Moet jou kind na ’n kosskool gaan?
STEL jou voor dat jy in ’n klein dorpie in ’n ontwikkelende land woon. Jy het ’n paar kinders op laerskool, maar wanneer hulle 12 is, sal hulle hoërskool toe gaan. In julle omgewing is hoërskole oorvol, swak toegerus en is daar ’n tekort aan personeel. As gevolg van stakings sluit die skole soms weke of maande lank.
Iemand gee vir jou ’n mooi brosjure wat ’n kosskool in die stad beskryf. Jy sien prente van gelukkige, netjies geklede leerlinge wat in goed toegeruste klaskamers, laboratoriums en biblioteke studeer. Die leerlinge gebruik rekenaars en ontspan in skoon, mooi kamers. Jy lees dat dit een van die skool se oogmerke is om leerlinge te help “om die hoogste akademiese standaard te bereik waartoe hulle in staat is”. Jy lees verder: “Daar word van alle leerlinge vereis om hulle aan ’n gedragskode te onderwerp wat soortgelyk is aan wat gewoonlik in ’n gesin verwag word waar die klem gelê word op hoflikheid, beleefdheid, respek vir ouers en ouer mense, samewerking, verdraagsaamheid, vriendelikheid, eerlikheid en integriteit.”
’n Jong man wat breed glimlag se woorde word aangehaal: “My ouers het my die wonderlike voorreg gebied om die beste skool by te woon.” ’n Meisie sê: “Skool is ’n uitdaging en opwindend. Dit is maklik om hier te leer.” Sal jy jou seun of dogter na so ’n kosskool stuur?
Opvoeding en geestelikheid
Alle liefdevolle ouers wil hulle kinders ’n goeie begin in die lewe gee, en met dié doel is ’n goeie, gebalanseerde opvoeding belangrik. Sekulêre opvoeding maak dikwels deure tot toekomstige werksgeleenthede oop en help jongmense om volwassenes te word wat vir hulleself en vir hulle toekomstige gesinne kan sorg.
‘As ’n kosskool ’n goeie opvoeding sowel as ’n mate van sedelike leiding bied, waarom nie daarvan gebruik maak nie?’ vra jy dalk. Wanneer Christenouers hierdie vraag beantwoord, moet hulle ’n uiters belangrike faktor biddend in ag neem—die geestelike welsyn van hulle kinders. Jesus Christus het gevra: “Van watter nut is dit tog vir ’n mens om die hele wêreld te wen en om sy siel in te boet?” (Markus 8:36). Dit hou natuurlik geen voordeel in nie. Daarom moet Christenouers, voordat hulle besluit om hulle kinders na ’n kosskool te stuur, dink aan watter uitwerking dit dalk op hulle kinders se vooruitsig vir die ewige lewe sal hê.
Die invloed van ander leerlinge
Sommige kosskole het dalk indrukwekkende akademiese standaarde. Maar wat van die sedelike standaarde van die leerlinge of selfs dié van sommige wat hierdie skole bestuur? Aangaande die soort mense wat in hierdie “laaste dae” volop sal wees, het die apostel Paulus geskryf: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën; en keer jou van hierdie mense af.”—2 Timoteus 3:1-5.
Hierdie sedelike en geestelike agteruitgang kom wêreldwyd voor en maak dit moeilik vir Jehovah se Getuies om volgens Bybelbeginsels te lewe. Leerlinge wat elke dag huis toe gaan, vind dat selfs hulle beperkte omgang met wêreldse skoolmaats ’n kragtige negatiewe invloed op hulle geestelikheid kan uitoefen. Dit kan vir Getuiekinders nogal moeilik wees om daardie invloed te weerstaan, selfs met daaglikse ondersteuning, raad en aanmoediging van hulle ouers.
Wat is dan die situasie van kinders wat van die huis af na kosskole gestuur word? Hulle is geïsoleer, afgesny van die gereelde geestelike ondersteuning van liefdevolle ouers. Aangesien hulle 24 uur per dag saam met hulle klasmaats lewe, het die druk om die groep te volg ’n baie groter invloed op hulle jong verstande en harte as wat dit waarskynlik op leerlinge het wat by die huis woon. Een leerling het gesê: “Wat sedelikheid betref, lewe ’n kosleerling van soggens tot saans in gevaar.”
Paulus het geskryf: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Christenouers moenie mislei word om te dink dat hulle kinders geen geestelike skade sal ly as hulle voortdurend met mense omgaan wat God nie dien nie. Mettertyd kan godvrugtige kinders ongevoelig raak vir Christelike waardes en alle waardering vir geestelike dinge verloor. Soms raak ouers eers hiervan bewus nadat hulle kinders kosskool verlaat het. Dan is dit dikwels te laat om sake reg te stel.
Clement se ondervinding is tipies. Hy vertel: “Voordat ek kosskool toe gegaan het, het ek die waarheid liefgehad en saam met die broers in die velddiens uitgegaan. Ek het dit veral geniet om aan ons gesinsbybelstudie en die Gemeentelike Boekstudie deel te neem. Maar toe ek op 14 kosskool toe gaan, het ek die waarheid heeltemal verlaat. Gedurende die vyf jaar wat ek op kosskool was, het ek nooit die vergaderinge bygewoon nie. As gevolg van slegte omgang het ek by dwelms, rook en strawwe drinkery betrokke geraak.”
Die invloed van onderwysers
Daar kan in enige skool sedelik verdorwe onderwysers wees wat hulle gesagsposisie uitbuit. Party is wreed en hardvogtig, terwyl ander hulle leerlinge seksueel misbruik. In kosskole is daar ’n groter kans dat die dade van sulke onderwysers nie gerapporteer sal word nie.
Maar die meeste onderwysers wend opregte pogings aan om kinders op te lei sodat hulle produktiewe lede van die samelewing kan word, om in die wêreld om hulle in te pas, om daarby aan te pas. Maar hierin lê nog ’n probleem vir Getuiekinders. Die waardes van die wêreld kom nie altyd met Christelike beginsels ooreen nie. Terwyl onderwysers leerlinge aanspoor om in hierdie wêreld in te pas, het Jesus gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie.—Johannes 17:16.
Sê nou probleme ontstaan wanneer kinders Bybelbeginsels volg? As die kinders ’n plaaslike skool bywoon en by die huis woon, kan hulle sulke kwessies met hulle ouers bespreek. Op hulle beurt kan die ouers hulle kinders leiding gee en moontlik met die onderwyser praat. Gevolglik word probleme en misverstande gewoonlik gou uit die weg geruim.
In kosskole is dit anders. Hierdie leerlinge is voortdurend onder die toesig van hulle onderwysers. As kinders ’n standpunt vir Christelike beginsels inneem, moet hulle dit sonder die daaglikse ondersteuning van hulle ouers doen. Soms kry kinders dit reg om getrou aan God te bly onder sulke omstandighede. Maar meestal kry hulle dit nie reg nie. ’n Kind sal hom waarskynlik aan die wil van ’n onderwyser onderwerp.
Beperkte beweging
Anders as universiteite, waar studente gewoonlik die vryheid het om te kom en gaan soos hulle wil, beperk kosskole die beweging van kinders. Baie van hierdie skole laat leerlinge nie toe om die skoolterrein te verlaat nie, behalwe op Sondag, en sommige laat dit nie eers toe nie. ’n Elfjarige kosleerling met die naam Eru sê: “Die skoolbestuur laat ons nooit toe om uit te gaan om vergaderinge by te woon nie, en beslis nie om velddiens te doen nie. In die skool is daar slegs dienste vir Katolieke en Moslems. Elke leerling moet een van die twee kies of hewige teenstand van sowel onderwysers as leerlinge verduur. Leerlinge word ook gedwing om die volkslied en kerkliedere te sing.”
Watter indruk laat ouers by hulle kinders wanneer hulle hulle kinders by so ’n skool inskryf? Die indruk kan maklik geskep word dat sekulêre opvoeding belangriker is as om vir aanbidding te vergader en aan die dissipelmaakwerk deel te neem—selfs belangriker as onkreukbaarheid teenoor God.—Matteus 24:14; 28:19, 20; 2 Korintiërs 6:14-18; Hebreërs 10:24, 25.
In sommige kosskole kry Getuieleerlinge dit reg om die Bybel saam te bestudeer, maar selfs dit is dikwels moeilik. ’n Jeugdige met die naam Blessing, wat 16 is, sê die volgende oor die kosskool wat sy bywoon: “Die sogenaamde Christene vergader elke dag om te bid. Dié van ons wat Getuies is, smeek hulle om ons toe te laat om ons studie te hou, maar die seniors sê vir ons dat ons organisasie nie erken word nie. Dan probeer hulle ons dwing om saam met hulle te bid. As ons weier, straf hulle ons. As ons die onderwysers hiervan vertel, vererger ons die situasie. Hulle skel op ons en sê vir die senior leerlinge om ons te straf.”
Ooglopend anders
Wanneer dit goed bekend is dat kosleerlinge Jehovah se Getuies is, kan dit hulle tot voordeel strek. Die skoolbestuur gee hulle dalk vrystelling van deelname aan verpligte valse godsdiensbedrywighede, wat strydig is met die Getuies se geloof. Medeleerlinge sal dalk nie probeer om hulle by onheilsame bedrywighede en gesprekke te betrek nie. Dalk kry hulle geleenthede om vir medeleerlinge en onderwysers te getuig. Daarbenewens sal diegene wat volgens Christelike beginsels lewe waarskynlik nie van ernstige oortredinge verdink word nie, en soms win hulle die respek van onderwysers en medeleerlinge.
Maar dit is nie altyd hoe sake verloop nie. As ’n jongmens ooglopend anders is, is hy dikwels die skyf van vervolging en bespotting deur leerlinge sowel as onderwysers. Yinka, ’n 15-jarige seun wat in ’n kosskool is, sê: “As jy op skool as een van Jehovah se Getuies bekend staan, word jy ’n teiken. Aangesien hulle weet wat ons geestelike en sedelike standpunt is, span hulle strikke om ons te vang.”
Ouerlike verantwoordelikheid
Geen onderwyser, skool of kollege kan tereg probeer om dit op hulle te neem om kinders te vorm sodat hulle toegewyde knegte van Jehovah word nie. Dit is nie hulle werk of verantwoordelikheid nie. God se Woord beveel dat ouers self in die geestelike behoeftes van hulle kinders moet voorsien. Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Hoe kan ouers hierdie Goddelike raad toepas as hulle kinders in ’n kosskool is waar besoeke dalk tot een of twee keer per maand beperk word?
Omstandighede verskil grootliks, maar Christenouers probeer in ooreenstemming met hierdie geïnspireerde verklaring optree: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:8.
Is daar alternatiewe?
Wat kan ouers doen as dit lyk of hulle net twee keuses het—kosskool of ’n swak toegeruste plaaslike skool? Sommige wat hulle in hierdie situasie bevind het, reël vir privaat lesse om hulle kinders se opvoeding by ’n plaaslike skool aan te vul. Ander ouers ruim tyd in om hulle kinders self te leer.
Soms vermy ouers probleme deur te beplan lank voordat hulle kinders oud genoeg is om hoërskool toe te gaan. As jy jong kinders het of beplan om ’n gesin groot te maak, kan jy kyk of daar ’n geskikte hoërskool in julle omgewing is. Indien nie, sal dit dalk moontlik wees om nader aan een te verhuis.
Soos ouers maar alte goed weet, vereis dit vaardigheid, geduld en baie tyd om ’n kind te leer om Jehovah lief te hê. As dit moeilik is om dit te doen wanneer ’n kind by die huis woon, hoeveel moeiliker is dit tog as die kind ver weg woon! Aangesien die ewige lewe van ’n kind op die spel is, moet ouers ernstig en biddend oorweeg of dit die risiko werd is om hulle kind na ’n kosskool toe te stuur. Hoe kortsigtig sou dit tog wees om ’n kind se geestelike belange op te offer ter wille van die voordele wat ’n kosskoolopvoeding bied! Dit is soos om in ’n brandende huis in te hardloop om die een of ander versierseltjie te red—en dan self deur die vlamme verteer te word.
God se Woord sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Dit is beter om ’n slegte situasie te voorkom as om dit later reg te stel. Dit sal verstandig wees om dit in gedagte te hou as jy jou afvra: ‘Moet my kind na ’n kosskool gaan?’
[Venster op bladsy 28]
Jong Getuies dink terug aan hulle kosskooldae
“Op kosskool is Getuiekinders afgesny van geestelike omgang. Dit is ’n uiters vyandige omgewing waar ’n mens onder groot druk geplaas word om kwaad te doen.”—Rotimi, wat tussen die ouderdomme van 11 en 14 op kosskool was.
“Dit was vreeslik moeilik om Christelike vergaderinge by te woon. Ek kon dit slegs op Sondae bywoon, en om dit te doen, moes ek wegsluip terwyl die leerlinge tougestaan het vir die kerkdiens. Ek was nooit gelukkig nie, want by die huis was ek daaraan gewoond om al die gemeentelike vergaderinge by te woon, en ek het Saterdae en Sondae in die veldbediening uitgegaan. Skool was nie ’n opbouende ondervinding nie. Ek het baie gemis.”—Esther, wat gereeld deur onderwysers pak gegee is omdat sy nie aan die skool se kerkdienste wou deelneem nie.
“Dit was nie maklik om vir medeleerlinge in die kosskool te getuig nie. Dit is nie maklik om ooglopend anders te wees nie. Ek wou die groep volg. Miskien sou ek vrymoediger gewees het as ek vergaderinge toe kon gaan en velddiens kon doen. Maar ek kon dit slegs doen wanneer ek met vakansie was, en dit was net drie keer per jaar. As ’n mens ’n lamp het wat nie met olie hervul word nie, word die lig dof. Dit was dieselfde op skool.”—Lara, wat van 11- tot 16-jarige ouderdom op kosskool was.
“Noudat ek nie meer op kosskool is nie, is ek bly dat ek al die vergaderinge kan bywoon, velddiens kan doen en die dagteks saam met die res van die gesin kan geniet. Hoewel dit voordele ingehou het om in die skool te bly, is niks belangriker as my verhouding met Jehovah nie.”—Naomi, wat haar vader oorreed het om haar uit die kosskool te haal.