Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/22 bl. 12-15
  • Van oorlogsheld tot soldaat van Christus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van oorlogsheld tot soldaat van Christus
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bevryding
  • Opgelei in godsdiens en oorlogvoering
  • Naoorlogse veranderinge
  • Ek neem my standpunt in
  • Uiteindelik—’n soldaat van Christus!
  • Moenie terugdeins nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe mense in vrede kan saamwoon
    Ontwaak!—1994
  • My herinneringe aan my lewe as ’n militêre geskiedkundige
    Ontwaak!—1993
  • Op soek na ’n rede om te lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/22 bl. 12-15

Van oorlogsheld tot soldaat van Christus

SOOS VERTEL DEUR LOUIS LOLLIOT

Op 16 Augustus 1944 was ek onder die Geallieerde magte wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog op die strande in die suide van Frankryk geland het. Ná ’n week van gevegte aan die Mediterreense kus het my eskadron tenks die hawestad Marseille binnegery en het ons ons pad al teen die heuwel op in die rigting van die Notre-Dame-de-la-Garde-basiliek oopgeveg. Ons sending was om die Duitse vesting daar te verower.

DIE gevegte was hewig. ’n Tenk in my groep is getref, en drie van my makkers daarin het gesneuwel. Toe het ’n landmyn een van die rusperbande van my tenk afgeruk en dit buite geveg gestel. Ons was vasbeslote om nie terug te val nie en het die volgende paar uur voortgeveg.

Met ’n masjiengeweer in die een hand en die Franse vlag in die ander, het ek van ’n onderbreking in die gevegte gebruik gemaak en saam met ’n vegter van die Vrye Franse te voet verder gegaan. Uitgeput en swart van die buskruit het ek die Franse vlag by die ingang van die basiliek geplant.

Die bevryding

Gedurende die daaropvolgende weke het ons noordwaarts beweeg al agter die vlugtende Duitse soldate aan. Weens sluipskutters sowel as kabels wat op kophoogte oor die pad gespan is, moes ons noodgedwonge ons tenks se luike toehou terwyl ons voortbeweeg het.

In Oktober het ons afdeling by Ramonchamp aangekom, ’n dorpie in die Vosges-berge in noordoostelike Frankryk. Die dorpie het verlate gelyk. Terwyl ek die omgewing vanuit my tenk se skiettoring bespied het, het ’n vuurpyl wat uit ’n venster afgevuur is skielik in die tenk beland, en drie van my manskappe is op slag dood toe dit ontplof het. Ek en ’n ander soldaat is ernstig beseer, en die tenk kon nie verder ry nie. Ten spyte van 17 stukke skrapnel in my been het ek die tenk bestuur terwyl ’n ander tenk ons gesleep het.

Ek het eervolle vermelding vir hierdie voorval ontvang. ’n Paar dae later, toe generaal De Lattre de Tassigny, bevelvoerder van die Franse 1ste Leër, my gedekoreer het vir wat ek in Marseille gedoen het, het hy gesê: “Ons sal mekaar gou weer sien.”

Kort daarna is ek as die generaal se persoonlike attaché aangestel. Ek het hom mettertyd na Berlyn vergesel, waar hy Frankryk op 8 Mei 1945 by die Duitse oorgawe verteenwoordig het. Die volgende vier jaar het ek al sy opdragte getrou uitgevoer.

Maar hoe het ek so betrokke geraak by belangrike gebeure van die Tweede Wêreldoorlog?

Opgelei in godsdiens en oorlogvoering

Ek het as ’n vroom Rooms-Katoliek grootgeword met die begeerte om my God en my land te dien. Op 29 Augustus 1939, net ’n paar dae voordat Frankryk tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het, het ek by die gemotoriseerde kavallerie aangesluit. Ek was net 18 jaar oud. Ná vyf maande se opleiding by die École Militaire in Parys is ek as ’n jong onderoffisier na Frankryk se oostelike front gestuur.

Dit was die tydperk wat as die skynoorlog bekend staan, wat so genoem is omdat ons niks anders gedoen het as om vir die Duitse troepe te wag wat aan ander fronte geveg het nie. En toe die Duitsers ons uiteindelik in Junie 1940 aangeval het, is ek gevange geneem. Twee maande later het ek ontsnap, en uiteindelik kon ek weer by die Franse magte in Noord-Afrika aansluit.

In die krygstog in Tunisië teen die Duitse troepe onder generaal Erwin Rommel, die Desert Fox, het ek brandwonde oor 70 persent van my liggaam opgedoen en was ek nege dae lank in ’n koma. Ek was drie maande lank in ’n hospitaal in Sidi Bel Abbès, in noordwestelike Algerië, waar die hoofkwartier van die Franse Vreemde Legioen geleë was. Terwyl ek in Noord-Afrika was, het ek die Croix de Guerre, die Militêre Kruis, ontvang.

Die Katolieke kapelane het ons aangemoedig om ons “Christelike” plig te doen. In ooreenstemming met hulle aansporing was ek gereed om my lewe vir Frankryk op te offer. Wanneer dit ook al moontlik was, het ek voor ’n veldslag die kommunie geneem. En wanneer die geveg op sy hewigste was, het ek tot God en tot die Maagd Maria gebid.

Ek het respek gehad vir die vyand se soldate, waarvan baie ook vroom Rooms-Katolieke was. Party van hulle het ’n gordel gedra met ’n gespe waarop die woorde Gott mit uns (God is met ons) gegraveer was. Klink dit nie vreemd dat God die gebede van soldate sal verhoor wat aan teenoorgestelde kante veg en aan dieselfde godsdiens behoort nie?

Naoorlogse veranderinge

Ná die oorlog, op 10 April 1947, het ek met Reine getrou, ’n meisie van generaal De Lattre de Tassigny se tuisdorp, Mouilleron-en-Pareds, in Vendée. Die generaal was my getuie by die troue. Ná sy dood, in Januarie 1952, het ek sy vlag op sy staatsbegrafnis gedra.

Toe, een Sondagoggend teen die einde van 1952, terwyl ek en my vrou gereedgemaak het om saam met ons dogtertjie na die mis te gaan, het twee van Jehovah se Getuies ons deurklokkie gelui. Wat hulle oor die Bybel gesê het, het ons belangstelling geprikkel. Hoewel ek en my vrou baie godsdienstig was, het ons min kennis van die Bybel gehad omdat die kerk ons afgeraai het om dit te lees. Die Getuie wat aangebied het om die Bybel saam met ons te studeer, was Léopold Jontès, wat toe die opsiener van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Frankryk was. Ek het uiteindelik in ons Bybelstudie die antwoorde op vrae gekry waarna ek sedert my kinderdae gesoek het.

Die Onse Vader, of die Gebed van die Here, het my byvoorbeeld nog altyd gefassineer. As ’n Katoliek het ek geglo dat alle goeie mense hemel toe gaan wanneer hulle sterf, en daarom was dit vir my onverstaanbaar waarom ons tot God gebid het: “Laat u wil op die aarde geskied.” (Matteus 6:9, 10, Douay Version; ons kursiveer.) Die priesters met wie ek gepraat het, het my vraag hieroor geïgnoreer of gesê dat hierdie gebed verhoor sal wees wanneer almal Rooms-Katolieke geword het. Maar dié antwoord het my nie tevrede gestel nie.

Die priesters kon ook nie bevredigende antwoorde op my vrae oor die Drie-eenheid gee nie. Hierdie Katolieke leerstelling sê, volgens die woorde van ’n geloofsbelydenis van die kerk: ‘Die Vader is God, die Seun is God, en die Heilige Gees is God, en tog is daar nie drie Gode nie maar een God.’ Dit was dus vir my en my vrou ’n groot bron van vreugde toe ons leer van die Bybel se duidelike lering dat Jesus die Seun van God is en nie die almagtige God self nie.—Markus 12:30, 32; Lukas 22:42; Johannes 14:28; Handelinge 2:32; 1 Korintiërs 11:3.

Ons het albei gevoel asof ons oë vir die eerste keer oopgegaan het en dat ons ’n pêrel van onskatbare waarde gevind het, wat enige opoffering werd was (Matteus 13:46). Ons het besef dat ons ’n keuse sou moes maak om hierdie skat te verkry. Ons beskouing was kort voor lank soos dié van die apostel Paulus, wat gesê het dat hy ‘alles as verlies beskou weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus’. Ons het dus veranderinge in ons lewe aangebring om God te dien.—Filippense 3:8.

Ek neem my standpunt in

In April 1953, net ’n paar maande nadat ons die Bybel saam met die Getuies begin studeer het, het ek opdrag gekry om by die Franse ekspedisiemag aan te sluit wat gestuur is om in Indo-China te gaan veg. Ek was toe die adjudant van die bevelvoerder by die Senaat in Parys. Aangesien ek teen daardie tyd al die Bybelbeginsel van neutraliteit verstaan het, het ek besef dat ek ’n besluit moes neem (Johannes 17:16). Ek het vir my hoofde gesê dat ek weier om die opdrag te gehoorsaam om in Indo-China te veg en het my begeerte om nie meer aan oorlog deel te neem nie as rede aangevoer.—Jesaja 2:4.

