Kompos—terug op groter skaal as ooit tevore!
DIE gebruik van kompos is omtrent net so oud soos tuinmakery. Romeinse plase het komposputte gehad waar die uitwerpsel van mense en diere op ’n hoop gegooi is, asook onkruid, blare en enige huishoudelike afval wat opgehoop het. Van tyd tot tyd is water bygevoeg om die verrottingsproses te bespoedig. Duisend jaar later, in Moorse Spanje, het ’n landboukundige verhandeling drie metodes beskryf waarvolgens hope “kunsmatige mis”, soos kompos bekend gestaan het, gemaak kon word—duifmis is bygevoeg om die verrotting te bespoedig.
Met die koms van gemeenskaplike stortterreine waar jy van afval ontslae kan raak en chemiese bemestingstowwe wat maklik en sonder ’n gemors op grasperke en in tuine gebruik kan word, het dit feitlik ’n rariteit geword om kompos tuis te maak en te gebruik. Maar kompos is onlangs weer begin gebruik. Stortterreine het tot oorlopens toe vol begin raak, Amerikaanse state het beperkings begin stel op wat en hoeveel gestort kon word, en stortingsgelde kan wissel van R82,50 tot R275 per ton. Omgewingsbesorgdheid het boonop toegeneem en dit het ook daartoe gelei dat die gebruik van kompos weer in die mode is.
Kompos is nie net terug in gebruik nie, dit is terug in gebruik op groter skaal as ooit tevore. Die oogmerk is om van stortterreine komposterreine te maak. “Komposbemesting is ’n belowende tegnologie wat dalk sal help om die steeds toenemende probleem van afvalverwydering op te los”, het ’n artikel in The New York Times Magazine gesê. “Die voorstanders daarvan glo dat hulle tot die helfte van die afval—kombuisafval, tuinsnoeisels en selfs party soorte afvalpapier—kan gebruik wat die meeste Amerikaners tans weggooi. Hulle glo dat komposbemesting plase kan skep wat die grond opbou pleks van dit te vernietig, dat kompos grond kan vervang wat weggespoel het of beskadig is, jong plante teen siektes kan beskerm en die afhanklikheid van plaagdoders en sintetiese bemestingstowwe kan verminder.”—8 September 1991.
“Hulle berei etes vir insekte voor”
“Die nuwe komposvervaardigers wil ’n proses wat reeds bestaan, verstaan en gebruik: mikrobiese vertering. Hulle berei hoofsaaklik etes vir insekte voor”, verduidelik die artikel in die Times en dit gee die volgende besonderhede:
“Komposvorming is in wese eenvoudig, maar is ingewikkeld wanneer ’n mens in besonderhede gaan. Dit is basies die manier waarop die aarde onverwerkte organiese afval in materiaal verander wat deur plante gebruik kan word. Die mikroörganismes wat in die grond leef—’n miljard van hulle in ’n gram goeie grond—het ’n geweldige aptyt vir organiese stowwe wat self hoofsaaklik uit koolstof-, stikstof- en waterstofatome bestaan. Die bakterieë en swamme verbrand die koolstof om energie te verkry en gebruik die stikstof en ’n bietjie van die koolstof om hulle sellulêre liggame op te bou. Die meeste mikroorganismes funksioneer in die teenwoordigheid van suurstof, maar party funksioneer beter daarsonder. Wanneer hulle onverwerkte stowwe opraak, begin hulle om mekaar op te eet. Uit al hierdie onderlinge etery en opetery word hitte, water, koolstofdioksied en die stof humus verkry, ’n samestelling van organiese molekules wat die voedingstowwe, water en lug aantrek en behou wat plante nodig het om te kan groei.”
As die komposmengsel reg is, kan die mikroorganismes selfs diesel-olie, TNT-koolwaterstofverbindings en uraan verteer. Hulle is beslis kragtige klein mikroörganismes, maar as jy tuis kompos maak, sal hulle nie sulke uitdagings hê nie.
Hoe om jou eie kompos te maak
Jy moet vir eers vergeet van daardie slordige hope tuinafval waarop jy jaar na jaar al die blare, grasafval, strooi, ou hooi en onkruid gegooi het en wat waarskynlik buite beheer geraak het. Wanneer kombuisafval by so ’n hoop gevoeg is, was daar altyd ’n onaangename reuk wat nie verhoed kon word nie, soos enige ervare tuinier maar alte goed weet. Om hierdie probleem op te los, het jy ’n geskikte komposhouer nodig. Die doel daarvan is om die verbasende natuurlike proses wat vroeër beskryf is in jou tuin te skep. Dit is dieselfde proses wat die dooie organiese materiaal herbenut wat in alle woude ophoop, en dit is al duisende jare lank aan die gang. Soos gewoonlik het God dit eerste gedoen toe hy groen landplante geskep het wat uiteindelik doodgegaan het, en het sodoende die natuurlike proses van komposvorming begin sodat die nodige chemikalieë weer gebruik kon word.—Genesis 1:11-13.
Dit is verkieslik dat ’n mens ’n houer gebruik wanneer jy kompos wil maak, omdat dit die materiaal bymekaar hou en beter ventilasie verseker, wat die doeltreffendheid van die verrottingsproses verhoog. Openinge of gate moet in die kante van die houer gemaak word om die suurstof wat nodig is vir die bakterieë deur te laat. Die vogtigheid moet ook beheer word. Die houer moenie direk op die grond geplaas word nie, en die regte plek moet gekies word. Komposvorming is minder doeltreffend wanneer dit die hele dag aan die volle sterkte van die son blootgestel word, maar dit floreer ook nie wanneer dit heeltemal in die skaduwee staan nie.
Die komposmengsel self kan vergelyk word met ’n toebroodjie wat verskeie lae het: een laag tuinafval, een laag grond, een laag huishoudelike afval, en dit word herhaal totdat jy ’n hoop het wat ongeveer 1,2 tot 1,5 meter hoog is. Die voltooide hoop kan ten slotte met sooi of iets soortgelyks bedek word.
Na twee jaar sal jy baie goeie humus en die tuinier se beste vriende hê—baie erdwurms. Hulle sal onvermoeid werk om die bogrond van jou tuin om te dolwe en te oksideer. Komposvorming kan versnel word deur die hoop af en toe om te werk of deur produkte by te voeg wat verrotting bespoedig, soos klein hoeveelhede mis. Met ’n geskikte houer en die regte mengsel materiale kan die verrottingsproses bespoedig word sodat die kompos na slegs drie of vier maande pleks van twee jaar gereed is om te gebruik.
En onthou, die kompos het lug nodig, en voldoende ventilasie sowel as die regte voggehalte sal die mengsel dus in die grondkombers verander wat vir jou plante so lekker is. Wanneer jy dit op die bogrond gooi, is die tafel gedek en kan die fees vir jou blomme en groente begin. Trakteer jou tuin só en dit sal jou beloon met ’n oorvloedige oes wat ’n lus vir die oog is en die verhemelte vlei.