’n Wêreldwye dorp maar steeds verdeeld
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË
HET jy al ooit stories gehoor van ’n volk wat nie monde gehad het nie en dus nie kon eet of drink nie? Hulle het glo aan die lewe gebly deur te ruik, meestal aan appels. ’n Slegte reuk sou hulle doodmaak.
Daar was ook verhale van mense in Wes-Afrika wat goud gehad het om mee handel te dryf. ’n Portugese skeepskaptein van daardie tyd het gesê: “Duisend kilometer anderkant [die] koninkryk van [Mali] is daar ’n land waarvan die inwoners die koppe en tande van honde en sterte soos honde het. Dit is die Swartes wat weier om te praat omdat hulle nie ander mense wil sien nie.” Dit is van die snaakse idees wat mense baie jare gelede gehad het, voor die eeu van reise en ontdekkings.
Volke kom nader aan mekaar
Sulke stories is eeue lank ernstig opgeneem. Maar terwyl ontdekkingsreisigers die planeet deurkruis het, het hulle geen mondlose appelruikers, geen mense met hondekoppe gevind nie. Vandag is daar byna geen geheime meer oor diegene wat buite die grense van ons eie land woon nie. Die aarde het ’n wêreldwye dorp geword. Die televisie bring vreemde lande en volke in ons woonkamers in. Lugvervoer maak dit moontlik om daardie lande binne ure te besoek; miljoene mense doen dit elke jaar. Ander reis om ekonomiese of politieke redes. ’n Verslag van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds sê: “Soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie—en op ’n skaal wat beslis gaan toeneem—ontwortel mense regoor die wêreld hulleself en migreer hulle op soek na ’n beter lewe.” Ongeveer 100 miljoen mense woon buite hulle geboorteland.
Ekonomiese interafhanklikheid tussen lande is aan die toeneem. ’n Wêreldwye kommunikasienetwerk verbind al die nasies van die aarde soos ’n reusagtige sentrale senustelsel. Namate idees, inligting en tegnologie uitgeruil word, smelt kulture saam en pas hulle by mekaar aan. Regoor die wêreld dra mense meer as ooit tevore dieselfde soort klere. Stede van die wêreld het baie dinge in gemeen—polisie, luuksehotelle, verkeer, winkels, banke, besoedeling. Namate die volke van die wêreld dus nader aan mekaar kom, sien ons dit wat sommige as ’n opkomende wêreldkultuur beskryf.
Waarom mense verdeeld bly
Maar hoewel volke en kulture vermeng, beskou almal mekaar beslis nie as broers nie. “Almal blameer gou die vreemdeling”, het ’n Griekse toneelskrywer 2000 jaar gelede geskryf. Ongelukkig geld dit ook vandag. Die bewyse kan maklik gevind word in koerantberigte oor dweepsug, ’n haat teenoor buitelanders, “etniese suiwering”, rassetwis, godsdiensonluste, die slagting van burgerlikes, slagvelde, verkragtingskampe, marteling of volksmoord.
Die meeste van ons kan natuurlik weinig of niks doen om die verloop van etniese konflikte te verander. Ons word miskien nie eers direk daardeur beïnvloed nie. Maar vir die meeste van ons ontstaan probleme as gevolg van ’n gebrek aan kommunikasie met die buitelanders met wie ons in aanraking kom—bure, werksmaats of skoolmaats.
Is dit nie eienaardig dat mense van verskillende etniese groepe dit so dikwels moeilik vind om mekaar te vertrou en te waardeer nie? Tog lewe ons op ’n planeet met ’n ontsaglike en eindelose verskeidenheid. Die meeste van ons waardeer die groot verskeidenheid voedsel, musiek en kleur sowel as die baie soorte plante, voëls en diere. Maar op die een of ander manier sluit ons waardering vir verskeidenheid nie altyd mense in wat nie dieselfde as ons dink en optree nie.
In plaas van na die positiewe aspekte van die verskeidenheid onder volke te kyk, is baie geneig om op die verskille te konsentreer en ’n twispunt daarvan te maak. Waarom gebeur dit? Watter voordele hou dit in om met mense te probeer kommunikeer wie se kultuur anders as ons eie is? Hoe kan ons kommunikasiehindernisse uit die weg ruim en dit met brûe vervang? Die volgende artikels sal daardie vrae probeer beantwoord.