Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 10/22 bl. 20-21
  • Die vullisprobleem word opgelos—met kompos

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vullisprobleem word opgelos—met kompos
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Unieke vullisverwerkingsaanleg
  • Die ophoping van vullis—Sal ons daaronder begrawe word?
    Ontwaak!—1990
  • Kompos—terug op groter skaal as ooit tevore!
    Ontwaak!—1992
  • Weggooiprodukte word onverwerkbare vullis
    Ontwaak!—1990
  • Ons lewe in ’n weggooigemeenskap
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 10/22 bl. 20-21

Die vullisprobleem word opgelos—met kompos

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND

NAMATE die mensdom se vullis ophoop, lewer dit een van die neteligste probleme van ons tyd op. Al is die moderne tegnologie so bedrewe daarin om vullis te produseer, wil dit voorkom of hulle met die hande in die hare sit wanneer hulle daarvan ontslae moet raak. Die voor die hand liggende, tradisionele oplossings is vol probleme. Aangesien die storting van vullis omliggende grondwater kan besoedel, het baie lande stortplekke gedwing om toe te maak. En die verbranding van vullis kan giftige chemiese stowwe vrystel en as laat agterbly, wat albei hulle eie opruimingsprobleme bied. Hipertegnologiese verbrandingsoonde is dus in baie gebiede ongewild.

Watter alternatief bly oor? Party stel ’n natuurlike manier voor om van vaste afval ontslae te raak—’n soort biologiese “vuur” wat komposmaking genoem word. Soos vuur breek komposmaking organiese materiaal af tot ’n aantal neweprodukte en stel dit terselfdertyd hitte vry. Die neweprodukte van komposmaking kan baie nuttig wees. Die gasse en hitte kan as energiebronne gebruik word. En die vaste neweproduk, humus, is ’n nuttige grondbemestingstof in die landbou.

Komposmaking se gewildheid neem toe. In Finland het die dorp Korsholm en die naburige stad Vaasa byvoorbeeld ’n gevorderde vullisverwerkingsaanleg ontwikkel wat van komposmaking gebruik maak. Die ontwerpers van die aanleg het ’n vindingryke manier gevind om twee van die streek se probleme tegelykertyd op te los. Gruis vir konstruksie en paaie is ’n skaars hulpbron. Vandaar die idee om ’n groot 40 meter diep gat in die rotsbodem te skiet. Nadat die gat groot hoeveelhede gruis gelewer het, het dit ’n ideale terrein gevorm vir ’n ontsaglike bioreaktor wat munisipale vullis verwerk. Die feit dat die reaktor deur soliede rots omring word, help om die konstante temperatuur te handhaaf wat so noodsaaklik vir die gistingsproses is.

Wat is die resultaat? Hierdie moderne aanleg het in groot mate die streek se vullisprobleem opgelos. Dit verminder die vullis se volume met 75 persent en die gewig met 66 persent. Hoe is dit moontlik? Kom ons besoek die aanleg.

’n Unieke vullisverwerkingsaanleg

Ons eerste indruk by ons aankoms is dat hierdie plek baie min met konvensionele vullishope in gemeen het. Daar is geen rotte nie en daar is geen slegte reuk nie. Hier is vullisbeheer blykbaar net nog ’n produktiewe nywerheid.

Die aanlegbestuurder wys eers vir ons ’n tabel om te verduidelik wat in die aanleg gebeur. ’n Proses met twee stappe verminder grotendeels die massa en volume van die vullis—deur eers kompos daarvan te maak en dit dan te laat verrot. Tydens komposmaking ontbind die afval in die teenwoordigheid van lug; tydens verrotting gis dit sonder blootstelling aan lug. Maar voordat enigeen van hierdie prosesse begin, word die afval fyngedruk.

Deur ’n venster van die beheerkamer sien ons hoe ’n vulliswa agteruit by ’n groot deur inry. Dit stort die vullis in ’n ontsaglike tregtervormige put, waar ’n vervoerband dit in ’n snippermasjien invoer. Groter voorwerpe, soos fietsrame, motorbande, uitlaatpype en die meeste stukke plastiek, word deur ’n hyskraan verwyder. Ons gasheer verduidelik dat wanneer ou yskaste en vrieskaste inkom dit vir herstelwerk weggestuur word en later aan minderontwikkelde lande verkoop word.

Nadat die afval die eerste keer fyngedruk is, gaan dit deur ’n growwe sif waardeur alles val wat kleiner as vyf sentimeter is. Dit is ongeveer die helfte van die vullis en dit gaan oor tot die eerste stap van die biologiese verwerking daarvan, die komposproses. Dit vind in ’n groot tenk plaas waar die fyngedrukte afval met slyk van die stad se rioolverwerkingsaanleg gemeng word.

“Toe ons hierdie proses ontwikkel het, het ons deurgaans aan die omgewing gedink”, sê ons gasheer, “daarom skei ons selfs die stof af wat deur die fynmaakproses veroorsaak word. Verder blaas ons lug in die kompostenk in waar die mengsel van afval en slyk gehomogeniseer en tot ongeveer 40 grade Celsius verhit word. Die lug wat uitkom, sou as gevolg van aërobiese verrotting verskriklik geruik het as ons dit nie eers gefiltreer het nie.”

Ná een of twee dae in die kompostenk gaan die mengsel die 40 meter hoë hoofbiogasreaktor binne. Wat gebeur hier? Wel, die organiese bestanddele van hierdie mengsel word ontbind deur klein mikrobes wat in hierdie suurstofvrye omgewing kan lewe. Hierdie fase van die proses word eenvoudig genoeg verrotting genoem. Dit duur 15 dae teen 35 grade Celsius. Die finale produkte is biogas en humus, wat ongeveer 85 tot 90 persent water is. Die meeste van hierdie water word uitgedruk en weer in die reaktor ingevoer.

Maar wat het met die helfte van die vullis gebeur wat nie deur die sif geval het nie? Ons gids sê dat hierdie deel baie brandbaar is omdat dit hoofsaaklik uit papier en plastiek bestaan. Maar om die afval veilig te verbrand, sou ’n temperatuur van meer as 1000 grade Celsius vereis—en daar is nie so ’n verbrandingsoond in die omgewing nie. “Dit is waarom ons die oorblywende afval nog ’n keer fyndruk en dit weer deur die proses laat gaan”, sê hy. “Dit is waar dat die biologiese proses nie plastiek kan afbreek nie, maar die afval is meestal papier, wat uiteindelik humus word.”

Wat word deur hierdie ingewikkelde proses geproduseer? Ons gasheer antwoord: “Ons kry hoofsaaklik twee produkte, humus en biogas. Ons verkoop die humus vir die opbou van groen gebiede en om ou stortterreine mee te bedek. Daar is ’n groot behoefte hieraan noudat talle ou stortplekke toegemaak is. Ons moet kyk of dit in die toekoms in die landbou gebruik kan word nadat die glas en plastiek verwyder is. Die biogas bestaan uit 60 persent metaan en 40 persent koolstofdioksied. Die gehalte daarvan kom met dié van natuurlike gas ooreen en dit word op dieselfde manier gebruik. Ons het ’n pyplynstelsel om dit na die naaste industriële aanlegte te neem.”

Wat van probleme met swaarmetale in vullis en slyk? Ons gasheer sê voorts: “Hierdie swaarmetale is in die water gekonsentreer. Daarom beoog ons om in die toekoms toerusting te bekom wat swaarmetale uit die water verwyder. Dan sal ons produk miskien vir alle doeleindes geskik wees. Wanneer ons oor die toekoms praat, moet ek julle van my droom vertel, en dit is dat alle huishoudings hulle eie vullis sal sorteer sodat ons nie glas, plastiek of metaal sal ontvang nie. Dit is alles herwinbaar. Selfs sintetiese stowwe, plastiek en rubber is herwinbaar.”

Die aanleg is in staat om die afval te verwerk wat deur 100 000 mense geproduseer word. Dit is belangrik in Finland. Hierdie land beoog om teen die jaar 2000 ongeveer die helfte van sy vullis te benut—in die vorm van grondstowwe of energie.

Ons toer het ons afdoende bewys gegee dat dit moontlik is om iets omtrent die vullisprobleem te doen. Elkeen van ons kan ons samewerking gee met betrekking tot enige herwinningswette wat van krag is waar ons woon. Voordat ons egter van ons gids afskeid neem, vra ons hom of daar baie aanlegte is wat vullis so doeltreffend verwerk soos hierdie een. “Dit is moeilik om te sê”, antwoord ons gids. “Ek weet nie van enige soortgelyke aanlegte nie. Miskien is die probleme op ander plekke soveel groter dat niemand nog gewaag het om dit te probeer nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel