Aanneming—Hoe pas ek in?
DIT spreek vanself dat probleme kan ontstaan as die aanneemouers van mekaar skei of as een maat sterf. Maar dit is die aangenome kind wat moontlik die grootste spanning ondervind. Waarom?
Die meeste van ons weet wie ons biologiese ouers is. Selfs al het ons hulle vroeg in ons lewe verloor, het ons herinneringe, of waarskynlik ’n paar foto’s, om die band te behou. Maar wat van ’n baba wat kort ná geboorte vir aanneming opgegee word? Die aannemingsvereniging hou besonderhede van die moeder, maar daardie inligting word dikwels nie verskaf totdat die kind mondig word nie. In ander gevalle registreer die moeder haar eie naam op die geboortesertifikaat maar laat die vader se naam weg. Party babas is vondelinge—wat ontdek word nadat hulle onbekende ouers hulle êrens alleen gelaat het. Kinders in al hierdie omstandighede het nie biologiese bande nie—hulle voel moontlik afgesny van hulle agtergrond of herkoms.
Hoe stabiel?
Bome het ’n goeie wortelstelsel nodig om vas te staan. ’n Nuwe loot wat op ’n gevestigde onderstam geënt word, groei dalk goed, maar dit kan ook verwelk en nie vrugte voortbring nie. Hoewel aanneemouers op soortgelyke wyse dalk al die sorg en liefdevolle toewyding gee wat hulle moontlik kan, herstel party kinders nooit van die skok dat hulle nie weet wat hulle herkoms is nie.
Beskou die geval van Kate.a Kate het Wes-Indiese ouers gehad en is as ’n baba deur ’n liefdevolle, wit egpaar aangeneem, maar sy kon nie aan haar nuwe milieu gewoond raak nie. Op die ouderdom van 16 het sy die huis verlaat om nooit weer terug te keer nie. Bitterheid het teen daardie tyd in onberedeneerde haat verander. “Waarom het my ma my vir julle gegee?” het sy gevra. Ongelukkig kon hierdie gesin nie die gaping oorbrug nie.
Mervyn is by geboorte in die sorg van die plaaslike owerheid en toe in die sorg van pleegouers gelaat. Toe hy nege maande oud was, is hy aangeneem. Sy aanvanklike onseker agtergrond, tesame met ’n vurige gegriefdheid omdat hy van gemengde ras was, het in ’n opstandige gesindheid ontwikkel wat hom baie probleme op die hals gehaal het en sy aanneemouers, wat soveel vir hom gedoen het, diepe droefheid aangedoen het. “As enigiemand my raad oor aanneming sou vra”, het sy moeder gesê, “sou ek nou sê: ‘Dink goed daaroor na.’”
Beskou in teenstelling hiermee die ondervinding van Robert en Sylvia. Hulle het een seun gehad en kon nie nog kinders hê nie. Hulle is gevra: “Het julle al aan ’n kind van ’n ander nasionaliteit gedink?” Weldra het hulle Mak-Tsjai aangeneem, ’n nege maande oue babadogtertjie van Hongkong. “Ek wonder dikwels waarom my ma my verlaat het”, sê Mak-Tsjai, “en of ek enige broers of susters het. Maar ek dink ek is nader aan my pleegma en -pa as wat talle kinders aan hulle eie ouers is. As ek geweet het wie my biologiese ouers is, sou dit nie veel verskil gemaak het nie, behalwe dat ek dalk ’n paar van my karaktertrekke ’n bietjie beter sou verstaan.” Beveel haar aanneemouers aanneming aan? “Ja”, sê hulle, “omdat dit vir ons ’n wonderlike ondervinding was!”
Redes om versigtig te wees
Graham en Ruth het twee kinders, ’n seun en ’n dogter, as babas aangeneem om saam met hulle eie seun en dogter groot te word. Al vier kinders is as een verenigde gesin in ’n gelukkige milieu grootgemaak. “Al ons kinders het jare gelede die huis verlaat en hulle eie gang gegaan. Ons behou gereelde kontak en het hulle almal lief”, sê Ruth. Maar ongelukkig het albei die aangenome kinders ernstige probleme ondervind. Waarom?
“Ons dokter het vir ons gesê dat die milieu vir ’n kind van die allergrootste belang is”, sê Graham, wat nou meen dat oorgeërfde karaktertrekke ’n belangrike faktor is. Hy sê voorts: “Nog iets, wat van die moeder se gesondheid terwyl sy swanger was? Dwelms, drank en tabak, weet ons nou, kan ’n uitwerking op ’n ongebore kind hê. Ek beveel aan dat die agtergrond van beide ouers deeglik nagegaan word, en selfs dié van grootouers indien enigsins moontlik, voordat aanneming onderneem word.”
Peter se moeder het weer getrou, en Peter se stiefvader het hom fisies en verstandelik mishandel. Op driejarige ouderdom is hy vir aanneming opgegee. “Ek het my aanneemouers verwerp die oomblik wat ek die hof verlaat het”, het Peter gesê. Hy het voorts gesê: “Ek het alles vernietig wat ek in die hande kon kry. Wanneer ek wel geslaap het, het ek verskriklike nagmerries gehad. As ek nou terugkyk, kan ek sien hoe uitermate versteurd ek was. Nadat my aanneemouers ook van mekaar geskei het, het dinge vir my net al hoe erger geword—dwelms, diefstal, vandalisme, daaglikse drinkpartye.
“Op 27-jarige ouderdom kon ek geen rede sien om te bly lewe nie en het ek selfmoord oorweeg. Toe het ’n vreemdeling my eendag ’n Bybeltraktaat gegee wat gesê het dat hierdie aarde binnekort ’n paradys gaan word. Die boodskap het ’n indruk op my gemaak. Dit het na die waarheid geklink. Ek het die Bybel begin lees en bestudeer en veranderinge in my lewe en geaardheid begin aanbring, maar ek het telkens in my ou weë verval. Ná baie aanmoediging en heilsame Christenomgang voel ek nou gelukkiger en veiliger in my diens aan God as wat ek my ooit ’n paar jaar gelede sou kon voorstel. Ek was ook in staat om weer ’n liefdevolle verhouding met my moeder op te bou, wat wonderlik is.”
Sien die werklikheid onder die oë
Wanneer dit by aannemings kom, loop die gemoedere hoog. Uiterstes van liefde en dankbaarheid word gesien naas bitterheid en ondankbaarheid. Edgar Wallace het byvoorbeeld nooit sy moeder vergewe omdat sy hom verlaat het nie, want dit is hoe hy haar optrede beskou het. Sy het hom in die laaste jaar van haar lewe gaan besoek en onwillig ’n bietjie geldelike hulp gevra, maar al was Edgar teen daardie tyd welgesteld, het hy botweg geweier. Kort daarna, toe hy hoor dat sy moeder in ’n armgraf begrawe sou word as goedhartige vriende nie vir haar begrafnis betaal het nie, het hy innige spyt oor sy ongevoeligheid gehad.
Mense wat aanneming oorweeg, moet bereid wees om die probleme en uitdagings wat kan ontstaan realisties onder die oë te sien. Kinders is nie altyd dankbaar vir wat hulle ouers—aannemende of biologiese ouers—vir hulle doen nie, selfs in die beste omstandighede. Trouens, die Bybel praat van mense in ons dag wat “sonder natuurlike geneentheid”, “ondankbaar” en “dislojaal” sou wees.—2 Timoteus 3:1-5.
Daarteenoor kan dit ’n positiewe en verrykende ondervinding wees om jou huis—en jou hart—oop te stel vir ’n kind wat ouers nodig het. Cathy is byvoorbeeld innig dankbaar teenoor haar aanneemouers omdat hulle haar van ’n Christenhuis voorsien het en na haar fisiese en geestelike behoeftes omgesien het.—Sien die venster “Dit was in ons geval geslaagd”, bladsy 8.
Wanneer ouers wat kinders aangeneem het, beskryf hoe hulle teenoor hierdie seuns en dogters voel, kan hulle gerus aan die woorde van die psalmis dink: “Kinders is ’n geskenk van die Here; hulle is ’n ware seën.”—Psalm 127:3, Today’s English Version.
[Voetnoot]
a Party name is verander sodat mense anoniem kan bly.