Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/8 bl. 12-15
  • Ek het as ’n vlugteling ware geregtigheid gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het as ’n vlugteling ware geregtigheid gevind
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Hervormer by ’n teologiese skool
  • ’n Loopbaan as ’n onderwyser
  • My soeke na die Christelike godsdiens
  • Veranderde gesindheid
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Moet jou kind na ’n kosskool gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Nou ken ek die God wat ek aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/8 bl. 12-15

Ek het as ’n vlugteling ware geregtigheid gevind

ANGESIEN dit steeds koud was en daar sneeu op die grond gelê het, het ek ’n dik jas aangetrek. Toe het ek ’n mengsel gemaak van alles wat giftig was wat ek in my kas kon vind, onder andere ’n skoonmaakmiddel (koolstoftetrachloried), en dit gedrink. Ek het na die Charlesrivier in Cambridge, Massachusetts, geloop in die hoop dat ek daar sou sterf. Pleks van die dood was vyf dae in ’n hospitaal se waakeenheid al wat ek vir my wanhoop gekry het. Waarom het ek so ’n desperate stap gedoen? Laat ons teruggaan na waar ek vandaan kom.

Ek is in 1932 as ’n Griekse Palestyn in Jaffa, Palestina, gebore. Ek is in die Grieks-Ortodokse godsdiens grootgemaak, wat beteken het dat ek weekliks kerk toe moes gaan en moes vas wanneer dit nodig was. Maar vir my was dit ’n niksseggende roetine.

My ouers was redelik welgesteld, aangesien ons ’n groot kos- en drankverspreidingsmaatskappy besit het. Op die ouderdom van tien is ek na die Kwakers se Kosskool in Ramallah en toe na die St. George-Anglikaanse Skool in Jerusalem gestuur. Laasgenoemde het my veral beïndruk—daar was leerlinge met Christelike, Arabiese en Joodse agtergronde wat almal saam in relatiewe vrede geleer het. Die skool het versoening, goeie maniere en hoflikheid geleer. Maar die skool en die werklikheid was twee verskillende dinge.

Gedurende my kinderjare was burgerlike onrus aan die orde van die dag, met Jode, Arabiere en Britte wat almal soos skerpioene in ’n bottel opgetree het. Toe ek nog klein was, het ek gesien hoe ’n man buite ons huis doodgemaak word. My ouers het dikwels onder kruisvuur noue ontkomings gehad. Toe het Haifa, ’n belangrike hawestad, gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n teiken van Duitse bombardering geword—meer sterftes en vernietiging.

Aangesien die Britse mandaat oor Palestina in Mei 1948 sou eindig, het burgerlike onrus toegeneem. In Julie 1946 is Jerusalem se beste hotel, die King David, opgeblaas. Die bom het geen onderskeid getref nie—41 Arabiere, 28 Britte, 17 Jode en 5 ander het gesterf. Ons gesin het besluit om die anargie te ontvlug. Ons het in een nag na Ciprus verhuis waar my ma familie gehad het. Pa het sy sakeonderneming en verskeie eiendomme agtergelaat.

Hierdie gebeure het my vroeë gesindheid gevorm. Op 16 het ek in die politiek belanggestel en die koerante daagliks gelees om op hoogte van gebeure te bly. Ek het die Egiptiese leier, Gamal Abdel Nasser, verafgod. Hy het buitelandse invloed in sy land verminder.

In 1950 het ons gesin na die Verenigde State verhuis. Die Koreaanse Oorlog was aan die gang, en ek wou my deel vir ’n land doen wat my gesin uit ’n toestand van onderdrukking gered het. Ek het by die lugmag aangesluit, waar ek tot die rang van stafsersant gevorder het. Maar ek is nooit na Korea gestuur nie—net na die lugmagbasis by Omaha, Nebraska.

’n Hervormer by ’n teologiese skool

Ná my ontslag uit die lugmag is ek na die Universiteit van Texas en toe na die Ohio-universiteit, waar ek ’n graad in die ekonomie behaal het. Ek was baie uitgesproke oor die ongeregtighede in die Midde-Ooste en is selfs uitgenooi om ’n lesing oor die onderwerp te hou. ’n Episkopaalse professor wat my hoor praat het, dr. David Anderson, het voorgestel dat ek ’n beurs aanvaar om ’n nagraadse kursus aan die Episkopaalse Teologiese Skool in Boston te volg. Aangesien ek nie daarmee saamgestem het dat geestelikes betaal moet word nie, was ek glad nie van plan om self een te word nie. Ek is nietemin in 1958 tot die skool toegelaat.

Die studiekursus het onder andere behels dat ek saam met kapelane in sielsieke-inrigtings werk. Die teoretiese en akademiese sy van die skool was baie interessant, maar ek wou meer geregtigheid in die wêreld sien en dat daar daadwerklik opgetree word. Daarom het ek ’n hervormingstaakgroep gestig met die naam: “Maak Sy naam onder al die nasies bekend.” Ek wou hê dat die skool meer daadwerklik moes optree. Ek wou Jesus volg, nie na die biblioteek toe nie, maar na die wêreld toe.

Maar ek het gou besef dat my voorgestelde hervormings nie toegepas sou word nie. Ek is uiteindelik gevra om die skool te verlaat. Dit was om en by hierdie tyd dat ek op ’n jong vrou verlief geraak het, wat die hoogtepunt was van my soeke na iemand met wie ek my toekoms kon deel. Ek het gevoel dat ons vir mekaar bedoel is. Toe ontdek ek dat sy nie dieselfde gevoelens vir my het nie. Die skielike skok van verwerping was oorweldigend. Dit was vir my net een te veel en ek het besluit om selfmoord te pleeg.

’n Loopbaan as ’n onderwyser

Ná ’n tydperk van rehabilitasie het ek aan New York se Columbia-universiteit vir ’n meestersgraad gestudeer om in aardrykskunde en geskiedenis onderwys te gee. Gedurende hierdie hele tydperk was ek steeds op soek na wat volgens my ware, daadwerklike Christelikheid was. Ek is as onderwyser na South Glens Falls, New York. Daar het ’n groot verandering in my lewe plaasgevind. Ek het ’n onderwyseres met die naam Georgia ontmoet wat in 1964 my vrou en vriendin geword het.

Ek was steeds baie polities gesind en het die toesprake van senator James Fulbright gevolg wat hom teen die Viëtnamoorlog uitgespreek het. Ek was ook teen daardie oorlog gekant. President John F. Kennedy se dood in November 1963 was vir my ’n groot slag. Dit het my so diep geraak dat ek sy begrafnis in Washington bygewoon het.

My soeke na die Christelike godsdiens

In 1966 het ons na Long Island, New York, verhuis waar ek by die Northport-hoërskool ’n onderwyspos beklee het. Ek was diep besorg oor wêreldgebeure—dit was die tyd toe dwelms, hippies en ‘Jesus freaks’ ’n nuwe gier was. Ek het ’n charismatiese groep se samekomste bygewoon en gesien dat hulle ook in die ware Christelike boodskap te kort geskiet het, dat hulle meer nadruk op emosie as op optrede gelê het. By ’n ander geleentheid het ek selfs gehoor hoe ’n Episkopaalse leraar hom ten gunste van die oorlog in Viëtnam uitspreek. Ek het begin dink dat sommige ateïste mensliker as kerkgangers is.

Ek het my geloof in God verloor, maar nie in die politieke waarde van Jesus se Bergpredikasie nie. Vir my het hy met sy onderrigting die kringloop van haat verbreek, en ek het dít as die oplossing vir die Midde-Oosterse probleem gesien. Ek het soveel godsdienste op die proef gestel—Katolieke, die Heilsleër, Baptiste, Pinkstergelowe—maar het daarna altyd die leë gevoel gehad dat hulle nie die Christelike godsdiens van die vroeë Christene beoefen nie. Toe, in 1974, het ek ’n eiendomsagent ontmoet wat my lewe verander het.

Sy naam was Frank Born. Ek het hom oor eiendom geraadpleeg. In die loop van die gesprek het hy ’n Bybel uitgehaal. Ek het dit dadelik verwerp en gesê: “Jy sal niemand kry wat volgens daardie beginsels leef nie.” Sy antwoord was: “Kom saam met my na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies en sien self.” Maar ek wou hê dat hy eers ’n paar basiese vrae moes beantwoord voordat ek sy Koninkryksaal sou besoek.

Eerstens: “Word julle geestelikes betaal?” Sy antwoord was: “Nee. Al ons ouere manne is vrywilligers wat hulleself en hulle gesin onderhou deur sekulêre werk te doen.” My volgende vraag was: “Vergader julle soos die vroeë Christene in huise om die Bybel te bestudeer?” Die antwoord was: “Ja. Ons het ’n weeklikse vergadering in huise in verskillende dele van die buurt.” My derde vraag moes seker vir hom vreemd geklink het: “Stuur julle kerk ’n leraar na presidentsinhuldigings om vir die president te bid?” Frank het geantwoord: “Ons is neutraal wat alle politieke sake betref en bemoei ons glad nie met die politiek nie. Ons vertrou op God se Koninkryk as die enigste oplossing vir die probleme wat die mensdom vandag teister.”

Ek kon nie glo wat ek gehoor het nie. Ek kon nie wag om te sien waar hierdie Christene byeengekom het nie. Wat het ek gevind? Nie emosionaliteit nie, maar ’n rasionele benadering van die Bybel. Hulle vergaderinge was opvoedkundig en het mense opgelei om oor hulle Christelike geloof te praat en dit te verdedig. Hulle was ’n groep wat daadwerklik opgetree het deur uit te gaan onder die mense om diegene te vind wat na God se regverdige heerskappy smag. Hier was my oplossing vir die Midde-Oosterse probleem—mense van alle rasse, tale en kulture wat in die vreedsame aanbidding van die Soewereine Heer van die heelal, Jehovah God, verenig is. En dit alles in ooreenstemming met die voorbeeld en leer van Christus. Hier was daar geen haat of onenigheid nie. Net vrede en eenheid.

Ek het in 1975 ’n gedoopte Getuie geword, en Georgia het my vyf jaar later in daardie stap gevolg. Ons het twee seuns, Robert en John, wat bedrywig is in die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.

Veranderde gesindheid

Met die verloop van die jare het my gesindheid versag. Voorheen was ek ’n kras militaris met baie min meegevoel vir ander se ideale. My denkwyse is soos soveel miljoene ander mense s’n deur valse godsdiens en die politiek gemanipuleer. Nou besef ek dat God nie partydig is nie en dat opregte mense van alle rasse hom in vrede en eenheid kan dien.

Onder Jehovah se Getuies het ek mense uit elke moontlike agtergrond aangetref, mense wat mekaar voorheen gehaat het. Soos ek het hulle nou besef dat God waarlik liefde is, en dit is een van die dinge wat Jesus ons kom leer het. Hy het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35).—Soos vertel deur Constantine Louisidis.

[Prent op bladsy 13]

Die tienjarige Constantine Louisidis, toe hy in die Kwakers se Seunskool was

[Prent op bladsy 14]

President John F. Kennedy se dood was vir my ’n groot slag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel