Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 1/8 bl. 3-9
  • Die dag toe die tweelingtorings geval het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dag toe die tweelingtorings geval het
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorlewendes vertel hulle verhaal
  • “Daar’s dan nêrens om te land nie!”
  • “As ek moet swem, sal ek swem”
  • “Is dit die laaste dag van my lewe?”
  • “Ek het gesien hoe mense van die toring afspring”
  • Ondersteuning en medelye uit alle oorde
    Ontwaak!—2002
  • Ek het voltydse diens ’n loopbaan gemaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Toringbrug—ingang tot Londen
    Ontwaak!—2006
  • ’n Rit in die “gat in die grond”
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 1/8 bl. 3-9

Die dag toe die tweelingtorings geval het

DIE gebeure van 11 September 2001 in die stad New York, Washington, DC, en Pennsilvanië het ’n onuitwisbare indruk gelaat op die verstande van miljoene, of eerder miljarde, van die wêreld se inwoners. Waar was jy toe jy die nuus oor die aanval op die World Trade Center in New York en op die Pentagon in Washington gesien of gehoor het?

Dat soveel eiendom, en nog belangriker, soveel lewens, in ’n oogwink vernietig kon word, het die mensdom stof tot ernstige nadenke gegee.

Wat het ons oor ons prioriteite en ons keuses in die lewe geleer? Hoe het hierdie tragiese gebeure van die beste eienskappe in mense na vore gebring—eienskappe soos selfopoffering, medelye, volharding en onselfsugtigheid? Hierdie artikel en die een hierna sal dié vraag probeer beantwoord.

Oorlewendes vertel hulle verhaal

Onmiddellik ná die ramp in New York is die moltreinstelsel gesluit, en skares mense het te voet uit Lower Manhattan gevlug—baie van hulle oor die Brooklyn- en Manhattan-brug. Hulle kon die kantoor- en fabrieksgeboue van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies duidelik sien. Party wat aan die ramp ontkom het, het gou hulle pad daarheen gevind.

Alisha (regs), die dogter van ’n Getuie, was van die eerstes wat daar aangekom het. Sy was vol stof en as.a Sy het verduidelik: “Terwyl ek met die trein op pad werk toe was, kon ek rook uit die World Trade Center sien kom. Toe ek by die rampgebied uitkom, was daar oral glas op die grond en kon ek die hitte voel. Mense het in alle rigtings gehardloop terwyl die polisie die gebied probeer ontruim het. Dit het soos ’n oorlogsgebied gelyk.

“Ek het in ’n gebou daar naby ingehardloop om skuiling te soek. Toe hoor ek die ontploffing van die tweede vliegtuig wat die suidelike toring tref. Dit was ’n onbeskryflike toneel; daar was oral swart rook. Ons is aangesê om uit die gevaargebied pad te gee. Ek is op ’n veerboot gesit wat oor die Eastrivier na Brooklyn gegaan het. Toe ek aan die ander kant kom, het ek opgekyk en ’n groot teken gesien, ‘WATCHTOWER’. Die hoofkwartier van die godsdiens waaraan my ma behoort! Ek het onmiddellik na die kantoorgebou toe gegaan. Ek het geweet dat ek nie in beter hande kon wees nie. Ek het my skoongemaak en toe my ouers gebel.”

Wendell (regs) was ’n deurwagter by die Marriott-hotel tussen die twee torings. Hy het vertel: “Ek was in die voorportaal aan diens toe ek die eerste ontploffing gehoor het. Ek het oral stukke puin sien val. Ek het oor die straat gekyk, en daar het ’n man op die grond gelê; sy klere was aan die brand. Ek het my baadjie en hemp afgeruk en na hom toe gehardloop om die vlamme te probeer smoor. Iemand anders wat verbygekom het, het ook probeer help. Al die man se klere het weggebrand, behalwe sy sokkies en sy skoene. Toe het die brandweermanne opgedaag en hom weggeneem om mediese hulp te kry.

“Kort daarna het Bryant Gumbel van CBS TV-nuus gebel om ’n ooggetuieverslag te kry van wat besig was om te gebeur. My familie op die Maagde-eilande het dit op hulle TV gehoor en het dus geweet dat ek nog leef.”

Donald, ’n fris geboude man van amper twee meter wat by die World Financial Center werk, was op die 31ste verdieping van sy gebou en het reg op die tweelingtorings en die Marriott-hotel uitgekyk. Hy het gesê: “Wat ek gesien het, het my stomgeslaan en met afgryse vervul. Mense het uit die vensters van die noordelike toring geval en gespring. Ek het histeries geraak en so vinnig as wat ek kon uit my gebou uitgehardloop.”

’n Ander verhaal is dié van ’n ma in haar sestigerjare en haar twee dogters in hulle veertigerjare. Ruth en haar suster Joni het saam met hulle ma, Janice, in ’n hotel naby die tweelingtorings gebly. Ruth, ’n geregistreerde verpleegster, vertel wat gebeur het: “Ek was in die stort. My ma en suster het skielik geskree dat ek uit die stort moet kom. Ons was op die 16de verdieping, en hulle kon stukke puin verby die venster sien val. My ma het ’n man se liggaam oor ’n dak daar naby sien trek asof hy iewers uitgeskiet is.

“Ek het vinnig aangetrek, en ons het met die trap begin afhardloop. Mense het geskreeu. Ons het in die straat uitgegaan. Ons het ontploffings gehoor en daar was oral vuurvonke. Daar is vir ons gesê om gou suidwaarts te gaan na Battery Park, waar die veerboot na Staten Island is. Op pad daarnatoe het ons ons ma, wat aan chroniese asma ly, verloor. Hoe sou sy dit in al daardie rook, as en stof kon hou? Ons het ’n halfuur lank na haar gesoek, maar tevergeefs. Ons was nogtans eers nie te bekommerd nie, want sy is baie bekwaam en kalm.

“Uiteindelik is ons aangesê om na die Brooklyn-brug toe te loop en dit oor te steek. Stel jou ons verligting voor toe ons aan die Brooklynse kant van die brug kom en die groot teken, ‘WATCHTOWER’, sien! Ons het geweet ons was veilig.

“Ons is verwelkom en verblyf gegee. Ons is ook klere gegee, want ons het niks gehad nie. Maar waar was ons ma? Ons het haar die hele nag deur tevergeefs in hospitale probeer opspoor. Omtrent halftwaalf die volgende oggend het ons ’n boodskap gekry. Ons ma was onder in die voorportaal! Wat het van haar geword?”

Janice, die ma, vertel verder: “Toe ons haastig uit die hotel padgegee het, was ek bekommerd oor ’n bejaarde vriendin, wat nie saam met ons kon kom nie. Ek wou teruggaan om haar self uit te dra. Maar dit was te gevaarlik. In die deurmekaarspul is ek van my dogters geskei. Maar ek was nie te bekommerd nie, want hulle is verstandig, en Ruth is ’n gekwalifiseerde verpleegster.

“Oral waar ek gekyk het, het mense hulp nodig gehad—veral kinders en babas. Ek het soveel mense gehelp as wat ek kon. Ek het na die triage-gebied gegaan, waar slagoffers volgens die erns van hulle beserings ingedeel en behandel is. Ek het daar gehelp deur polisiemanne en brandweermanne se hande en gesigte te was, wat met ’n laag roet en stof bedek was. Ek het tot ongeveer drieuur die oggend daar gebly. Toe het ek op die laaste veerboot na Staten Island geklim. Ek het gedink dat my dogters moontlik daar skuiling gaan soek het. Maar ek kon hulle nie kry nie.

“In die oggend het ek probeer om op die eerste veerboot na Manhattan terug te gaan, maar ek kon nie, want ek was nie ’n noodwerker nie. Toe sien ek een van die polisiemanne wat ek gehelp het. Ek het geroep: ‘John! Ek moet in Manhattan uitkom.’ Hy het geantwoord: ‘Kom saam met my.’

“Toe ek in Manhattan aankom, het ek na die Marriott-hotel teruggegaan. Miskien was daar nog ’n kans om my bejaarde vriendin te help. Vergeet daarvan! Die hotel was in puin. Daardie hele deel van die stad was dood—daar was nêrens enige lewe nie. Net afgeremde polisiemanne en brandweermanne, met hartseer uitdrukkings op hulle gesigte te lees.

“Ek het oor die Brooklyn-brug gegaan. Toe ek amper aan die anderkant was, het ek ’n bekende teken gesien, ‘WATCHTOWER’. Miskien sou ek my dogters daar kry. En jou waarlik, hulle het na die voorportaal gekom om my te groet. Ons het mekaar omhels en in trane uitgebars!

“Verbasend genoeg het ek ten spyte van die rook, stof en as nie ’n enkele asma-aanval gehad nie. Ek het die hele tyd gebid, want ek wou help en nie ’n las wees nie.”

“Daar’s dan nêrens om te land nie!”

