Van ’n stadige dood tot ’n gelukkige lewe
SOOS VERTEL DEUR DIAMÁNTI DATSERIS
‘My lewe het ’n vervaldatum.’ Hierdie gedagte het in my kop bly maal terwyl ek in ’n hospitaalbed gelê en eenhede bloed stadig in my are gedrup het. Meer as 20 jaar lank is daar vir my gesê dat dit die enigste manier is waarop ek aan die lewe kan bly—as ’n mens dit natuurlik lewe kan noem.
KORT ná my geboorte in 1969 in Ierápetra, op die Griekse eiland Kreta, het my ouers slegte nuus ontvang. Die dokters het gesê dat hulle babadogtertjie beta-talassemie, of Cooley-anemie, het. Beta-talassemie-major is ’n ernstige oorerflike bloedsiekte, wat die algemeenste voorkom onder mense van Griekse, Italiaanse, Midde-Oosterse of Suid-Asiatiese herkoms, asook mense uit Afrika.
Wanneer ’n mens hierdie siekte het, het die dokters aan my ouers verduidelik, vervaardig die liggaam se rooi bloedselle onvoldoende hemoglobien, die proteïen wat suurstof na die selle vervoer. Gevolglik kry my selle nie genoeg suurstof nie. Rooi bloedselle bly slegs ’n kort tydjie in my bloedstroom omdat my lewer en milt dit afbreek en verwyder. Hierdie organe is daarvoor verantwoordelik om abnormale of verouderde rooi bloedselle af te breek.
Die dokters het vir my ouers gesê dat gereelde bloedoortappings en die verwydering van die opgehoopte yster die enigste bekende behandeling vir talassemie is. Maar soos hulle verduidelik het, hoop yster voortdurend in die hart en die lewer op wanneer ’n mens met oortappings behandel word, en dit kan noodlottig wees. Oortappings—die behandeling wat voorkom dat pasiënte in hulle eerste tien jaar sterf—verskaf gewoonlik die hoofkomponent van die ystervergiftiging wat later so dodelik is. Talassemiepasiënte, soos ek, wat voortdurend oortappings ontvang het, sterf gewoonlik aan ’n hartkwaal voordat hulle 30 is.
Lewe met ’n “vervaldatum”
Die dood het van my vroeë kinderjare af soos ’n donker wolk oor my lewe gehang. Woorde kan nie beskryf hoe moeilik dit is om met so ’n droewige vooruitsig te lewe nie. Ek het geen toekomsplanne en geen drome van ’n normale lewe as ’n volwassene gehad nie. Dit het vir my gevoel of my talassemie soos ’n tydbom was wat enige tyd kon afgaan.
My ouers se besorgdheid oor my gesondheid het hulle baie versigtig gemaak. Ek is met ’n eindelose lys van “moenies” en ander reëls grootgemaak: “Moenie hardloop nie!” “Moenie opgewonde raak nie!” “Wees versigtig!”
My toestand het my Grieks-Ortodokse ma uiters godsdienstig gemaak. Sy het in alle opregtheid by godsdienstige ikone hulp gesoek. Om my toestand te verbeter, het sy my na verafgeleë kloosters geneem wat bekend is vir geloofsgenesing en my verskillende gelukbringers en amulette gegee. Baie geld is hieraan bestee—maar dit was tevergeefs.
Ek het in God geglo en hom liefgehad, hoewel ek nie geweet het hoe om hom te aanbid nie. Wanneer ek moedeloos was, het ek met trane in my oë gebid: “God, as u werklik bestaan en my liefhet, help my asseblief.”
’n Desperate soeke na vertroosting
Namate ek grootgeword het, het my gesondheid vinnig agteruitgegaan, hoofsaaklik weens die oortollige yster in my bloed. As deel van my behandeling het ek ’n toestel gebruik wat yster in die bloed verminder. Elke aand moes ek ’n naald net onder my maagvel insteek sodat ’n ysterchelasiemiddel die hele nag in my liggaam kon drup. Ek het elke aand dieselfde pynlike proses deurgemaak. Ek wou dikwels gedurende daardie slapelose nagte sterf. Dit het vir my gevoel of God my smekinge om hulp geïgnoreer het.
Toe ek 16 was, het ek vriende gemaak met ’n groep jongmense wat baie na heavy metal-musiek geluister het. In ’n desperate soeke na vertroosting het ek gevind dat musiek wat wreedheid, barbaarse geweld en Satanisme verheerlik my ’n mate van ontvlugting gebied het. Omdat boosheid oral om my was, het ek saamgestem met die opvatting dat ’n bose hoër mag die heelal beheer. Maar die gevolge van dwelms en Satanisme het gou duidelik geword. My vriende moes voortdurend vir die polisie vlug.
Al die bloedoortappings wat ek ontvang het, het hulle merk op my liggaam gelaat. Oortollige yster het gemaak dat ek swart kringe onder my oë gekry het en het my vel geel laat word. My kleredrag het ook nie my voorkoms verbeter nie—die swart klere en leerbaadjie, met klinknaels en skedels, wat kenmerkend was van die mense met wie ek omgegaan het. Gelukkig het ek nooit dwelms gebruik nie.
Terwyl ek na heavy metal-musiek geluister het wat die dood, dwelms, demone, spiritisme en bloed beklemtoon, het dit vir my gevoel of Satan my in sy greep gehad het. Snags was ek terneergedruk en het ek dikwels gehuil. Dit was op hierdie laagtepunt van my lewe dat ’n straaltjie hoop begin glinster het.
’n Wending in my lewe
Eendag, toe ek 20 jaar oud was, het ’n vriendin my ’n boek gegee wat sy by Jehovah se Getuies gekry het. Dit was die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?a Sy het nie werklik in die boek belanggestel nie, maar toe ek daardeur blaai, was ek beïndruk daarmee. Dit het duidelik getoon dat Bybelbeginsels ’n mens se lewe kan verbeter. Dit het my ook beïndruk toe ek leer van die vervolging van die vroeë Christene en hulle gewilligheid om te sterf vir wat hulle geglo het. Nadat ek die boek gelees het, wou ek hierdie dinge aan ander vertel. Ek het Manolis toe ontmoet, ’n man wat van Jehovah en die boodskap van die Bybel geweet het omdat van sy familie Jehovah se Getuies is. Hy het my na die plaaslike vergaderplek van Jehovah se Getuies geneem, en gedurende die somer van 1990 het ek die Bybel saam met hulle begin studeer.
Tydens my Bybelstudie het ek geleer dat ons Skepper werklik vir ons omgee en dat hy nie verantwoordelik is vir die siekte en pyn wat baie van ons verduur nie (1 Petrus 5:7). Ek het geleer dat dit Satan is wat sonde en die dood in die wêreld ingebring het en dat Jehovah binnekort die werke van Satan ongedaan sal maak deur hierdie ou stelsel te verwyder en dit met ’n volmaakte nuwe wêreld te vervang (Hebreërs 2:14). Onder paradysagtige toestande sal godvresende mense tot menslike volmaaktheid herstel word. Dan sal niemand sê: “Ek is siek” nie.—Jesaja 33:24.
Ek het terselfdertyd geleer dat die Bybel vir ons sê ‘om ons van bloed te onthou’ (Handelinge 15:20, 29; Genesis 9:4). Namate my gewete deur die verhewe standaarde en beginsels van die Bybel gevorm en opgelei is, is ek beweeg om ’n persoonlike besluit oor bloedoortappings te neem. Ek het besluit dat ek dit nie meer sal aanvaar nie.
Meer as 20 jaar lank is daar vir my gesê dat ek slegs aan die lewe kan bly as ek gereeld bloedoortappings ontvang. Sou ek, deur die Bybel se opdrag te gehoorsaam, my eie doodsvonnis teken? Wat sou my ouers oor my verwerping van bloed dink? Sou my dokters en die ander mediese personeel druk op my probeer uitoefen?
Kritieke besluite
Ek het ernstig tot Jehovah gebid en al my sorge op hom gewerp (Psalm 55:23). Ek het ook besluit om ander mediese behandelings op die proef te stel. Ná ’n deeglike ondersoek, het ek uitgevind dat ek bloedoortappings moontlik kan vervang met ’n versigtig saamgestelde dieet wat ryk aan yster en vitamiene is. Ek was bowenal vasbeslote om God se wet te gehoorsaam soos dit in die Bybel uiteengesit word.
My ouers was natuurlik baie ontsteld. Vandat ek ’n baba was, het hulle hulle bes probeer om my aan die lewe te hou, en nou sê ek nee vir bloedoortappings! Maar op die ou end het hulle gesê dat hulle my persoonlike besluit oor die saak sou respekteer.
Ek het toe my godsdiensstandpunt aan die mediese personeel by die hospitaal verduidelik en ook vir hulle gesê dat ek alles in my vermoë sal doen om ander metodes te vind wat ek in die plek van bloedoortappings kan gebruik. Die dokters het teësinnig ingestem om my wense te respekteer.
Terwyl ek in die verlede bloedoortappings ontvang het, het ek vriende gemaak met jongmense wat ook talassemie het. Hulle het nie my standpunt oor bloed verstaan nie. Een van hulle het sarkasties vir my gesê dat ek binnekort “deur vier weggedra gaan word”—’n Griekse uitdrukking wat beteken dat ek gaan sterf. Ongelukkig was sy een van vyf pasiënte wat gesterf het omdat hulle besmette bloed ontvang het!
Ek het sedert Augustus 1991 nie weer ’n bloedoortapping ontvang nie. In teenstelling met wat almal verwag het, lewe ek nog en is my gesondheid bevredigend. Deur ’n dieet te volg wat ryk aan vitamiene en yster is, bly ek redelik gesond ondanks komplikasies wat ek van tyd tot tyd ondervind en chroniese beperkings wat deur my talassemie veroorsaak word.
Maar die beste van alles is dat my lewe ’n doel het, dat dit verryk is deur ’n intieme verhouding met my Skepper, Jehovah God. In Julie 1992 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Manolis, my dierbare vriend wat my met die Christengemeente van Jehovah se Getuies in aanraking gebring het, is op dieselfde dag gedoop. Ongeveer 18 maande later het ons getrou. Later het dit my groot vreugde verskaf om te sien hoe my ma en my suster gedoopte knegte van Jehovah word. My pa se opinie van Jehovah se Getuies het verander, en hy woon van tyd tot tyd gemeentelike vergaderinge by.
Hoewel die dood ’n vyand is, het ek geleer dat dit nie ’n vyand is wat ons moet vrees nie (Psalm 23:4). Of ons lewe en of ons sterf, dit is vir Jehovah. Ons lewe is in sy hande (Romeine 14:8). Ek is ewig dankbaar teenoor hom dat hy my van ’n lewe gered het waarvan die enigste vooruitsig ’n stadige dood was. Hy het my inderdaad na die hoop van ewige lewe gelei!—Openbaring 21:1-4.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 21]
Ek was desperaat op soek na vertroosting
[Prent op bladsy 22]
Saam met my man, Manolis