jy dit dalk wil gebruik vir barokjuweliersware, as ’n vertoonstuk in ’n vertoonkas of as deel van ’n miniatuurbergie in jou tuin.
Ná jy genoeg klippe bymekaargemaak het, sal jy iets omtrent poleermetodes moet weet. Party klipversamelaarklubs stel voor dat jy die klippe saam met skuurgruis en water in ’n roterende trommel gooi wat deur ’n klein elektriese motor aangedryf word. Die polering sal geduld en tyd verg, moontlik weke, eers met growwe gruis, dan met fyner skuurmiddels en uiteindelik met poleerpoeier. Maar die resultate is die moeite werd.
Ander soorte klip
Jy hoef nie net klein klippies te versamel nie. In Japan word groter klippe op groot skaal in tuinontwerp gebruik. Dit kan verbasend duur wees. Een rooierige klip wat 700 kilogram weeg, het byvoorbeeld R6700 gekos. Waarom so duur? Die waarde daarvan lê in die natuurlike prag van sy vorm. Jy kan ’n stroompie water uit ’n komvormige formasie aan die bokant van hierdie klip laat vloei en dit laat neerstort in ’n reeks miniatuurwatervalle.
Voel jy nou lus om na klippe te gaan soek? Indien wel, sal jy hopelik ’n skat met ’n verskil vind.—Bygedra.