“Besef jy dat daar ’n klad op jou naam sal wees en dat alle deure vir jou gesluit sal wees?” het my hoofde gevra. Van toe af het hulle my as ’t ware geïgnoreer. Maar dit was vir my ’n beskerming, aangesien hulle my nie meer vir krygsoefeninge opgeroep het nie. Baie van ons familielede en vriende kon nie verstaan hoe ek iets kon weggooi wat hulle as ’n bevoorregte posisie in die gemeenskap beskou het nie.

Weens my militêre rekord het die owerheid, wat my gerespekteer het ten spyte van my oortuiging, my voorkeurbehandeling gegee. Gedurende die daaropvolgende twee jaar het ek verlengde siekteverlof gekry, en dit was nie vir my nodig om enige van my funksies te hervat nie. Intussen het ek en my vrou die vergaderinge van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies bygewoon en selfs vir ander van ons nuutgevonde oortuiging vertel.

Uiteindelik—’n soldaat van Christus!

Ek is uiteindelik vroeg in 1955 van alle militêre verpligtinge vrygestel. Vyftien dae later, op 12 Maart, het ek en my vrou ons toewyding aan Jehovah God by ’n byeenkoms in Versailles deur waterdoop gesimboliseer. Aangesien my professionele situasie verander het, moes ek ’n ander werk kry om na die behoeftes van my gesin om te sien. Ek het die volgende vier jaar as ’n portier by die Halles (die sentrale mark) in Parys gewerk. Hoewel dit nie maklik was om so ’n aanpassing te maak nie, het Jehovah my pogings geseën.

Deur die jare heen kon ek en my vrou baie mense help om die Bybel se boodskap aan te neem. Ek het die geleentheid gehad om die Christelike standpunt oor neutraliteit aan verskeie militêre en burgerlike owerhede te verduidelik. My eertydse loopbaan as ’n soldaat het my al dikwels gehelp om die vooroordeel van baie teen Jehovah se Getuies te oorkom. Dit het my die geleentheid gegee om ons Christelike standpunt van neutraliteit in verband met die oorloë van die nasies te verduidelik en te toon dat Christus se vroeë volgelinge hierdie selfde standpunt ingeneem het. Professor C. J. Cadoux het byvoorbeeld in sy boek The Early Church and the World geskryf: “Ten minste tot die bewind van Markus Aurelius [161-180 G.J.] het geen Christen ná sy doop ’n soldaat geword nie.”

Vir my was die dood van my vrou in 1977 een van die moeilikste beproewinge. Sy het gesterf nadat sy ’n jaar lank siek was, en sy het reg tot haar dood haar geloof moedig verkondig. Die wonderlike opstandingshoop het my onderskraag (Johannes 5:28, 29). Nog iets wat my gehelp het om my verdriet te verwerk, was om te begin dien as ’n gewone pionier, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Ek het dit in 1982 gedoen nadat ek afgetree het. Hoe bly was ek tog toe ek later, in 1988, ’n instrukteur kon wees by die skool waar pioniers opgelei word!

Sedert my vrou se dood moet ek elke nou en dan aanvalle van depressie die hoof bied. Maar hegte, geestelike sterk vriende het my gehelp om weer my voete te vind. Deur al sulke beproewinge heen het ek altyd gevoel dat Jehovah, wat omsien na almal wat op hom vertrou, my deur sy krag en liefderyke goedhartigheid ondersteun (Psalm 18:3). Ek dink ook dat die beproewinge wat ons deurmaak, help om ons op te lei sodat ons ons geestelike oorlogvoering kan voortsit (1 Petrus 1:6, 7). As ’n gemeentelike ouer man kon ek weer ander help wat terneergedruk geword het.—1 Tessalonisense 5:14.

Toe ek ’n seuntjie was, het ek daarvan gedroom om eendag ’n soldaat te wees, en ek het, op ’n manier, tot nou toe ’n soldaat gebly. Ek het een leër verlaat om by ’n ander een aan te sluit deur ’n “soldaat van Christus Jesus” te word (2 Timoteus 2:3). Vandag doen ek, ten spyte van swak gesondheid, my bes om die stryd as ’n soldaat van Christus voort te sit in “die voortreflike oorlog” wat uiteindelik tot oorwinning sal lei, tot die eer en heerlikheid van ons God, Jehovah.—1 Timoteus 1:18.

Louis Lolliot is op 1 Maart 1998 oorlede, terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is.

[Prent op bladsy 13]

Ons troue, wat deur generaal De Lattre de Tassigny bygewoon is

[Prent op bladsy 15]

Louis Lolliot en sy vrou, Reine, in 1976

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel