Die toekomstige klimaat
DIE besoedeling van ons atmosfeer is net een van die omgewingsprobleme wat mense geskep het. Ander sluit grootskaalse ontbossing, die uitwissing van diersoorte en die besoedeling van riviere, mere en oseane in. Elkeen van hierdie probleme is sorgvuldig ontleed, en voorstelle is gedoen om dit reg te stel. Aangesien dit wêreldwye probleme is, verg dit wêreldwye oplossings. Daar is algemene eenstemmigheid oor die probleme en wat gedoen kan word om dit reg te stel. Jaar na jaar hoor ons oproepe tot optrede. Jaar na jaar word min gedoen. Alte dikwels betreur beleidbepalers die probleme en stem hulle saam dat iets gedoen moet word, maar hulle voeg as ’t ware by: “nie deur ons nie, nie nou dadelik nie”.
Op die oorspronklike Aardedag in 1970 het betogers in die stad New York ’n groot vaandel gedra. Op die vaandel was daar ’n afbeelding van die planeet Aarde wat “Help!!” skreeu. Sal enigiemand aan daardie pleidooi gehoor gee? God se Woord gee die antwoord: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:3, 4). Die psalmis vestig dan die aandag op die Skepper, want Hy alleen het die krag, wysheid en wil om al die ingewikkelde probleme op te los waarmee die mensdom te kampe het. Ons lees: “Welgeluksalig is hy . . . wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is.”—Psalm 146:5, 6.
Die Skepper se liefdevolle belofte
Die aarde is ’n gawe van God. Hy het dit ontwerp en geskep, asook al die ingewikkelde en verbasende meganismes wat die aarde se klimaat aangenaam maak (Psalm 115:15, 16). Die Bybel sê: ‘God het die aarde gemaak deur sy krag, die wêreld gegrond deur sy wysheid en die hemel uitgespan deur sy verstand. As Hy sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure.’—Jeremia 10:12, 13.
Die apostel Paulus het die Skepper se liefde vir die mensdom aan die mense van eertydse Listra beskryf. Hy het gesê: “[God het] homself . . . nie sonder getuienis gelaat . . . nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul.”—Handelinge 14:17.
Die toekoms van die planeet hang nie van die pogings en verdrae van mense af nie. Met betrekking tot die klimaat het die Een wat die krag het om dit te beheer sy eertydse volk belowe: “Ek [sal] julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee” (Levitikus 26:4). Mense sal binnekort sulke toestande wêreldwyd geniet. Gehoorsame mense sal nooit weer verwoestende storms, vloedgolwe, oorstromings, droogtes of enige ander natuurramp vrees nie.
Die golwe, die wind en die weer sal ons alles genot verskaf. Mense sal moontlik nog oor die weer praat, maar hulle sal niks daaromtrent doen nie. In die toekoms wat God teweeg gaan bring, sal die lewe so heerlik wees dat hulle niks daaromtrent sal hoef te doen nie.