Rachel, ’n vrou in haar vroeë twintigerjare, het vir ’n Ontwaak!-medewerker gesê: “Ek het voor ons blok in Lower Manhattan met die straat afgeloop toe ek die geluid van ’n vliegtuig bokant my hoor. Dit was so hard dat ek opgekyk het. Ek kon dit nie glo nie—daar was ’n groot straler wat besig was om neer te stryk. Ek het gewonder waarom dit so laag en so vinnig vlieg. Daar’s dan nêrens om te land nie! Miskien het die vlieënier beheer verloor. Toe hoor ek ’n vrou skree: ‘Daardie vliegtuig het nou net in die gebou vasgevlieg!’ ’n Enorme vuurbal het uit die noordelike toring gebars. Ek het ’n reusagtige swart gat in die toring gesien.

“Dit was die aakligste ding wat ek nog in my hele lewe gesien het. Dit het so onwerklik gevoel. Ek het net daar gestaan en my mond het oopgehang. Kort daarna het ’n ander vliegtuig in die tweede toring vasgevlieg en uiteindelik het albei torings inmekaargestort. Ek was histeries. Dit was net te veel vir my!”

“As ek moet swem, sal ek swem”

Denise, ’n 16-jarige, het kort tevore by haar skool aangekom wat langs die Amerikaanse Aandelebeurs, drie blokke suid van die World Trade Center, geleë is. “Dit was net ná 9:00 vm. Ek het geweet iets het gebeur, maar het nie geweet wat nie. Ek was op die 11de verdieping van die skool, in die geskiedenisklas. Al die leerlinge het verskrik gelyk. Die onderwyseres wou nog hê ons moet ’n toets skryf. Ons wou net daar uitkom en huis toe gaan.

“Toe skud die gebou toe die tweede vliegtuig die suidelike toring tref. Maar ons het nog altyd nie geweet wat aangaan nie. Skielik het ek oor die onderwyseres se tweerigtingradio gehoor: ‘Twee vliegtuie het in die tweelingtorings vasgevlieg!’ Ek het by myself gedink: ‘Dit maak nie sin om hier te bly nie. Dit is terrorisme, en die Aandelebeurs sal volgende wees.’ Toe maak ons dat ons wegkom.

“Ons het na Battery Park toe gehardloop. Ek het omgedraai om te kyk wat gebeur. Ek kon sien dat die suidelike toring op die punt was om inmekaar te stort. Toe het ek gedink dat dit ’n domino-effek sou hê en dat al die hoë geboue sou omval. Ek het gesukkel om asem te kry, want my neus en keel was vol as en stof. Ek het na die Eastrivier toe gehardloop en gedink: ‘As ek moet swem, sal ek swem.’ Terwyl ek gevlug het, het ek tot Jehovah gebid om my te red.

“Eindelik is ek op ’n veerboot na New Jersey gesit. Dit het my ma meer as vyf ure geneem om my op te spoor, maar ten minste was ek veilig!”

“Is dit die laaste dag van my lewe?”

Joshua, 28, van Princeton, New Jersey, het op die 40ste verdieping van die noordelike toring klas gegee. Hy vertel: “Ewe skielik het dit gevoel asof ’n bom ontplof het. Daar was skuddings, en toe dink ek: ‘Nee, dit was ’n aardbewing.’ Ek het buitentoe gekyk, en dit was ongelooflik—rook en puin het rondom die gebou gewarrel. Ek het vir die klas gesê: ‘Almal, los alles net so. Laat ons hier uitkom!’

“Ons het met die trap afgegaan wat besig was om vol rook te word, en water het uit die sprinkelaars gekom. Maar niemand was paniekerig nie. Ek het bly bid dat ons die regte trap gekies het en dat ons ons nie in die brand sou vasloop nie.

“Terwyl ek met die trap afgehardloop het, het ek gedink: ‘Is dit die laaste dag van my lewe?’ Ek het die hele tyd tot Jehovah gebid, en ek het ’n vreemde kalmte gevoel. Ek het nog nooit daardie soort innerlike vrede ervaar nie. Ek sal daardie oomblik nooit vergeet nie.

“Toe ons uiteindelik buite die gebou gekom het, was die polisie besig om almal aan te jaag. Ek het na die torings opgekyk, en dit het gelyk asof albei torings oopgesny was. Dit was so onwerklik.

“Toe het ek ’n angswekkende geluid gehoor—’n onheilspellende stilte asof duisende mense hulle asem ophou. Dit het gevoel asof die hele New York tot stilstand gekom het. Toe hoor ek ’n geskreeu. Die suidelike toring het inmekaargestort! ’n Reusagtige golf van rook, as en stof het in ons rigting aangekom. Dit was soos die spesiale effekte in ’n fliek. Maar dit was werklik. Toe die wolk met ons opvang, kon ons beswaarlik asemhaal.

“Ek het uiteindelik by die Manhattan-brug gekom, waar ek omgedraai en gesien het hoe die noordelike toring met sy ontsaglike TV-antenne neerstort. Toe ek die brug oorsteek, het ek aanhoudend gebid dat ek tog net by Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, kan uitkom. Ek was nog nooit in my lewe so bly om daardie plek te sien nie. En daar op die muur van die fabriek was die groot teken wat duisende mense elke dag kan sien: ‘Lees God se Woord die Heilige Bybel daagliks’! Ek het gedink: ‘Ek is amper daar. Hou net uit.’

“As ek nou aan daardie gebeure terugdink, besef ek dat my prioriteite werklik reg moet wees—dat die belangrikste dinge in die lewe eerste moet kom.”

“Ek het gesien hoe mense van die toring afspring”

Jessica, 22, het gesien wat gebeur toe sy uit ’n moltreinstasie in die stad aangekom het. “Ek het opgekyk en as, stukke puin en allerhande stukke metaal sien val. Mense het gestaan en wag om openbare telefone te gebruik en het al hoe histerieser geraak weens die vertragings. Ek het gebid om kalm te kan bly. Toe was daar nog ’n ontploffing. Staal en glas het uit die lug uit geval. Ek het mense hoor skreeu: ‘Dit was nog ’n vliegtuig!’

“Ek het opgekyk, en dit was verskriklik—mense het uit die boonste verdiepings gespring waar die rook en vlamme uitgeborrel het. Ek kan dit nou nog sien—’n man en ’n vrou saam. Hulle het ’n rukkie aan ’n venster vasgeklou. Toe moes hulle dit laat los, en hulle het geval en geval en geval. Dit was te vreeslik om na te kyk.

“Uiteindelik het ek by die Brooklyn-brug gekom, waar ek my ongemaklike skoene uitgetrek en na die Brooklynse kant van die rivier gehardloop het. Ek het by die Wagtoring se kantoorgebou ingeloop, waar hulle my onmiddellik gehelp het om te kalmeer.

“Daardie aand, by die huis, het ek die reeks artikels in die Ontwaak! van 22 Augustus 2001 gelees, ‘Hoe om posttraumatiese stres te verwerk’. Ek het daardie inligting baie nodig gehad!”

Die omvang van die ramp het mense beweeg om op enige moontlike manier te help. Die volgende artikel vertel daardie deel van die verhaal.

[Voetnoot]

a Ontwaak! het onderhoude gevoer met baie meer oorlewendes as wat in hierdie kort oorsig ingesluit kon word. Hulle samewerking het gehelp om hierdie verslae saam te stel en te bevestig.

[Diagram/Prente op bladsy 8, 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VERNIETIG

1 NOORDELIKE TORING 1 World Trade Center

2 SUIDELIKE TORING 2 World Trade Center

3 MARRIOTT-HOTEL 3 World Trade Center

7 7 WORLD TRADE CENTER

ERNSTIG BESKADIG

4 4 WORLD TRADE CENTER

5 5 WORLD TRADE CENTER

L EEN LIBERTY-PLAZA

D DEUTSCHE BANK Liberty-str. 130

6 AMERIKAANSE DOEANEKANTOOR 6 World Trade Center

N S VOETGANGERBRÛE NOORD EN SUID

GEDEELTELIK BESKADIG

2F 2 WÊRELDSENTRUM VIR FINANSIES

3F 3 WÊRELDSENTRUM VIR FINANSIES

W WINTER GARDEN

[Erkenning]

Van 4 Oktober 2001 3D Map of Lower Manhattan by Urban Data Solutions, Inc.

[Prente]

Heel bo: Die suidelike toring het eerste inmekaargestort

Bo: Party het na die Wagtoring-geboue gehardloop om skuiling te soek

Regs: Honderde brandweermanne en reddingspanne het onvermoeid by “Ground Zero” gewerk

[Erkennings]

AP Photo/Jerry Torrens

Andrea Booher/FEMA News Photo

[Foto-erkenning op bladsy 3]

AP Photo/Marty Lederhandler

[Foto-erkenning op bladsy 4]

AP Photo/Suzanne Plunkett

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel