Het jy al ooit gewonder?
HOE kan jy, met die honderde godsdienste, sektes en kultusse in die hedendaagse wêreld, enigsins die godsdiens identifiseer wat deur God goedgekeur word? Dit lyk dalk asof jy na ’n naald in ’n hooimied soek. Maar moet jy die hooimied strooihalm vir strooihalm deursoek? Nee. Jy kan ’n proses van uitskakeling gebruik. God se Woord, die Bybel, dien as die magneet wat jou help om daardie “een geloof” te identifiseer.—Efesiërs 4:5.
In ’n vorige nommer van hierdie tydskrif onder die opskrif “Het jy al ooit gewonder?” (8 Januarie 1994, bladsy 13) het ons die kwessie van die onsterflike siel bespreek. Deur redenasies uit die Bybel te gebruik, het ons bewys dat die mens nie ’n onsterflike siel het wat ná die dood geseën word of ly nie (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Met hierdie eenvoudige waarheid kan ons enige godsdiens uitskakel wat leer dat die mens ’n onsterflike siel het. Dit laat baie min godsdienste oor in ons soeke na die een wat deur God goedgekeur word. Laat ons derhalwe nog ’n paar vrae gebruik wat ons kan help om die lys selfs nog korter te maak deur eenvoudig die teksverwysings hieronder na te slaan en daaroor te redeneer.
1. Sal ware aanbidding godsdiensleiers verhef, verheerlik en oormatig vereer en hulle selfs onskriftuurlike titels gee?—Psalm 96:5-7; Matteus 23:6-12; 1 Korintiërs 3:5-9.
2. Behoort die ware godsdiens ’n winsgeoriënteerde onderneming te wees sodat sy leiers in weelde kan lewe?—Matteus 6:19-21; Jakobus 2:1-4; 5:1-3.
3. Moet die ware godsdiens geïdentifiseer word deur ’n enkele leerstelling (soos Baptis, Pinkster), deur die geografiese oorsprong daarvan (soos Roomse, Suidelike, Anglikaanse Kerk), deur die onvolmaakte stigter daarvan (Luther, Calvyn, Wesley) of deur die gesagsvorm wat dit gebruik (soos Presbiteriaans, Episkopaals, Kongregasionalisties)?—Jesaja 43:10, 12; Handelinge 11:26.
4. Sou ware aanbidding God se geopenbaarde naam probeer wegsteek of vervang?—Jesaja 12:4, 5; Matteus 6:9; Johannes 17:26.
5. (a) Hoe behoort die ware godsdiens die Bybel te beskou? (Psalm 119:105; Lukas 24:44, 45; Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:14-16). (b) Hoe behoort dit sogenaamd na-Bybelse openbarings te beskou?—Galasiërs 1:8, 9.
6. Waartoe en tot wie wend ware aanbidders hulle vir redding?—Psalm 27:1; Matteus 6:33; Romeine 16:25-27; 1 Korintiërs 15:27, 28; Openbaring 11:15.
7. Watter soort gedrag behoort die ware godsdiens weens sy lering tot gevolg te hê?—Matteus 22:37-40; Efesiërs 4:23-29; vergelyk Galasiërs 5:19-21 met 5:22, 23.
8. Sou die wêreldwye broederskap van ware aanbidders van God by verdelende politiek en nasionalisme betrokke wees?—Daniël 2:44; 7:14; Johannes 18:36; Romeine 16:17; 1 Korintiërs 1:10.
9. Sou die aanbidding wat God goedkeur deelname aan oorloë en rasse- of stammoorde toelaat?—Exodus 20:13; Jesaja 2:2-4; Johannes 13:34, 35.
10. Wie toon vandag wêreldwyd ware Christelike liefde? Wie word nie deur politiek, rassisme of nasionalisme verdeel nie? Wie verheerlik nie menseleiers nie? Wie buit mense nie vir rykdom en posisie uit nie? Wie neem nie aan oorloë deel nie? Wie het ’n naam uit die Bybel? Wie staan God se Koninkryksheerskappy voor as die blywende oplossing vir die mensdom se probleme?—Jesaja 43:10, 12.
Het jy al ooit gewonder? Die Bybel se antwoorde
Die volgende is ’n paar tekste wat saam met die vrae op bladsy 20 verskyn:
1. “Hulle hou van die vernaamste plek by aandmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges en die begroetinge op die markpleine en om deur die mense Rabbi genoem te word. Maar julle, moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus. Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees. Elkeen wat homself verhef, sal verneder word, en elkeen wat homself verneder, sal verhef word.”—Matteus 23:6-12.
2. “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nóg mot nóg roes verteer en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matteus 6:19-21). “Kom nou, julle rykes, huil en weeklaag oor julle ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom het verrot, en julle boklere is deur motte gevreet. Julle goud en silwer het weggeroes, en hulle roes sal tot ’n getuienis teen julle wees en sal julle vlesige dele verteer.”—Jakobus 5:1-3.
3. “Júlle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is” (Jesaja 43:10). “Dit was in Antiogië dat die dissipels vir die eerste keer deur goddelike voorsienigheid Christene genoem is.”—Handelinge 11:26.
4. “Dank [Jehovah, NW], roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! . . . Laat dit bekend wees op die hele aarde” (Jesaja 12:4, 5). “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.”—Matteus 6:9.
5. (a) “Jy [het] van kleintyd af die heilige geskrifte geken . . ., wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:15, 16). (b) “Selfs al sou ons of ’n engel uit die hemel aan julle iets as goeie nuus bekend maak benewens dit wat ons aan julle as goeie nuus bekend gemaak het, laat hom vervloek wees.”—Galasiërs 1:8.
6. “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers.”—Openbaring 11:15.
7. “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. . . . ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete” (Matteus 22:37-40). “Die vrugte van die gees . . . is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar geen wet nie.”—Galasiërs 5:22, 23.
8. “Jesus het geantwoord: ‘My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.’”—Johannes 18:36.
9. “Jy mag nie doodslaan nie” (Exodus 20:13). “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.
10. “Júlle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is . . . Julle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en Ek is God.”—Jesaja 43:10, 12.